Die vyfde vereiste vir kinders van God – om die geloof te behou (5:5-13) – Francois Malan

Geloof in Jesus (5:5-8)

 

5:5 ‘Wie anders oorwin die wêreld…’ die oorwinning oor die wêreld, word met ‘wie’ persoonlik gestel. Dit is nie soseer geloof wat opsigself die oorwinning is nie (5:4), maar eerder die indiwiduele gelowige wat oorwin, en dat hy lewe uit sy geloof in Jesus – die teenwoordige vorm ‘is aan die oorwin’ wys daarop op dat die gelowige steeds besig is om te oorwin oor die versoekings van die wêreld, en oor ongehoorsaamheid aan God.

‘…as hy glo dat Jesus die Seun van God is?’ Dit verwys na húlle wat geloof in Jesus aktief uitleef en dit behou. 5:1 verwys na elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, hier dat Jesus die Seun van God is (in 2:22-23 word ook van ‘Christus’ na ‘Seun van God’ oorgegaan, wat albei vir Jesus intiem met die Vader verbind. Hier word ‘Seun van God’ gebruik om te verwys na die krag van God wat in sy Seun Jesus geopenbaar is, en baie groter is as die mag van die wêreld (5:4) en van die duiwel (4:4). Daarom put die kind van God sy krag by God, deur sy Seun, wat deel is van die goddelike mag om wêreldsgesindheid en die wêreldse versoekings te oorwin. Die regte geloof van vertroue op God lei tot die regte optrede soos Jesus opgetree het.

 

5:6 Nadat Johannes in 5:5 die inhoud van die Christelike geloof beskryf het as geloof in Jesus as die Seun van God, verwys hy in 5:6-9 na die aard van die drie getuies oor die waarheid van dié belydenis (water, bloed, Heilige Gees).

‘Hý, Jesus Christus, is die Een wat deur water en bloed gekom het…’(‘gekom het’ is in die verlede tyd). ’ Hoewel Luther en Calvyn hierin die kerk se doop en nagmaal gesien het, en Augustinus verwys het na die water en bloed uit Jesus se sy aan die kruis, verwys water en bloed hier na Jesus se koms as mens in die verlede; na die beginpunt van sy bediening met sy doop, en die einde van sy aardse bediening met sy kruisiging. Met sy doop is Hy verklaar as die Seun van God (vgl. Johannes die Doper se getuienis in Joh.1:34 ‘Hy is die Seun van God’; en die stem uit die hemel in Mk 1:11 ‘dit is my geliefde Seun’) – die belydenis van Johannes onderstreep Jesus se gesag om as God se gesant op te tree, en sy mag, naamlik dat Hy in die krag van die Heilige Gees optree. Sy gesag en mag word beslissend bevestig deur sy bloed aan die kruis, waardeur die Vader aan Hom die gesag oor alle mense gegee het, en om die ewige lewe aan almal te gee wat die Vader aan Hom gegee het. Daarna is Hy in die teenwoordigheid van die Vader in heerlikheid opgeneem (Joh.17:2,5).

Jesus het vir Johannes die Doper gesê dat hy Hom moet doop om alle geregtigheid te vervul. Johannes het die pad vir Jesus reggemaak deur mense tot bekering tot God te roep. Hy het hulle gedoop as teken van hulle reiniging en bevestiging van hulle bekering. Jesus, die sondelose, wat juis deur God gestuur word, neem reeds die sonde van die wêreld op Hom deur Hom saam met hulle te onderwerp aan die doop van sondaars. Geregtigheid word juis vervul deur versoening van die sondaar met God, deur die verhouding met God reg te maak. Jesus het gekom om ons verhouding met God reg te stel met sy offerbloed vir ons sonde aan die kruis. Waar die doop die simbool van reiniging is, is sy bloed die werklike middel om reiniging te bewerk in die geskiedenis van die mensdom, die bloed van Jesus reinig ons van elke sonde (1 Joh 1:7; vgl. 4:10 ‘werklike liefde is nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes’).

‘…nie in die water alleen nie, maar in die water en in die bloed…’ waar die eerste sin in die vers sonder lidwoorde was om die mensheid van Jesus uit te druk, word die lidwoorde hier bygevoeg as verwysing na dié water van sy doop en dié bloed van sy kruisdood.

