Sending en evangelisasie = Woorverkondiging?
The really wonderful moments of joy in this world are not moments of self-satisfaction but self-forgetfulness. —John Piper
Sending en evangelisasie = Woorverkondiging?
Ons glo dikwels dat sending en evangelisasie die verkondiging van die Woord is – ons moet net die evangelie kommunikeer. In Galasiërs 2 is daar ‘n interessant gedeelte. Na 14 jaar keer Paulus na Jerusalem terug. Daar lê hy die evangelie wat hy verkondig het aan die broers voor – Ek wou sekerheid hê dat ek nie tevergeefs werk of gewerk het nie. Daar is toe ooreengekom dat Paulus die evangelie aan die nie-Jode sou verkondig. Nou rig die broers in Jerusalem ‘n interessante versoek aan Paulus: Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer (2:10).
Daar word twee dinge gevra van Paulus: hy moet die evangelie aan die nie-Jode verkondig en hy moes nie die armes onder hulle vergeet nie. Die broers in Jerusalem praat nie oor leer of liturgie of ekklesiologie nie. Natuurlik is hierdie sake belangrik – lees net Handelinge om te sien hoe belangrik hulle is. Maar as dit kom by prioriteite was die versorging van die armes ook belangrik. Daarom maak die apostels seker dat mense dit nie vergeet nie. Dink net wat sou vandag gebeur as ‘n predikant by sy ordening hoor: moenie die armes vergeet nie?
Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ‘n blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie? (Jesaja 58:7). In sy kommentaar op hierdie vers skryf Calvyn: “Geregtigheid staan op twee bene: jy moet niemand skade aandoen nie en ons moet ons oorvloed en rykdom aan die armes en behoeftiges uitdeel. Hierdie twee moet aan mekaar verbind word, want dit is nie genoeg om jou van ongeregtige dade te weerhou as jy weier om die behoeftiges by te staan nie … Ek mag nie sê dit is myne en daarom kan ek dit vir myself hou nie … dit is inderdaad joune, maar op voorwaarde dat jy dit met die hongeres, dorstiges deel – nie dat jy dit alles self alleen eet nie.”
Ons staan aan die begin van die jaar; dit is ‘n tyd van gee. Moenie hierdie jaar die armes vergeet nie.