Die Eerste Brief van Johannes (5)

Die Eerste Brief van Johannes (5) – Jan van der Watt

Deel 1: Uit god se hart van liefde—’n kerk gebore

Hoofstuk 4: Nuwe mense, ‘n nuwe gesin

’n Gesinsaamtrek is gewoonlik ’n fees. En ’n gelukkige gesin trek gereeld saam. Maar God se gesin en gesinsaamtrek is onvergelyklik—of so moet dit wees! Vir elke gelowige.

Nie sommer net gebore en gelos nie!

Die vraag: “Wat gebeur as ek ’n Christen word?” is uit Hoofstuk 2 so beantwoord: Jy word as kind in die gesin van God gebore.

Soos geen pa sy kind sommer net so sal los nie, net so los God ook nie die gelowige maar net so nie. Hy neem die gelowige ten volle in sy gesin op met alles wat dit beteken.

Kortom, as ’n mens Johannes sou vra wat ’n gemeente presies is, sou hy gesê het dat hulle die geestelike gesin van God is. Die dinge wat van ’n gewone antieke aardse gesin waar is, is op geestelike vlak van die Goddelike gesin waar. Dit is dan ook die sleutel om te verstaan wat in 1 Johannes oor die gemeente gesê word.

Een ding moet ons egter onthou: Die antieke gesin waarmee Johannes die gemeente vergelyk, verskil baie van die moderne gesinne wat ons ken. Om dus presies te weet waarmee Johannes die gemeente vergelyk, moet ons eers verstaan hoe antieke gesinne gewerk het. (Hierdie inligting is vir feitlik al die hoofstukke wat gaan volg van groot belang—daar sal telkens hierna terug verwys word.)

Die antieke gesin

Die antieke mense het nie aan hulleself as indiwidue gedink nie, maar as groeplede. Dit was byna soos in die ou-ou dae op die plaas waar die oumas en oupas, ooms en tannies, broers en susters en so aan saam gebly en saam gewerk het. Hulle het na mekaar omgesien, mekaar gehelp en hulle goed met mekaar gedeel.

Net so het die indiwidu in die Bybelse tyd sy identiteit van sy groep gekry. As hy wou weet hoe hy moes optree, het hy vir die groeplede gevra. As daar keuses gemaak moes word, is die voordeel van die groep gesoek. Die groep se belange het altyd eerste gekom. Jou broer se belange is jou belange. “Sonde” was iets wat die belange van die groep benadeel. Die gesinslede was dus met hegte bande van lojaliteit en liefde aan mekaar verbind.

 

Die pa was die hoof van die gesin. Die gesin het opgetree volgens die tradisies van die voorouers en die pa moes daarvoor sorg. Hy was gevolglik verantwoordelik vir die dissipline van die gesin wat volgens die tradisies moes optree. Hy het egter nie die hele tyd met die sweep in die hand gestaan nie. Hy moes ook vir die gesin sorg en hulle beskerm. Die kinders moes weer in gehoorsaamheid volgens die wil van die pa optree.

Dit is in so ’n “geestelike gesin” met sy hegte bande van lojaliteit teenoor mekaar waar die weergebore mens opgeneem word.

Let op hoe Johannes die “lede” van die geestelike gesin beskryf:

  • God is die Vader van die gesin: 1 Joh. 2:14, 23; en 5:1.
  • Die Vader het ’n spesiale Seun: 1 Joh. 1:3; en 2:23.
  • Die Vader het ook kinders: 1 Joh. 3:1, 2, 9; 4:7; en 5:1.

Die manier waarop Johannes dus oor God, Jesus en die gelowiges praat, wys duidelik dat hy die gemeente as die groot gesin van God beskryf. Daarom noem ons mekaar ook “broers” en “susters”!

Dink oor die volgende in die lig van die “gesin van God”: As ’n mede-Christen jou ’n “broer” of “suster” noem, wat sê hy daarmee vir jou oor jouself, die ander persoon en God?

  1.  Almal vir een en een vir almal

’n Klomp sake kenmerk die gesin of gemeente van God en is deel van die nuwe identiteit van die gelowige. Die gelowige moet sy lewe inrig volgens hierdie kwaliteite—wat eie aan die gesin van God is.

Gemeenskap

Volgens 1 Joh. 1:3 is die doel van die verkondiging van Jesus sodat mense deel kan hê aan die gemeenskap van gelowiges.

  1. Gebruik die inligting wat hierbo oor die antieke gesin verskaf is en verklaar hoe ons in dieselfde asem oor gemeenskap onder mekaar én met God kan praat (1 Joh. 1:3)

GEMEENSKAP beskryf die onderlinge verbondenheid en lojaliteit wat Christene as lede van dieselfde gesin teenoor mekaar moet hê.

’n Christen staan nooit alleen nie, maar altyd in verbondenheid en verantwoordelikheid teenoor ander gelowiges.

n Christen staan nooit alleen nie, maar altyd in verbondenheid

en verantwoordelikheid teenoor ander gelowiges.

Nou moet dit ook waar wees van julle gemeente. Maar hoe gaan dit regtig in julle gemeente; in watter mate bestaan hierdie basiese gemeenskap tussen julle gemeentelede?

  • Watter voorstelle kan jy aan die hand doen om die ervaring van die gemeenskap in die gemeente te verbeter?
  • Verduidelik in jou eie woorde waarom die “bly in God” noodwendig die optrede van die mens moet beïnvloed.
  • Is daar werklike gronde vir ’n Christen om te sê dat sy godsdiens sy privaat saak is? Waarom sê jy so?

 

Onderlinge verbondenheid

Johannes is lief om te sê dat God in die gelowige bly en die gelowige in God, om so die band tussen God en sy kinders uit te druk. Dit kan ook die verbondstaal van Johannes genoem word.

(i) Lees die volgende gedeeltes en maak ‘n lys van sake wat met die wedersydse verbondenheid tussen gelowiges en God te doen het:

• 1 Johannes 2:6:

• 1 Johannes 3:6:

• 1 Johannes 3:24:

• 1 Johannes 4:16:

Hierdie sake gaan almal oor die manier waarop die gelowige moet lewe.

(ii)  Verduidelik in jou eie woorde waarom die “bly in God” noodwendig die optrede van die mens moet beïnvloed.

(iii) Sou jy dink dat Johannes reg het om te sê dat as ’n mens se lewenstyl en optrede nie reg is nie, jy nie in God, oftewel in sy gesin is nie? (Vgl. 1 Joh 3:6.) Verduidelik waarom jy so sê.

