Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (3) – Adrio König

8.1.3 Die volke

Hierdie voorbeelde van mense wat deel van Israel geword het, was maar net ’n klein stroompie van dit wat die Here regtig vir die volke beoog het. As die oordeelsuitsprake teen die volke volop is, is die heilsuitsprake minstens net so volop.

Dit is opvallend dat die belofte wat die Here aan die begin aan Abraham gedoen het dat in hom al die volke geseën sal word, alreeds in Genesis telkens herhaal word (22:18; 28:14). Verder kom talle uitsprake oor heil vir die volke verspreid voor in die Profete en die Psalms.

  • Die nasies word opgeroep en uitgenooi om die Here te loof (Ps 49:2; 96:7).
  • Die nasies sal hulle seën van die Here verwag en in Hom roem (Jer 4:2).
  • Die nasies sal na Jerusalem stroom om die Here daar te kom dien (Jes 2:2-5; 55:5; 60:3; Sag 8:23).
  • Mense oor die hele wêreld sal Hom as Here erken en hulle tot Hom bekeer (Ps 22:28).
  • Spesifieke volke word genoem, veral die groot moondhede soos Egipte, Assirië (Jes 19:19-25).

 

Opvallend van hierdie bekering van die nasies is die feit dat hulle nie op hulle eie, los van Israel en Jerusalem en die tempel, tot bekering kom nie. Hulle sal na Jerusalem stroom en die Here dáár saam met Israel in die tempel kom dien (Jer 3:17). “Die heersers van die volke vergader saam met die volk van die God van Abraham” (Ps 47:10, NLV, 1983 se “verenig met” is te sterk). “Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om my Naam te dien … na my heilige berg toe bring” (Jes 56:6-7). Die hele wêreld moet dus in Sion in die heil kom deel. Die tempel “sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke” (Jes 56:7). Dit kan ook wees dat dit is wat die belofte aan Abraham oorspronklik bedoel het: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

 

Intussen beteken dit nie dat die Here net in Jerusalem gedien sal word nie. Die gedagte is ongetwyfeld dat die volke dit wat hulle in die tempel kry, sal saamneem na hulle eie lande. In Jesaja is daar twee merkwaardige perspektiewe. Binne-in Egipte sal daar altare wees waar die Egiptenaars offers aan die Here sal bring. En die Egiptenaars en die Assiriërs sal saam die Here dien. “Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot ’n seën wees” (19:23-24)! Dis merkwaardig dat Israel hier selfs tweede (derde!) viool speel. Hulle kom eenvoudig by Egipte en Assirië by. En dan die groot feesmaal vir “al die volke” op die berg Sion, “’n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn” (25:6-7).

 

’n Mens kan in hierdie verband daaraan dink dat Kores, wat Israel uit Babel sou laat teruggaan Jerusalem toe, selfs die Here se “Messias” genoem word (“gesalfde,” Jes 45:1).

 

Hoe sal hierdie volkere-bekering tot stand kom? Nie deur aktiewe “sendingwerk” deur Israel nie. Die gedagte van uitgaan en mense inbring, kom nog nie algemeen in die Ou Testament voor nie. As Israel aan die Here getrou is, sal Hy hulle só seën dat die volke na Jerusalem sal stroom om dit te sien, en Hom daar saam met Israel sal begin dien (Jes 2:2-5). Daarom word Israel en die dienaar van die Here ’n lig vir die nasies genoem (Jes 42:6; 49:6; 60:1-3; Sag 8:23).

 

Tegnies kan ons hier onderskei tussen die Ou Testament se sentrifugale (middelpunt-soekende) “sendingmetode” teenoor die Nuwe Testament se sentripetale (middelpunt-vliedende) metode. Die eerste beteken dat volke inkom na die middelpunt toe (die Here, Jerusalem, die tempel), en die tweede dat die gelowiges uit gaan na die volke toe.

