Sabbat en Sondag (3)

image_pdfimage_print

Sabbat en Sondag (3) – Kobus Kok

Gerhard vra:

Na aanleiding van Dr Kobus Kok se antwoord op my vraag. Hy skryf onder andere: “Van die heel begin van die skepping af, volgens die Hebreeuse, of OT tradisie is die Sabbat op die sewende dag en dit gaan terug na die skeppingsverhaal.” Ek het gedink dit was ‘volgens die skeppingsverhaal’ in die Ou-Testament, met ander woorde, ín, en ‘vólgens’, God se Woord, God se Woord vir die HELE Israel; van God soos byvoorbeeld die Christene. Nou moet ek verneem ek het myself al die tyd verlaat op “die Hebreeuse tradisie”. Kan ek nou God of sy Woord, vertrou? Kan ek my nog op my Christelike Geloof verlaat? Want reg hier van “die OT tradisie” waar “dit na die skeppingsverhaal terug gaan” af al, moes ek my met die heel basiese beginsels van my Christen-wees vergis het? Ja…. ek verstaan nie hoe my eie kop nog altyd gewerk het nie….

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord

Kan ek die Bybel dan nog glo?

Kan ek die Bybel dan nog enigsins glo as die Bybel hier so en daar sus sê? Dit is die implisiete dimensie van Gerhard se belangrike vraag oor die Sabbat. Gerhard wonder ook of dit reg is om van die Ou Testamentiese “tradisie” te praat in plaas van die “Woord van God” wat altyd dieselfde behoort te wees.

In die eerste plek hoef daar nie ʼn spanning tussen die begrip “tradisie” en “Woord van God” te wees nie. Die H.A.T. verstaan tradisie as: “Die oordra van geslag aan (op) geslag, mondelings of in geskrif, van geestelike besittings, kultuurgoedere; ook, wat so oorgedra is; oorlewering: 2 Die navolging van vaste, oorgelewerde gebruike, menings, gevoelens, beginsels, ens., 3 Gebruik wat binne ‘n groep oorgelewer is.” Dit wat ons in die Woord van God het, is tog oorgedra van geslag tot geslag en word nagevolg.

Tog is die Bybelse gebruike en sommige oorleweringe nie bloot staties nie. Die Bybel het oor duisende jare ontwikkel en verteenwoordig die groei van die volk Israel oor duisende jare. In die akademiese navorsing het die geleerdes bevind dat daar duidelike verskille ten opsigte van sekere sieninge is wat duidelik te bespeur is indien mens die tradisie van byvoorbeeld voor die ballingskap en na die ballingskap bestudeer (bv. die dualistiese wêreldbeeld wat veral onder die Persiese invloed meer prominent geword het en later weer deur die Hellenistiese en Platonistiese invloede ontwikkeling vertoon).

Tradisies verander en word in nuwe kontekste geherinterpreteer. Tradisie bly nie staties nie, dit ontwikkel. Neem bv. net die wette in Levitikus en Deuteronomium rondom die spesifieke kos wat geëet moet word en watter tipe kledingmateriaal jy mag dra:

Levitikus 7:22 sê byvoorbeeld: 22Die Here het vir Moses gesê: 23“Sê vir die Israeliete: Julle mag geen vet van beeste, skape en bokke eet nie.” Shoe! Biltong is vir alle Suid Afrikaners uit – veral droëwors! Een van die mooiste voorbeelde van die diskontinuiteit met die sogenaamde Joodse tradisie word aangetoon indien mens Deuteronomium 22 lees wat spesifiek gerig is op rëelings vir ʼn ordelike gemeenskap. In Deuteronomium 22:11-12 lees ons twee dinge – een wat elke ware Israeliet nie mag doen nie en een wat elke ware Israeliet moet doen: 11“Jy mag nie ‘n kledingstuk dra wat van twee soorte materiaal, wol en linne, gemaak is nie.12“Jy moet klossies vaswerk aan al die some van jou klere.” Wel, hiervolgens is almal van ons in die moeilikheid, want ek het nog niemand gesien wat klossies aan hulle klere vaswerk nie, en deesdae koop mens klere en kouse wat van verskillende materiaal aanmekaar gesit is (byvoorbeeld nylon en wol/katoen).

Ons kan dus sien dat daar in terme van die Ou Testamentiese tradisie diskontinuiteit en kontinuiteit is. Met diskontinuiteit bedoel ons dat sommige dinge nie meer gedoen word nie en met kontinuiteit bedoel ons dat sommige dinge nog steeds gedoen/geglo word.

