Slot: Christelike vrymoedigheid en vertroue (5:14-21) – Francois Malan

Gebedsverhoring (5:14-17)

5:14 Die sekerheid van ons saligheid (v13) gee vrymoedigheid teenoor God. In 2:28 is verwys na vrymoedigheid met die wederkoms; 4:17 op die oordeelsdag. Die hede is egter nie uitgesluit nie. Die vrymoedigheid wat ons nou reeds het teenoor God en ons vertroue op Hom, deurdat ons aan Jesus behoort en die Heilige Gees in ons kom woon het, maak dat ons seker weet dat Hy ons hoor, dat Hy na ons luister, en ons antwoord, as ons met Hom praat. Die voorwaarde is dat ons vra volgens sy wil. In 3:22 is die voorwaarde vir gebed wat beantwoord word ook dat ons God se bevele gehoorsaam en doen wat Hy goedvind (ook in Joh 15:7 as ons in Jesus bly en sy woorde in ons). Die fundamentele kenmerk van alle ware Christelike voorbidding is dat die wil van die bidder ooreenstem met God se wil. Gebed is nie ‘n geveg nie, maar ‘n reaksie, ‘n weerklank; die krag van die gebed is dat ons ons wil ophef tot God se wil; nie dat ons probeer om sy wil af te buig tot by ons wil nie.

5:15 ‘En as ons weet dat Hy ons verhoor in alles wat ons vra…’ Vers 14 het reeds gesê dat God luister as ons vra volgens sy wil. In Joh 11:42 het Jesus gesê dat Hy weet dat die Vader Hom altyd verhoor. Dit word nou ook aan die gemeente toegeken, want Jesus het in hulle kom woon met sy Gees. In vers 14 is die versoeke uitgespel: as ons enigiets volgens sy wil vra; hier word dit algemeen: wat ons ook al vra.

‘…weet ons dat ons alles ontvang wat ons van Hom vra’ – die antwoord op gebed is reeds in die gebed verseker – dit moet steeds volgens die wil van die Here wees (vgl. Jesus se versekering in Mark 11:24; en die rede waarom ons nie het/verkry nie, in Jak 4:2-3). Die sekerheid dat ons dit het wat ons van Hom gevra het, word deur die Heilige Gees in ons gewerk en bevestig.

Die werkwoorde is in die teenwoordige tyd: ‘dit is, ons het/ons verkry, ons vra, hy hoor, ons weet, Hy hoor, ons vra, ons weet, ons het’ om te beklemtoon dat dit nou reeds die heilstyd is wat God berei het en ‘n aandeel daarin aan ons skenk: 2:23 ‘wie die Seun bely, het ook die Vader’; ‘wie die Seun het, het die lewe’ (5:12); ‘wat ons ook al van Hom vra, het ons’ (5:15).

Die sekerheid van gebedsverhoring vloei voort uit ons vrymoedigheid voor God as ons Vader in Christus. Dit gaan van die veronderstelling uit dat wat gevra word, reeds toegestaan is. Die vraag is nie of ons ons sin kry nie, maar of God sy doel in en met ons bereik. Gebed is die oefenskool om, in gehoorsaamheid aan die wil van God, met Hom om te gaan. Wat sy wil is, is telkens aangedui: dit is om God en die mede-gelowiges lief te hê (2:9-11; 3:10-17; 4:7-5:4). Die gebed staan in diens van die liefde en die gemeenskap. Wanneer ons gebed uit, in en deur liefde gedoen word, is dit nooit twyfelagtig of dit wel die wil van God is nie. Hy sal liefde met liefde beantwoord. Ons gebed word dadelik verhoor. Die resultate daarvan word in die toekoms gesien.

5:16 Die versekering dat die gelowige die ewig lewe reeds het (v13), moet hom nie lei tot ‘n lewe wat net op homself ingestel is en ander afskeep nie. Hy sal die nood van sy mede-gelowige kan raaksien.   ‘As iemand sy broer ‘n sonde sien doen…’ – die broer verwys na ‘n mede-gelowige. As enige gelowige ‘n ander gelowige sien wat voortgaan met sonde doen – letterlik: ‘sondigende sonde’, die teenwoordige deelwoord wys na ‘n sonde wat aanhou, wat voortgaan. Dit gaan ook oor ‘n optrede wat jy kan sien, nie net oor ‘n skinderstorie nie.

