Incense, banners, pictures, flowers, crucifixes, and long processions of richly-dressed ecclesiastics are a poor substitute for the great High Priest Himself – J. C. Ryle
Christene moet groei – Aanbidding
R. C. Sproul het ‘n kort boekie – Five Things every Christian needs to grow – geskryf. Hierin identifiseer hy vyf dinge waarin ‘n Christen moet groei. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer.
In Levitikus 10 lees ons van die dood van Nadab en Abihu, seuns van Aäron. Hulle aanbidding was teen die bevel van die Here en hulle sterf. Moses sê: Wie ‘n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees. Watter gevolgtrekking moet ons hieruit maak? Aanbidding van die lewende God is ‘n ernstige saak. Dit is nie iets wat ons sommer ligtelik kan opneem nie. Maar ons probeer steeds na God op ons eie voorwaardes kom.
Die Hervormers het sterk beswaar gemaak teen hoe aanbidding in die Rooms-Katolieke Kerk hanteer is – dit was teenstrydig met wat die Skrif beveel het. Daarom moet ons ook die Skrif raadpleeg as ons wil weet wat ware aanbidding beteken. Waar moet ons begin? By die tien gebooie.
Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:3). Hoekom staan hierdie gebod eerste. Sekerlik omdat dit van die uiterste belang is. Voor My beteken in sy teenwoordigheid. Maar God is orals. Dus geen ander gode nie – nêrens nie. God eis dat mense Hom sal eer, verheerlik en aanbid op ‘n manier wat Hy verwag – nie soos ons dit verkies nie.
Nog ‘n Skrifgedeelte wat ons help met die regte aanbidding is Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou in Johannes4. Tydens die gesprek verwys die vrou na die verskillende aanbiddingsplekke vir Jode en Samaritane: Wat was die regte plek om God te aanbid? Jesus fokus in sy antwoord op die “hoe” en nie die “waar” van aanbidding nie. Glo My, Mevrou, daar kom ‘n tyd wanneer julle die Vader nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem sal aanbid nie. Julle aanbid sonder om te weet wat julle aanbid; ons weet wat ons aanbid, want die verlossing kom uit die Jode. Jesus sê in wese dat die aanbidding van die Samaritane op onkunde of valsheid berus.
Toe Paulus in Atene aankom (Handelinge 17) lees ons dat hy baie verontwaardig geword het toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is. Toe hy met die filosowe op die Areopagus argumenteer, sê hy vir hulle: wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het. God is nooit met onkundige aanbidding tevrede nie – aanbidding wat nie op die fondament van kennis van God berus nie, is nie ware aanbidding nie.
In sy gesprek met die Samaritaanse vrou sê Jesus vir haar: Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid, dit so moet doen. Let wel: moet doen. Dit is ‘n verpligting om Hom deur die Gees en in waarheid te aanbid. Omdat die Gees oral is, kan ons God op enige plek aanbid. Maar ons gesindheid is net so belangrik: Ek was bly toe hulle vir my gesê het: “Kom ons gaan na die huis van die Here toe.” (Psalm 122:1) – nie teensinnig nie, maar met blydskap.
Hoe berei ek vir aanbidding voor? In Eksodus 19 lees ons dat die volk hulle moes reinig voor hulle die wet van God kon ontvang:Laat hulle hulle vandag en môre reinig en laat hulle hulle klere was. Hulle moet oormôre gereed wees, want dan sal Ek, die Here, na Sinaiberg toe afkom, voor die oë van die hele volk (verse 10 – 11). Die volk moes gereed maak voor hulle voor God kon verskyn. Deel van ons voorbereiding moet wees om onsself te herinner wie God is – die heilige, oppermagtige Here.
In Hebreërs 10 kry ons ook opdragte oor aanbidding:
- Bymekaarkom: Laat ons dan na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is nie (vers 24 – 25).
- Aanmoediging: Maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (vers 25). As ons die samekomste bywoon, geniet ons die saamwees saam met ander Christen. Ons moet ons medegelowiges aanmoedig.
Die primêre rede vir bywoning van die samekomste is om die lewende God te aanbid en te verheerlik. Ons is in sy teenwoordigheid; ons fokus op Hom; ons hoor sy woord; ons reageer op ‘n wyse wat God sal verheerlik.
Die volgende dissipline waarna ons gaan kyk is diens.