Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (2)

Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (2) – Kobus Kok

 

My groep gee my identiteit

Vandag is individualisme die in-ding. Hoe meer uniek ek kan wees en kan uitstaan bo die groep, hoe beter. Die oordrewe kontemporêre fokus op die waarde van die unieke individu het egter heel onlangs eers belangrik geword. In die tyd net na die Middeleeue en die Renaissance (1400 en daarna) en die Reformasie (1500) het die sogenaamde Verligting (1700 en daarna) of Aufklärung soos ʼn tsunami die wêreld getref.

Een van die groot filosowe van die tyd, Immanuel Kant (22 April 1724 – 12 Februarie 1804) het byvoorbeeld die slagspreuk gevestig dat “Jy kan ontwaak uit jou onkunde, en dat jy waagmoedig moet wees en moet dink vir jouself.” Die Aufklärung het mense bevry van onkunde en van die mag wat groepe soos die kerk, die staat en die aristokrasie oor mense gehad het. Stelselmatig het die individualisme ontwikkel wat tans hoogty fier.  In die tyd voor die Aufklärung kon mense nie self besluit watter beroep hulle wou beoefen of met watter huweliksmaat hulle wou trou nie. Kinders was nie as individue beskou nie, maar as deel van ʼn groter groep/familie en die pa as die hoof se opinie het die rigting van die groep bepaal. Ons sien dit dikwels vandag nog steeds in tradisionele Afrika kulture.

In die wêreld van die eerste eeu (Jesus se tyd) het mense in die eerste plek hulle identiteit ontvang en gebou in die konteks van die groep waaraan hulle behoort het. In die tyd van die Nuwe Testament is mense dus nie as losstaande individue beskou nie, maar altyd as deel van ʼn bepaalde groep. Indien jy wou weet hoe belangrik iemand was, het jy nie in die eerste plek na die individu se prestasies gekyk nie, maar eerder gekyk uit watter groep die persoon kom. Daarom sien ons dikwels in die Nuwe Testament hoe iemand beskryf word in terme van die groep waaraan hulle behoort het, soos byvoorbeeld as daar na Jesus verwys word as Jesus van Nasaret, Seun van Josef (vgl. Johannes 1:45). Hier word Jesus beskryf in terme van sy pa en sy groep asook sy plek van herkoms wat in daardie tyd bepaal het wie jy is en hoe mense jou waarde, eer of status bepaal het.

Die beste voorbeeld hiervan vind ons by Paulus as hy vir die Jode wat hom aanvat, verduidelik wie hy is. Die interessante is dat Paulus nie in die eerste plek verduidelik wat sy individuele prestasies is nie, maar sy waarde beskryf aan die hand van die groep waaraan hy behoort het en in watter mate hy die reëls van die groep uitgeleef het. In Filippense 3:5-6 lees ons byvoorbeeld die volgende:

Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ʼn ras egte Hebreër; wat die wet betref, ʼn Fariseër;

wat ywer betref, ʼn vervolger van die kerk; wat die geregtigheid in die wet betref, absoluut onberispelik.

 

Hier sien ons dat Paulus sy eie waarde en eervolle herkoms verduidelik aan die hand van die feit dat hy op die agste dag besny is, wat die vereiste was vir getroue Israeliete wat binne die konteks van die verbond staan. Hy gaan egter verder en trek die sirkel kleiner en sê dat hy uit die stam Benjamin kom. Dan gaan hy nog verder en trek die sirkel nog kleiner deur homself as deel van die groep wat as die Fariseërs bekend staan, te beskryf. Hierdie groep was die strengste van die strengste gewees, sedert die tyd van die Makkabese opstand in die eeue net voor Christus. Indien mens fyn let op die wyse waarop Paulus sy identiteit beskryf, sien mens dat die sake waarna hy verwys 90% van die kere verwys na dinge wat mét hom gebeur het – Hy is deur die groep op die agste dag besny, hy is gebore in die stam Benjamin, iets waaroor hy nie beheer gehad het nie, maar die resultaat is van die groep wat lankal voor hom al bestaan het. Dit is dus duidelik dat die groep die belangrikste bepaler was van die waarde en status van die antieke persoon. Die individu se eer en waarde is dus net so belangrik as wat hy of sy dit reg gekry het om die groep se waardes en reëls te beliggaam. ‘n Eervolle groepslid het dus die groep se belange in alles eerste gestel en daarmee absolute lojaliteit aan die groep gewys. Ons kan dus sê dat die mense van die eerste eeu groepsmense was, en nogmaals groepsmense.

Juis om hierdie rede verstaan ons dan hoekom Jesus se geslagsregister vir hulle so belangrik was. Indien mens dit bestudeer val dit dadelik op dat Matteus byvoorbeeld aandui dat Jesus ʼn nasaat is van die groot Koning van Israel, Dawid. Daarmee word Jesus vierkantig in die konteks van Israel se leiers geplaas, en kwalifiseer hy dus volgens die Jode om die beloofde Messias uit die huis van Dawid te wees. Lees gerus deur ander oë die geslagsregister van Jesus volgens Matteus 1:1vv:

Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham…

Interessant genoeg gee Johannes ons weer ʼn heel ander prentjie van wie Jesus is en hoe sy identiteit verstaan kan word. Volgens Johannes 1:1 word Jesus sommer van die begin af beskryf as die Seun van God, die een wat in die beste moontlike posisie is om die Vader aan mense bekend te maak omdat Hy en die Vader in ʼn intieme verhouding met mekaar staan van die heel begin af (vgl. Johannes 1:1-18, veral 1:18; 5:17-20vv). Daarom kyk die Seun graag wat die Vader doen en doen dit net so, of hoor wat die Vader sê en breek die hemelse nuus vir mense oop. Volgens Johannes is Jesus se waarde en eer juis afkomstig van die feit dat Jesus die Seun van die groot Koning van die heelal is, Seun van die Skepper-God. Volgens Johannes ontvang die wat glo nie net die ewige lewe nie (Johannes 3:16 en 20:30-31), maar ook die reg om kinders van God te word. Daarmee word hulle opgeneem binne die kragveld van die nuwe familie of groep van Jesus. As deel van hierdie nuwe bestaanswyse leef mens dan sommer gans anders omdat mens deel is van ‘n nuwe groep en omdat die groep se waardes vir mens die belangrikste rigtinggewende kompas word.

 

Outeur: Dr Kobus Kok