‘Die Gees is die Een wat getuig, want die Gees is die waarheid.’ Die Gees het die profete vooruit laat wys na die koms van die Messias (Joh 5:39; 1 Petr 1:10-12; 2 Petr 1:19-21) en het by Jesus se doop op Hom neergedaal as teken van sy Seunskap van God (Joh 1:32-34). Dit is dieselfde Gees wat nou getuienis aflê, oor Jesus as die Seun van God wat mens geword het, in en deur die gemeente, deur die prediking van God se woord en die lewe van die gemeente in liefde. Die Gees werk in die gelowiges om ons al meer te omvorm om soos Jesus te word (1 Joh 3:24; 4:13) . Hy is die Gees van die waarheid (1 Joh 4:6; 5:6) en daarom is sy getuienis die waarheid. Daarom kan ons, wat die salwing met die Heilige Gees van God ontvang het (1 Joh 2:20,27), onvoorwaardelik glo dat Jesus God is, en weet dat sy doop die heilsbetekenis van sy dood bevestig (Joh 15:26; 16:13-15).

Ons het ‘n objektiewe getuienis oor Jesus in die water (sy doop) en bloed (sy offerdood) en ‘n subjektiewe getuienis van die Heilige Gees in ons hart (innerlike oortuiging).

 

5:7,8 ‘Want daar is drie wat getuig, die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is een’ – hulle werk saam aan dieselfde doel, nl. om die waarheid te bevestig dat Jesus die Christus is, en die Seun van God. Die water/doop en bloed/dood van Jesus getuig nou nog in die Bybel, maar word in die kerk met die sakrament van die doop en die nagmaal bevestig. Maar dit is Jesus, wat Hom met ons sondaars vereenselwig het, wat nou nog by ons teenwoordig is met sy woord en sy Gees. Die OuTestamentiese-wet vereis twee of drie getuies (Deutr.19:15; Joh 8:17).

[die gedeeltes tussen die volgende aanhalingstekens kom die eerste keer voor in die geskrifte van Priscillianus (oorlede 385 n.Chr.), in sy verweer teen die kerk in Spanje se leer van die drie-eenheid: daar is drie wat getuig ‘in die hemel: die Vader die Woord en die Heilige Gees,’ en die drie is een; ‘en daar is drie wat getuig op die aarde:’ die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Dit kom nie voor in enige ou Griekse manuskrifte of van die ou Griekse kerkvaders nie, ook nie in ander tale of die Latynse Vulgaat van 405 n.Chr. nie, maar is in die 6e eeuse afskifte van die Vulgaat opgeneem, en in ‘n 16e Griekse vertaling van die Vulgaat. Erasmus se eerste Griekse teks het dit nie gehad nie, hy is daaroor aangeval, en het gesê hy sal dit opneem as hy enige Griekse teks sien wat dit het. Die vermoede is dat dié 16e eeuse teks spesiaal daarvoor gemaak is, en hy het dit toe in sy derde uitgawe opgeneem, en so het dit in Lutherse, Engelse, Hollandse en Afrikaanse vertalings ingekom. In die 1983-vertaling is teruggekeer na die ou en betroubare Griekse manuskripte wat nie die gedeeltes het nie.]

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) – Francois Malan

Liefde geloof gehoorsaamheid (5:1-4)

5:1-4 Die onlosmaaklike verband tussen die liefde van God en liefde tot ander mense word in die volgende vier verse verbind aan geloof en gehoorsaamheid, soos in 4:13-16. Verse 1 en 4 gaan oor geloof, 2 en 3 oor gehoorsaamheid.

5:1        liefde en geloof

5:2        liefde en gehoorsaamheid

5:3        liefde en gehoorsammheid

5:4        oorwinning en geloof.

5:1 In 2:29 is gesê: ‘elkeen wat regverdig lewe (letterlik: geregtigheid doen) is uit God gebore.’ In 4:7b is gesê: ‘elkeen wat liefhet is uit God gebore.’ Hier ‘elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore’ – die werkwoord ‘glo’ in die teenwoordge tyd beteken dat ons in geloof lewe; die perfektum tyd van ‘is uit God gebore’ beteken dat die gelowige reeds deur God weergebore is, en die gevolge daarvan duur voort deur sy lewe – sosiaal: vir sy omgang met sy medemens, en eties: vir sy optrede as kind van God. Egte geloof in Jesus en ‘n lewenswyse wat daarby pas, is onontbeerlik vir ware Christelike lewe.

‘en elkeen wat die Een liefhet uit wie hy gebore is (nl. die Vader), het/behoort dié wat uit Hom gebore is lief/lief te hê’ (nl. elke kind van God) – die Griekse vorm van ‘liefhê’ is dieselfde vir ‘n stelling (hy het lief, ‘n algemene stelling) en vir ‘n vemaning (hy behoort lief te hê – soos in 3:23). As jy weet dat jy uit God gebore is, dus sy kind is, dan weet jy ook dat ander gelowiges ook uit God gebore is, en daarom deel is van God se gesin, vir wie Hy liefhet, en waar onderlinge liefde die lewe kenmerk.