 

Dit alles beteken dat daar meer as een perspektief op die volke in die Ou Testament is, dat alles nie duidelik is oor hoe dit sal afloop nie. Daar is van vernietigende oordele sprake, maar ook van groot bekerings en volkere-togte na Jerusalem. Miskien is die grootste probleem dat die Here nie sy doel bereik het nie omdat Israel so aanhoudend ontrou was aan Hom. Die Ou Testament is in die geheel die mislukte geskiedenis van die ontrou van die volk téénoor die trou van God. Daarom was daar nog ’n Testament nodig.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (2) – Adrio König

8.1.2 Israel

Israel was in ’n unieke verhouding met die Here. Hulle het in ’n besondere sin hulle hele bestaan aan Hom te danke. Hulle is geroepe om soos Hy heilig te lewe (Lev 11:44, 45), wat onder andere beteken het om afgesonder van die heidene te leef sodat hulle nie aan die heidene se sonde sou deel hê nie, veral aan hulle afgodsdiens. Die verbod op ondertrouery met ander volke is ’n goeie voorbeeld. Dit sou Israel deel gegee het aan die sonde van hierdie volke. Die ondergang van koning Salomo deur sy baie heidense vroue is ’n klassieke voorbeeld.

Daarom was daar in die geskiedenis van Israel baie bepalings oor wie deel van die volk mag word (Deut 23:2-8; Rig 2:1-3:6), en ná die terugkeer uit die ballingskap selfs die insident toe al die vreemde vroue en hulle kinders weggestuur is (Esra 10). Van die begin van hulle bestaan was ander volke vir hulle ’n bedreiging. In Egipte moes hulle veg vir hulle lewe. By die intog in Kanaän in moes hulle volke voor hulle verdryf om ’n land te kry. En die bedreiging deur vyandige volke het nooit opgehou nie.

 

Eintlik het dit ná Dawid hoe langer hoe erger geword sodat hulle in die eeue voor Christus omtrent nooit ’n vry volk was nie. Ook in Jesus se tyd was hulle onder Rome se heerskappy. Dit is dus begryplik dat daar in die Ou Testament sterk uitsprake teen vreemde volke is. Hulle is as ’n dodelike bedreiging beskou, veral vir Israel se verhouding met die Here. In Deuteronomium is daar voorbeeld op voorbeeld van hoe Israel tydens die intog in Kanaän die volke moes uitwis (7:15-26; 25:17-19). Dit is dan ook nie vreemd nie dat daar hoe langer hoe meer sterk oordeelsuitsprake teen die volke kom. Die Here sal die konings van die aarde “bymekaar bondel en in ’n gat toesluit”, “die volke gaan ’n kalkbrandery word, hulle gaan aan die brand gesteek word soos afgekapte doringbosse” (Jes 24:22; 33:12). Sommige profete het hoofstukke vol oordeelsuitsprake teen bepaalde volke (Jes 13-23; Jer 47-51).

 

Dit is dus begryplik dat Israel hoe langer hoe meer uitgesien het na die koms van die Messias, ’n koning in Dawid se styl, wat die heerlikheid van Israel sou herstel soos dit in die groot koning Dawid se tyd was. Dit is ook die profesieë wat hulle oor die Messias gehad het.

 

Maar dit bring ’n interessante saak na vore. Selfs in hierdie swaar tye het hulle steeds die perspektief behou dat daar ’n nuwe tyd sou kom, ’n tyd waarin die volke na Jerusalem sou stroom om daar die Here saam met hulle te kom dien, en só deel te ontvang aan die heil. ’n Mens sou eerder verwag dat hierdie perspektief heeltemal sou verdwyn in die lig van hulle swaar geskiedenis met ander volke. Maar hierdie perspektief op die ander volke was diep in hulle geskiedenis ingegraveer. Hulle het dit saamgebring van die tyd van hulle stigters, Abraham en Sara, af. Toe die Here Abraham geroep het, het Hy hom nie uit sy heidense familie weggeneem om sy familie en die ander volke te vergeet nie. ’n Wesenlike deel van die belofte aan Abraham was: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees” (Gen 12:3).

 

Dit het meegebring dat Israel in beginsel ’n oop volk was, en dat vreemdelinge toegang tot hulle volkslewe kon kry. Daar is wel nie baie voorbeelde nie, maar daar was dalk veel meer wat eenvoudig nie opgeteken is nie. Naäman die Siriër word wel nie deel van Israel soos “die menigte mense van ander afkoms”, Ragab, die Gibeoniete en Rut, nie (2 Kon 5; Eks 12:38; Num 11:4; Jos 6:25; Jos 9; Rut), maar hy aanvaar die Here as sy God wat hy terug in sy eie land sal gaan dien.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (1) – Adrio König

Israel, volke, kerk

8.1 Die Ou Testament

Ons gaan in hierdie gedeelte na God, Israel en daarna na die volke kyk.

