Selfmisleiding en verleiding deur Satan
The true gospel is a call to self-denial. It is not a call to self-fulfillment – John MacArthur
Selfmisleiding en verleiding deur Satan
Die sonde in ons harte en Satan in ons ore lei ons om dieselfde basiese foute oor en oor te maak. Ons word dikwels deur ons omstandighede en nie God se geopenbaarde wysheid gelei nie. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld.
Aäron en die goue kalf
Ons lees hierdie verhaal in Eksodus 32. In hierdie gedeelte sien ons ‘n paar swakhede van Aäron.
- Hy word gedryf deur ‘n motivering wat homself en nie vir God dien nie.
Aäron se hart, soos ons almal se harte, was deur trots geïnfekteer. Hy wou respek vir homself behou – hy is immers tweede in bevel. Daarom is hy bereid om aan mense te gee wat hulle wil hê – al is dit die verkeerde ding. Hy was bang hy sou hulle respek verloor as hy nee sou sê.
- Aäron aanvaar ‘n mensgemaakte eerder as ‘n godsdiens deur God gegee
Moses het nog nie met die twee kliptafels met die tien gebooie daar aangekom nie. Streng gesproke het hulle dus nog nie die wet gehad nie. Aäron moes egter besef het dat dit wat hulle doen, verkeerd is. Hulle kan tog nie God vereer deur ‘n beeld van ‘n bulkalf te maak en dit te aanbid nie. Die bulkalf was die simbool van brute krag. Om die mense tevrede te stel, gee Aäron toe aan hulle versoek in plaas daarvan om hulle reg te help.
- Hy verskoon homself met ‘n verskoning wat homself regverdig.
Aäron sê vir Moses: U moenie kwaad wees nie. U weet self hoe sleg die volk is. Maar die ergste kom nog: Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee. Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom – sommer net so. Trots maak dit moeilik vir mense om hulle foute raak te sien en te erken dat hulle afgedwaal het of verkeerd of dom of naïef opgetree het. Ons, soos Aäron, probeer ons uit ons dilemma praat. Aäron praat met Moses asof hierdie episode van die goue kalf ‘n ongelukkige insident was waarvoor hy nie verantwoordelik gehou kan word nie. Ons lees nie wat Moses se reaksie was nie. Dalk was hy so ontsteld dat hy liewer niks gesê het nie.
Aäron het homself mislei. Sy gewete was ten minste tydelik verhard. Aäron voel dat wat hy gedoen het onder die omstandighede reg was en dat alles in die toekoms sal regkom. Alhoewel hier in hierdie gedeelte niks eksplisiet van Satan gesê word nie, kan ons seker wees dat hy aktief op die toneel was.
Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:13).