 

5:2 ‘Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet, (naamlik) wanneer ook al (onbepaald, deurgaans) ons God liefhet en sy gebooie nakom’ – die onderlinge liefde van gelowiges is die bewys van hulle liefde vir God, en die omgekeerde is ook waar. Die liefde vir God en die liefde vir medegelowiges bewys die egtheid van die een en van die ander, en versterk die wedersydse liefde (volgens 4:19 is die liefde egter nie tot mede-gelowiges beperk nie – ‘ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het’). Liefde vir God behels die doen van sy gebooie, o.a. om lief te hê (Johannes het telkens gesê ons moet God se gebooie hou. Met doen/nakom beklemtoon hy dat ons God se gebooie prakties moet uitvoer en uitlewe). Liefde vir God en jou medemens is nie geleë in ‘n vroom gevoel of belewenis nie, maar in die praktiese uitlewing van onselfsugtige liefde teenoor ander, waaraan Jesus gestalte gegee het deur sy selfofferende liefde vir die sondige mensdom.

 

5:3 ‘Want dit is die liefde vir God, dat ons sy opdragte gehoorsaam’ – hier word by vers 2b aangesluit en daarop uitgebrei. Dit is reeds in die Johannes Evangelie uitgespel: 14:15, 21a, 23-24. Die gehoorsame liefde van die Christen vir Christus weerspieël Jesus se liefde vir sy Vader (14:31; 15:10) en word in Jesus se gebed in Jn 17 uitgespel. (vgl. 17:23-24,26). Uit liefde vir sy Vader het Jesus sy opdragte uitgevoer en sy volgelinge opgedra om die opdragte van God uit liefde vir God uit te voer (17:4,6-8).

‘en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie;’ God se gebooie is nie bedoel om onderdrukkend te wees nie; om die vryheid en spontaneïteit van jou liefde te onderdruk nie, soos die Fariseërs en skrifgeleerdes gedoen het met hulle swaar laste wat hulle die volk opgelê het met hulle menigte wette nie (Mat 23:4; Luk 11:46). Daarteenoor is Jesus se juk sag en sy las lig (Mat 11:30). Elkeen wat vir God liefhet se hart is vervul met vreugde om God se wil te doen.

 

5:4 ‘…want elkeen wat uit God gebore is oorwin die wêreld;’ – hier volg die rede waarom God se gebooie nie ‘n swaar las is nie. ‘oorwin’ of ‘kan oorwin’ (die Griekse vorm is dieselfde vir die stelling/indikatief, en die moontlikheid/konjunktief), maar wys in elk geval die voortduur van die oorwinning aan met die teenwoordige tyd van die werkwoord. Die ‘wêreld’ verwys hier na die mensdom wat téén God en sy kerk staan (2:15). Die kind van God kan die aanslae en verleidings van die bose wêreld oorwin deur die opgestane Jesus, wat die wêreld klaar oorwin het (1 Joh 2:13-14; Joh 16:33). Die gebooie van God wys die weg aan wat Hy vir sy kinders het. As ons daaraan vashou sal die liefdeskrag van die Heilige Gees wat in ons woon bewys dat Hy sterker is as die wêreld.

‘…en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, ons geloof.’ – die geloof verwys na ons geloof wat ons bely, deurdat ons erken dat Jesus die Seun van God is wat mens geword het en vir ons sonde gesterf het, en opgestaan het as oorwinnaar oor die dood en die mag van die sonde. Deur geloof in Hom het die gelowige deel aan hierdie oorwinning. Ons geloof in Jesus beligaam die oorwinning wat Hy klaar oor die wêreld behaal het, want Hy woon en werk in ons. Ons stryd is nie om die wêreld te oorwin nie, maar om onsself aan Jesus die Oorwinnaar oor te gee in volle geloofsvertroue op Hom.