Wat het dan tussen die kontinuiteit en diskontinuiteit gebeur? Hoekom doen ons sommige dinge wat in die “Woord van God” beveel word en “vir elke ware Israeliet” sou geld nie meer nie? Die antwoord is eenvoudig en kompleks. Eenvoudig kan ons sê Jesus het gebeur. Met die koms van God se Seun het hy wel nie gekom om die wet en die profete ongeldig te maak nie (Matteus 5:17), maar juis sodat dit sy volle betekenis kan kry. Die klem lê op die betekenis-dimensie. In die wette van Deuteronomium is daar sommige kulturele gebruike wat ons nie meer doen nie (diskontinuiteit), maar ons glo nog steeds in die basiese waardes daarvan. Neem as voorbeeld die konsep van heiligheid en om afgesonder te wees vir God, of dat God ʼn God van orde is en dat sy mense ook op ʼn ordelike wyse moet leef. Die saak of betekenis is nog steeds belangrik (kontinuiteit), die kulturele wyse waarop ons daaraan uitdrukking gee (deur kleredrag of eetgewoontes) het wel verander (diskontinuiteit).

Jesus het die waardes van God, die hart van God op ʼn nuwe manier vir die mensdom kom wys en bekend maak (Johannes 1:18). Markus 2 gee vir ons een so ʼn venster op Jesus en hoe hy die Sabbat en sy betekenis nuut geïnterpreteer het en dit sy ware betekenis te laat kry het: 23Eenkeer toe Jesus op ‘n sabbatdag tussen gesaaides deur loop, het sy dissipels so in die loop are begin afpluk. 24Die Fariseërs sê toe vir Hom: “Kyk daar! Waarom doen hulle iets wat nie op die Sabbatdag gedoen mag word nie?”25Hy sê vir hulle: “Het julle nog nooit gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne nie kos gehad het nie en honger gekry het? 26Hy het in die tyd van die hoëpriester Abjatar in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat niemand anders as die priesters mag geëet het nie, en ook vir sy manne daarvan gegee.” 7Jesus het verder vir hulle gesê: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. 28Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”

In jou vraag het jy daarop gesinspeel dat dit nie vir jou sin maak nie en dalk verwarrend kan wees indien geleerdes nou meen dat die Bybel so en dan sus sê. Eintlik is dit niks om oor verward te wees nie. Miskien kan die volgende verhaal jou help. Toe ek ʼn seuntjie was het ek op ʼn plaas groot geword en mag ek en my boetie die hele plaas platgery het met ons fietse en ure in die koppies rondgeloop het. Op sewejarige ouderdom het ons stad toe getrek toe my pa teologie gaan studeer het. Skielik het ʼn nuwe stel reëls gegeld. Ek en my boetie mag skielik nie meer vrylik met ons fietse rondgery het nie en ook nie vrylik buite in die strate rondgeloop het nie. Dit was vir ons baie moeilik, maar vandag verstaan ons dat nuwe reëls vir ʼn nuwe situasie geld. Binne ʼn paar jaar was ek in die hoërskool en skielik mag ek toe met my nuwe fiets die ganse Johannesburg verken. Weer het nuwe reëls gegeld. My ouers was nie onkonsekwent en swak leiers wat dan so en dan sus sê nie. Die onderliggende waardes van veiligheid, selfstandigheid, bemagtiging en balans was nog heeltyd teenwoordig. Al wat verander het was die konteks en my eie lewenssituasie en groeiproses. Net so vertel die Bybel die verhaal van God se volk in verskillende kontekste, wat op sy beurt weer verskillende reëls gehad het, maar meer as dikwels steeds dieselde onderliggende waardes weerspieël het.

In Galasiërs (kyk 3:23; 4:1) verduidelik Paulus dat die wet in die verlede soos ʼn bewaker was totdat die geloof sou kom. Die woord wat Paulus in die Grieks gebruik is “epitropos” wat met “‘n voog” vertaal kan word. Die geloofsdimensie wat met die Jesus-gebeure (inkarnasie, dood, opstanding, uitstorting van die Gees) sou aanbreek, sou die wet sy volle betekenis laat kry.  Deur die bril van die Nuwe Testament kyk mens dan na die Ou Testament en sien hoe God stadig maar seker met sy volk die pad geloop het wat uiteindelik sou kulmineer in die koms van Jesus as Messias en Seun van God. Indien mens die groter prentjie en die geheel in ag neem raak dinge eintlik meer duidelik en minder verwarrend omdat mens dit in perspektief kan sien.

As Bybelstudent is dit my en jou plig om moeite te doen en die hele Bybel en die ontwikkelingsgeskiedenis daarvan te bestudeer en die betrokke historiese en literêre kontekste in ag te neem. Dit verg ʼn leeftyd se diepte-navorsing en liefde vir die Woord.

 

Outeur: Dr Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...