Alle Paaie lei na Jesus: Herhaalde vervullings – Adrio König
7.4 Herhaalde vervullings
Daar is nog een belangrike saak oor profesieë. Daar is ’n radikale verskil tussen profesieë en voorspellings. ’n Voorspelling moet letterlik uitkom, en ’n voorspelling geld net vir een keer. Ons ken die weervoorspellings. As die voorspelling lui dit gaan Maandag baie in Limpopo reën, geld die voorspelling nie vir Dinsdag en al die ander dae van die week nie, en ook nie vir Mpumalanga nie. As dit Maandag baie in Limpopo reën, het die voorspelling uitgekom, en dan gaan hy “dood”, het hy sy verdere krag verloor. Maar as dit Maandag net ’n bietjie, of dalk glad niks in Limpopo reën nie, het die voorspelling nie uitgekom nie. En dit het ook nie uitgekom as dit Maandag net in die Noord-Kaap baie reën, of eers Dinsdag in Limpopo nie.