Praat die kerk oor ongemaklike sake?

 

A man knows when he has found his vocation when he stops thinking about how to live and begins to live – Thomas Merton

 Praat die kerk oor ongemaklike sake?

Zach Perkins voel daar is sekere belangrike sake wat die kerk vermy om te hanteer. Hy sê dat ons week na week die erediens bywoon, by mense sit wat ons al jare ken … maar ons sal nooit ons innerlike gevoelens met hulle bespreek nie. Hoekom nie? Trots beslis, maar ook die kerk se onwilligheid om oor sekere ongemaklike sake te praat. Die kerk verkies om hierdie sake te ignoreer, of  verwerp eenvoudig die mense wat hierdie sake op die tafel plaas.

 Dra mekaar se laste (Galasiërs 6:2). Is dit nie tyd dat die kerk ‘n veilige hawe word vir daardie ongemaklike dinge wat mense moet hanteer nie?  Baie van hierdie dinge moet professioneel deur onder andere sielkundiges hanteer word. Navorsing het egter gevind dat om na iemand te luister en te wys dat jy werklik vir hulle omgee ‘n belangrike rol in die persoon se genesingsproses speel.

 

 Hier is ‘n paar sake waarmee baie mense sukkel al ontken hulle dit dikwels.

  • Verslawing.

Hierdie is ‘n onderwerp wat meeste kerkmense nie van wil hoor nie. Sekere verslawings is sosiaal meer aanvaarbaar – ons gee nie om om met iemand oor sy rokery te praat nie. Ons praat moeiliker oor die misbruik van alkohol en ander dwelms. Verslawing is ongelukkig dikwels juis die oorsaak vir skinderpraatjies in die kerk. As die kerk mekaar as God se gesin sien, sal mense minder kwesbaar wees om oor hulle verslawing te praat. Hulle wil net weet hulle broers en susters in die gemeente het hulle lief; hulle wil net veilig genoeg voel om hulle harte oop te maak.

 

  • Seksualiteit

Hierdie onderwerp is dikwels taboe in die kerk. Ja ons verdoem voorhuwelikse seks … maar dit is waar die gesprek eindig. Ons hanteer baie selde hierdie onderwerp op ‘n persoonlike, individuele vlak. Daar is gelowiges wat probleme het met hulle seksuele identiteit, maar hulle waag dit nie om daaroor met hulle Christen-vriende te praat nie. Een van die groot probleme vandag is pornografie. Is die kerk ‘n veilige plek waar mense hulle laste kan deel met ander gelowiges?

 

  • Opregte twyfel

Daar is baie gelowiges wat stry met twyfel. Hulle het gelees; hulle het gebid, maar hulle sukkel om te glo dat dat God werklik daar is. Ja, hulle woon nog eredienste by, hulle sing die liedere, maar dit klink hol vir hulle. Die kerk kan begin om hierdie probleem te hanteer deur op te hou om voor te gee dat alles van geloof  duidelik is. Die kerk moet erken dat almal van ons op een of ander stadium twyfel. Die kerk moet ook ophou om die moeilike gedeeltes in die Bybel onder die mat in te vee.

 

  • Geestesongesteldhede

Hierdie mense bly gewoonlik stil oor die stryd wat hulle beleef. In ons samelewing is daar ongelukkig nog baie stereotipes oor geestesongesteldhede. Mense wil nie hieroor praat nie, dikwels omdat hulle in die verlede seergekry het. As ons nie oor hierdie sake praat nie, word hulle dikwels nie opgelos nie.` Soms word van hierdie mense verwag om nie professionele hulp te kry nie – gebed is voldoende om jou te genees. As gebed dan nie werk nie, voel die persoon dat hy misluk het. Die kerk moet ‘n omgewing skep waarbinne mense na die regte plek verwys kan word, maar ook terselfdertyd geestelike genesing kan ontvang.

  

  • Eensaamheid

Daar is baie eensame mense in elke gemeente – veral senior burgers. Hierdie mense kom Sondae alleen by die erediens aan en loop alleen daar weg. Hulle geniet die gratis koffie na die diens, maar wat hulle soek is iemand wat met hulle gesels. Ons moet tyd inruim om met hulle te gesels en hulle te leer ken. Ons moet ook buite die kerk na hulle uitreik.

 Natuurlik verskil elke gemeente – hulle het verskillende sterkpunte. Is ons gewillig om hierdie sake te hanteer? As ons daaroor praat onthou om dit in nederigheid te doen.