 

Geloof, liefde en gehoorsaamheid is die drie waarmerke van die geboorte uit God: die kind van God glo in die Seun van God wat mens geword het, hy het God en die kinders van God lief, en lewe volgens die voorskrifte van God in sy gebooie. Elkeen van die drie is aan die ander twee verbind. Saam is dit die kenmerk van die gelowige in hierdie wêreld.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (e) Onselfsugtig liefhê (4:19-21) – Francois Malan

4:19 ‘Ons, ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.’ Ons (Johannes en die getroue gelowiges in sy gemeentes en die breë Christelike kerk) staan voorop met klem (teenoor die wat afgedwaal het en ander wat buite staan). ‘ons het lief…’ die feit dat óns wel liefhet – die voorwerpe van ons liefde is onbeperk, nie net tot God en die mede-gelowiges nie, maar ‘n lewe van liefde vir almal wat ons teëkom, en selfs vir hulle wat ons teenstaan; dit kom van God af.

‘omdat Hy (met klem vooraan in die sinsnede) ons eerste liefgehad het.’ Dit het Hy reeds getoon deur sy Seun te stuur as offer van ons sonde en as openbaarder van wie en hoe God is. God se liefde vir die wêreld is met die daad deur Jesus bewys. Onverdiende liefde (dit is die betekenis van genade) begin by God. Dit word aan die mens uit genade gegee deur die inwoning van die God van liefde in elkeen wat tot geloof in Jesus gekom het, deur die woord van God en die oortuigingswerk van die Heilige Gees.

God se onselfsugtige liefde tot die mens maak dat die gelowige kan begin om onselfsugtig te lewe, ook teenoor hulle wat dit nie waardeer nie. Ons liefde tot ander is ‘n respons op God se liefde tot ons, en ‘n deurvloei daarvan na ander.

 

4:20 Dat ons onselfsugtig kan liefhê, kom van God af, van Hom wat ons eerste liefgehad het (4:19). Maar die beslissende praktiese toets van ons liefde vir God is ons liefde vir ander. Eintlik is liefde tot die medemens die maklike en liefde tot God die moeilike taak. As jy in die maklike toets tekortskiet, hoe ver skiet jy dan nie in jou liefde tot God tekort nie. Daarby kan jou liefde tot die onsienlike God nie getoets word nie, maar jou liefde tot jou medemens blyk uit jou gesindhede en optrede.

Die ‘broer’ is in die eerste plek die mede-gelowige, maar sluit ook die mede-mens in, wat deur God gemaak is, vir wie Hy juis roep deur ons liefdevolle optrede. Johannes noem die gebrek aan liefde by sy naam: ‘haat’ (vgl. 1 Petr.1:22). Enigeen wat sê dat hy God liefhet, maar haatlik teenoor sy broer optree is ‘n leuenaar – hy praat nie die waarheid nie en behoort nie aan die kring van die God van die waarheid nie (vgl. Jn. 8:24 vir die vader van die leuens en mensemoordenaar; ook Jesus se verklaring van die sesde gebod in Mt 5:21-22). Ons moet God wat ook in ander mense werk, liefhê, en ander mense liefhê omdat ons in Hom is en Hy in ons.

 

Johannes het in 1:6 en 2:4 op die dwaallendes se moreel-verkeerde lewe gewys: hulle roem dat hulle God ken maar is ongehoorsaam aan Hom – hy sê hulle lewe in die duisternis en is leuenaars; in 2:22-23 wys hy op hulle verkeerde geloof en leer: dat hulle God sou erken, maar nie dat Jesus werklik die Christus is nie en Hom verwerp – Johannes noem hulle anti-christe; in 4:20 vlek Johannes die sosiale valsheid oop – dat hulle sê hulle het God lief maar ander haat – hy noem hulle leuenaars. Daarteenoor stel Johannes weer die liefdesgebod in 4:21.

 

4:21 Alles wat hy in hierdie afdeling gesê het oor liefde as die voorwaarde en lewenswyse van God se kinders, word saamgevat deur Jesus se liefdesgebod te herhaal (reeds in 3:23, vgl. 4:7,11): ‘Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê’ – die liefde vir God en die broer vorm saam een gebod (vgl. Mt 22:37-39). Christelike liefde vloei nie slegs voort uit wat God vir ons in Christus gedoen het en doen nie, maar Hy gee ook die opdrag aan ons, ‘Dit is dié gebod’. Die meervoud ‘gebooie’ word gebruik in 2:3-4; 3:22,24; 5:2-3 vir die dade wat konkrete uitdrukking gee aan die een groot gebod van die liefde (2:7-8; 3:23). Ons het dié gebod van ‘Hom,’ dit is van God af gekry deur Jesus wat die nuwe gebod aan sy dissipels oorgedra het, om soos Hy onselfsugtig en selfverloënend lief te hê (Joh 13:34; 15:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 




Die Eerste Brief van Johannes: Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (d) Vrymoedigheid in die liefde (4:17-18) – Francois Malan

4:17 ‘Hierin…’ kan verwys na 4:16 en/of na die res van 4:17. Met 4:16 beteken dit dat die gemeenskap tussen die mens en God en God en die mens die basis is van die vervolmaking of hoogtepunt van die liefde. As ‘n brug tussen v16 en v17 verwys ‘hierin’ waarskynlik ook na 4:17: wat verduidelik hoe die liefde onder ons vervolmaak word.