‘…moet hy bid en Hy (God) sal aan hom die lewe gee…’ ‘moet/sal hy bid’ as natuurlike uitvloeisel van die liefde, of as ‘n opdrag. ‘Hy sal aan hom die lewe gee’– veronderstel die krag van die gebed; deur tot God te bid vir die mede-gelowige gee jy aan hom die lewe terug. God werk deur jou om aan die sondaar die lewe te gee. As jy vra gee jy reeds lewe, so seker werk God deur jou tot ander. Dit gaan in hierdie verse nie om fisiese lewe of dood nie; fisiese dood is soms die straf op sonde, bv. Num. 16 Korag, Datan & Abiram; Hand. 5 Ananias en Saffira; vgl. ook

1 Kor 11:30). Hier gaan dit om geestelike lewe, ewige lewe, teenoor geestelike dood (3:14); dié soort lewe wat nou reeds saam met God begin as sy kind, onder sy daaglikse sorg en leiding deur sy woord en Gees, in sy krag en liefde.

Daar is ‘n voorwaarde wat twee keer gestel word: die ‘sondigende’ broer, vir wie dringend voorbidding gedoen moet/sal word, se sonde moet nie tot die dood wees nie. God sal die lewe gee aan die wat nie sonde doen wat tot die dood is nie – die woord ‘sondig’ wat hier gebruik word, beteken om teen die wil en wet van God op te tree.

 

Johannes verduidelik nie wat die sonde is wat nie tot die dood lei nie, ook nie wat die sonde is wat wel tot die dood lei nie:

Sonde wat nie tot die dood lei nie, sinspeel op ‘n optrede wat nie pas by ‘n lewe in die lig, en van ‘n kind van God nie. Deur die hele brief het Johannes sy lesers gewaarsku teen so ‘n soort lewe, deur te wys op die voorwaardes vir egte Christelike lewe, nl. aflê van die sonde, gehoorsaamheid aan die liefdesgebod van Jesus, verwerping van wêreldsgesindheid, en volharding in die geloof in Jesus. As die voorwaardes verwerp word, lei dit tot duisternis en dood. Deur ongelowiges se ontkenning van Jesus, en gebrek aan liefde, loop hulle die gevaar dat God sal sê: ‘Ek ken julle nie’ (2:22-23; 3:10-15; vgl. Mat 10:33). Moedswillige verwerping van die soort lewe wat God van ons vra, lei tot afval van God en sy kerk, en is bewys van die gees van die antichris (vgl. die mense van Johannes se tyd, wat die gemeenskapsbande verbreek het (2:19,23).

Sonde wat nie tot die dood lei nie, is egter nog steeds ‘n moontlikheid wat gelowiges oorkom, as hulle toegee aan versoekings. Dit beteken nie ‘n hardkoppige verwerping van God en sy woord nie, maar ‘n onopsetlike oortreding van God se wet in swakheid, waarvoor God in sy genade voorsiening gemaak het (2:1-2; 4:10; vgl. Petrus se herstel in sy amp na sy verloëning van Jesus (Joh 21:15-17) en Jesus se gebed vir hom (Luk 22:32). Gebed vir so’n persoon en selfs optrede teen hom kan hom nog tot inkeer bring (1 Kor 5:5; 1 Tim 1:19-20). Waar die sin begin het met voorbidding vir ‘n broer, word God se gawe van die lewe ook algemeen gestel: God sal aan hom (die broer) lewe gee op ons voorbidding, dit geld vir diegene (algemeen) wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie.

Die ‘lewe’ waarvan v16 praat verwys na ‘n lewe in gemeenskap met God, soos ‘n kind onder die sorg van sy vader, ‘n vrugbare en sinvolle lewe van diensbaarheid aan ander, me t die liefde van God wat in ons kom woon deur die Heilige Gees. Dit is die soort lewe wat God gee, die ewige lewe wat nou reeds begin met geloof in Jesus. Teenoor ‘n lewe in die sfeer van die liefde van God staan die sfeer van die dood waarin die sondaar beland.

‘Daar is sonde wat tot die dood lei; daarvoor sê ek nie dat hy moet bid nie’ – Johannes verbied egter nie sulke gebede nie.

5:17 ‘Elke onreg is sonde, maar daar is sonde wat nie tot die dood lei nie’ – die woord vir onreg (adikia) beteken ‘sonder/teen geregtigheid, geregtigheid (dikaios) verwys na reg doen, en na die herstel van die verhouding met God. Alles wat die verhouding met God versteur is sonde (om teen God se wil en sy wet van liefde op te tree). Daarmee wys Johannes op die wydheid van die gebied waarvoor voorbidding gedoen moet word en waaraan gelowiges sorg behoort te gee; ook na die geneigdheid van die mens om sy eie kop te volg. Hy wil die erns van enige sonde onderstreep. Maar elke gelowige kan vertrou op God se genade en vergifnis. As hy sou val, lei sy sonde nie noodwendig tot verwydering van God en sy genade en vergifnis nie (2:1-2)

Skrywer:  Prof Francois Malan