Psalm 22 (3)

 

A Christian should resemble a fruit tree with real fruit, not a Christmas tree with decorations tied on –John RW Stott

 

Psalm 22 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:7 – 9: ‘n Beskrywing van sy lyding – ek is ‘n wurm

Maar ek – ons keer nou terug na die atmosfeer van verse 2 – 3.

 

7Maar ek is ’n wurm en nie ‘n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk.

Hier beskryf die psalmis homself. Die wurm is die simbool van onbeduidenheid. Ons lees nie hoekom die psalmis die voorwerp van spot geword het nie. Wat dit ook al begin het, word nou vereger deur die gesindheid van die mense.

 

8Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle tuit die lippe, hulle skud die kop:

Hulle tuit die lippe dui op ‘n neerhalende gebaar. Die eerste gedeelte van die vers maak ‘n algemene stelling; die tweede gedeelte maak dit konkreet. Hulle staar oop mond en skud die kop in minagting.

 

9“Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!”

Bevry is wat die Here vir die voorvaders gedoen het. Dit is wat die psalmis nou nodig het. Maar wat daarvan as Hy hom goedgesind is! Ander psalms praat met oortuiging van die Here se goedgesindheid – sy verlossing is die bewys hiervan. As die Here die psalmis goedgesind is, sal  bevryding volg. Die psalmis is nie meer seker hiervan nie, want God het hom verlaat. Die spotters impliseer dat die Here hom nie goedgesind is nie. Dit stem ooreen met die psalmis se vrees.

 

22:10 – 11: Die psalmis se besondere verhouding met die Here.

Die psalmis dink weer aan wat die Here in die verlede gedoen het. Dit gaan egter nie nou oor die totstandkoming van Israel nie, maar oor die geboorte van die psalmis.

 

10U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my aan die borste van my ma toevertrou het.

Die psalmis weet dat geboorte ‘n natuurlike proses is, maar hy weet ook dat op ‘n ander vlak  die Here dit laat gebeur. Die Here is by elke individuele geboorte betrokke. Die psalmis het nie net die baarmoeder verlaat nie – hy is daar uitgehaal. Die Here tree hier as vroedvrou op – Hy haal die baba uit die baarmoeder en plaas dit onmiddellik aan sy moeder se borste. Hy vertrou dat hy daar melk sal kry.

 

11In u hande is ek gegee vandat ek gebore is; van die moederskoot af is U my God.

In die verlede het die psalmis ervaar dat God daar is. Teenoor die vyandskap van die teenstanders, staan sy besondere verhouding met God. God het hom die lewe geskenk en sy lewe is veilig in die hand van God. Dit is immers die betekenis van sy belydenis: U is my God. Juis dit maak die nood nog meer konkreet: die God wat van die begin van my lewe af my God was, het my verlaat. As ek roep is dit stil; as ek my nood uitskreeu, is daar geen antwoord nie. Wat maak ek nou?