In die lig van v16 se wedersydse inwoning ‘God in ons en ons in God’ verwys liefde hier waarskynlik na God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom en ons medemens. Dat dié liefde vervolmaak is, beteken dat dit sy doel bereik het en tot vervulling en volle uitdrukking gekom het in ons wedersydse en onderlinge liefde.

‘Ons sal op die oordeelsdag vrymoedigheid hê…’ (vgl. 2:28 vrymoedig wanneer Christus sal verskyn)’ – ‘hierin,’ wat vooruitwys, verduidelik hoe liefde vervolmaak is; verbind met v16 is die vrymoedigheid die gevolg van onderlinge liefde. In 2:5 is die gelowige se gehoorsaamheid aan God se woord die teken dat die liefde van God in hom tot volle uitdrukking gekom het. Hier word vrymoedigheid aan die onderlinge liefde verbind. In 3:23 word geloof in Christus en onderlinge liefde saam verbind aan die inwoning van die Heilige Gees in ons. Die vrymoedigheid voor God op die oordeelsdag behels ook dat ons nou reeds vrymoedig voor God lewe, soos in 2:29 se sekerheid dat ons uit God gebore is, en 3:21 se vrymoedigheid voor God. Liefde bereik sy doel waar ons nou reeds reg lewe (2:29) en in ons vrymoedigheid voor God op die oordeelsdag.

‘…omdat ons, soos Hy (Jesus) in hierdie wêreld is.’ Dat die vrymoedige gelowige in die wêreld is soos Jesus in die wêreld is, verwys na God wat in ons is en ons in Hom, en daarom deel geword het van sy liefde. Ons moet gehoorsaam God se liefde in hierdie wêreld uitlewe, want die God van liefde is in ons, en ons in Hom (soos Jesus; vgl. Jn 14:10-11 Ek is in die Vader en die Vader in My). Jesus sit sy werk in die wêreld voort deur die Heilige Gees in ons soos blyk uit ons onderlinge liefde en uitreik na die wêreld in liefde soos Jesus.

.

4:18 Die beginsel word eers negatief gestel: ‘in die liefde is daar geen vrees nie’ – positief beteken dit dat ons voor God die vertroue en vrymoedigheid van Christus teenoor sy Vader het, omdat God in ons bly met sy liefde en ons lewe in Hom deur Hom en ons medemens lief te hê. Vrees is ‘n toestand van groot benoudheid vir moontlike pyn, gevaar, boosheid of iets dergelyks, wat jou mag tref. Paulus sê: Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat jullle nie meer in vrees lewe nie…’ (Rom 8:15).

‘In teendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite;’ as daar ‘n wedersydse verhouding van volmaakte liefde is, van God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom, is daar geen rede of plek meer vir vrees nie. Waar dié liefde ten volle ontwikkel, is dit eg en ‘n werklikheid in die lewe van die gelowige. Paulus sê dat die Gees wat ons ontvang het, getuig saam met ons gees, dat ons kinders van God is, wat selfs mét Christus ly sodat ons saam met Hom verheerlik sal word (Rom 8:16-17).

‘want vrees het te doen met straf’ – die gelowige hoef nie te vrees vir die oordeelsdag en ewige straf nie. Die pyn en onsekerheid van vrees versteur ook ‘n egte liefdesverhouding van wedersydse vertroue tussen mense en tussen mense en God..

‘en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.’ Die beginsel ‘daar is geen vrees in die liefde nie’ word hier in persoonlike terme gestel: die persoon wat nog vrees, is nog onvolkome in die liefde. Die gedagte van 4:12 dat die liefde van God volkome uitgewerk word in ons liefde onder mekaar, word hier beperk deur gelowiges wat nog steeds vrees in die teenwoordigheid van God, deurdat hulle nog nie die doel bereik het wat die gawe van God se liefde vir hulle bied nie.Vir so’n gelowige is die pad om hom steeds meer oor te gee aan die liefde van God en vertroue op Hom, om met vrymoedigheid voor God te lewe en oop en opreg te wees teenoor ander mense.

Skrywer:  Prof Francois Malan