Psalm 19 (1)
God is the silence of the universe and man is the cry that gives meaning to that silence – Jose Saramago wat die posisie van die ateïs beskryf.
Psalm 19 (1)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
Tema: Die vurige heelal en die wet wat bemoedig
In hierdie psalm kry ons ‘n tema waarmee die psalmboek begin (gee aandag an die onderrig van die Here – Psalm 1) en amper eindig (die heelal se erkenning van die Here – Psalm 149). Ons kry hierdie twee temas selde saam in dieselfde psalm. Psalm 19 stel hulle teenoor mekaar, maar sê nie wat die verband tussen die twee temas is nie.
Verse 2 – 7 en 8 – 15 vorm die twee dele van die psalm. Vers 2 – 7 vestig die aandag op lof aan God en gee die redes daarvoor. Verse 8 – 13 bevat lof vir God se onderrig en ‘n pleidooi. In verse 2 – 7 praat die heelal; in verse 8 – 12 praat die Here; in verse 13 – 15 praat die psalmis.
19:1: Opskrif
Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid
19:2 – 7: Die natuur openbaar die majesteit van God
Die psalm begin met die manier waarop die heelal God se heerlikheid verkondig.
2Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.
Die hemelruim en hemelkoepel verwys na die fisiese hemel en nie na die plek waar God woon nie. Hulle maak die werk van sy hande bekend – hulle eer God, want hulle is sy handewerk. Die heerlikheid van die son, maan, sterre en planete impliseer die heerlikhied van Hom wat hulle gemaak het. Lof aan God is nie net die werk van die mens nie, maar van die hele skepping.
3Dag na dag bring dit ‘n boodskap voort en nag na nag deel dit kennis mee.
Die dit in hierdie vers verwys na die hemel. Die verkondiging van God se eer en die bekendmaking van die werk van sy hande gaan dag en nag voort. Die son in al sy heerlikheid praat van sy Skepper en dié se heerlikheid.
4Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie,
Hierdie vers beklemtoon die welsprekenheid van die getuienis van die hemel. Die getuienis word nie altyd gehoor nie. Die hemel is egter altyd oop om gehoor te word.
5 Gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld, tot waar Hy vir die son ‘n tent opgeslaan het.
Hoe ver gaan hierdie verkondiging van die heerlikheid van die Here? Die hele aarde – tot aan die einde van die wêreld. Die son verwys nie na die songod nie. Die son is bloot ‘n entiteit waarvoor God akkommodasie oornag verskaf.
6Die son is soos ‘n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan, vol vreugde soos ‘n held wat op die pad hardloop.
Elke môre kom die son uit sy tent – soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer met ‘n glimlag kom.
7Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks kan aan sy hitte ontkom nie.
Die son is soos ‘n krygsman – entoesiasties hardloop hy op die pad voor hom. Niemand kan die felheid van hierdie krygsman ontsnap nie.