Jy mag naas my geen ander gode hê nie

There are Churches in which Jesus Christ’s gospel is buried, and lies completely hidden – J. C. Ryle

 

Jy mag naas my geen ander gode hê nie

Klink maklik. Wat dit beteken is dat niks anders as god in my lewe kan kwalifiseer nie. Die ware God is nie nommer een nie – Hy is die enigste een. Ons moderne mense hou nie van sulke eksklusiewe opsies nie. Ons voel dat God ons keuses beperk. Maar is dit nie hoe liefde is nie. Ek kan tog nie vir my vrou sê dat sy nommer een is nie, maak nie saak hoeveel ander vrouens daar is nie. Liefde en eksklusiwiteit staan nie teenoor mekaar nie. God se eis vir lojaliteit is God se uitdrukking van sy liefde vir ons.

 

 

Hoekom is dit toepaslik dat God op die eerste plek in ons lewens aanspraak maak? Ons kan nou na hierdie gebod kyk en sê ons is onskuldig. Ek noem niemand anders God in my lewe nie; ek aanbid niemand of niks anders nie; en het nie klein standbeeltjies in my huis nie. Miskien moet ons weer kyk na wat dit beteken om iets of iemand voor God te plaas. Dit is dan die Bybelse konsep van afgodery.

 

Wat is ‘n afgod? Dit is enigiets of enigeen wat in ons lewens in die plek van God geplaas word; dit is enigeen of enigiets wat ons so sentraal in ons lewens plaas dat ons nie onsself in die lewe daarsonder kan indink nie; dit is enigiets wat jy meer as God liefhet, gehoorsaam en vertrou.

 

Wie of wat aanbid jy? Hier is ‘n paar diagnostiese vrae:

  • Om te voel dat die lewe goed is, wat het jy nodig?
  • Wat maak jou lewe die moeite werd?
  • As jy oor die toekoms droom wat droom jy dat jy wil bereik of bekom?
  • Waar gaan jy vir vertroosting?

 

As ons die eerste gebod verbreek, verbreek ons al die ander, want afgodery is die toegangspad na al die ander sondes. Die gebiede waar jy die gebooie verbreek, is soos rook van ‘n vuur. Moenie op die rook fokus nie, maar volg die rook tot by die vuur. Doen jy dit kom jy by die altare van die afgode wat jy aanbid uit. Ek kan nie sonde en ongehoorsaamheid regmaak deur my gedrag te verander nie – ek moet teruggaan na die gesindheid wat lei tot hierdie diens aan afgode. Om werklik van die nadelige gevolge van ons sondige gedrag te ontsnap, moet ons teruggaan na wat ons aanbid. Wie of wat is dit?

Jy mag naas my geen ader gode hê nie.




My hart is ‘n fabriek vir afgode

 My hart is ‘n fabriek vir afgode

As ons aan afgode dink, dink ons aan beelde soos die goue kalf. Ons kry nog in sekere wêrelddele die tradisionele aanbidding van afgode. In die Westerse wêreld is afgode van die hart baie algemeen. Die hart neem goeie dinge soos my beroep, liefde, besittings, selfs familie en verander dit in finale dinge. Ons hart aanbid dan hierdie dinge asof hulle nou die middelpunt van ons lewens is. Nou glo ons hierdie dinge leer ons wat die betekenis van die lewe is – hulle word ons sekuriteit en vervulling.

 

Al hierdie dinge – nie net geld en seks – kan ‘n afgod word. Hulle word ‘n alternatief vir God. Ongelukkig gaan hierdie vals gode ons elke keer teleurstel en selfs vernietig.




Ons word wat ons aanbid

Die Christelike lewe bestaan meer uit vroom word as vroom wees – Martin Luther

 

Ons word wat ons aanbid

Ons word die beeld van dit wat ons aanbid – of ons Skepper of iets anders. Ons sien dit baie mooi in Psalm 115. Ons lees hier van mense wat doelbewus afgode van silwer en goud, die werk van mensehande, maak om te aanbid. Die psalmis sê die afgode het ‘n mond, oë, ore, hande, voete en ‘n keel, maar hierdie organe funksioneer nie – hulle werk nie. Hulle praat, sien, hoor, voel, loop nie – hulle keel maak nie eers ‘n geluid nie. Hulle kan nie vir ons vertel wat die waarheid is nie, hulle kan nie ons gebede hoor nie, hulle sien nie ons omstandighede raak nie, hulle snel ons nie te hulp nie – hulle kan nie vir ons lewe gee nie. Dan sê die psalmis ‘n belangrike ding: Wie hulle maak en op hulle vertrou, sal net soos hulle word (vers 8).

