Priscilla en Akwila
Always and everywhere the servants of Christ are under orders to evangelize. —J.I. Packer
Priscilla en Akwila
Priscilla en haar man Akwila het vir Paulus ontmoet toe hy Korinte in ongeveer die jaar 50 besoek het. Hulle word vriende, reisgenote en medewerkers in die bediening. Die verhaal begin in die jaar 49 toe Claudius, die keiser, alle Jode wat Chrestus gevolg het uit Rome verban het. Dit sluit Priscilla en Akwila in.
Hulle reis na Korinte. Hulle was net soos Paulus tentmakers van beroep (Handelinge 18:2 – 3). Paulus het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. Toe hulle vir Paulus ontmoet het, was hulle reeds volgelinge van Jesus. Later reis hulle saam met Paulus na Efese waar hulle agtergebly het om die jong gemeente daar te ondersteun. In Efese onderrig hulle die begaafde prediker Apollos. Hulle onderrig hom oor die evangelie, veral die doop (Handelinge 18:24 – 26). Later, nadat die opdrag van Claudius tereggetrek is, het hulle na Rome teruggekeer (Romeine 16:3 – 4).
Ons lees ses maal van Priscilla en Akwila in die Nuwe Testament – elke keer saam as ‘n paar. Hulle tree op as leiers in die nuwe gemeentes en die mense het hulle waardeer. Hulle vennootskap beklemtoon een model van bediening in die vroeë kerk. Paulus verwys na hulle as medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewe vir my gewaag het. Twee maal noem Paulus dit dat gemeentes in hulle huis bymekaar kom (Romeine 16:5; 1 Korintiërs 16:19).
Prisca is die Latyns vir “aan wie groot respek betoon word.” Sy mag ‘n hoër sosiale status as haar man beklee het, want vier maal verskyn haar naam voor syne. Die gewone gebruik was dat die man se naam eerste genoem word. Dit mag ook wees dat sy ‘n beter leermeester as haar man was, want as Handelinge 18:26 sê dat hulle vir Apollos onderrig het, verskyn haar naam eerste. Hulle was waarskynlik nie arm nie. Hulle huis was groot genoeg om ‘n huiskerk te huisves. Meeste vroue word nie volgens hulle beroep geïdentifiseer nie, maar ons lees dat hulle net soos Paulus tentmakers was (Handelinge 18:3).
Akwila was ‘n Latynse naam wat “arend” beteken. Hy is in Pontus in Klein-Asië (die huidige Turkye) gebore. Op een of ander stadium reis hy na Rome. Hy was ‘n tentmaker. Dikwels was die ambagsmanne vrygestelde slawe, alhoewel Paulus ook ‘n tentmaker was al was hy ‘n Romeinse burger deur geboorte (Handelinge 22:25 – 28). Meeste ambagsmanne was lede van gildes. Die Jode en Christene was nie lede van sulke gildes nie, want lede het die gode van die spesifieke ambag geëer. Hulle het ook gereeld bankette gehou waar die spesifieke god geëer is en die vleis aan hom geoffer is.
Hier het ons ‘n voorbeeld van ‘n egpaar wat toegewyd in die koninkryk van God gewerk het.