Regverdigheid en redding – Hermie van Zyl

Werner vra:

Ons dien ‘n regverdige God, dit glo ek met my hele hart. Ek probeer egter verstaan hoe dit werk met verskillende groepe mense wat nie dieselfde voorregte as ons het om God te leer ken nie. In die ou Testament is daar bv. die Amalekiete of Hetiete of wie ook al wat buite Israel staan. As ek as een van die volke buite Israel gebore is en grootword met afgode sonder om in aanraking te kom met God, en my hele stad (mans, vrouens, kinders en diere) word uitgewis, waar sou ek die kennis kry om by ‘n punt te kom waar ek ‘n keuse vir of teen God kan maak? Dieselfde geld vir ‘n Romein of Samaritaan voor die evangelie versprei is na heidene of selfs vandag in lande waar die evangelie bloot nie geduld word nie.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Jy vra een van daardie vrae wat eintlik onbeantwoordbaar is, gewoon omdat ons nie die volle prentjie het soos God dit het nie. As Christene glo ons dat Christus die enigste weg na die lewende God is. Alle ander weë (godsdienste) is dus vals en afgodery. Hierdie oortuiging vorm terselfdertyd die grootste motivering vir sendingwerk, want as mense hulle nie tot Christus bekeer nie, is hulle vir ewig verlore. Dit is die konsepte waarmee ons grootgeword het.

So ‘n (simplistiese) siening roep egter by baie mense vandag weerstand op. Moet ons regtig aanvaar dat miljoene nie-Christene wat deur die eeue geleef het en nog gaan lewe vir altyd verlore is net omdat hulle aan die “verkeerde kant van die draad” gebore is? Is dit hoe ‘n liefdevolle God werk wat regverdig oor alle mense oordeel? En wat van die miljoene wat vóór Christus geleef het, of wat ná die koms van Christus nooit die kans gekry het om die evangelie te hoor nie – is hulle ook verlore? Is daar niks goeds van ander godsdienste te sê nie? Werk God se genade nie onder alle mense nie, ongeag of hulle Christene is of nie?

Hierdie vrae stel Christene voor moeilike kwessies, waarvan ons by voorbaat moet sê dat ons hier voor ‘n diepe misterie staan wat nie regtig te deurgrond is nie. Ons sal nie op aarde by glashelder, finale antwoorde uitkom nie.

In die grond van die saak gaan dit oor twee waarhede wat met mekaar in verband gebring moet word. Enersyds bely Christene die universele Heerskap van Christus. Die Bybel leer ons inderdaad dat daar maar een ware God is, dat Hy Hom in Christus geopenbaar het, dat daar slegs een Naam is waaronder mense gered sal word – Jesus Christus – en dat ons die roeping het om van alle nasies sy dissipels te maak.

Andersyds was daar nog altyd in die hoofstroom Christelike denke die oortuiging dat God Hom nie onbetuig laat onder mense nie. Kragtens die feit dat almal na die beeld van God geskape is, is daar inderdaad by alle mense ‘n Godsbesef en die potensiaal tot ware Godskennis en aanbidding aanwesig, maak nie saak wie jy is of binne watter godsdienstige sisteem jy grootword nie.

Die spanning tussen die belydenis van God se finale en unieke openbaring in Jesus Christus en die erkenning van God se algemene maar egte werksaamheid buite Christus om is nie deursigtig of oplosbaar nie. Hierdie spanning sal bly en daarmee moet ons vrede maak.

Dié spanning hoef egter nie ons sendingywer te verlam nie. Dat sendingwerk nie in ‘n vakuum plaasvind nie, maar telkens ontdek hoe God reeds werksaam was waar die evangelie verkondig word, spoor ons juis aan.

Verder, ons werk met die oortuiging dat die Christendom ‘n bewese rekord het. Waar die hart van die evangelie eg aan die werk is, word omvattende redding en genesing gebring. Christene kan daarom hulle belydenis oor God se openbaring in Jesus Christus met oortuiging en onverdun uitleef, maar ook met beskeidenheid, wetende dat die vraag oor wie almal uiteindelik gered word, sy geheim is. Daarvoor moet ons wag tot by die voltooiing van die totale geskiedenis.

