Aanbevelingsbriewe

. —Charles Hodge

Aanbevelingsbriewe

In 2 Korintiërs 3:1 – 3 skryf Paulus oor die nodigheid vir aanbevelingsbriewe. Sy teenstanders het almal aanbevelingsbriewe gehad. En hy? Julle is self ons aanbevelingsbrief – die stelling sou sy ondersteuners bly gemaak het, maar sou sy teenstanders onkant gevang het. Die Korintiërs was Paulus se lewende aanbevelingsbriewe. 2Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Die Korintiërs is op Paulus se hart geskryf – die innerlikste dimensie van ‘n mens. Die hart is destyds as die middelpunt van die innerlike lewe gesien – dit is die plek waarna God Hom wend en waar sy Gees praat. Die Korintiërs is tydens hulle bekering op Paulus se hart geskryf. Hulle is permanent daar ingeskryf sodat hy hulle nie kan vergeet nie.

 

Hierdie lewende briewe is baie beter as geskrewe aanbevelingsbriewe.  Hulle is ‘n bewys van die krag van die evangelie en die vrug van sy bediening. Geskrewe briewe kan maklik mislei, maar lewende briewe openbaar die waarheid. Lewende briewe is ook meer intiem. Hierdie briewe kan nie verlore gaan nie; hierdie briewe is toeganklik vir alle mense, want almal kan dit lees. Briewe geskryf met pen en ink sal deur ‘n beperkte aantal mense gelees word; lewens kan deur almal gelees word – selfs deur diegene wat ongeletterd is. Die gemeente in Korinte was ‘n ope brief van Christus aan die wêreld – ‘n verklaring van sy mag en liefde aan die hele wêreld. Die bewys van Paulus se apostelskap berus by die gemeente in Korinte. As Paulus ‘n vals profeet is, is hulle ook vals.

 

Paulus dink terug aan die ou verbond waar God die wet met sy vinger op kliptafels geskryf het. Hierdie nuwe verbond is baie beter, want dit is geskryf nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense. God het reeds eeue tevore vir Esegiël gesê dat daar ‘n tyd sal aanbreek wanneer Hy hulle harte sal verander: Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ‘n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees, en Ek sal hulle God wees (11:19 – 20). In Jeremia 31:31 – 34 word geskryf oor die nuwe verbond. Daar sê die Here vir Jeremia: Ek sal my woord in hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê.

Dit is wat Christus doen: Ons bly dieselfde mense, maar ons harte word radikaal nuut. God het nou sy wette in ons geskryf. Hulle is nie meer uitwendig en vreemd nie, maar in ons. Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17). Is ons nuwe mense? Leef ons so dat mense kan agterkom ons het ‘n nuwe hart?