Profeteloon – Hermie van Zyl

Jan vra:

Matteus 10: 40, 41

Jesus stuur die 12 dissipels uit en gee aan hulle mag om onrein geeste uit te dryf en om elke siekte en kwaal te genees. Dan gee Hy allerhande instruksies oor hoe hulle te werk moet gaan en sluit af met: “Wie ‘n profeet ontvang omdat hy ‘n profeet is, sal die loon van ‘n profeet ontvang, en wie ‘n regverdige ontvang omdat hy ‘n regverdige is, sal die loon van ‘n regverdige ontvang.”

Wat bedoel Jesus met die “loon” van ‘n profeet en regverdige?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Onderliggend aan Matteus 10:40-42 lê die konsep van die profeteloon, wat teruggaan tot in Ou-Testamentiese (OT) tye. Dit is dus nodig om die OT agtergrond eers na te gaan voordat spesifiek oor Matteus 10 gehandel word.

Volgens 1 Samuel 9:9 was profete vroeër sieners genoem, waarskynlik omdat hulle ‘n bonatuurlike vermoë gehad het om dinge waar te neem, ‘n insig wat hulle van God ontvang het. Daarom dat ‘n profeet ook as ‘n man van God bekend gestaan het; hulle was in diens van God om sy wil aan die volk bekend te maak. Iets hiervan kry ons 1 Samuel 9-10 waar Samuel as God se boodskapper optree om Saul as koning oor Israel te salf. Saul was eintlik op soek na sy pa se donkies, maar gaan raadpleeg toe die siener, Samuel, oor waar die donkies moontlik kon wees. En dit was die gebruik om in so ‘n geval ‘n geskenk aan die siener of profeet te gee (1 Sam 9:7; vgl ook 1 Kon 13:7; 2 Kon 5:5,15), ‘n gebruik wat uitgegroei het tot ‘n vaste inkomste vir profete wat in die koninklike hof diens gedoen het, maar ongelukkig ook tot wanpraktyke gelei het (Miga 3:5,11). Ware profete se grootste geskenk of loon was egter die respek wat hulle in die samelewing geniet het omdat hulle as vertolkers van die wil van God opgetree het. Dit spreek dan ook vanself dat mense wat aan profete gasvryheid betoon het, gedeel het in die profeet se eer en aansien, en in daardie sin van die woord ook die profeteloon ontvang het. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die profeet Elia wat by die weduwee van Sarfat tydens die groot droogte in Israel huisvesting ontvang het. Dit het die goeie gevolg vir haar gehad dat haar meel en kookolie nie opgeraak het nie (1 Kon 17:8-24). Sy deel dus in die “profeteloon” van Elia, wat in haar geval beteken het dat God nie net vir sy profeet sorg nie, maar ook vir haar en haar kind.

Profete was egter nie altyd gewild nie, veral nie by die konings wanneer hulle aan dié God se wil moes verkondig nie, wat nie noodwendig in ooreenstemming met die heersende politiek van die dag was nie. Dan moes die profete vlug vir hulle lewe. Elia is weer eens ‘n goeie voorbeeld. Hy moes homself uit die voete maak toe koning Agab en dié se vrou, Isebel, sy bloed gesoek het (1 Kon 18: 1,10). Hulle het Elia verantwoordelik gehou het vir die ellende in Israel weens die droogte wat hy in opdrag van Here aangekondig het (1 Kon 18:17). Met dié dat profete dikwels deur die konings vervolg en doodgemaak is (vgl 2 Kron 36:16; Jer 26:20-23), het die konsep van profeteloon ook ‘n negatiewe betekenis gekry, naamlik dat profete die gevaar loop om doodgemaak te word, soos wat Isebel met ‘n groot aantal profete gemaak het (1 Kon 18:4). Nie net die profete self nie, maar enigeen wat hulle sou huisves of aan hulle gasvryheid betoon, sou dieselfde lot as die profeet ondergaan, naamlik uitwissing. Hierdie gedagte het in die tyd van die Nuwe Testament nog sterk geleef. Jesus verwys daarna in Matteus 5:12 as Hy sê dat die Jode se voorouers die profete doodgemaak het, en dat die dissipels dieselfde lot sal ondergaan. As die Meester gehaat en vervolg word, sal die dissipels dit ook ervaar (Matt 10:22-25). Hebreërs 11:35-38 bevat dieselfde gedagte – dat daar OT gelowiges was wat ter wille van hulle geloof in God gemartel en gedood is. Dis alles deel van die loon omdat jy ‘n profeet is, of iemand wat aan ‘n profeet gasvryheid bewys het. Laasgenoemde is per assosiasie dan net so “skuldig” soos die profeet self.

Die konsep profeteloon het dus ‘n dubbele betekenis: enersyds om lewensonderhoud en eer te ontvang omdat iemand as God se betroubare boodskapper bekend gestaan het, en andersyds om verguis, vervolg en gedood te word omdat mense – veral diegene in magsposisies – nie van jou (God se) boodskap hou nie. En dieselfde met mense wat indirek deel in die profeteloon vanweë hulle betrokkenheid by die profeet: dit kan vir hulle óf positief óf negatief uitwerk.