 

 Dit beteken nie dat as ek op hulle vertrou ek nou nie meer kan sien, hoor, loop, ens nie. Dit is eintlik ‘n beskrywing van hierdie aanbidders se siel en gees – leweloos soos die afgode wat hulle aanbid. Hulle is geestelik doof, blind en magteloos.

 Ons antwoord baie gou: “Maar ek aanbid nie stukke silwer, goud, hout of steen nie.” Ons is nou nie tradisionele aanbidders van afgode nie, maar ons het wel nie-tradisionele afgode en hulle impak is presies dieselfde.

  • As ons supermodelle aanbid, word ons ook verwaand en selfgesentreerd.
  • As ons voetbalspelers aanbid, word ons ook aggressief en bombasties.
  • As ons die rand aanbid, word ons gierig en materialisties.

Ons kan hierdie lys eintlik onbeperk uitbrei.

 

MAAR: as ons Jesus Christus aanbid, sal ons net soos Hy word. Aanbidding is die belangrikste instrument wat God gebruik om ons beeld na dié van sy Seun te verander.

 

 




Die afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie

. —J.C. Ryle

Die afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie

Almal van ons leef vir iets en as dit nie die ware God is nie, is dit ‘n afgod – ‘n vals god. ‘n Afgod is enigiets wat vir my belangriker as God is. Dit beteken dat ek van goeie dinge ‘n afgod kan maak. Ek kan goeie dinge soos my familie, sukses, aanvaarding, geld, my planne … verander in iets wat ek aanbid en in die middelpunt van my lewe plaas – ‘n afgod.

Dit is wat sonde is: ek bou my lewe en my betekenis op iets anders as op God. Daarom is dit baie belangrik dat ek moet weet wat/wie my afgode is. Daar is veral vier afgode wat as die basis van baie ander afgode beskou kan word:

 

  • Beheer: Ek besef ek het ‘n beheerafgod as my grootste nagmerrie onsekerheid is.
  • Aanvaarding: Ek besef ek het ‘n aanvaardingsafgod as my grootste nagmerrie verwerping is.
  • Gemak: Ek besef ek het ‘n gemaksafgod as my grootste nagmerrie spanning/eise is.
  • Mag: Ek besef ek het ‘n magsafgod as my grootste nagmerrie vernedering is.

Daar is ‘n paar dinge wat ek van hierdie afgod van my moet weet: Hierdie afgod wat ek liefhet, het my nie lief nie. Vals gode het my nie lief nie; afgode kom nie hulle beloftes na nie; alles wat ek aanbid en waarop ek my lewe bou wat nie God is nie, gaan die lewe uit my uitsuig en my vernietig.

‘n Verhouding met Jesus begin as ek my afgode identifiseer en van hulle af wegdraai. Tydens sy aardse bediening het Jesus voortdurend mense se afgode geïdentifiseer en uitgedaag

 Hy het mense opgeroep om hulle rug op hierdie afgode te draai en om Hom te volg en te aanbid.

Hoekom is daar vandag so baie oppervlakkigheid in ons godsdiens? Omdat ons nooit ontslae geraak het van die afgode in ons lewens nie. Jesus is dan eintlik net ‘n byvoeging tot ons lewe – die afgod is steeds daar en steeds in die middelpunt van my lewe.

Moderne mense glo vryheid beteken dat ek in beheer van my lewe is – ek raak ontslae van alle beperkings. Dit is nie waar nie – die werklikheid is dat almal van ons ‘n meester het.  Alle mense aanbid iets en dit wat ons aanbid, is ons meester. Afgode is slegte meesters; hulle verslaaf my. Totdat ek die afgode in my lewe geïdentifiseer het, sal ek verslaaf, moeg en ongelukkig voel. Ek sal so voel totdat ek besef dat die enigste meester wat my vry kan maak Jesus is.

Jesus is die een meester wat my liefhet al stel ek Hom teleur – my afgode doen nie dit nie. Jesus is die een meester wat my liefgehad het toe ek op my slegste was; Hy heers oor my lewe met volmaakte wysheid en mag; Hy is dié een wat ek kan vertrou; net Hy kan vir my vryheid gee.

Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af (1 Johannes 5:21).