Psalm 26 (1)

 

We do not want a Church that will move with the world. We want a Church that will move the world – G.K.Chesterton

 

Psalm 26 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

In hierdie psalm word die gelowige se verhouding met God as ‘n driehoeksverhouding beskryf – daar is drie partye wat ‘n rol speel: God, die gelowige en die goddelose. Die gelowige se verhouding met God word bepaal deur die dinge wat hy positief doen. Die verhouding van die goddelose, daarenteen, word bepaal deur die dinge wat hy nie doen nie – wat hy vermy.

 

Dit begin en sluit af met ‘n pleidooi aan die Here vir ondersteuning (verse 1 – 2 en 9 – 11). Die verse tussen 2 en 9 is dan die psalmis se selfverdediging (verse 3 – 5) en godsdienstige toewyding (vers 6 – 8)

 

26:1 – 2: Beoordeel my, o Here

Die psalm begin met ‘n pleidooi aan die Here om namens die psalmis op te tree. Ons kry opdragte en redes.

Van Dawid.

Handhaaf my reg, Here, want ek gedra my onberispelik;

Ek vertrou op die Here, ek wankel nie.

Die psalmis vra vir regstelling, maar nog meer – die uitoefening van die Here se gesag namens die psalmis. Die basis vir hierdie pleidooi is: gedra … vertrou … wankel nie. Dit gaan hier oor die psalmis se eie integriteit. Hierdie stelling van integriteit word aangevul deur sy gesindheid – hy vertrou op die Here. Wankel beteken om my vastrapplek te verloor – soos by ‘n nou paadjie teen ‘n berghang. Die psalmis loop ‘n nou en gevaarlike pad as hy met integriteit wil loop en sy vertroue in die Here wil behou. Hy maak seker dat hy op die paadjie bly.

 

2Toets my, Here, en stel my op die proef. Suiwer my niere en my hart!

Die niere is beskou as die setel van emosies en die hart as die setel van die denke. Die psalmis is gewillig dat sy aanspraak ondersoek kan word. Hier het ons weer drie werkwoorde: Toets my … stel my op die proef … suiwer my. Suiwer verwys gewoonlik na metaal wat van alle onsuiwerhede gesuiwer word. As sy aanspraak op integriteit en vertroue gehandhaaf moet word, besef die psalmis dat sy innerlike aan sulke toetsing onderwerp moet word. Dit mag lyk asof iemand sy vertroue op die Here stel, maar as ons dit verder ondersoek, is dit nie so nie. Nie net die uiterlik nie, maar ook die innerlike – die niere en hart – moet ondersoek word.

 

Die bidder is onskuldig en word deur teëstanders vervolg. In sy gebed beklemtoon hy sy onskuld. Soos ‘n aangeklaagde in ‘n regsaak voor die regter in kruisverhoor geneem word om die waarheid te bepaal, so staan die psalmis voor die Here sodat Hy hom kan beoordeel. Hy stel homself vrywillig voor die Here en vra: Laat reg aan my geskied. As regter tussen regverdige en goddelose moet die Here ingryp en hom vryspreek. Alle aspekte van sy lewe moet ondersoek word. Sy verhouding met God is reg, want die liefde en trou van God lei hom. Een van God se wonders wat ek nie verstaan nie, sê die psalmis, is dat Hy ‘n sondaar soos ek geneem het, my in die regte verhouding met Hom geplaas het en dat ek nou in vertroue en liefde leef. Hierdie nuwe lewe het niks met my optrede te doen nie – dit is omdat ek God se standvastige liefde en trou ontdek het. Niemand word regverdig deur sy eie getrouheid aan God nie. Ek word regverdig deur God se trou aan my.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na die psalmis se aanspraak op morele integriteit.