8.1.1 God

Miskien is die volgorde in die opskrif verkeerd. Miskien moes dit eerder gewees het: Volke, Israel. Immers die Bybel begin nie met Israel nie. Die geskrifte van die omringende volke het met die eie volk as die eerste mense begin.

Maar Israel begin met die mense as sodanig sonder dat enige volksverband aan hulle geheg word. Die name Adam en Eva kon ook nie die eerste mense se name gewees het nie, want dit is Hebreeuse  woorde en daar het toe nog nie ’n taal soos Hebreeus bestaan nie. God roep Abraham eers in Genesis 12, eeue na Genesis 1 en Genesis 2-4. Daar was dus nie aan die begin ’n volk soos Israel nie.

 

Dit is uiters belangrik dat die Bybel met die mensdom-as-sodanig begin. Dit beteken dat die God van Israel van die begin af die God van die hele wêreld is, en nie net die God van Israel nie. Dit sny reg aan die begin die gedagte af dat die Ou Testament ’n boek oor God-en-Israel is waarin God eintlik nie regtig in die res van die wêreld belangstel nie. Daar is ’n wydverspreide gedagte dat God eers in die Nuwe Testament in die heidene begin belang stel. Dis ver van die waarheid af.

 

Eintlik kan ons die Bybel in drie dele indeel.

  • Genesis 1-11
  • Genesis 12-Maleagi 4
  • Matteus 1-Openbaring 22

In elk van hierdie dele volg die Here ’n ander metode om by die hele wêreld betrokke te wees. Dit beteken dat Hy deurgaans volle erns daarvan maak dat Hy God van die hele wêreld is. Hy is dit nie maar net terloops of as ’n bysaak of sedert ’n later datum nie.

 

Terloops, daar is ’n sin waarin ons hierdie indeling van die Bybel ’n bietjie kan verfyn. Die oorgang van die Ou Testament na die Nuwe vind nie regtig tussen Maleagi en Matteus plaas nie. Nadat Jesus gebore is, het alles nog vir ’n lang tyd so ongeveer onveranderd voortgegaan: die priesters en die offers, die feeste. Eintlik het die werklike veranderings eers begin toe Jesus gekruisig is en opgestaan het. Eers toe, aan die einde van Matteus, het Hy die sendingbevel gegee, en selfs eers baie laat in Handelinge het die gelowiges probleme by die tempel begin kry (Hand 21). Tot op daardie stadium was die Joodse gelowiges in Jerusalem eintlik net gewone Jode wat geglo het die Messias wat alle Jode verwag het, het al gekom in die persoon van Jesus.

 

Dit beteken daar is ook nie regtig een punt van oorgang nie. Dit het geleidelik plaasgevind en was eintlik eers voltooi teen die tyd dat die gelowige Jode heeltemal van die tempel vervreem het en dus hulle godsdienstige band met die Joodse volk gebreek het. Maar gerieflikheidshalwe bly ons maar by die eenvoudige indeling.

 

Genesis 1-11: Direk: In hierdie tyd was God direk by alle mense betrokke. En die voorstelling was dat die mense een groot eenheid was. Eers teen die einde, ná Noag, is daar sprake van volkere. By die toring van Babel word dit realisties voorgestel.

 

Genesis 12-Matteus 28: Deur Israel: In hierdie tyd wou die Here deur Israel by alle mense betrokke wees. Let op presies wat hier staan. Onder Genesis 1-11 het gestaan: “was God betrokke.” Maar hier staan: “wou God betrokke wees.” In die begin was mense nie by sy planne betrokke nie, Hy was direk by die hele wêreld betrokke. Maar in hierdie tyd wou Hy Israel gebruik om deur hulle die ander volke te bereik. Maar dit sou gou duidelik word dat wanneer mense betrokke raak by God se planne, Hy dikwels probleme kry, vandag nog. Hy wou in elk geval teen die tyd waarin ons nou leef, lankal gehad het dat die hele wêreld  die evangelie moes gehoor het – deur ons!