 

Op die skoot van jou Vader

Kennis in die Bybel is baie meer as wat ons vandag onder “verstandelike kennis” verstaan. Om destyds te gesê het jy “ken” iemand, het beteken dat jy en daardie persoon goeie vriende was wat mekaar se persoonlikhede geken het, geweet het hoe die ander een dink en voel en wat die ander persoon in omstandighede sal verwag of doen. Om mekaar te ken, het beteken om as persone baie naby aan mekaar te beweeg.

Om mekaar te ken, het beteken om as persone

baie naby aan mekaar te beweeg.

  1. Wat sê 1 Joh. 2:14 en 5:20 oor die verhouding tussen gelowiges en die Vader en Seun?
  • Verduidelik in jou eie woorde wat ’n gelowige presies sê as hy of sy sê: “Ek ken God”.

Die status van die gemeentelid is om God te ken, om soos ’n kind op sy Pa se skoot te sit en met Hom te praat en alles met Hom te deel; maar ook soos ’n kind wat sy Pa bewonder en Hom ten alle koste tevrede wil stel.

  1. ’n Persoonlike vraag: Ken jy God so goed dat Hy vir jou so naby is dat dit vir jou voel of jy op sy skoot sit? (Dink ’n paar oomblikke na oor hierdie verhouding van jou met jou Vader).

 

Gesonde samesyn

1. Hoe sien ek my rol in ons gemeente (sodat God “darem” ook tevrede sal wees)?

2. Watter “medisyne” kan ek aanbeveel (wat ek uit ondervinding weet werk) as ek die gemeenskap met God in my persoonlike lewe verwaarloos en begin mis.

 

Sonder nou eers ’n tydjie af waartydens jy nadink oor jou kindskap van God. Jy is nie maar vir God net ’n nommer nie. Jy is sy kind in sy gemeente. ’n Kind se plek is naby sy of haar pa.

Jou plek in die lewe is daar waar jy God se hand styf vashou en in sy voetspore loop.

Bid dat God jou so bewus van sy teenwoordigheid sal maak dat jy elke dag meer van Hom sal leer ken en nader aan Hom sal leef.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Eerste Brief van Johannes (4)

Die Eerste Brief van Johannes (4) – Jan van der Watt

Deel 1: Uit God se hart van liefde—’n kerk gebore

Hoofstuk 3: Gebore in ‘n nuwe gesin

God het jou nie sommer vir niks gemaak nie. Hy het jou gemaak om waarlik te lewe! Beleef jy genoeg van hierdie lewe? Kan jy dit raaksien, dra jy die regte bril?

Die wêreld in lig en donker

’n Mens kan die wêreld op baie maniere beskryf, afhangende van watter “bril” jy opsit. Jy kan die “natuurbril” opsit of miskien die “politieke bril”.

Johannes sê dat as jy die “godsdienstige bril” opsit, (die bril waarmee God na die wêreld kyk) sien jy net lig en duisternis … dan sien jy dat die wêreld eintlik net in twee kontrasterende dele gedeel kan word. Daar is die deel wat aan God behoort en die deel wat aan die Bose behoort. Die deel wat aan God behoort, kan aan sekere eienskappe uitgeken word, terwyl die deel wat aan die Bose behoort net die teenoorgestelde eienskappe vertoon.

  • Hoe praat Johannes daaroor in sy brief? Kyk in die genoemde verse hieronder watter twee kontrasterende woorde daar gebruik word om die twee “godsdienstige wêrelde” van mekaar te onderskei. Let daarop dat dit in elke geval oor spesifieke kwaliteite van die wêreld gaan.

(Maak twee kolomme in jou boek. Aan die een kant skryf jy God se wêreld en aan die ander kant die Bose se wêreld.) Hier volg die teksverse:

1 Joh. 1:5:

1 Joh. 3:14:

1 Joh. 2:21:

1 Joh. 4:20:

  • Stel jou die volgende denkbeeldige situasie voor: Jy bou ‘n huis en vind uit dat die bouer sekere dinge nie gedoen het waarvoor jy betaal het nie. Na ‘n telefoonoproep belowe hy om dit te kom doen, maar niks gebeur nie. Jy gaan sien hom en vind uit dat hy ernstige finansiële probleme het.

• Sê hoe iemand wat aan God se wêreld behoort die situasie volgens die eienskappe in Vraag (1) hierbo sal hanteer?

• Sê dan hoe iemand wat aan die Bose se wêreld behoort ’n soortgelyke situasie sal hanteer?

• Sê ook waar die verskil lê. (Hiervoor gebruik ons weer twee kolomme – God se wêreld en die Bose se wêreld en teken die verskille aan.)

ONTHOU: Hierdie is God se manier waarop Hy na die wêreld kyk! As jy regtig sinvol wil leef, moet jy naby God lewe! Dit beteken om die wêreld deur sy oë te bekyk en so te lewe!

 

Hoe kom iemand in God se wêreld?

Lees Joh. 3:1–8. (Let op dat ons hier uit die Evangelie lees. Onthou ook dat die “Bybel” van daardie gemeentes die Evangelie was, soos in Hoofstuk 1 gesê is).

  1. Hier word God se wêreld as ’n koninkryk beskryf. Hoe kom ’n mens in die koninkryk (3:3)?
  1. Hoe verstaan Nikodemus Jesus se woorde (3:4)?
  1. Verduidelik in jou eie woorde wat Jesus volgens 3:6 wil sê.

Elke mens het op presies dieselfde manier in die wêreld gekom: hy of sy is in die wêreld gebore. Omdat hy of sy gebore is, het dit vir hulle moontlik geword om in die wêreld te leef, dinge te doen, ’n gesin te hê en so aan. Sonder geboorte is hierdie “deelneem aan die wêreld” nie moontlik nie.

As Jesus nou wil verduidelik wat met ’n mens gebeur as jy ’n Christen word—met ander woorde, as jy deel van God se wêreld word—sê Hy jy word geestelik gebore. Die geboorte maak dit dan vir jou moontlik om in God se wêreld te kan leef, optree, ’n hemelse Vader te kan hê, en so aan.

Dit is egter nie ’n gewone geboorte nie. Dit is ’n geestelike geboorte. Hoe dit werk, verstaan ’n mens nie (Joh. 3:8), maar dit verhoed ’n mens nie om te weet as dit met jou gebeur nie.

En wat presies gebeur met jou? Jy is nie soos Nikodemus wat nie die boodskap van Jesus verstaan nie (Joh. 3:9–10). God gee vir jou ’n “bril” om die geestelike wêreld te verstaan—jy word op daardie golflengte ingestel. (Dit is wat dit beteken om “gees te wees”—Joh. 3:6).

As jy regtig sinvol wil leef, moet jy naby God lewe!

Dit beteken om die wêreld deur sy oë te bekyk en so te lewe!

Nou kan jy in Jesus van Nasaret die Seun van God raaksien.

