Die Eerste Brief van Johannes: Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (c) God in ons, ons in God (4:14-16) – Francois Malan
4:14 In vers 12 is gesê: niemand het God nog ooit aanskou nie. Soos in 1:1-3, verklaar Johanes hier met klem ‘en ons het dit aanskou…’ dat hulle, die dissipels, wel vir Jesus gesien het as die oorspronklike ooggetuies (vgl. Jn 14: wie My sien, sien die Vader) en die gevolg daarvan werk nog voort in hulle lewens (dit is die krag van die Griekse perfektum- werkwoord); en hulle getuig steeds dat die Vader vir Jesus gestuur het (ook ‘n perfektum wat voortgaande gevolge aandui) as die ‘Redder van die wêreld’ (Joh.4:42) – Jesus se reddingswerk is bedoel vir die hele wêreld, al is daar slegs ‘n klein groepie wat die getuienis glo en gered word. Die woord Verlosser/Redder word in die NT 8 maal van God gebruik en 16x van Christus (in die Romeinse keiserkultus word die keiser as ‘redder van die wêreld’ geprys). By Johannes kom die begrip ‘Redder’ vanuit die gedagte van die soenoffer wat Jesus gebring het: Jn 1:29 ‘daar is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.’
4:15 Die beskrywing in vs 14 van Jesus as ‘die Redder van die wêreld’ word hier verduidelik, hoe daardie redding in die kerk en in die gelowige toegepas word: erkenning van Jesus as God, lei tot die wedersydse inwoning van God in sy mense en hulle in Hom.
‘Wie ook al (so wyd as moontlik gestel vir die wêreldredder) openlik erken/verklaar dat Jesus die Seun van God is…,’ Die egte belydenis oor Jesus is deur die werk van die Heilige Gees wat God aan die persoon gee (4:2,13; vgl. 1 Kor 12:3). So’n getuienis sit die apostels se ‘getuienis’ oor Jesus voort in die wêreld. Jesus, as Seun van God, is op unieke wyse aan die Vader verbind (vgl. 4:9 ‘enigste Seun;’ 2:23) en daarom ook die reddingsmiddelaar tussen God en mens.
‘…God bly in hom, en hy in God’ – so ook in 2:27; 3:24; 4:13,16. Hierdie ‘bly’ veronderstel ‘n persoonlike en intieme verbondsverhouding. Met ‘God in hom’ ken die gelowige op aarde die krag van God wat in hulle kom bly het, en weet dat dat ‘hy in God’ is; in ‘n ander dimensie betrokke is as kind van die ewige God as sy Vader, wat ons in sy gesin opgeneem het, omdat ons in die geloof aan die Seun van God verbind is. God se krag is liefdeskrag.
4:16 Die gedeelte oor die liefde as dryfveer om lief te hê, sluit met hierdie klimaks af: ons weet ons lewe in die God van die liefde en Hy in ons: 4: 13 want ons het deel aan sy Gees; 4:15 want deur die Gees bely ons dat die Redder van die wêreld die Seun van God is; v16 want ons lewe in die liefde.
Letterlik: ‘en ons, ons het tot kennis en geloof gekom van die liefde wat God in ons het.’ Die dubbele ‘ons’ onderstreep dat ons dit persoonlik ken en glo. Die perfektum-werkwoorde ‘tot kennis en geloof gekom het’ beskryf iets wat in die verlede gebeur het waarvan die gevolge voortgaan – ons liefdesverhouding met God is gebou op geloof in sy reddende werk deur Jesus (4:9). Die eienaardige ‘die liefde wat God in ons het’ onderstreep dat die God van liefde met sy liefde in ons kom woon het, sodat ons sy liefde onder mekaar sal uitleef.
‘God is liefde, en wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.’ Dat die wese van God liefde is, word herhaal uit 4:8; dit is die God wat in ons kom woon het. Die wedersydse inwoning van ‘ons in God en God in ons,’ wat telkens herhaal word uit 4:13,15, onderstreep die verbond wat God met ons kom maak het deur die koms van Jesus en van die Gees om hierdie liefdesband te smee. Daarmee word die gedeelte afgesluit as die basis van 4:17-20, oor die praktiese toepassing van God se liefde in ons. Dit moet aktief en aanhoudend uitgeleef word. In 4:11-16 word liefde nie sentimenteel beskryf nie. Om in God se liefde te leef beteken dat ons hele lewe deur God se liefde bepaal moet word, en dat dit prakties toegepas moet word in ons liefde vir ander. Die kern van die godsdiens is liefde tot God, en die liefde vir die medemens is die fondament van moraliteit.
Skrywer: Prof Francois Malan