Psalm 11 (3)

 

There are cowards, there are regular people, there are heroes, and then there are parents. Parents are not really on the spectrum from cowardice to courage becuse if your child is in jeopardy, you simply do what it takes to save her (Tim Keller).

 

Psalm 11 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

In hierdie blog gaan ons na die teologiese implikasies van Psalm 11 kyk. Hierdie psalm is nie ‘n gebed nie, maar ‘n belydenis van vertroue in die Here. Die digter praat met sy vriende en raadgewers. Blykbaar het sy vyande die oorhand gekry. Hulle is besig om die gevestigde strukture af te breek – hulle ondermyn die fondamente. Hulle probeer ook om hom om die lewe te bring. Hy het in die tempel gevlug en nou skuil hy by die Here. Sy vriende is bang dat die goddeloses nie die tempelwet sal eerbiedig nie en hom met geweld daar sal uithaal of net daar by die altaar om die lewe bring. Met hulle pyl en boog sou hulle hom van buite kan skiet daar waar hy by die brandofferaltaar staan. Al is dit nag kan hulle sien, want daar brand altyd ‘n vuur op die altaar. Hulle staan reg om te skiet. Volgens die digter se raadgewers is die situasie hopeloos. Selfs al het hy nie teenstrydig met die wil van God gehandel nie – hy is ‘n regverdige – is daar vir hom geen hoop nie. In hulle oormoed eerbiedig die goddeloses nie die beginsels waarop ‘n goeie staatshuishouding gebou is nie – orde, reg en geregtigheid. Sy vriende en raadgewers se raad aan hom: Vlug na die berge toe soos ‘n voël. Vergeet van vertrou op die Here. Die digter sê egter dat hy by die Here skuil in gevaar. As ‘n voël in gevaar na die berge vlug voor die jagters, kan die opregtes van hart ook voor die aanslag van die goddeloses vlug. ‘n Voël kan vlieg waar hy wil, maar ‘n voël het nie ‘n gewete soos ons nie.

 

Hier, saam met hulle in die tempel, is die Here. Hy sit as Koning – op sy troon – wat ‘n regverdige uitspraak sal lewer. Hy het Sion uitgekies as die plek waar sy troon – die ark – moet staan. Dit is ook die plek waar die tempel gebou moet word – menslik gesproke woon Hy op Sion. Maar die aarde is te klein vir Hom. Hy regeer oor die hele aarde – sy skepping – vanuit die hemel waar mense nie sy troon omver kan werp nie. Dit is sy paleis, en hier behartig Hy, ongehinderd deur mense, die regsake van regverdiges en goddeloses. Omdat Hy deur die mense kan sien – sy oë keur die mensekinders – en geweld haat, kan die gelowige, selfs in sy vervolging, voor die mense getuig dat God se oordeel die goddeloses sal tref. Vuur en swael, sal oor hulle kom soos oor Sodom. Hulle oordeelsbeker sal vir hulle wees soos die dor, warm woestynwind. Die wind was dikwels ‘n teken van God se ingryping in die geskiedenis. Haat vir hierdie mense en die oordeel wat hulle sal tref, staan lynreg teenoor God se liefde vir die mense wat regverdig en opreg handel. God is by die regverdiges om hulle te help en te verlos. By Hom is die mens veilig en geborge; die mens hoef nie soos ‘n voël berge toe te vlug nie. Alle mag in die hemel en op aarde behoort aan Hom (Matt 28:18).

 

As die fondamente ineenstort, kan jy na die berge vlug (soos Elia voor Isebel gedoen het); jy kan die fondamente  probeer herbou; jy kan preek (soos Amos gedoen het)en verhale vertel om geloof op te bou (soos in Genesis); jy kan ‘n beter toekoms belowe (soos Jesaja) of jy voel totaal oorweldig (soos die Prediker). Daar is nog ‘n alternatief: wag vir God om op te tree. Die psalmis weet dat God tans by ons lewens betrokke is. As God se optrede net tot die toekoms beperk was, sou die digter se reaksie op sy raadgewers nie geregverdig gewees het nie. God se betrokkenheid is nie beperk tot die verre verlede nie of tot die eindtyd nie: God is tans betrokke by gewone mense.

 

As ons angstig soek na ‘n veilige plek waar ons die aanslae van mense kan ontkom, kan ons weet: daar is so ‘n plek – by die Here. Al lyk dit soms of onreg ons bestaan bedreig, kan ons seker wees dat die Here alles raaksien. Hy laat nie toe dat onreg die goeie oorheers nie – Hy straf onreg. Slegs in die Here se teenwoordigheid kan elkeen wat Hom liefhet, in veiligheid skuil.