Psalm 3

 

Doubt is not the opposite of faith; it is one element of faith – Paul Tillich

 

Psalm 3

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Meeste van die Skrif praat met ons; die psalms praat vir ons.

Hier lees ons van ‘n leier wat onder druk van die gemeenskap is. Hierdie leier mag wel Dawid wees.  Dit lyk egter of ons hier met ‘n nasionale krisis te doen het en nie ‘n burgeroorlog nie. Hierdie psalm begin met ‘n klaaglied, maar dit word gou gevolg deur ‘n verklaring van vertroue in die Here.

 

3:2 – 3: Die psalmis sê dat sy teenstanders baie is. Die teenstanders sê vir die psalmis dat God hom nie sal red nie – hy is op sy eie.

 

3:4 – 7: Die psalmis begin met ‘n stelling van vertroue: Maar U, Here, is ‘n skild rondom my. Hy gaan verder: Hy sê dat die Here sy eer is en die een wat my kop hoog hou. As ek verneder word of as ek my stryd verloor, kan ek nie my kop hoog hou nie. Hy dink terug aan die verlede. Wanneer ek hardop roep na die Here, antwoord Hy my van sy heilige berg af. Die Here kan hoor en Hy kan optree. Die feit dat die Here my hoor, beteken dat ek nou veilig kan slaap en wakker word. Hy beskerm die psalmis gedurende die nag om die gevare te oorleef. Die psalmis kyk weer terug na die verlede en wat die Here gedoen het. As hy daaraan dink, is hy nie bang vir tienduisende manskappe wat reg rondom my stelling inneem nie.

 

3:8 – 9: Nou vra die psalmis vir God om op te staan. Hy praat van my God. Hy vra die Here om op te staan, nie net om te sien wat aangaan nie, maar om op te tree. Sy teenstander het vir hom gesê dat daar vir hom geen redding by God is nie (vers 3). Verlossing hier beteken oorwinning oor sy teenstanders. Dit is nie ‘n mooi gesig nie. Die Here slaan al die psalmis se vyande op die kakebeen. Om iemand op die kakebeen te slaan, is ‘n belediging. Die Here gaan verder: Hy breek die tande van die goddelose mense.

 

In vers 9 kry ons ‘n finale stelling van vertroue: By die Here is daar redding, op u volk rus u seën. Hierdie vers stel die psalm in ‘n breër konteks. Die grootste deel van die psalm fokus op die krisis in die lewe van ‘n individu. Die Here is daarby betrokke, maar hier gaan dit oor na al die Here se mense – sy volk.

 

Die teenstanders in hierdie geval dink dat God ‘n werklikheid is, maar hulle glo ook dat Hy nie die psalmis sal red nie. Maar die psalmis se Here is ‘n skild om hom en lig sy kop op. Die psalmis weet dat as hy die Here vra om Hom te red, sal Hy dit doen. Hoe weet hy dit? Dit is hoe die Here nog altyd in die verlede gereageer het.