Psalm 119:47
Jare gelede het hulle vir John Stott gevra waarom die kerk in Afrika, Suid-Amerika en Asië ontplof, maar in Europa en Noord-Amerika agteruitgaan. Sy antwoord was kort en kragtig:
“God will go where God is wanted.”
Psalm 119:47
In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig (NAV)
En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet (OAV)
Ek is so lief vir u woord. Ek is bly daaroor (Die Boodskap)
In die vorige vers het die psalmis gesê: Ook wil ek voor konings van u getuienisse spreek en my nie skaam nie. In die oorspronklike is daar ‘n sterk verband tussen verse 46 en 47. Om jou in God se gebooie te verlustig, of vreugde daarin te vind, is ‘n belangrike tema in Psalm 119 (verse 14, 16, 24, 36, 47, 70, 77, 92, 143, 174). Wat selfs nog meer in die psalm voorkom, is liefde vir God se gebooie.
Hoe verlustig jy jou in God se gebooie? As daar nou een boek is wat vir meeste van ons ‘n probleem is, is dit Numeri. Ons kan nie juis sê dat ons ons in die boek verlustig nie. Na die episode met die goue kalf (Eksodus 32), gee die Here aan Israel ‘n reeks eenvoudige opdragte in Numeri: tel die volk (Hoofstuk 1), die kamporde (Hoofstuk 2) en tel nog mense (Hoofstuk 4). Maar daar is nou ‘n groot verskil: Die Israeliete het presies gedoen soos die Here vir Moses beveel het (1:54 ook 4:49).
God se gebooie/opdragte is soms baie eenvoudig.
God, laat ons ons in u gebooie verlustig. Amen.