Die kruis is nie die vernederende einde van Jesus nie, maar die plek waar Hy Satan finaal verslaan het.

Jesus se woorde is nie ydel laster nie, maar die wysheid van God.

Die boek in die Nuwe Testament waar die meeste na die geestelike geboorte verwys word, is 1 Johannes. (As jy belangstel, vergelyk 1 Joh. 2:29; 3:9; 4:7; 5:1, 4 en 18). Iemand wat geestelik gebore is, word met “kind van God” in die Nuwe Vertaling weergegee, maar in Grieks staan daar eintlik: “Uit God gebore”.

 

Geloof sluit aan by weergeboorte

Geloof sluit nóú aan by die gedagte van weergeboorte. Die een kan nie sonder die ander verstaan word nie.

As ons 1 Joh. 5:1 lees, sien ons dat elkeen wat in Jesus glo, is “uit God gebore,” hy of sy is dus weergebore. (Onthou: “kind van God” is in Grieks “uit God gebore”).

Geloof is dus om oorgegewe aan God te aanvaar wat Hy jou deur sy geestelike “bril” laat “sien” het, veral wat Jesus betref.

Kom ons kyk watter verskil dit maak om “deur die oë van God,” oftewel op ’n geestelike manier, na alles te “kyk”.

Hoe beïnvloed die perspektief waarmee ‘n mens na ‘n saak kyk die manier waarop jy daardie saak verstaan ? Vul jou gedagtes by elkeen van die sake hieronder in. Skryf eers in die linkerkolom neer hoe ‘n doodgewone mens dit sal sien – iemand wat nie weergebore is nie. Skryf dan in die regterkolom hoe iemand wat weergebore is, met ander woorde wat deur die oë van God kyk, dit sal sien. Die sake waarna jy moet kyk, is:

• Die kruis van Jesus

• Jesus self.

• Lyding

• Jou vyand

• Opoffering vir ander

’N INTERESSANTE INSIG: ’n Mens kan weet dat jy weergebore is as die wêreld met alles wat gebeur vir jou begin lyk soos God dit sou sien!

 

 Om weergebore te wees, beteken…

In 1 Johannes word daar heelwat gesê oor wat met ’n mens gebeur as jy weergebore word. Dit gaan immers oor ’n totale verandering van die manier waarop jy jouself en die lewe sien.

Kom ons kyk wat alles met die weergeboorte saamhang.

. Jy het kontak met God

Weergeboorte bring die mens in direkte kontak met God self.

1Joh 3:9 –‘n Weergebore mens (‘n kind van God) het die Gees van God in hom

1 Joh 4:7 ‘n Kind van God het ander lief en ken God.

’n Mens kan weet dat jy weergebore is as die wêreld met alles wat gebeur vir jou begin lyk soos God dit sou sien!

Dit beteken dat ’n mens in gemeenskap met die Vader—altyd in sy teenwoordigheid—kan leef (1 Joh. 1:7).

  1.  Jy tree anders op

Weergeboorte verander die mens se optrede.

  1. 1 Johannes 3:9, 5:4 en 18: ’n Kind van God leef nie meer ’n lewe van sonde nie.
  2. 1 Johannes 4:7, 5:1: ’n Kind van God se lewe word deur liefde gekenmerk.
  3. 1 Johannes 2:29: Aan ’n regverdige lewe kan die kind van God uitgeken word.
  1.  God bewaar jou

Weergeboorte plaas ’n mens diep in die bewarende hand van God.

  • 1 Johannes 5:18: Die Seun van God bewaar die kind van God.
  • 1 Johannes 5:18: Die duiwel kry die gelowiges nie in sy greep as hy naby die Seun bly nie.

Leef bewus van jou weergeboorte

Dink na oor die volgende:

  • Dink jy dat ’n mens in jouself kan weet en ervaar dat jy weergebore is? Skryf jou gedagtes neer.
  • Indien jou antwoord op Vraag 1 hierbo “ja” is, verduidelik presies wat ’n mens in homself ervaar.
  • Dink nou oor jou eie lewe in hierdie verband na.
  • Dink jy dat ’n mens wat weergebore is, sal heeltemal onverskillig kan leef? Waarom sê jy so?

 

’n Weergebore mens leef in die teenwoordigheid van en onder die beskerming van God. Daarom moet jy na jouself kyk en na alles wat met jou gebeur asof jy deur die oë van God daarna kyk.

Dink eers na oor die week wat verby is. Het jy in alle opsigte soos ’n weergebore mens opgetree? Indien nie, bespreek dit met God en onderneem om in sy krag jou lewe soos Hy te sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Eerste Brief van Johannes (3)

Die Eerste Brief van Johannes (3) – Jan van der Watt

Deel 1: Uit god se hart van liefde—’n kerk gebore

Hoofstuk 2: Waar op aarde loop ek God raak.

God kruip nie vir jou weg nie. Maar met hierdie feit het baie mense probleme—in ’n mindere of meerdere mate. Waar is Hy dan; hoe herken ek Hom?

 

 

Op soek na God

Daar word vertel van ’n man wat helder oordag op die markplein met ’n lamp rondgestap het. Toe hulle hom vra wat hy soek, sê hy: “Ek soek God, maar ek kry Hom nie!” Daarmee wou die man ’n stelling maak: Op hierdie wêreld, tussen al die mense op die besigste plek in die dorp is God net weg, afwesig, nie daar nie. Ons soek tevergeefs na God as ons probleme het, of as ons alleen voel. Hy is net nie daar nie!

Maar nou wonder ek of die man op die regte plek en op die regte manier gesoek het? Ek wonder of ’n mens God met ’n lamp sal opspoor? Ek wonder of hy nie dalk op die markplein oor God gestruikel het sonder om dit eers te besef nie?

  1. As iemand jou vra waar hy God kan kry, en hoe God lyk, wat sal jy vir hom sê?

    Waar kry ek God?

•    Hoe herken ek God?

  1. As die persoon nou vir jou sê: Goed en wel, maar hoekom sê jy wat jy sê, hoe sal jy jou antwoord aan hom motiveer?

Die twee vrae hierbo is geweldig belangrik.

Godsdiens gaan immers daaroor dat ons God graag wil vind en leer ken. Al die verskillende godsdienste in die wêreld soek mos almal maar na die roetekaart wat na God lei. Dit is egter lewensbelangrik om God by die regte adres te soek as jy die ware God wil vind.

Dit bring ons by ‘n derde vraag:

  1. Dink jy dat die Christendom die enigste antwoord het op die vraag?

Waar vind ek die ware God? Hoekom sê jy so?

Die Christendom is reg, want …

Skryf nou jou redes neer in jou boekie.

