Slot: Christelike vrymoedigheid en vertroue (vervolg) – Francois Malan
Lewe in God en Jesus (5:20-21)
5:20 ‘En ons weet dat die Seun van God gekom het…’ dit is die derde keer dat Johannes skryf: ‘ons weet,’ ons is seker. ‘En’ volg op 19b: ‘die hele wêreld lê in die mag van die Bose.’ Ten spyte daar van, kan ons, wat uit God gebore is (19a), seker weet dat die Seun van God (in die wêreld wat die mag van die Bose lê) gekom het. Die werkwoord ‘Hy het gekom (hekei) wys na sy koms met sy menswording om permanent in hierdie wêreld te wees (Jn 8:42 En nou is Ek hier)..
‘…en aan ons verstand gegee het sodat ons die Waaragtige kan ken…’ die woord vir ‘verstand/denke’ (dianoia) verwys na die vermoë om te verstaan, te beredeneer, te dink en om te besluit, maar dan ook na ‘n spesifieke manier van dink oor iets/iemand, en dan ook na die inhoud van ons denke en redenering (een van die woorde vir bekering is ook metanoia die verandering van ons denke en manier van dink oor God). Die werkwoord ‘Hy het gegee’ is in die voltooide tyd, wat beteken dat dit in die verlede gegee is en die gevolge daarvan duur nou voort (Rom 11:29). ‘die Waaragtige’ het ‘n persoons lidwoord, wat verwys na God as die ware God, wat self die waarheid is, wat getrou is, en ‘n werklikheid in ons lewe is (Jes 65:16; Jn 17:3; 1 Ts 1:9; Op 3:7). Hy staan teenoor die vals gode van 4:1-3. In Jn 1:9 word Jesus genoem ‘die ware lig;’ in Jn 15:1 die ‘ware’ wingerdstok. Hy het die ware God vir ons kom openbaar en is self ook die ware God.
‘…en ons is in die Waaragtige (in Hom wat die waarheid is), in sy Seun, Jesus Christus.’ in 5:11 is reeds gesê ‘dat God die ewige lewe vir ons gegee het, en dié lewe is in sy Seun.’ Om die Seun te hê, is om dié lewe te hê (5:12). Netso word hier gesê: om die Seun te erken beteken ook om die Vader te hê. Die ware gelowige bly in die Seun en in die Vader (2:23-24; Jn 10:38 :Ek is in die Vader en die Vader in My; Jn 17:21 dat hulle ook in Ons mag wees; 1 Ts 1:1 aan die gemeente…wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort). 1 Jn 5:20 verduidelik wat dit beteken om in die ware God te wees: Ons is in God en het met Hom gemeenskap as ons in Christus is. Jesus het God aan ons kom openbaar sodat ons die ware God mag ken en in noue gemeenskap met Hom te kan lewe (vgl. 1 Jn 1:3). Om in God en in Jesus te wees benadruk die voorwaarde, maar ook die manier waarop gelowiges in hierdie wêreld moet lewe. God, soos Jesus Hom aan ons openbaar as die God van liefde en geregtigheid, is die ruimte waarin ons as sy kinders lewe: onder sy sorg en leiding.
‘Hy is die ware God en die ewige lewe.’ Na wie ‘Hy’ verwys is verskillend uitgelê as die Vader of die Seun, maar albei is betrokke. Dit gaan in hierdie teks oor Jesus wat aan ons kennis gee om die ware God as die Vader van Jesus te ken, met wie ons gemeenskap het deur Jesus, wat self ook God is. Die ewige lewe behels juis dat ons God die Vader ken en in gemeenskap met Hom lewe. Maar dit kan nie, sonder dat ons Jesus ken en in Jesus glo nie. In 1:2 word die ewige lewe aan Jesus verbind. Dit is die lewe wat Hy en die Vader saam lewe. In 5:13 is reeds gesê dat dié wat in die Naam van die Seun van God glo, kan vir seker weet dat hulle die ewige lewe het. En die ewige lewe begin nou reeds deur ons lewe in gemeenskap met die Seun en die Vader (wat bewerk word deur die Heilige Gees, volgens 3:24; 4:2,6 die Gees van die waarheid; 4:13).
5:21 ‘My liewe kindertjies…’ soos reeds ses maal tevore in die brief, as ‘n uitdrukking van Johannes se intieme liefdesverbondenheid en bekommernis oor die gemeente. In plaas van ‘n formele vaarwel, sluit Johannes sy brief af met die waarskuwing uit sy liefde vir hulle:
‘…beskerm julleself/hou noukeurig oor julleself die wag, teen die afgode.’ Hulle word met ‘n sterk vorm van die bevelswerkwoord opgeroep om wag te staan oor hulleself, oor hulle denke en geloof en optrede. Hulle moet aktief daaraan werk, terwyl in 5:18 reeds gesê is dat Jesus ons vashou en bewaar, sodat die Bose ons nie sal aanraak nie. Ons is betrokke in die stryd teen die Bose, en moet steeds in Christus bly om te oorwin (5:4-5).
Johannes skryf vir die gemeentes in en rondom Efese waar die godin Artemis (Grieks)/Diana (Latyn) en ander gode vereer is, en die stroom van mense en familielede na die feesgeleenthede ter ere van die afgode vir die gelowiges ‘n versoeking bly. Die woord vir ‘afgod’ (eidoolon) beskryf ‘n voorwerp wat soos ‘n mens, of dier of iets anders lyk en die voorwerp van aanbidding is. Dit word figuurlik gebruik vir enige vals god, wat lyk na god, maar dit nie is nie. Daarom waarsku Johannes die gelowiges om te waak teen enige substitute vir die ware God, teen ‘n ander siening oor God as wat Jesus vir ons gebring het. Sommige van die mense wat reeds die gemeentes verlaat het om terug te keer na die Jode se opvatting oor God en Jesus nie erken nie, het hy ‘antichriste’ genoem (2:18-19; en vals profete 4:1). Die vals gode moet verwerp word en die gelowiges moet waak teen die vals gode en profete se invloed op hulle, om getrou te blyaan die ware God wat in sy Seun die ewige lewe gee aan die gelowiges.
Skrywer: Prof Francois Malan