Seksualiteit – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Wat sê die Bybel oor seksspeelgoed en bv oor orale seks binne die huwelik? Robbie Visser was by ons en het sy getuienis oor sy lewe gegee. Hy het ook oor sy belewenis in die hel gepraat. God het vir hom die hel gewys terwyl hy 19 dae in ‘n koma was.

Visser praat daarvan dat seksspeelgoed sonde is. So ook o a orale seks. Ek en my man is eerste huweliksmaats en al 23 jaar getroud. Soms gebruik ons speelgoed en orale seks. Ek bid al jare lank dat God vir my sondes moet uitwys waarvan ek nie bewus is nie. Dinge wat ek doen wat ek nie weet sonde is nie.

Ek sou net graag u stelling daaromtrent hoor.

Antwoord

Pof Hermie van Zyl antwoord:

Hierdie is een van daardie onderwerpe waaroor daar nie harde antwoorde gegee kan word nie. Eerstens omdat die Bybel hom nie spesifiek oor orale seks of seksspeelgoed uitlaat nie (daar is bv nêrens ‘n teks wat sê: “Jy mag geen seksspeelgoed in die huwelik hê nie”), en tweedens omdat daar nie vaste voorskrifte is oor hoe man en vrou in die huwelik hulle seksualiteit moet uitleef nie. Daar is wel breë riglyne wat Christene in ag moet neem vir die seksuele in die huwelik, en solank hierdie riglyne gevolg word, is daar genoeg ruimte vir egpare om hulle seksuele behoeftes na persoonlike goeddunke te beoefen. Die spreekwoord sê nie verniet nie: Elke man soen sy vrou op sy eie manier (en die omgekeerde is natuurlik ook waar ten opsigte van die vrou). Wat vir die een paartjie aanvaarbaar is, sal nie noodwendig vir die ander so wees nie. Elkeen moet self ontdek waarmee hulle gemaklik is.

Maar koms ons praat oor hierdie breë riglyne. Want as ‘n egpaar ernstig is oor hulle Christenskap sal hulle tog ook hulle seksualiteit so wil uitleef dat hulle voel dis in ooreenstemming met God se wil vir die beoefening van die seksuele.

Eerste riglyn: Ek hoef dit seker nie eens te noem nie, maar dit spreek vanself dat die uitleef van die seksuele ‘n baie spesifieke plek het, naamlik die huwelik. Daarom verbied die Bybel uitdruklik seksuele losbandigheid (bv 1 Kor 6:12-20; Heb 13:4). Christene kan nie, soos die wêreld, met ‘n oop seksuele agenda leef nie. Dis teen die wil van God. Die huwelik bied daardie veilige ruimte waar man en vrou geborge voel, waar hulle sonder reserwes hulleself aan mekaar kan gee, en waar hulle mekaar kan ontdek en geniet. Dit is ook al oor en oor in studies bewys dat die hoogste persentasie seksuele vervulling voorkom onder egpare wat mekaar oor ‘n lang tyd leer ken het. Hulle weet wat hulle aan mekaar het, en hulle geniet en respekteer mekaar.

Tweede riglyn: Weer eens, dis seker nie nodig om te noem nie, maar omdat dit vir baie Christen-egpare steeds ‘n probleem is, wil ek dit tog pertinent aanraak. Seksualiteit is so natuurlik soos asemhaal, dis deel van die lewe; dis soos God ons gemaak het. Daar is dus niks daarmee verkeerd dat man en vrou tot mekaar seksueel aangetrokke voel, hulleself in die huwelik begewe en die vreugde en plesier van seksuele intimiteit geniet nie. Trouens, hieroor is die Bybel baie duidelik. Dit begin reeds in die paradys, nog voor die sondeval. God bring man en vrou as met sy eie hand bymekaar en voeg hulle saam tot een vlees (Gen 1:24). Jesus bevestig hierdie intieme lewensgemeenskap in Matteus 19:5-6 as Hy Genesis 1:24 gebruik om aan te voer dat hierdie een vlees-verhouding bedoel is om permanent te wees en dat egskeiding daarom nie deel is van God se plan vir die huwelik nie. Paulus sluit ook by hierdie een vlees-gedagte aan as hy in 1 Korintiërs 7:2-5 sê dat man en vrou se liggame in die huwelik aan mekaar behoort en dat hulle hulle daarom nie moet onthou van seksuele gemeenskap nie, tensy daar ‘n goeie rede is, en dan ook net vir ‘n ruk, vanweë die versoekings. Maar die punt wat in hierdie riglyn gemaak word, is dat die uitleef van die seksuele ‘n voorreg en plesier is wat ten volle binne die huwelik geniet mag word. Christen-egpare mag nie oor die seksuele met skuldgevoelens rondloop nie. Dis bedoel om geniet te word.

Derde riglyn: Hier gaan dit oor die vraag: Wat is die doel van seks? Bloot net om voort te plant, soos by die diere? Nee, die seksuele is aan die mens gegee tot lewensvervulling. Daarom dat daar in Genesis 1:27 staan dat God die mens as man en vrou geskape het om sáám – as man en vrou – God se beeld, dit wil sê, God se verteenwoordigers op aarde te wees. Dit beteken dat dieselfde intimiteit wat daar binne die Goddelike Drie-eenheid bestaan, as ‘t ware moet afskuur op man en vrou binne die huwelik. Daarom het God man en vrou gemaak om by mekaar te pas; hulle moet mekaar aanvul, hulle vorm ‘n intieme lewensgemeenskap (Gen 2:18,20-24). Die afleiding wat ons hieruit maak, is dat die seksuele, hoewel belangrik, slegs ‘n onderdeel is van hierdie lewensgemeenskap en van die egpaar se totale menswees. Dus, sodra die seksuele verabsoluteer word, dit wil sê, losgemaak word van hierdie totale lewensgemeenskap in die huwelik, begin die gevaarligte flikker. Dan begin dit gaan oor seks ter wille van seks. Seks is daar om die intimiteit en die eenheid tussen man en vrou te bevorder en te versterk. Dis één van die uitdrukkingsvorme van die eenheid tussen man en vrou, nie die een en al nie.

