Psalm 25 (1)

image_pdfimage_print

 

Let your religion be less of a theory and more of a love affair – G.K.Chesterton

 

Psalm 25 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: As ons die Here daarom vra, maak Hy sy weë aan ons bekend.

Hierdie psalm is ‘n gebed. Dit dek die basisse van gebed. Die klem op paaie/weë dui moontlik daarop dat hierdie psalm as ‘n model gebed gedien het – ontwerp om mense te leer om te bid.

 

Hierdie is ‘n alfabetpsalm – in die Hebreeuse teks begin elke reël met die daaropvolgende letter van die alfabet. Net vs 18 en 22 is hierop ‘n uitsondering. Hierdie maak dit uiteraard makliker om die psalm te onthou. Om die psalm in afdelings te verdeel, is arbitrêr.

 

Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie. Dit is moontlik tydens die Tweede Tempel tydperk gebruik. Individue en gemeenskappe was onder druk van ander omliggende gemeenskappe. Wat ons hier kry, is pleidooie vir verlossing ingeweef met pleidooie vir vergifnis. In die psalm kry ons ‘n sterk bewustheid van sonde, daar is baie verklarings van vertroue en ‘n sterk begeerte vir rigtinggewing.

 

In feitlik die helfte van die psalms (72) word daar van vyande gepraat. Vyande is nie net mense wat teen my gekant is nie, maar ook dié wat gekant is teen ‘n lewe volgens God se wil en standaarde. Die digter vra dat God sal keer dat sy vyande hom nie oorweldig nie. Hulle was gekant teen alles waarvoor hy staan. Hy was bang dat die mense sou dink dat dit nie help om vir God te lewe as sy vyande suksesvol is nie. Hy het geweet dat die Here altyd seëvier, maar hy wou nie hê dat sy vyande se sukses ander se geloof nadelig moes beïnvloed nie.

 

25:1 – 3:

In hierdie drie verse kry ons die psalm se aanvanklike kyk na die Here en ‘n stelling van vertroue.

Van Dawid.

Na U, Here, hunker ek.

Hunker na is ‘n teken dat die psalmis sy afhanklikheid erken. Hy lig sy hande en oë op in gebed tot die Here.

 

2my God, op U vertrou ek; laat my tog nie in die skande kom nie; laat my vyande hulle nie oor my verheug nie.

Op U vertrou ek beklemtoon die punt van vers 1. Die rede hoekom die psalmis op God vertrou is dat hy nie in die skande sal kom nie. Hy is bang die gemeenskap sal sy eer aantas; sy vyande sal hulle oor hom verheug.

 

3Ja niemand wat op U wag, sal in die skande kom nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal in die skande kom.

In die skande kom, is ‘n voortdurende moontlikheid vir die individu en Israel as geheel. Verse 15 – 21 sal dit duidelik maak dat die psalmis onder persoonlike druk verkeer. Om op die Here te wag, is ‘n belangrike tema in hierdie psalm. Dit is net ‘n ander manier om te sê dat jy op die Here vertrou. Om sonder rede onttrou te wees, is iets wat ons by Job se vriende gekry het. Job het na die Here opgekyk, maar sy vriende verraai hulle verhouding met die Here – sonder rede.

 

 

image_pdfimage_print