Psalm 24 (4)

image_pdfimage_print

 

God may not do what we ask, but we must never think it’s because He is not able to do it.—D.A. Carson

 

Psalm 24 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies.

Hierdie psalm bestaan uit drie afdelings en ons moet oor hulle teologiese stellings nadink.

  1. Die wêreld behoort aan die Here en Hy maak dit veilig.
  2. Mense kan die Here se seëninge in die tempel soek as daar integriteit in hulle lewens en hulle verhouding met God en ander mense is.
  3. Sulke mense kan hulle stad aanspoor om die roemryke Koning in hulle midde toe te laat.

Wat interessant is, is dat die Here beide binne die gemeenskap kan wees en aan die deur kan klop. As iemand ‘n menslike wese is, maak God aanspraak op hom/haar. Omdat die wêreld aan die Here behoort, is ons slegs huurders en ons moet ons dienooreenkomstig gedra.

 

Hierdie 3 000 jaar oue psalm het mense deur die eeue geleer dat die hoogste prioriteit in hulle lewe aanbidding van God is. Dit is uit blydskap geskryf, moontlik toe die verbondsark uit Obed-Edom se huis uitgehaal en na Jerusalem geneem is (2 Sam 6:10 – 12). Die Jode het dit heel eerste op die eerste dag van die week in die tempel gesing. Christene gebruik dit dikwels tydens Hemelvaartdag. Vs 7 – 10 word dikwels in gereformeerde kerke tydens Nagmaal gesing.

 

Hierdie psalm is al dikwels getoonset. Dit is tydens gesamentlike aanbidding gebruik. Dit is ook herhaaldelik (? jaarliks) by die tempel opgevoer. Die oorsprong was waarskynlik ‘n lied wat gebruik is as die prosessie van priesters die verbondsark in die heiligdom ingedra het – ‘n jaarlikse fees. Die gebruik is reeds deur Dawid begin – nog voor daar ‘n tempel was (2 Sam 6:12 – 15). Die ark, gebou vir Moses in die woestyn, is teken van God se teenwoordigheid tussen sy volk. Die Filistyne het die ark weggevoer. Dit het gelyk asof God nie meer met sy volk was nie (1 Sam 4:11). Dit was ook die verbondsark – die simbool van God se spesiale verhouding met Israel en later met Dawid en sy afstammelinge wat op die troon gesit het. In diepe dankbaarheid aan God is hierdie seremonie jaarliks herhaal op so ‘n wyse dat almal daaraan kon deelneem – van koning tot eenvoudige burger. So is hulle lojaliteit aan God jaarliks hernu.

 

Sou dit nie goed wees as ons God se genade beter wil verstaan om hierdie woorde buite die toe deur van ons kerk te laat herleef nie. Dan moet ons ook onthou dat hierdie psalm vooruit kyk na die tyd wanneer die poorte van die hemelse Jerusalem vir ewig oopgegooi sal word en almal genooi sal word om in te kom. Dit sal my ook daaraan herinner dat die magtige Koning nie uit die lug gekom het nie, maar daar tussen die mense wat die ark gedra het.

 

In die Ou Testamentiese bedeling het gelowiges na Jerusalem toe gekom om God daar in die tempel te aanbid. Omdat God heilig is, moes die mens wat kom om voor Hom te verskyn, eers aan sekere vereistes voldoen. Ek aanbid steeds dieselfde Skepper-, Reddergod, maar daar is ‘n paar verskille:

  1. Ek kan Hom enige plek aanbid omdat ek deur Jesus Christus toegang tot God het.
  2. Omdat Hy my juis van sonde verlos, is my skuld nie langer ‘n muur tussen my en God nie – Hy het my hande rein en my hart suiwer

 

Wat eers die voorwaardes was om Hom te mag ontmoet, word nou die kenmerke van ‘n Christen se dankbaarheidslewe. Daarom mag ek voor Hom verskyn. Trouens, Hy kom na my toe en ek het die reg om Hom te nader – ja, ek, net soos ek is.

 

 

image_pdfimage_print