Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (3) – Mans is Baas
Sleutels wat die antieke wêreld oopsluit (3) – Mans is Baas – Kobus Kok
“Die man is die onbetwiste hoof van die huis, deur die gode gemaak om te heers en die vrou is gemaak om hom te gehoorsaam,” so het die belangrike Romeinse filosoof Seneka, raadgewer van keiser Nero, op ʼn goeie dag luidkeels geargumenteer. Die antieke wêreld was ʼn wêreld vir die manne, en die patriargale familie was die hartklop van die samelewing. In die Joodse samelewing het dieselfde beginsel gegeld. Mans het oor vrouens geheers en vrouens was dikwels as niks meer as die man se besitting beskou nie. Vrouens het ook nie aan die politiek en formele religieuse sisteme as leiers deelgeneem nie. Ons lees in die Misjna, wat uit ʼn versameling Joodse mondelinge tradisies bestaan het dat vrouens nie die wet saam met mans kon bestudeer nie. Filo van Aleksandrië het opgemerk dat ʼn goeie vrou nie onnodig in die publieke plekke rondlê nie, en indien sy wel na die tempel toe wil gaan sy dit nie op die besigste tyd van die dag moet doen nie aangesien dit dalk die verkeerde indruk kan skep. Indien ʼn vrou wel in die publiek verskyn, soos byvoorbeeld om mark toe te gaan, moes sy ʼn sluier dra en mag sy nie met ander mans oogkontak maak of praat nie. Vrouens se plek en interaksie in die samelewing is dus deur mans beheer. Een Rabbi het selfs so ver gegaan om te sê dat vrouens ʼn stuk vleis is waarmee mans kan doen wat hulle wil. Sommige Joodse groepe was van mening dat die vrou verantwoordelik was vir die sondeval. Dinge het skeefgeloop omdat Adam destyds sy ore uitgeleen het aan die vrou, Eva. Vir hulle was dit die groot bewys dat mans eerder die leiding moet neem en dat vrouens in hulle ruimte moet bly en dat die man die onbetwiste hoof van die huis moet wees.
Hierdie hiërargiese struktuur van die antieke wêreld word dan ook uitgedruk in die afgebakende rolle wat daar vir elke lid van die gesin bestaan het. Die paterfamilias, of hoof van die familie/gesin, het die belangrikste plek in die sisteem beklee en hy het lewenslange mag oor sy gesin gehad. Hierdie beheer wat die vader oor sy gesin uitgeoefen het, het in die Romeinse wêreld bekend gestaan as die patria potestas. Die pa kon byvoorbeeld besluit of hy sy kind na geboorte wil hê of nie. Sommige kinders is selfs op die ashoop gegooi indien die pa besluit het dat hy nie die kind wil hê nie. Indien die kinders nie gehoorsaam was nie, het die pa die mag gehad om sy kinders as slawe te verkoop. Uit die aard van die saak het daar meer as dikwels vergrype plaasgevind en uiteindelik sou Keiser Valentinianus in 374 n.C. die pa se mag oor lewe en dood wetlik beperk.
Dit is teen hierdie agtergrond dat Jesus se optrede so radikaal anders is. Jesus het die antieke wêreld letterlik op sy kop gedraai. Jesus deurbreek die tradisionele simboliese magstrukture van die tyd. Die sosioloog Pierre Bourdieu het baie oor sogenaamde simboliese magstrukture in die samelewing geskryf. Hy wys daarop dat samelewings dikwels in die alledaagse manier van dinge doen, implisiete magstrukture het. Ek onthou hoe ek eendag iemand se huishulp êrens heen moes neem. Die huishulp het onmiddellik die agterdeur van my motor oopgemaak en het geweier om voor by die passasierskant te sit. Haar rede was dat dit nie is hoe mens dinge doen nie – huishulpe sit nie voor in die kar nie. Pierre Bourdieu sal dadelik opmerk dat die simboliese “sit op die agterste bank” implisiete magsstrukture illustreer. En hy is natuurlik reg – in baie mense se koppe is die “ou” pre-1994 magstrukture nog lewend. Net so mis mens dikwels die implisiete magsdimensies wat Jesus deurbreek het – deur dinge wat vir ons sommer net “gewoon” lyk. Jesus het die patriargale wêreld op sy kop gedraai. In Johannes 4:1-42 word die onrein Samaritaanse vrou ʼn radikale missionêre figuur en vertel vir almal in die dorp dat sy die Messias ontmoet het. Op grond van haar woorde – die woorde van hierdie onrein Samaritaanse vrou kom die dorp se manne tot bekering. Dit was uiters ongewoon in Jesus se tyd. Vrouens se getuienis was nie betroubaar nie, en veral nie die van ‘n Samaritaanse vrou nie. Jesus breek die simboliese magstrukture heeltemal af en kom wys hoe hy die randfigure, die “nobodies” van hierdie lewe in “somebodies”, in betekenisvolle mense van impak, kan omskep. In die geskiedenis van die vroeë Christendom is dit dan ook baie interessant om te sien dat vrouens ʼn leidende rol in die kerk speel. Lees gerus Paulus en Tekla, ʼn apokriewe boek, wat vertel van ʼn vrou met die naam Tekla, wat ʼn vurige prediker was in die vroeë kerk. In Handelinge 17:12 lees ons ook dat vooraanstaande vroue in Berea gelowiges geword het onder die prediking van Paulus. Jesus se optrede leer ons om sensitief te wees vir implisiete magstrukture en herinner ons daaraan dat mense gelyk is en dat magsmisbruik omskep moet word in wedersydse respek en liefdevolle diens aan mekaar.
Outeur: Dr Kobus Kok