 

Handelinge 1-Openbaring 22: Deur die geloofsgemeenskap, die kerk: Hier word Israel en die heidene se rolle omgeruil. Nou moet die heidene wat tot geloof kom, die “trekpleister” vir Israel wees om hulle Messias te aanvaar en só na hulle God terug te kom. Vaar ons regtig soveel beter as Israel in die Ou Testament?

 

Hierdie groot prentjie moet egter nie die indruk skep dat alles altyd netjies en duidelik daaraan toegegaan het nie. Maar ondanks heelwat onduidelikheid en variasie op die tema, veronderstel hierdie groot prentjie inderdaad dat die Here deurgaans by die hele wêreld betrokke was en is. Dit is ’n oortuiging wat verskil van dié dat Hy eintlik in die tyd van die Ou Testament net in Israel belanggestel het, en eers deur Jesus die Verlosser van die wêreld geword het. Om hieroor duidelikheid te kry, moet ons eenvoudig na die Bybel gaan.

 

In die volgende bladsye gaan ons konsentreer op die verhouding Israel-volke (heidene). Ons gaan eers kyk hoe God in beginsel by die volke betrokke was, dan hoe dit deur Israel gewerk of nie gewerk het nie, en dan hoe ons van die oogpunt van die volke daarna kan kyk.

 

Redelik vroeg in die tyd van die Ou Testament was daar ’n sterk oortuiging onder Israel dat God Koning is van alle volke en die hele wêreld (Ps 47:3, 8, 9; 99:1-3; Jer 10:7). Hy regeer oor die nasies (Jes 51:5). Daar is selfs ’n uitspraak (Deut 32:8) wat lui dat die Allerhoogste die mense in volke opgedeel het en hulle grense bepaal het. Dis nie onmoontlik dat dit ’n verwysing is na die verdeling van die mensdom by die toring van Babel nie. Maar ’n mens moet nie te veel uit hierdie uitspraak aflei nie. Dit is taamlik geïsoleerd, en die Hebreeus is moeilik sodat vertalings baie verskil. Maar in beginsel pas dit in in die boodskap dat God koning oor alle volke is.

 

God se heerskappy beteken dat Hy beskikkingsreg oor almal het. Hy kan die volke seën én straf. Sy oordeel en veroordeling van die volke is ’n belangrike tema in die Ou Testament, veral in die Psalms. Hy dreig volke wat teen Hom in opstand kom (Ps 2:4, 10-12). Terselfdertyd beloof Hy ook heil aan dié wat “verstandig” is en by Hom skuiling soek (Ps 2:10-12). Omdat Hy Koning oor hulle is, het hulle die verpligting om Hom te erken en te loof (Ps 47:1-3; 96:7). En ons sal later sien daar is ’n sterk verwagting dat die volke uiteindelik in sy heil sal deel.

 

Maar die Here is by uitstek en op ’n ander manier Koning oor Israel. Hulle is sy volk, sy kudde, die skape wat Hy laat wei (Ps 100:3). Hy het hulle uitverkies om sy volk te wees, trouens Hy het hulle self “gemaak” uit Abraham en Sara (hoofstuk 1), en hulle uit Egipte verlos en ’n land gegee (hoofstuk 9). Dis belangrik om te onthou dat daar nie so ’n volk was nie. God het nie uit al die volke op aarde ’n spesifieke volk gekies nie. Hy het hulle uit Abraham en Sara voortgebring om sy volk te wees. Dit beteken ook dat Israel nie ’n eie bestaan het en daarby ook nog die volk van God is nie. Hulle is sy volk, en verder niks. Daarom bewaar Hy Israel op ’n besondere manier. Jerusalem is die Godstad, die stad waaroor Hy waak. Die stad het mure, en ou Israel het geglo dat die mure nooit sal val voor die aanslae van vyandige volke nie (Ps 46:5-8). Konings wat teen Israel optrek, sal net die stad sien en dan vlug hulle al (Ps 48:5 ev).

 

Omdat die Here koning oor alle volke is, is alle volke geroep om Hom te erken. Veral Esegiël beloof dat die Here met Israel wonders sal doen en dat die volke dit sal sien en dan “sal hulle besef dat Ek die Here is” (Eseg 36:23). Dis ’n tema wat dwarsdeur Esegiël loop.