Vanuit hierdie riglyne kan ons nou meer spesifiek oor seksspeelgoed praat.

Seks as een element van ‘n gelukkige huwelik wil sê dat egpare nie angstig moet wees oor die seksuele nie, asof die geluk in hulle huwelik volledig daarvan afhang. Soms redeneer egpare: As daar nie by elke seksuele gemeenskap volkome vervulling is nie, dan is daar groot fout. Die egpaar word angstig en allerlei pogings word dan in werking gestel om hierdie “fout” te herstel; alles moet 100% elke keer “werk”. Dis dan dat seksspeelgoed as krukke ingespan word om alles op te kikker. Dit kan dan gebeur dat daarsonder daar later geen bevrediging meer is nie. En die fokus moet tog daarop val dat nie dinge nie, maar man en vrou mekaar plesier sal verskaf en bevredig. Want dit is wanneer man en vrou mekáár geniet dat die intimiteit en verhouding tussen hulle gebou en bevorder word, dat hulle waarlik tot ‘n intieme lewensgemeenskap ontwikkel.

Om net hierdie gedagte verder uit te bou. Ons moet onthou dat die seksuele in die huwelik eintlik op drie vlakke beweeg: die fisiese, die emosionele en die geestelike. Die seksuele is daar om die lewensgemeenskap op al drie hierdie vlakke te stimuleer. En die potensiële gevaar met seksspeelgoed is dat hulle alle aandag net op die fisiese fokus, en soms ook so dat dit net die eie genot is waarop gekonsentreer word. Die fokus is nie meer op die verhouding tussen man en vrou nie. En verder kan daar selfs so ‘n fiksasie met seksspeelgoed ontwikkel dat dit amper soos ‘n derde persoon in die huwelik begin funksioneer wat die plek inneem van die man en die vrou. Die egpaar word dan afhanklik van die speelgoed in stede daarvan dat hulle planne beraam om mekáár te stimuleer en te bevredig.

Verder, as mens in aanmerking neem waar seksspeelgoed te koop aangebied word, dan begin die skemerwêreld van pornografie oopgaan. Dit is bekend dat seksspeelgoed soms kan aanleiding gee daartoe dat een of beide van die egpaar by pornografie betrokke raak. En dit is uiteraard ‘n slegte ontwikkeling. Want daar is niks soos pornografie om die seksuele in die huwelik skade te berokken nie. Egliede ontwikkel sulke onrealistiese verwagtinge van mekaar dat dit ironies genoeg juis hulle seksuele verhouding is wat later daaronder ly, en die huwelik op die rotse kan beland.

Nog iets, wat nie altyd so gewild is om te hoor nie. Maar in die oorverhitte sekskultuur met sy onmiddellike bevrediging-sindroom waarin ons vandag lewe, is dit ook belangrik om te onthou dat daar so-iets soos kuisheid binne die huwelik is. Ongebreidelde wellus wat op alle denkbare en ondenkbare maniere geëis word en botvier, kan later die respek wat man en vrou vir mekaar moet hê, vernietig, en daarmee saam ook die huwelik. Die huwelik is ‘n veilige ruimte, en nie ‘n lisensie tot die beoefening van ongebreidelde en selfs afstootlike fantasieë en luste nie. Presies wáár die grense van die seksuele binne die huwelik is, is moeilik om by voorbaat te sê; elke egpaar moet dit self ontdek. Maar daar ís sulke grense. 1 Tessalonisense 4:3-8 waarsku nie verniet nie dat ons heilig en eerbaar binne die huwelik moet lewe en nie deur hartstog en begeerte gedryf moet word soos hulle wat God nie ken nie. Die seksuele het sy plek – ‘n belangrike plek – maar dis nie die een en al nie. Dit mag nie ‘n “eie lewe” los van die totale lewensgemeenskap van man en vrou hê nie. Dis nie ‘n god wat gedien word nie. Dit moet in diens staan van man en vrou se huwelik.

Maar met bostaande word nie ‘n oordeel uitgespreek oor seksspeelgoed as sodanig nie. As egpare die breë riglyne volg wat hierbo gegee is, gemaklik is met seksspeelgoed en dit as ‘n hulpmiddel vir hulle normale sekslewe inspan, en daar geen sieklike afhanklikheid, fiksasie of obsessie daarmee ontstaan nie, hoef egpare nie skuldig te voel nie. Soos aan die begin gesê, daar is nie werklik vaste voorskrifte hieroor nie. Elke egpaar moet, binne bostaande riglyne, self ontdek waarmee hulle gemaklik is. Ons geniet bepaalde vryhede as Christene. Ons hoef nie vir alles te sê: “Raak, smaak en roer nie aan nie.” Maar ek dink dit is ook belangrik om te onthou wat Paulus oor vryheid sê in 1 Korintiërs 6:12. Hy gee toe dat daar waarheid mag steek in die spreuk: “Alles is my geoorloof.” Maar dan voeg hy by: “Ja, maar ek gaan my nie deur enigiets laat verslaaf nie.” Dit kos soms fyn onderskeiding om te besluit wanneer die grens tussen vryheid en verslawing oorgesteek word. Die vryheid waartoe Christus ons vrymaak mag nooit lei tot nuwe vorme van verslawing nie.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl