1 Korintiërs 3:10 – 15

1 Korintiërs 3:10 – 15 – Francois Malan

Fransie vra:

Wat beteken die verse in 1 Korintiërs 3:10-15. Gaan ons ‘n beloning van Jesus kry vir ons goeie dade en wat is die beloning? Goud, silwer ens.? Sekere mense sê ons gaan bv. Krone kry en dit sal versier wees volgens die goeie werke wat ons hier op aarde gedoen het.

[10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. 12Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.]

Antwoord:

Dr Fancois Malan antwoord:

In die paragraaf is Paulus bekommerd oor die leiers in die gemeente van Korinte, wat afwyk van die evangelie van Christus wat vir ons gekruisig is, om met hulle menslike wysheid die evangelie te vervals, en waarsku dat hulle huidige werk nie die vuurtoets sal deurstaan nie. Na die beeld van die gemeente as die saailand van God (3:5-9a), gebruik hy die beeld van die gemeente as die gebou van God en die tempel van God (3:9b-17) met Jesus Christus as die fondament van die gebou, en die Gees as God wat in die tempel woon.

Verskillende soorte materiaal word deur verskillende vakmanne gebruik vir die opbou van die kerk. Die gehalte van die werk sal getoets word, of dit met dankbare liefdesdiens, soos Christus se offer is, of met menslike wysheid om vir myself roem te verwerf, wat in die vuurproef verbrand word. Laasgenoemde se werk gaan verlore, maar hulle word self nog deur God se genade gered. Die wat die tempel van God afbreek, sal deur God afgebreek word.

Reeds in 3:8 is sprake van ‘loon’ vir die getroue werk van die apostels volgens hulle onderskeie bydrae aan die oes. In 4:5 word gepraat van mense wat te gou ander beoordeel en word gesê, met die koms van die Here sal die bedoelings van die hart blootgelê word en elkeen sal dan van God die lof ontvang (wat hom toekom). In 9:24-27 word verwys na die onverwelklike kroon/lourierkrans/prys wat die gelowige ontvang, wat homself soos ʼn atleet oefen en allerlei dinge ontsê. So oefen Paulus sy liggaam en bring dit onder beheer sodat hy nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. Maar die kroon is ʼn simbool van wat ons sal ontvang, nie ʼn letterlike kroon nie, iets wat baie beter sal wees.

Die vraag is, hoe kan gelowiges, wat uit God se onverdiende genade lewe, nog loon ontvang? Volgens Romeine 4:4-5 ontvang die gelowige loon uit genade, en nie as iets wat hy verdien het nie. Vir Paulus is ons nou reeds verlos deur Christus. Dit is God se gawe aan ons. Maar ons moet volhard in die geloof en die nuwe lewe saam met Christus, deur te sterwe aan ons self, en vir God te lewe (Romeine 6:4-11). Die volharding is ook ʼn gawe van God wat met sy Gees in ons kom woon. En op die oordeelsdag word ons deel van Christus se heerlikheid, wat ook ʼn gawe van God aan ons is. 1 Korintiërs 3 verseker ons dat daar ʼn finale oordeel is, met ʼn ‘beloning’ en ʼn ‘verlies’. Maar waaruit die loon sal bestaan, word nie hier of in ander tekste uitgespel nie.

Daar word duidelik uitgespel dat die werk wat met menslike wysheid op die fondament gebou is, verbrand sal word, maar dat die arbeider self gered sal word. Hoe dit sal geskied, word met ʼn metafoor, ʼn beeld uit Amos 4:11; Sagaria 3:2 verduidelik. Die mens wat met wêreldse wysheid aanhou bou, is in groot gevaar. Op die oordeelsdag sal hy wees ‘soos ʼn stuk brandhout wat uit die vuur geruk is’ – ternouernood gered, deur God se genade. [Die stylfiguur het geensins die betekenis van ʼn reinigende vuur, soos bv. deur Origines verklaar is nie].

Paulus waarsku met hierdie paragraaf dat daar gelowiges is wat probeer om die kerk te bou met menslike wysheid, wat teen die karakter van Christus of sy evangelie is. Maar  bouwerk wat pas by die aard van die fondament van die gebou, wat pas by die gekruisigde en opgestane Christus se selfverloëning en oorwinning oor die sonde, sal deel word van Christus se heerlikheid met sy koms. En die mense wat so meegewerk het aan die opbou van die kerk, sal hulle loon ontvang uit God se genade. Wat dit sal wees, bly God se verrassing (vgl. bv. Jesus se  gelykenisse van die 10 talente/goue muntstukke en 10 ponde/goue muntstukke wat groter verantwoordelikheid gaan beteken (Matt. 25:14-30; Luk.19:11-27). In 1 Korintiërs 6:2,3 praat Paulus daarvan dat die gelowiges oor die wêreld en die engele sal oordeel  (vgl. Matteus 19:28 vir die 12 dissipels wat op 12 trone sal sit; Lukas 22:30 se trone; Openbaring  3:21 om saam met Christus op sy troon te sit).

Ek veronderstel die idee van krone op die kop kom van Openbaring 4:4 se gesig van goue krone op die koppe van die 24 ouderlinge om die troon van God, wat hulle koningskap simboliseer. Vgl. 2 Timoteus 4:8 se oorwinnaarskroon (letterlik: kroon van geregtigheid wat God uit genade  gegee het deur Christus, en wat ons op die oordeelsdag ten volle gaan ontvang deur ons volharding) , Jakobus 1:12 se oorwinnaarsprys (letterlik: die kroon van die lewe, waar die kroon simbool is van die ewige lewe), 1 Petrus 5:4 die heerlikheid wat ons sal ontvang as onverganklike kroon, as simbool dat ons sal deel in die heerlikheid van ons Here. Al die gebruike van die woord kroon is figuurlike taal om die loon te verbeeld. Maar waaruit die loon of prys of kroon of krans sal bestaan, word nie uitgespel nie. Vir ons bly die versekering dat ons vir ewig by Christus en by God sal wees om hulle te dien, waar en hoe hulle ons wil gebruik. Daarom oefen ons nou reeds om hulle te gehoorsaam deur God en ons medemens lief te hê met ons hele hart en al ons kragte.

 

Outeur: Dr Francois Malan

 




1 Korintiërs 1:1-3: ʼn Briefaanhef met ʼn boodskap

1 Korintiërs 1:1-3: ʼn Briefaanhef met ʼn boodskap – Francois Malan

God roep vir Paulus en die gemeente om deur Christus Jesus sy genade en vrede uit te leef en aan ander uit te deel. So word die hele brief ingelei en opgesom.

1 Korintiërs volg die Griekse gebruik om ʼn brief te begin met ʼn aankondiging van die skrywer, die ontvangers en ʼn groete. Maar die aanhef van 1 Korintiërs word gevul met betekenis wat die hele brief tipeer.

Die skrywer se ouers het hom ‘Saul’ (van God ‘gevra’) genoem, na die eerste koning van Israel, wat ook uit die stam van Benjamin gekom het (Handelinge 13:21; Filippense 3:5). Van die begin van sy eerste sendingreis as gesant van Christus Jesus word hy egter ‘Paulus’ (‘klein’, ‘gering’) genoem (Handelinge 13:9), en sy nederigheid as die ‘geringste van die apostels’ spreek deur die hele brief as voorbeeld vir elke volgeling van Jesus Christus (vergelyk 15:9 en hoofstuk 4).

Hy is ʼn apostel (‘’n gestuurde gesant’) van die gekruisigde koning wat ons verlos, Christus (‘Gesalfde’) Jesus (‘Verlosser’). Paulus is ʼn voorbeeld vir die gelowiges. Soos Christus soek hy nie sy eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word (2:2; 10:33-11:1). Hy is oortuig dat hy vir die taak deur God geroep is, die God wat vir Christus uit die dood opgewek het om as koning oor alles te heers, totdat God alles vir alles sal wees (15:20-28). Sostenes, ʼn medegelowige, skryf waarskynlik Paulus se woorde neer (vergelyk 16:21).

Die lesers word daaraan herinner dat hulle God se gemeente in Korinte is, sy gesante in die heidense Griekse handelstad. Deur Christus Jesus is hulle aan God toegewy (‘geheilig’), as mense wat geroep is om heilig (aan God toegewy) te lewe, en nie langer saam met die heidene die afgode te dien en onsedelik te lewe nie (vergelyk 1:30; hoofstukke 5-10).

Hulle is deel van die liggaam van Christus, saam met almal wat op elke plek aan ons Here behoort deur sy Naam aan te roep as die Here, wat die seggenskap oor hulle lewe het. Daarom kan hulle nie in opponerende groepe verdeel, of los van die ander gemeentes ʼn eie koers inslaan nie (vergelyk 1:13; hoofstukke 3, 11-14).

Die Griekse groetewens word vervang met die toesegging van die seën van God en van die Here, aan wie die aarde met alles daarop behoort (10:26). God word ‘ons  Vader’ genoem, die Vader wat sy groot gesin van gelowiges versorg, uit wie alles is en vir wie ons lewe. Jesus Christus is die Here deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe (10:6).

Van ons Vader en van die Here ontvang ons genade en vrede:

  • Genade is God se onverdiende guns waardeur Hy ons sonde vergewe, die krag gee om ons daarvan te verlos, en ons daagliks met sy Gees te lei om met sy wysheid regte besluite te neem (1:18,21,30;  2:10-16).
  • Vrede sluit aan by die Hebreeuse woord sjaloom, om in vrede met God en met mekaar te lewe, gesond, heel en vervuld (6:19-20; 7:15; 16:23).

God het vir Paulus geroep (vs. 1), en God het die gemeente geroep (vs. 2) om sy genade en vrede uit te leef en aan ander uit te deel (vs. 3). In die drie verse word ‘God’ drie maal genoem en eenmaal word Hy ‘Vader’ genoem. ‘Ons Here’ word vier maal genoem, twee maal word Hy ‘Christus Jesus’ (die gesalfde Jesus) en tweemaal ‘Jesus Christus’ (Jesus die gesalfde) genoem. Die brief gaan oor wat God deur Christus Jesus met Paulus en die gemeente doen.

 

Outeur: Dr Francois Malan