 

Johannes sê waar ons God kan vind 

Die skrywer van die Johannesbrief het ook geworstel met die vraag waar ons God in die wêreld kan vind. Maar hy het ’n baie besliste antwoord gehad!

Lees 1 Joh. 1:1–4.

As jy weer na vers 1 kyk, sien jy dat Johannes-hulle self vir Jesus gehoor het, dat hulle Hom met hulle eie oë gesien het, hulle het selfs met hulle hande aan Hom geraak.

(i)     Deur die verskillende maniere waarop die skrywer Jesus waargeneem het so nadruklik te omskryf, wou hy sê dat Jesus ware mens was. Watter maniere gebruik hy om Jesus te omskryf?

(ii)    Wie was Jesus volgens die laaste sin van vers 1 en vers 2?

(iii)    By wie was Jesus voordat Hy geopenbaar is?

(iv)   Hiermee wou die skrywer ook sê dat Jesus ware God was. (Lees Johannes 5:20 as jy onseker van die antwoord is.)

Ons kon uit die gedeelte aflei wie Jesus is en waar Hy vandaan kom. Hieruit lyk dit dus of kontak met Jesus ons ook in kontak met God bring.

Maar hoe kry ek en jy vandag kontak met Jesus? As ons onthou uit wat ons hierbo gesien het, naamlik dat Jesus ook die Woord is, dan is die Woord ’n plek waar ons vir Jesus—en dus vir God self—kan vind.

As jy nou na 1 Joh. 1:3 kyk, word hierdie kontak met God deur die Woord verder verduidelik. Deur die Woord, die Ewige Lewe, kry ons deel aan die gemeenskap van die gelowiges.

Maar hoe bring hierdie gemeenskap van die gelowiges ons uit by God? Wie almal sluit hierdie “gemeenskap” in? (Kyk na die tweede helfte van 1 Joh. 1:3.)

Wat, dink jy, is hierdie gemeenskap?

 

Jesus is die antwoord, maar waarom?

Dit is duidelik uit die verse hierbo dat die gemeenskap met God deur Jesus moontlik gemaak is. Op die vraag waar die mens regtig vir God kan vind, antwoord Johannes reguit: In Jesus, die Woord en die Lewe.

Maar daar is iets wat nog kan bly knaag: Jesus was ’n mens—van vlees en bloed; om egter te beweer dat ’n mens God kan wees, is ’n “verskriklike” bewering… Dink net, as iemand nou daar by jou instap en sê dat jy jou geloof dadelik moet los en in een of ander man in Amerika moet glo wat beweer hy is god, wat sal jy doen? Veral as hy vertel dat die man ’n rukkie gelede opgehang is vanweë sy kriminele optrede! (Ek vermoed nogal dat die saak vir die Jode destyds nie soveel makliker was om te sluk toe daar van die gekruisigde Jesus gepraat is nie.)

Op die vraag waar die mens regtig vir God kan vind, antwoord Johannes reguit: In Jesus, die Woord en die Lewe.

(i) Watter dinge, dink jy, sal ’n mens wat sulke groot bewerings maak, eers moet hê of doen voordat jy sal glo dat hy of sy God is? Maak ’n lys van hierdie dinge. (Vul elkeen langs ’n merker in. Verdeel die bladsy in jou boekie vertikaal in twee. Laat die res van die skryfspasie by elke merker oop—met die volgende vraag gaan jy dit invul.)

(ii) Merk nou die eienskappe hierbo af wat jy dink Jesus aan voldoen. Skryf in die res van die spasie, langs die eienskap wat jy gekies het, hoekom jy so sê.

(iii) Is daar eienskappe waaraan Jesus volgens jou nie voldoen nie? Indien wel, probeer die probleem biddend en soekend oplos, of gaan gesels met ’n ander gelowige wat van hulp kan wees of in jou Bybelstudiegroep daaroor.

(iv) Kyk nou weer na 1 Joh. 1:2. Wat maak Jesus vir Johannes spesiaal en hoekom is dit nou juis spesiaal? (Nadat jy mooi daaroor gedink het, kan jy die volgende gedeelte lees. Dit mag met die antwoord help.)

Van die begin af het mense geweet dat niemand lewe kan maak nie; net God kan. God alleen het beheer oor lewe (en dood). Enige plek waar lewe dus ontstaan, kan dit maar net een ding beteken: God is daar aan die werk! Hy en Hy alleen is die argitek van die lewe.

Nou het die mense met wie Jesus in aanraking gekom het skielik ervaar dat hulle geestelik nuut gebore word—soos Johannes dit stel, hulle kry die ewige lewe. Hulle lewe verander. En skielik is God self—én al sy kinders ook nog—deel van hulle lewe.

Die argument loop so: As God die argitek van die lewe is, en ons ontvang die ewige lewe van Jesus, dan is dit duidelik: Jesus is God!

Daarom sê Johannes in die eerste sin van vers 1 dat Jesus van die begin af daar was. Toe die eerste ding geskep is, was Jesus reeds daar. Hy is nie deel van die skepping nie, maar deel van “Dit” wat voor die skepping daar was—en alleen God was voor die skepping daar. Daarom is dit logies dat Jesus ook God is.

Jesus—die Seun van die Vader—is God wat van die begin af daar was.

Hy kom gee vir ons die ewige lewe.

Hierdie sin wil ook sê dat alles wat godsdiens genoem word, by Jesus begin het.

Jesus is die enigste plek waar ’n mens God werklik in die wêreld kan ontdek! Want Hy is die Woord van God wat ons hoor; en Hy is die Ewige Lewe wat ons ontvang, wat vir ons lewend maak om te kan deel aan die gemeenskap met Hom en die Vader.

Immers, Jesus is die plek waar die fontein van die ewige lewe vloei tussen mense wat dors het.


Móés Jesus dan regtig méns word?

Sê nou maar ons wou met ’n klomp miere praat en dat ons in staat was om enigiets te kon doen. Wat sou die maklikste manier gewees het om met die miere te kommunikeer? Dit sou min gehelp het om oor hulle gat te staan en skreeu. Die beste uitweg sou wees dat een van ons self ’n mier word. Dan kon ons maklik in miertaal met hulle praat. Die miere sou dan ook nie skrik en weghardloop nie.

In 1 Joh. 1:2 staan daar dat Jesus—die Woord en die Ewige Lewe—aan ons geopenbaar is. God het besluit om nie meer indirek deur drome of profete met die mens te praat nie (vgl. Heb. 1:1). Hy het self soos ons mens geword sodat ons Hom duidelik en reguit kon hoor.

Jesus is die enigste plek waar ’n mens God werklik in die wêreld

kan ontdek! Immers, Hy is die plek waar die fontein van die ewige

lewe vloei tussen mense wat dors het.

Daarom lê Johannes soveel klem daarop dat Jesus nie ’n skynmens was of sommer net ’n sprokie of feëverhaal nie. Hy was regtig daar. Hulle kon Hom immers sien en aan Hom vat.

As Jesus die “plek” is waar ons God direk leer ken, verduidelik hoe God se gedrag, optrede, houding, ensovoorts dan is. Skryf dit neer.

Jy kan God net “raakloop” of ontmoet as jy Jesus as jou Verlosser leer ken het. God reik elke dag na jou uit deur Jesus; en deur wat Jesus doen en bewerk.


Laat jou gedagtes nou eers stilstaan by Jesus, jou enigste Verlosser! Dink aan wat Hy vir jou beteken.

Bid in blydskap. Vra Jesus om jou te help om God elke dag duideliker in jou lewe raak te sien en te ervaar. Vra dat Hy jou sensitief sal maak vir sy teenwoordigheid in jou lewe sodat jy sy wil al hoe beter kan doen.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Die Eerste Brief van Johannes (2)

Die Eerste Brief van Johannes (2) – Jan van der Watt

Ons begin nou in alle erns met ons studie van 1 Johannes.

Deel 1: Uit god se hart van liefde—’n kerk gebore

Hoofstuk 1: Pasop vir dodelike dwalings

Wie is die antichris? En wie is die ware Christen? Die onderskeid raak ons elkeen op die een of ander manier. Selfs baie mense wat vir Jesus aanhang, is antichriste.

Om ’n reis na die gemeente aan te pak aan wie Johannes sy eerste brief geskryf het, is ’n avontuur. Dit is byna asof ’n mens in ’n tydmasjien klim en twee duisend jaar in die geskiedenis teruggaan.

 

Daar in Efese—waar die gemeente waarskynlik gewoon het—vind jy mense wat anders gelewe en gedink het as wat ons dit vandag doen. Die mense het dinge geglo wat vir ons snaaks mag klink.

Tog, as ons so tussen 90 en 100 n.C. in Efese uit die tydmasjien klim, is daar soveel dinge wat vir ons so bekend lyk. Oor twee duisend jaar het die mens maar baie dieselfde gebly. Ons, vandag, trek wel anders aan as in daardie tyd, ry vinnige motors, praat met telefone en kyk televisie, maar as mense is ons steeds baie dieselfde.

Die avontuur wat vir ons voorlê wanneer ons 1 Johannes lees, is om uit te vind hoe God deur sy boodskap aan daardie mense ook direk met ons praat.

 1.   Ons toer deur die gemeente

Die gemeente wat ons in Efese teëkom, is baie interessant. ’n Groot makrogemeente is dit beslis nie. Hulle is maar ’n handjie vol wat gereeld in verskillende huise deur die stad bymekaarkom. As hulle in die oggend markplein toe gaan, word hulle verswelg tussen die massa mense voor die groot standbeeld van die keiser.

“Ons is baie spesiaal!” vertel die gemeente

Die massa mense van Efese glo die keiser is bomenslik. Hy is magtig en doen immers vir hulle soveel. Hy beskerm hulle en maak dit moontlik dat hulle in vrede in die stad kan bly. Daarbenewens is hier ook ’n menigte ander gode wat op allerhande maniere by die stad betrokke is. So glo hulle.

Die Christene sê egter hulle het iets wat hulle tussen die groot skare heidene met al hulle gode spesiaal maak: húlle ken die ware Seun van God.

Hulle weet ook Hy gee nie net vir hulle gewone aardse dinge nie! Nee, Hy sorg baie beter vir hulle as wat die keiser ooit kan doen.

Dit is Hy wat vir hulle die weg kom oopmaak het na die lewende God.

Deur Hom kan hulle die krag en vrede van die ewige lewe deur hulle voel vloei.

Kyk wat sê Johannes in 1 Joh. 5:11–13 oor die ewige lewe en die Seun van God. Lyk dit of hy vreeslik ruimte laat vir ander godsdienste? Verduidelik waarom jy so sê. (Skryf die redes in jou boek.)

Hierdie wete dat hulle baie spesiaal is, maak hulle baie geheg aan mekaar. Dit is soos ’n onsigbare, maar onbreekbare band wat hulle tussen die groot skare heidene saambind.

Maar, het alles so goed gegaan?


Ons eerste besoek

Ons is skaars uit die tydmasjien en hier sluit ons by ’n groepie “Christene” aan! Dit is met ’n gevoel van opgewondenheid dat ons die deur sien opgaan en ons ingenooi word.

In die huisie sit ’n groepie mans en vroue rondom ’n vuurtjie bymekaar. Hulle is druk in gesprek.

Hulle praat veral oor Jesus, wie Hy was. Die voorganger vertel uitvoerig hoe Jesus uit die hemel afgekom het, hoe Hy alles voor die tyd geweet het, hoe Hy aan die kruis verheerlik is. Kopskuddend maak een van hulle elke nou en dan ’n opmerking oor wat hulle daaruit vir hulle eie lewe kan leer!

Af en toe haal die voorganger ’n boekrol uit wat mooi in ’n doek toegewikkel was en lees ’n stuk daaruit voor. Aan die gedeeltes wat gelees word, herken ons duidelik die Johannes-evangelie.

Hulle verduidelik aan ons dat hulle lankal by Johannes die evangelie gehoor het. Die Johannes-evangelie—en hulle wys na die boekrol in die doek—is hulle bron (“Bybel”) as hulle oor iets onseker is of nie weet wat om te doen nie.

Toe hulle die boodskap oor Jesus aangeneem het, is hulle ook deur die Heilige Gees gesalf, soos hulle dit stel. “Soos die Evangelie sê: ‘Die Gees lei ons in die waarheid,’” voeg een van hulle by.


Twee dinge staan uit

Ons kom eers laat die aand daar weg. Twee dinge is vir ons duidelik:

Jesus, asook sy invloed op hulle optrede, is vir hulle baie belangrik.

Die Johannes-evangelie is hulle “bron van openbaring” waarin hulle voel die Heilige Gees hulle aktief lei.


Ons tweede besoek!

Na ons gisteraand by die groep Christene was van wie ons nou net vertel het, hoor ons dat hierdie nie die enigste gemeente in die stad is nie.

Dit word aand en ons kom by ’n huisie om die hoek van waar ons gisteraand was.

Die deur swaai oop en byna dieselfde toneel as die vorige aand begroet ons. Eenkant lê ’n boekrol met ’n doek oor op ’n lae tafeltjie. Selfs die temas van bespreking is dieselfde. Ook hulle gesels oor Jesus; en gebruik die Evangelie as “Bybel”.

Die voorganger is juis besig om die verhaal van die Samaritaanse vrou uit die Evangelie te vertel (Joh. 4). Die voorganger was blykbaar al self by die put van Sigar, want hy skets Jesus so lewensgetrou en menslik by die put. Hy vertel hoe warm die son daar kan wees en hoe moeg en honger Jesus op die betrokke dag moes wees. Ten spyte van sy eie menslike behoeftes was dit vir Jesus belangriker om aan die vrou die ewige lewe aan te bied.

Aan die einde van die gesprek vra hy drie jongerige seuns uit oor wat dit vir hulle alledaagse lewe beteken. Dit is opvallend hoe hulle beklemtoon dat hulle soos Jesus moet optree (1 Joh. 2:6). Hier in Efese is hulle Jesus se gestuurdes om die evangelie te verkondig (Joh. 20:21).

“Hoe?” wil die voorganger meer by hulle weet.

“Ons ken mos die waarheid, want ons is deur die Gees gesalf ,” antwoord hulle dadelik. Hulle is duidelik bewus van die teenwoordigheid van die Gees wat in hulle werk. Hulle is ook sterk daarvan oortuig dat hulle die waarheid van God self het.


Het julle die regte waarheid beet?

Die temas waaroor hulle gesels en die manier waarop hulle daaroor praat, stem merkwaardig ooreen met wat ons gisteraand gehoor het.

Een van ons vra hulle hoe hulle so seker kan wees dat hulle die “waarheid” het. “Johannes, die oudste en ons vader in die geloof, het aan ons ’n brief geskryf waarin hy ons weer daarvan verseker het!”

As ons reg onthou, was dit dieselfde Johannes wat Jesus se geliefde apostel was. Hy het ook agter die skryf van die Evangelie gestaan. Die mense vertel ook dat hierdie Johannes ’n interessante boek, Openbaring, geskryf het.

Die ware Christen is die een wat die evangelie glo soos dit

oorgelewer is. Hy glo in Jesus as die Messias, die Christus wat mens

geword het en ons verlos het.

Hulle haal onder die doek nog ’n boekrolletjie uit wat heelwat kleiner as die Evangelie is. Versigtig word dit oopgerol. Ons herken dit as die brief 1 Johannes wat ons in ons Bybel het. “Hier,” sê een, “hier staan dit: ‘Julle ken die waarheid’” (1 Joh. 2:21).

Hulle is duidelik trots op die brief en rol dit weer versigtig toe. “Hierdie brief het die oudste Johannes aan ons gestuur nadat ons en daardie ‘antichriste,’ wat hulleself kamma Christene noem, hewig gebots het. Hulle het gesê ons is op die verkeerde pad en toe was dit al die tyd hulle wat met ’n dwaalleer besig was! Ons het immers dadelik vir Johannes ’n boodskap gestuur en hom gevra wat die waarheid is. Ja, ons het hom in soveel woorde gevra wie en wat ’n ware Christen is. Hier, in hierdie brief, het hy ons reguit geantwoord.

“Daardie ander groep wil dit nie aanvaar dat hulle verkeerd is nie. Hulle hou vol met hulle dwaalleer. Nou groet ons hulle nie eens meer op die markplein nie en maak nie eers die deur van die huis vir hulle oop nie. Ons beskou hulle nie meer as Christene nie,” vertel die voorganger.

“Is dit nie ’n bietjie onvriendelik nie?” wil ons weet.

“Nee, Johannes self het gesê ons moet dit doen. As hulle hier inkom, moet ons saam met hulle eet en gesels. En dan lyk dit of ons al die dwaallerings goedkeur! En dit kan tog nie. Daarvoor is die waarheid tog te kosbaar.”

Vir interessantheid, slaan 1 Joh. 2:18–19 en 2 Joh. :10–11 na en kyk hoe skerp Johannes oor sulke dwaalleraars praat. Hoe sou jy sy reaksie teen die dwaalleraars opsom? (Nog iets vir jou boekie.)

“Wie is hierdie ‘antichriste’?” vra ons taktvol, onbewus dat die grootste skok nog op ons wag.

“Hulle bly hier om die hoek,” kom die antwoord.

Dit is sowaar die groep by wie ons die gisteraand gaan kuier het! Kon dit waar wees? Waarom noem een groep Christene ’n ander groep Christene ‘antichriste’?


 2.   Deur ’n raaisel na ’n antwoord

Ons ervaring met die twee groepe Christene laat ons oorbluf. Waar lê die verskil, wonder ons! Wat hulle gesê het, het immers so dieselfde geklink. Watter verskille kan so groot en belangrik wees dat dit die kerk, die gesin van God, so uitmekaar kan ruk?


Ons raaisel

Hoe kan die Christene toelaat—juis terwyl hulle in Efese so in die minderheid is—dat hulle in twee skeur?

  Immers, beide groepe gebruik die Evangelie as bron vir wat hulle sê.

  Daarmee saam is hulle nie skaam om te sê dat hulle deur die Heilige Gees gesalf is nie.

  Beide groepe praat oor Jesus en oor wat hy vir hulle alledaagse lewe beteken.


Alles begin in die bad!

Hoewel daar oënskynlik ooreenkomste is, blyk dit duidelik dat daar ook verskille is. Ingrypende verskille, soos ons uit 1 Johannes kan aflei.

Om die verskille tussen die twee groepe presies te verstaan en in te sien waarom dit so ingrypend is, is die volgende agtergrondinligting handig.

Daar was ’n beweging wat in die eerste eeu nog in sy kinderskoene was—ons noem die beweging die gnostiek. Later sou hierdie beweging vir die kerk in die algemeen probleme verskaf en sou die kerk hom ook formeel van hierdie beweging distansieër. Dit is ’n denkrigting wat na alle waarskynlikheid verantwoordelik was vir die probleme waaroor dit in 1 Johannes gaan.

 

Dit is bekend dat daar in Efese ’n belangrike geleerde, Serintus, was wat gnosties verwante leerstellings verkondig het.

 

Die interessante verhaal word vertel van Johannes wat juis eendag in Efese op pad was na die publieke bad. Iemand sê toe vir hom dat Serintus ook in die bad is. Hy vlieg toe om en sê dat hy vir die duiwel vlug.

 

In daardie tyd het elke huis nie ’n eie bad gehad nie. Daar was groot komplekse deur die Romeine opgerig wat eintlik ’n groot ontspanningsoord vir die mense was. Daar was verskillende baddens wat van koue tot heel warm water gehad het. Die mense kon byvoorbeeld ook op die terrasse ontspan. Dit was ’n groot samekomsplek in die ou tyd en natuurlik ook die groot geselsplek.

Hierdie agtergrond is nuttig om 1 Johannes beter te verstaan. As ’n mens jou verbeelding so ’n bietjie kan gebruik, is dit maklik om te verklaar hoe ’n deel van die gemeente onder die invloed van Serintus se gnostiek kon gekom het.

Kom ons stel ons voor dat die gemeentelede van tyd tot tyd in die bad gesit het terwyl Serintus ook daar was.

Dit kon seker ook op die markplein gewees het. Daar was ook baie kontak met mekaar, waar godsdienstige en filosofiese sake dikwels bespreek is.

Serintus is ’n dinamiese persoon wat sy woord goed kan doen. Wat hy gesê het, het vir die gelowiges so naby geklink aan wat hulle van Johannes gehoor het, dat hulle gevoel het hulle kan dit maar glo. En dit het sommige inderwaarheid gedoen.

Die werklike angels in die argumente van Serintus het hulle egter nie raakgesien nie. Dit het hulle die afgrond in gehelp.

As ’n mens onthou dat die gemeentes nie dominees gehad het wat opgelei was nie, kan ’n mens makliker verstaan waarom gemeentelede so maklik mislei kon word. Af en toe het ’n apostel of iemand uit Jerusalem, wat iets meer geweet het, by hulle ’n draai gemaak. Intussen moes hulle maar self sien en kom klaar met die kennis wat hulle tot hulle beskikking gehad het.


Wat is sleg, en wat is goed?

Wat presies het Serintus vir hulle in die bad vertel wat hulle so op die verkeerde spoor gesit het?

Voor ons verder na Serintus se verdigsels luister, kyk ons eers na die vertrekpunt van die gnostiek:

Die gnostiek is op ’n ou mitologiese skeppingsverhaal gebaseer. Die basiese vertrekpunt was dat alle materie sleg was. Met ander woorde, alles waaraan jy kon vat, was sleg. Daarteenoor was die gees weer goed.

Op die een of ander manier het die materie in ’n stadium ’n stuk gees, bekend as “wysheid,” in die hande gekry en dit in stukkies verdeel. Die stukkies “gees” is toe in die “materie”—oftewel die menslike liggaam—as gevange opgesluit.

Die gees sit dus soos ’n gevange in ’n tronk binne-in die liggaam.

Die gees in die mens het natuurlik in die omstandighede begin traag en bedwelmd word en aan die slaap geraak. Die gees moet wakker geskud word deur die hoor van ’n boodskap of die verkryging van kennis wat van God gestuur word. Met die krag van die openbaring van bo moet die gees dan uit die gevangeskap van die vlees geruk word. So vind redding plaas.

Nou klink dit met die eerste hoor nie so vreemd nie. ’n Mens kan jou goed voorstel hoe ’n Christen saam met Serintus in die bad kon sê: “Ja, die vlees is mos sondig en sleg.” “Ja, my ‘siel’ moet gered word.” “Ja, ons het ’n Boodskapper van God nodig om ons te kom leer.” So het wat Serintus gesê het al meer aantreklik geword.

Maar, was dit nou ’n rede vir die Johannese gemeente in Efese om uitmekaar te skeur en mekaar soos vyande te behandel?


’n Klein botteltjie gif met vernietigende gevolge

Waar lê die werklike “gif” in Serintus se siening?

Die werklike probleem, soos dit ook uit 1 Johannes blyk (in 2 Johannes tree dit nog duideliker na vore), gaan oor twee sake:

Die Christologie (= die leer oor Christus), en

Die etiek (= die leer oor wat reg en verkeerd in ’n mens se optrede en gedrag is).

Dit is ook die twee sake waaroor altwee huise wat ons besoek het, gesels het. En dit is in hierdie twee sake—hulle siening van Christus, en hulle siening van wat die regte optrede vir ons mense is—waar die verskil tussen hulle lê.

Laat ons weer mooi luister na wat elkeen van die huise gesê het.


Is Jesus ’n mens of nie?

Serintus het gesê dat alle materie sleg is. Wat beteken dit ten opsigte van Jesus Christus se liggaam?

As alle materie sleg is, beteken dit eenvoudig dat Jesus Christus—wat ten volle goed was—nie werklik mens kon gewees het nie. Hy kon nie ’n menslike, slegte materie-liggaam hê nie. Dit wil sê: Christus was net skynmens; dit het net gelyk of Hy ’n mens was, maar Hy was dit nie regtig nie.

Daar is gesê dat Jesus Christus eintlik in “twee gedeel” moes word, naamlik in die mens Jesus en die Gees Christus. Soos ’n motor ’n bestuurder nodig het om iewers te kom en omgekeerd, so het die “Gees” Christus die “liggaam” Jesus nodig gehad om sy aardse bediening uit te voer. Jesus was dus nie Christus nie, maar net die manier waarop of die “voertuig” waarmee Christus op aarde rondbeweeg het.

’n Mens kan vra hoe op aarde hulle uit die Johannes-evangelie kon aflei dat Jesus en Christus nie een was nie. Hulle het dit nogal vernuftig gedoen. Kom ons kyk wat dalk gebeur het:

Hulle het naamlik gesê dat Jesus geen wonders gedoen of gepreek het vir die eerste sowat dertig jaar van sy lewe nie. Na sy doop begin Hy skielik wonders doen.

Wat het by die doop gebeur? Lees maar Joh. 1:32–34: Die Heilige Gees het op Jesus neergedaal. Nou skielik begin Jesus wonders doen en preek! Die liggaam Jesus is dus by die doop met die Gees Christus verenig.

So beweeg die Gees, Christus, dan met die liggaam, Jesus, deur Galilea en Judea.

As Jesus egter gekruisig word, staan daar in Joh. 19:30 dat Hy sê: “Dit is volbring”. Daarna laat Hy sy kop vooroor sak en dan staan daar in die Grieks: “Hy gee die G(g)ees”. Daar verlaat die Gees “Christus” duidelik weer die liggaam “Jesus”.

Jesus was dus nooit Christus nie en Christus was nooit ’n mens nie, aldus Serintus. Dit is die implikasie van Serintus se bewering dat alle materie sleg is!

Inderdaad ’n klein stelling met groot betekenis.

Kan ’n mens maar so ’n leer oor Jesus Christus aanvaar? Of anders gestel, is dit so verkeerd om so oor Jesus te dink?

Vir Johannes raak dit die wese van die Godsdiens. In sy brief (1 Joh. 4:2–3) stel hy dit so reguit as wat dit maar kan kom: “Elkeen wat bely dat Jesus werklik die Christus is wat mens geword het, het die Gees wat van God afkomstig is. En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie” (vgl. ook 1 Joh. 2:22; 2 Joh.:7).

Johannes verdedig die leer van Jesus op die skerpste manier moontlik. Jesus is God (1 Joh. 5:20) én mens; Hy is God wat mens geword het. Om Hom in die een of ander nie-menslike wese te verander, beteken om ’n ander Jesus Christus te aanbid.

Dit beteken om die adres van die weg na die hemel te verander!

Dit beteken ook dat Jesus nie regtig vir ons versoening met God kon bewerk nie, want Hy is nie ’n werklike mens wat as ons plaasvervanger vir ons sondes aan die kruis kon sterf nie.

So draai die mens wat hierdie leer glo in werklikheid teen die ware Jesus Christus; so word hy ’n antichris (“anti” = “teen” in Grieks).

Die felheid waarmee Johannes hier die korrekte belydenis oor Jesus verdedig, moet ons as gelowiges op ons hoede stel om nie sommer enigiets oor Jesus te glo of te sê nie. Ons moet nie ’n ander leer aanhang as die leer wat aan ons in die Skrif oorgelewer is nie (2 Joh.: 9). Mense wat dus op allerlei maniere die Jesusbelydenis verdraai, moet vermy word.

As ons nou weer na ons verhaal van die twee huise teruggaan, blyk dit dat die eerste “huisgemeente” wel oor die heerlikheid van Jesus gepraat het, maar volgens 1 Johannes het hulle die mensheid van Jesus ontken. Hulle was nie vyandig teenoor Jesus nie, maar het doodgewoon die korrekte leer oor Jesus verdraai. Johannes se oordeel is vernietigend: “Hulle is antichriste.”


Gelowige sondigheid met oorgawe

Ook wat die gedrag van mense betref, het die klein stelling van Serintus—dat materie sleg is en die gees goed—groot gevolge gehad. Ons kyk na twee implikasies.

Die eerste duidelike gevolg van die gnostiese stelling is die praktyk om die liggaam te verwaarloos:

As die liggaam van die mens (materie) sleg is, sal ’n mens mos nie veel moeite doen om die liggaam vreeslik te versorg nie, veral nie as dit die liggaam van iemand anders is nie. Waarom moet jy ’n liggaam wat buitendien sleg is, versorg?

In dié verband kry ons ’n interessante uitspraak in 1 Joh. 3:17 waar Johannes sê: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees?” ’n Mens moet jouself hier afvra hoe dit moontlik is dat Johannes so iets aan ’n gemeente skryf, veral as die gemeente maar uit ’n handjie vol mense bestaan.

Dit kan eintlik maar net beteken dat daar mense was wat hulle broers sien honger ly en koud kry het. Hulle het eenvoudig—sonder om deur die ander se nood aangespreek te voel—verby daardie mense geleef sonder om te help.

Die rede kan waarskynlik daarin lê dat hulle gedink het dit is nie nodig om die liggaam van ’n ander te versorg nie. En ’n mens hoef nie ’n groot geleerde te wees om te weet dat dit absoluut die teenoorgestelde van liefde is nie (vgl. ook Jak. 2:14–17). Daarom sê Johannes dat die liefde van God nie in iemand kan wees wat so optree nie.

  • Waarom dan nog die slegte liggaam versorg?

Daar was ook skynbaar mense wat beweer het dat hulle wonderlike Christene is, dat hulle aan God deel het, maar dan soos heidene geleef het (1 Joh. 1:6). Hulle sou dan ook nog, ten spyte van hulle verkeerde optrede, beweer dat hulle nie sonde het nie (1 Joh. 1:8 en 10). Hoe is so iets moontlik?

Volgens die gnostiese leer moet die mens se “gees” uit sy gevangenskap binne-in die mens se liggaam deur ’n woord van God “verlos” word. As die “gees” dan van die liggaam verlos is en weer met God verenig is, beteken dit dat die liggaam niks meer aan die gees se saligheid kan verander nie. Die liggaam kan dan maar onsedelik wees, baklei, dronk word en so aan. Dit beïnvloed nie die “gees” wat veilig by God is nie. Alleen die liggaam—wat buitendien sleg is—word geaffekteer. En as ’n appel nou heeltemal vrot is, kan hy nie vrotter nie. Die sondes wat die liggaam doen, “tel” eintlik nie.

Die mens wat in Jesus, die Christus glo, besef hy moet as gees en

liggaam saam in liefde teenoor sy hemelse Vader, maar ook teenoor

sy naaste lewe.

Daarom kan die mense sê dat hulle (hulle gees) nie “sonde” het nie. Net so kan hulle sonder om te blik of te bloos sê dat hulle in noue verbondenheid met God leef (hulle “gees” is mos by Hom) terwyl hulle liggaam nog in die duisternis wandel!

Vir hierdie soort gedagtes is Johannes ewe-eens nie te vind nie. Mense wat so dink, maak God tot ’n leuenaar en die waarheid is nie in hulle nie (1 Joh. 1:6, 8 en 10).

Jy kan nie die mens in twee deel nie. Die mens is ’n eenheid, liggaam en gees, en tree as eenheid op. Om te sê die liggaam tree so op, maar dit het niks met die gees te doen nie, berus op ’n leuen en is ’n leuen.


Johannes se brief eien die ware Christen

Dat die mense uit die eerste huis, met klein veranderings wat hulle aan die evangelieboodskap gemaak het, eintlik op die verkeerde pad beland het, is duidelik.

Gelukkig het ons vandag nog die brief wat Johannes aan sy gemeente geskryf het om hulle en ons vandag van sulke soort dwalings te bewaar.

Kortom, as ons vra: “Wie is ’n ware Christen?” sou Johannes antwoord: “Die ware Christen is die een wat die evangelie glo soos dit oorgelewer is. Hy glo in Jesus as die Messias, die Christus wat mens geword het en ons verlos het.

“Die mens wat in Jesus, die Christus glo, besef hy moet as gees en liggaam saam in liefde teenoor sy hemelse Vader, maar ook teenoor sy naaste lewe.”

In die volgende hoofstukke gaan ons verder saam ondersoek instel na en dink oor wat Johannes alles in sy brief aan die groep gelowiges in Efese oor ’n ware Christen gesê het.


Moenie dat die waarheid oor Jesus Christus wat God aan ons geopenbaar en aan ons laat oorlewer het, by jou verbygaan sonder dat dit jou opnuut aangegryp het nie.

Dink oor hoe belangrik studie en kennis is van die Woord en waarheid wat God aan ons bekend gemaak het.

Sê vir God dankie vir die waarheid oor Jesus Christus wat Hy aan ons geopenbaar het. Vra Jesus dat Hy jou deur sy Heilige Gees sal bewaar van dwaalweë, en dat jy elke dag al duideliker volgens die waarheid in sy Woord sal leef.

 

Skrywer: Prof Jan Van der Watt