Psalm 12 (3)
The gospel calls us to “man down” more so than to “man up.” There is no masculinity without a core of humility. —Scotty Smith
Psalm 12 (3)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
Teologiese implikasies
Hierdie psalm praat nie van ‘n regverdige nie, maar wel van getroue volgelinge, die betroubares, die magteloses en die behoeftiges. Die bidder vereenselwig hom met hierdie groepe. Met hierdie viertal benamings bedoel die bidder telkens maar dieselfde groep – dié wat in gehoorsaamheid en toewyding aan God lewe en op Hom vertrou. Dit is die regverdiges. Teenoor hulle staan diegene met ‘n negatiewe gesindheid teenoor God, sy Woord en sy volgelinge. Hulle word ook by ‘n verskeidenheid van name genoem en ook hulle vorm maar een groep – die vyande van die gelowiges, die goddeloses.
Die toestand in die gemeenskap bedroef die psalmis. Daar is geen getroue volgeling … geen betroubare mens meer oor nie. Bedrog, leuens en vleitaal is orals. Mense sê dat hulle lippe hulle help; hulle spog dat hulle tot alles in staat is – ons buig vir niemand nie. In ‘n gemeenskap wat hoofsaaklik ongeletterd was, was die ongeletterde armes veral kwesbaar vir vals uitsprake – in besigheid, in die hof, in arbeidsake en in persoonlike reputasie.
Maar die Here sien die gevolge vir die kwesbares en beloof om hulle te beskerm – sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is. Die Here beskerm sy mense, alhoewel die goddeloses in die gemeenskap pronk en al heers gemeenheid nog tussen mense.
Die psalmis weet dat die Here ‘n belofte gemaak het en dat mense op sy beloftes kan vertrou. Die psalmis is ontsteld oot die situasie in die sameleweing, veral die bedrog en leuens. Dit vernietig die samelewing. Nog steeds word swakkes en behoeftiges uitgebuit – selfs ook in die geloofsgemeenskap. Kleinlikhede is aan die orde van die dag.
God gryp in om ‘n einde te maak aan goddeloosheid; Hy is betroubaar; sy Woord bring genesing vir ‘n siek samelewing. Dit is die boodskap van Psalm 12. Maar die psalm waarsku ook: God maak duidelik ‘n onderskeid tussen onbetroubare mense en sy kinders. Daarom vra Psalm 12: Op wie vertrou ek – op mense of op myself? Of vertrou ek op God en sy betroubare Woord? Die keuse is duidelik: tussen mensewoorde en God se Woord; tussen die leuen en die waarheid.