God se heilswerk in Christus is universeel, daarom moet dit aan almal uitgedra word. Maar presies hoe Hy die heil in Christus selfs buite Christus om meedeel, is ‘n misterie. Eers aan die einde sal die ware kinders van God aan die lig tree.

Oor God se misterievolle werking onder alle mense en godsdienste, wil ek graag die volgende voorbeeld gee, wat juis in hierdie tye van terreuraanvalle deur Islamgesinde mense ons weer tot besinning dwing oor al ons vooroordele. (Terloops, ware Islam-aanbidders is net so onsteld soos Christene oor hierdie aanvalle wat sogenaamd in die naam van die Islam gepleeg word. Moslemleiers is dit deur die bank eens dat dit nie die hart van Islam verteenwoordig nie.)

Maar die voorbeeld: ‘n Paar jaar gelede het ek die voorreg gehad om na ‘n praatjie van ‘n sekere dr Abuelaish (‘n mediese dokter) te luister. Hy is ‘n Palestyn en oortuigde Moslem wat in die Gasa-strook in Palestina gepraktiseer het. In 2009 het drie van sy dogters in ‘n Israeli tenkaanval op sy huis gesterf, net enkele maande nadat sy vrou aan kanker dood is.

Gegewe die slegte verhouding tussen die Palestyne en Israeli’s sou mens Abuelaish nie verkwalik het as hy wraak gesweer het nie. Dit is immers hoe dit in daardie geweste werk – bloed roep om bloed. Maar presies die teenoorgestelde het gebeur. Die tragiese gebeure het hom na sy Islam-wortels gedryf, en na volhardende gebed en besinning het hy tot die oortuiging gekom dat God hom tot iets beter roep. Hy hoef nie sy lewe met wraak te vergiftig nie, maar hy kan iets anders in die plek daarvan stel: liefdesdiens aan ander. Die beste manier waarop hy die nagedagtenis van sy dogters kan lewend hou, is nie deur te haat nie, maar deur geleenthede aan ander te bied. Hy roep daarom ‘n stigting in die lewe, Daughters for Life, wat beurse toeken aan meisies – waaronder Israeli’s – om hulle lewensdrome te verwesenlik. Hy wy sy lewe aan vergiffenis en naastediens.

Wat dring hom daartoe? Abuelaish glo dat ons grootste vyand nie die ander is nie, maar onkunde. Dis eers wanneer jy die ander ontdek in sy/haar gewone menswees dat begrip daag en nuwe verhoudings moontlik word. Verder, ons ken nie ons eie godsdienstige tradisies nie. Mense maak karikature van hulle eie godsdiens. So pas dit Moslem geweldenaars om net sekere dele van die Koran aan te haal om aanvalle op die “Groot Satan” – die Weste – te regverdig. Dis ‘n soort fundamentalistiese omgaan met jou eie tradisie wat jy eintlik net misbruik om jou eie idees en haat te vergoeilik. Terreur en ongebreidelde haat is egter nie waaroor die Islam gaan nie. Aldus Abuelaish.

Ook binne die Christendom kan groot onkunde heers. Ons klou dikwels verbete vas aan troetelopvattings – hoe skeef dit ook al is – en hou dit voor as Goddelike waarheid, sonder om te vra of dit is wat ons tradisie werklik sê. Daar is soveel onkunde oor wie en wat die Christus van die Christendom is en sê.

As elkeen opreg voor God die beste in sy eie tradisie soek en uitleef, en bereid is om met ander in gesprek te tree, sal ons verras staan hoe ons mekaar as gewone medemense ontdek. Dit beteken glad nie dat ek my identiteit as Christen moet prysgee of dat die uniekheid van die openbaring in Christus in gevaar gestel word nie. Inteendeel. Dit bring juis die besonderse daarvan na vore. Maar terselfdertyd word ook erkenning gegee aan die misterievolle werking van God se Gees wat baie wyer strek as die spesifiek Christelike.

En so verloor die eindelose geredekawel oor wie nou eintlik reg is, sy skerp kante. Die oordeel hieroor kan ons gerus aan God oorlaat. Ten minste weet ons wat ons as Christene aan God het – genoeg om getroos te lewe en te sterwe, en ‘n leeftyd van sinvolle diens aan God en naaste te lewer.

Ek vertrou dat bogenoemde gedagtes darem in ‘n mate help om die misterievolle werking van God se Gees van liefde op aarde te probeer peil.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl