Psalm 21 (2)

image_pdfimage_print

 

Followers of Jesus who count the cost and are willing to take up their crosses after him must have broad shoulders. —Os Guinness

 

Psalm 21 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

21:9 – 14: Die Here straf sy vyande

Die konkrete optrede van die Here vir die koning lei nou tot algemene stellings oor die krag van die Here – meer as net vir die koning. Die konkrete optrede wat die Here reeds gedoen het, dien as basis vir die verwagting dat Hy in die hede sal optree.

 

9U hand, o koning, sal al u vyande vind; u regterhand sal dié vind wat u haat.

[Die woord koning staan nie in die bronteks nie, maar word veronderstel. Omdat die regterhand gewoonlik die sterkste hand is, is dit ‘n uitdrukking van krag.] Dié wat die koning haat, is sy vyande.

 

10U maak van hulle ‘n vurige oond wanneer u verskyn. Die Here sal hulle in sy woede verslind en vuur sal hulle verteer.

Die Here maak die koning ‘n beliggaming van seën, maar sy vyande maak Hy’n vurige oond. Hulle is nie die vuur nie, maar die voorwerp in die vuur. Die Here doen dit  deur sy teenwoordigheid. Die Here se teenwoordigheid het ander implikasies vir die koning se vyande as vir homself. As mense uitroep vir die Here se teenwoordigheid, veroorsaak dit ‘n verterende vuur vir hulle onderdrukkers. Hoe verteer Hy hulle? Deur hulle te verslind.

 

11Hulle vrug sal u uit die land laat verdwyn en hulle nageslag onder die mense.

[vrug – metafoor van kinders.] Verlossing vereis nie net die uitwissing van die direkte aanvallers nie, maar ook die uitwissing van die volgende geslag aanvallers.

 

12Wanneer hulle boosheid bedink teen u, bedrog beplan, sal hulle nie slaag nie,

Die Here neem nie die inisiatief om mense aan te val nie – Hy reageer op ‘n aanval.

 

13Want u sal hulle dwing om te vlug wanneer u met pyle op hulle aanlê.

Hoe doen die Here dit? Hy skiet met pyle op hulle en wyslik vlug hulle. Hulle rig pyle op die Here; die Here skiet terug.

 

14Verhef U, Here, in u krag! Ons wil sing, u mag wil ons besing

In Psalm 18 besing die koning die mag van die Here. Hier doen almal dit.

 

Deur sy groot mag vind die Here sy vyande en straf hulle tot in die derde geslag. Die Here doen dit self, want hulle is ook die vyande van sy koninkryk. Deur hulle optrede, wat teenstrydig met sy wil is, het hulle sy toorn gewek. Daarom verskyn Hy self en dryf hulle weg met sy wapens. Dit lei tot verdere lofprysing van die Here. In vs 14 wys die digter iets van sy eie reaksie op die Here se magtige dade. Hy pleit dat die Here sy mag sal laat seëvier en hy beloof om die Here se krag te besing.

 

Vs 9 – 13 sê vir ons wat die priester vir die koning gesê het by hierdie geleentheid. Let veral op:

  1. Ons moenie ontsteld wees oor die oordrewe manier van praat nie – dit was destyds die gebruik.
  2. God se wil sal geskied slegs as die koning optree. Slegs dan kan God se regverdigheid seëvier.

in vs 14 reageer die gemeente met ‘n lofsang – nie oor die koning nie, maar oor die mag en krag van die Here – die koning se Koning.

 

In die volgende blog gaan ons na die teologiese implikasies van hierdie psalm kyk.

 

 

image_pdfimage_print