Psalm 9 (1)
Worship is designed to remind you that in the center of all things is a glorious and gracious king, and this king is not you. —Paul Tripp
Psalm 9 (1)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
Baie geleerdes beskou Psalms 9 en 10 as ‘n eenheid. In die Septuagint is dit een psalm. Die belangrikste redes hiervoor is:
- Die beginletters van tien van Psalm 9 se verse is alfabeties gerangskik van die begin van die Hebreeuse alfabet tot by die letter K. Die beginletters van sewe van Psalm 10 se verse loop van die letter I tot die einde van die alfabet. Elke tweede vers begin met ‘n volgende letter van die alfabet. Dit vergemaklik memorisering. [Daar is 22 letters in die Hebreeuse alfabet.]
- Psalm 9 het ‘n lang inleiding; Psalm 10 het geen inleiding nie – die enigste van Psalm 3 – 32 sonder inleiding.
- Aan die einde van Psalm 9 en die begin van Psalm 10 word God direk aangespreek.
- Beide psalms praat oor die driehoeksverhouding – God, gelowige, goddelose.
- In beide gebruik die digter parallelle sinne en kontraste om uitsprake te beklemtoon.
Om die psalm beter te verstaan, moet ons weet dit is ‘n kombinasie van ‘n loflied en ‘n klaaglied. In hierdie psalm maak die digter uitsprake oor die driehoeksverhouding tussen God, die gelowige en die ongelowige/goddelose. Om sekere dinge te laat uitstaan, rangskik hy baie van sy uitsprake in parallelle sinne. En om God se goedheid sterk te beklemtoon, maak hy gebruik van kontraste. Die eerste en laaste strofes is twee pole wat mekaar balanseer.
Ons gaan die twee psalms as ‘n eenheid behandel. Hierdie inleiding en die teologiese implikasies wat aan die einde van Psalm 10 volg, geld vir beide psalms. Die psalms begin met ‘n onderneming om God te loof en eindig in lof (9:2 – 13; 10:16 – 18). Die psalmis loof God vir sy verlossingsdade. Die lang lofprysing gaan oor in ‘n pleidooi en klaaglied. Drie maal smeek die psalmis God om weer op te tree (9:14 – 15; 9:20 – 10:2; 10:12 – 15). Hierdie psalm is ‘n gebed en soos alle ander gebedspsalms sluit dit ‘n herinnering aan God se groot dade in. Daar is ook die vooruitsig om terug te keer en weer vir God te loof vir ‘n verlossingsdaad. Die kombinasie van lof en gebed is algemeen. Hierdie wisseling tussen lof en gebed maak dit moeilik om te fokus op twee stelle feite – beide die erge feite oor die psalmis se huidige ondervinding en die bemoedigende feite oor God se verlede en sy ware natuur.
Die psalm vertel vir ons wat God in die verlede gedoen het, treur oor hoe dinge tans is en pleit by God om op te tree soos Hy in die verlede opgetree het en spreek dan die oortuiging uit dat God dit sal doen.
Die alfabetiese struktuur in hierdie psalms is onvolledig en oneweredig. Van die letters is omgeruil; die reëls wissel in lengte; verandering in die letters gaan nie altyd gepaard met verandering in inhoud nie. Die psalm praat in beide die meervoud en enkelvoud van die aanvallers en hulle slagoffers. Daar word ook woorde gebruik wat op ‘n individuele of nasionale krisis mag verwys.
9:1: Opskrif
Vir die musiekleier. Almoet Labeen.’n Psalm van Dawid.
Almoet labeen kan vertaal word met “op die dood van die seun.” Wie die seun is, is onseker. Dit verwys waarskynlik na die melodie waarop die psalm gesing is. ‘n Moontlike verklaring is: Dit is ‘n dankpsalm uitgespreek deur ‘n digter (?Dawid) wat deur die Here gered is. Hy getuig nou daarvan in die tempel in Jerusalem ten einde die toehoorders te onderrig.