 

Ook Jesaja ontwikkel hierdie tema. Wanneer die Here vir Israel teruglei na Jerusalem sal dit so ’n heerlike nuwe “uittog” wees dat die volke verbaas sal toekyk en sal erken dat Hy die enigste God is (Jes 41:17-20; 45:4-6; 49:26).

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Herhaalde vervullings

Alle Paaie lei na Jesus: Herhaalde vervullings – Adrio König

7.4 Herhaalde vervullings

Daar is nog een belangrike saak oor profesieë. Daar is ’n radikale verskil tussen profesieë en voorspellings. ’n Voorspelling moet letterlik uitkom, en ’n voorspelling geld net vir een keer. Ons ken die weervoorspellings. As die voorspelling lui dit gaan Maandag baie in Limpopo reën, geld die voorspelling nie vir Dinsdag en al die ander dae van die week nie, en ook nie vir Mpumalanga nie. As dit Maandag baie in Limpopo reën, het die voorspelling uitgekom, en dan gaan hy “dood”, het hy sy verdere krag verloor. Maar as dit Maandag net ’n bietjie, of dalk glad niks in Limpopo reën nie, het die voorspelling nie uitgekom nie. En dit het ook nie uitgekom as dit Maandag net in die Noord-Kaap baie reën, of eers Dinsdag in Limpopo nie.

Ons het heelwat sulke voorspellings in die Bybel, veral in 1 en 2 Konings. Hier onder verskyn ’n aantal van hierdie voorspellings, en hulle uitkoms verskyn in die tweede kolom.

Voorspelling Uitkoms

1 Kon 11:29-39                   1 Kon 12:15-20

1 Kon 13:1-2                       2 Kon 23:15-20

1 Kon 14:1-16                     1 Kon 14:17-18 en 15:29

1 Kon 16:1-4                       1 Kon 16:11-12

1 Kon 21:17-24                   2 Kon 9 en 10

1 Kon 22:17                         1 Kon 22:29-37

 

Dit is opvallend dat voorspellings ’n heel beperkte waarde het en nie regtig ’n invloed het op die groot lyne van die heilsgeskiedenis nie. Daarteenoor word die gang van die heilsgeskiedenis beslissend bepaal deur die vervulling van profesieë.

 

Anders as voorspellings, word profesieë nie letterlik vervul nie, maar baie vry en verrassend. Dit het ons nou klaar gesien. Maar nog weer ’n keer anders as voorspellings wat net een keer uitkom en dan “doodgaan”, word profesieë dikwels meer as een keer vervul, en verloor hulle nie hulle krag ná hulle vervulling nie. Daar is talle voorbeelde van die herhaalde vervulling van dieselfde profesie.

  • Die Immanuel-profesie (Jes 7:14) is eers in die tyd van Agas vervul (Jes 7:15-16) en toe ’n tweede keer in die geboorte van Jesus (Matt 1:22-23).
  • Die profesie in Sagaria 12:10 is eers vervul in die kruisiging (Joh 19:37), en die tweede keer sal dit in die wederkoms van Jesus vervul word (Matt 24:30 en Op 1:7).
  • Maleagi 3:1-2 is vervul deur die optrede van Johannes die doper (Mark 1:2), en dit sal weer in die eindoordeel vervul word (Op 6:17).
  • Joël 2:28-32 is vervul in die uitstorting van die Gees (Hand 2:16 ev) en dit sal weer in die eindoordeel vervul word (Op 9:1 ev).

 

Dan is daar nog die bekende profesie oor die dag van die Here wat eenvoudig oor en oor vervul is byvoorbeeld:

  • In die val van Jerusalem (Eseg 13:5; Klaagl 1:12; 2:1, 22),
  • In die optrede van Johannes die doper (Mark 1:2),
  • In Jesus se optrede (vergelyk Luk 4:16-21 met Jes 61:1-2),
  • In sy wederkoms (2 Pet 3:12; Op 16:14) om nie eens te noem van die eerste dag van die week nie (Op 1:10).

 

As ons nou terugkyk na hierdie hoofstuk, is dit duidelik dat die profesieë wat ons behandel het, almal betrekking het op Jesus en sy werk deur die Gees. Dit is die belangrike profesieë, omdat Jesus die belangrike Een is.

 

1. ’n Groot deel van hierdie hoofstuk het verskyn in ’n Perspektief op Openbaring,2009, CUM.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König