Perspektief op gebed (27) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt
En wat nou as??.. Vrae wat pla!
Omdat gebed iets is wat ingemessel is in elke gelowige se alledaagse lewe, is daar natuurlik baie vrae wat oor gebed gevra word. Ons lewens word mos beheer en gestuur deur gebed. Ons is emosioneel daarby betrokke en daarom maak dit vir ons saak; daarom vra ons.
VRAAG 1: Is gebed nie dalk sommer maar net oëverblindery of sielkundige manipulasie nie?
Alles maar net ‘n klugspel?
Daar is ongelowiges wat sê dat gebed sommer maar net oëverblindery is. Hulle gee allerhande sielkundige verklarings daarvoor. Hulle sê dit werk soos ‘n bioskoopfilm. Jy ‘projekteer’ eers vir jouself ‘n God in jou gedagtes (deur byvoorbeeld aanbidding, of lof). Daarna ‘bid’ jy tot die God om hulp. As dinge nie gebeur soos jy gevra het nie, soek jy verskonings. Jy sê maar dat God seker ‘n ander plan het. Hy sal jou gebed op ‘n ander manier beantwoord!
Nee, want God ís daar!
Dit sou seker so gewees het… behalwe dat mense wat so sê een belangrike ding vergeet het! En dit maak al die verskil! GOD IS NIE MAAR NET ‘n ‘PROJEKSIE’ NIE! Om dit te wil sê is regtig soos die pot wat vir die potterbakker wil sê hy of sy bestaan nie. GOD IS DAAR! Ons weet dit en ons glo dit.
As jy jouself dus voorberei vir gebed en God aanbid, aanbid jy nie ‘n afwesige God nie. Jy aanbid ‘n God wat by jou is. Sy Gees roep in jou uit ‘Abba’, Vader!
Sielkundig… Ja of nee? NEE, want God ís daar. Geen mens kan Hom deur leuenagtige oëverblindery laat verdwyn of deur sielkundige praatjies wegverklaar nie.
VRAAG 2: Maak dit regtig saak of ek kniel, my hande ophef, staan of sit as ek bid?
Jou houding is nie sonder betekenis nie.
Daar word in die Bybel dikwels verwys na die houding van die bidder, hoewel nie altyd nie (bv. Joh 9:38). Geen houding word egter as verpligtend voorgeskryf nie.
‘n Houding waarna gereeld verwys word is om te kniel en neer te buig (bv. 2 Kron 20:18; Neh 8:6; Ps 95:6). Dit beteken om heeltemal vooroor te buig sodat jou kop feitlik die grond raak. Hierdie houding het mense ook voor ‘n koning ingeneem. Dit is belangrik om te sien dat die bidder met sy houding iets van sy verootmoediging voor God wou sê. In afhanklike onderwerping staan hy of sy voor God. Deur sy houding betoon hy buitengewone eer en respek aan God. Die houding wat die persoon ingeslaan het, was dus deel van sy gebed. In sy houding wou die persoon ook iets vir God sê.
Kyk ‘n mens na ander houdings, kry ‘n mens dieselfde idee. In Num 24:4,16; Ps 95:6; Mat 4:9 val die bidder voor God neer. Hiermee wil hy iets van sy totale onderwerping aan en afhanklikheid van God illustreer. In Ps 63:4 en 1 Tim 2:8 word daar weer van die opheffing van hande gepraat. Dit was simbolies van die verwagting wat die bidder gekoester het. Dit illustreer ‘n soeke na kontak en kommunikasie tussen die bidder en sy God.
Die houding van ‘n persoon is dus nie sonder betekenis nie. Dit is deel van die totale kommunikasie met God. Om dit eenvoudig te ignoreer sou beteken om jou gebedservaring te verarm. Met jou houding en die respek wat daaruit straal, praat jy ook met God.
As jy bid, bid ook deur jou houding!
Uit bogenoemde gegewens kan ons ten minste sê dat ons nie net met ons mond moet bid nie, maar ook met ons hele liggaam.
As ons voor ete bid, moet daar darem eers ‘n oomblik van gewyde stilte wees. Immers, wat sê dit as Piet met sy vleis halfpad oppad is mond toe, Koos besig is om slaai in te skep, Sarie om kos aan te dra ens. en daar word so in die bedrywigheid gou ‘n vinnige gebed gemaak. Niemand sal dit as spesiaal of besonders beleef nie. Buitendien sal dit waarskynlik vir God ook nie so lyk nie. Die manier waarop ‘n mens bid sê tog iets. Dit hang van jou af hoe spesiaal jy dit maak.
Die Bybel bevat dus nie vaste voorskrifte nie. Of jy nou met God praat in jou voorskoot terwyl jy skottelgoed was, of met jou skoffel in die tuin maak nie saak nie. Jy kan mos enige plek met God praat. Natuurlik kan jy daarom ook in jou bed lê en bid. Maar ‘n mens moet jouself afvra of dit nie tog die moeite werd is om langs jou bed uit eerbied te kniel as dit moontlik is nie. Sal hierdie gebaar van eerbied nie tog iets bydra tot die gewydheid van jou gesprek met God nie?
Die Bybel bevat nie ‘n vaste voorskrif nie. As gelowige moet jy uit eerbied vir God jou ‘eie voorskrif’ wees. Sorg dat jy tog deur jou houding vir God sê wat jy graag met jou woorde vir Hom wil sê.
Skrywer: Prof Jan van der Watt