Dit is hierdie gedagtekompleks wat ons as agtergrond moet aanvaar om Matteus 10:40-41 te verstaan. Hier word die gedagte van profeteloon toegepas op Jesus en sy volgelinge. Hierdie verse is op ‘n interessante manier gestruktureer. In dalende orde word hier van vyf kategorieë gepraat: God, Jesus, profeet, goeie mens (letterlik: regverdige) en geringste. Die laaste drie is almal verwysings na die dissipels van Jesus. (Vir “profeet”, kyk Matt 5:12; vir “goeie mens”, kyk Matt 5:20 waar gesê word dat die dissipels “geregtigheid” / “regverdigheid” moet beoefen; vir “geringste”, kyk Matt 18:6-14 waar die dissipels “kleintjies” genoem word, en in Matt 25:40,45 “geringstes” [“geringste” is slegs die oortreffende trap van “kleintjie”].) Die “rangorde” werk so: God is die Een wat Jesus stuur (10:40), en Jesus is die Een wat sy dissipels (profete, goeie mense, geringstes) stuur. En elkeen wat die dissipels ontvang, dit wil sê aan hulle gasvryheid bewys, ontvang dan die loon wat gekoppel is aan die dissipels as God se profete. En so-iemand ontvang eintlik vir Jesus Self, want agter die dissipels staan die Een wat hulle gestuur het. Dus, net soos wat die profete in die OT God se verteenwoordigers was, en mense wat hulle ontvang het (d w s met hulle geassosieer het), ingetrek is in God se teenwoordigheid, net so gebeur dit in die NT met die dissipels as Jesus se verteenwoordigers, gesante of ambassadeurs. As jy hulle boodskap aanvaar en daarmee identifiseer, dan word jy deel van God se familie op aarde, en ontvang jy die loon wat daarmee gepaard gaan, naamlik om te deel in al God se gawes wat Hy as die Koning van sy koninkryk aan sy onderdane meedeel: aanvaarding, liefde, genade, vergifnis van sonde, gemeenskap van die gelowiges. Natuurlik, daar is ook nog die toekomstige loon, waarvan ons nou reeds ‘n voorsmakie kry, naamlik die ewige lewe. Dít is die finale profeteloon wat ons van God ontvang – om vir ewig in sy teenwoordigheid te mag verkeer (vgl Matt 19:28-29).

Maar, soos reeds genoem, die profeteloon het ook ‘n negatiewe komponent. Net soos in die OT mense wat met profete geassosieer het die gevaar geloop het om saam met die profeet vervolg te word, so ook in die NT. Jesus praat hiervan in Matteus 10:16-25 as Hy noem dat die dissipels ook gehaat, vervolg en uitgeskel sal word. Dit is deel van die “pakket”. Die profeteloon hou beide goeie en minder goeie dinge in. Maar ook die slegte dinge bevestig op ‘n vreemde manier dat ons geloof in Christus eg is. Wanneer mens vervolging in die gesig staar, in watter vorm ook al, dan wys dit dat jy in die lang ry staan van God se profete wat dit in hierdie wêreld nie altyd maklik gehad het nie, om dit sag te stel.

‘n Laaste opmerking. Omdat die dissipels in Matteus 10:40-42 met drie verskillende benamings benoem word, is daar nie regtig ‘n verskil tussen die “goeie mens se beloning” en die “profeet se beloning” nie; dis presies dieselfde. Wat wel interessant is, is dat Matteus die geringstes insluit by die beloning. Met geringste, as term vir die dissipels, wil hy sê dat die profete en goeie mense ook geringstes is. Daar is nie ‘n hiërargiese verskil tussen die dissipels nie. Tog kan mens sê dat Matteus met “geringstes” / “kleintjies” diegene aandui wat nie so gereken of besonders was in die gemeente nie. (Kyk Matt 18:6-14 waar “kleintjies” gebruik word om diesulkes mee te beskryf.) Dit beteken dat al bedien jy selfs een van hierdie geringstes van Jesus se dissipels, deur byvoorbeeld bloot ‘n beker koue water aan te bied, deel jy nog steeds in die profeteloon. Want in die kerk van Jesus is daar nie vernames en minder vernames nie, almal is broers (Matt 23:8). Ons kry dus in Matteus met ‘n besondere toepassing of herinterpretasie van die profeteloon-gedagte te doen. Alle volgelinge is verteenwoordigers van Christus, nie net besondere figure nie, en is daarom draers van die profeteloon. Jou optrede teenoor selfs die sogenaamde geringstes kan dus jou lot by God bepaal, soos Matteus 25:40,45 duidelik aantoon, waar staan dat in soverre versorging aan die geringstes gebied is, is dit ook aan Christus gedoen.

Kortliks dus: Die profeteloon van Matteus 10:40-42 het as inhoud die gemeenskap met Christus, en deur Hom met God, en daarmee saam die ewige lewe (Matt 5:12).

Skrywer: Prof Hermie van Zyl