Perspektief op gebed (3) – Die hartklop van gebed. – Jan van der Watt
Hierdie hoofstuk word in twee afdelings verdeel, naamlik:
Deel 1: Wat maak gebed GEBED?
Deel 2: Al geselsende met God.
DEEL 1: Wat maak gebed GEBED?
Wat maak gebed GEBED?
Die antwoord is eenvoudig: GOD!
Gebed is eintlik ‘n snaakse ding. Sê nou maar Manie die Marsman sou by die slaapkamer kon inloer as jy bid. Daar staan jy op jou knieë in doodse stilte met jou hande gevou. Op die oog af moet hierdie houding seker snaaks lyk vir iemand wat nie weet wat daar gebeur nie. Vir jou is dit egter nie so snaaks nie. Jy weet jy het Iemand met wie jy praat, hoewel jy Hom nie kan sien nie. Dit maak wat jy doen sinvol – die stilte, die staan op die knieë, jou hande wat gevou is.
Gebed is net sinvol omdat dit ‘n gesprek is tussen jou en God! Jy praat nie alleen nie – God is ook daar: daarom maak gebed sin!
God voel nie meer tuis nie?!
Nou gebeur dit nogal baie dat mense sukkel met gebed. Hoewel hulle teoreties vir jou allerhande mooi dinge oor gebed sal sê, bid hulle tog nie so gereeld nie. Wat hulle oor gebed sê en wat hulle uiteindelik doen, stem nie ooreen nie. Dit is amper asof hulle nie aan die bid kan kom nie en veral nie gereeld kan bid nie.
Daar kan ander redes ook wees, maar die algemeenste rede is sekerlik dat ons ons wêreld te klein gemaak het vir God!
Hoe kan ‘n mens dit sê?
Ons leef in ‘n wetenskaplike en tegnologiese tyd. Vir omtrent elke ding is daar ‘n wetenskaplike verklaring. Met die rekenaars kan ons ook omtrent alles uitwerk. Ons word van skool af geleer om alles te verklaar en met ons verstand uit te werk. Alleen dit wat so met die verstand verklaar kan word is ‘werklik’!
Dit beteken natuurlik dat ons ons wêreld net so groot gemaak het soos ons verstand of verklarings dit toelaat. Enigiets wat ons nie kan verklaar nie of wat ons nie kan sien nie, ‘bestaan’ eenvoudig nie vir ons nie.
Ons kan egter nie vir God so in die beperkinge van ons verstand inhok nie. Vir mense wat sê dat alleen dit ‘bestaan’ wat met die verstand verklaar kan word, word God vreemd. Hy pas nie meer binne hulle ‘wêreldjie’ in nie.
Hulle wêreld van verstandelike verklaring het te klein geword vir God. God is nie net so groot dat Hy in die beperkinge van die menslike verstand moet bly nie! HY IS BAIE GROTER!
Laat jou oorweldig deur die teenwoordigheid van God!
Die hart van gebed lê in die oorweldigende teenwoordigheid van God by jou as gelowige! Dit is ‘n teenwoordigheid wat jou vasgryp; jou op jou knieë dwing. Dit alles word in geloof moontlik.
Dit is immers geloof wat jou geestelike oë laat oopgaan… en jou laat besef dat jou God werklik dáár is (Heb 11:6). Jy kyk nou verby die nou grense van jou verstand of die wetenskaplike reëls. Jou oë gaan oop vir wie God regtig is! Hy is baie groter as enige wetenskaplike reëls of grense wat jou logika of verstand kan trek! En hierdie besef maak al die verskil. Jou wêreld, jou werklikheid word deel van sy groot onverklaarbare, maar wonderlike wêreld. Maar jy kom ook agter dat God nie buite jou wêreld staan nie! Hy wil deel daarvan wees.
So gesien lyk jou wêreld ook sommer heeltemal anders! Met God se teenwoordigheid by jou kan jou wêreld nooit weer dieselfde wees nie. Nooit weer kan of hoef jy alleen te wees nie! Met Hom by jou lyk jou probleme, jou smart en jou blydskap anders! Immers, in elke probleem, elke daad, elke glimlag is God vir jou daar.
‘n Verhouding maak al die verskil!
Geloof laat dus jou pad met God se pad kruis! So verander die rigting van jou pad dan agter God aan. Daarom word verhoudingsterme so dikwels gebruik as die Bybel praat oor wat met ons gebeur as ons gelowig word: ons word God se kinders; as slawe van die sonde word ons vrygespreek om vriende van God te word, en so aan.
Daarin lê ‘n belangrike motivering vir gebed. Vriende gesels tog met mekaar. ‘n Kind klim tog graag op die pa se skoot om hom alles te vertel. In die verhouding tussen God en sy kinders is dit ook nie anders nie. God wil hê en verwag dat ons op sy skoot sal klim en met Hom gesels – en sommer gereeld ook!
Die diepste belang en grond van gebed is dus nie dat ons noodwendig alles kry wat ons vra nie, maar dat ons die warmte van ons verhouding met God ervaar en beleef. Gebed is eintlik om die hartklop van God te hoor. Dit is om in geloof sy hand op jou skouer te voel. Dit is om verseker te wees van sy nabyheid. Daarin lê geestelike vervulling.
Skrywer: Prof Jan van der Watt