Alle Paaie lei na Jesus: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan? (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan? (1) – Adrio König

6.6 Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan?

Natuurlik lyk dit na ’n snaakse vraag. Daar is tog net een Ou Testament. Nee, dis nie regtig so nie. Daar is eintlik twee:

  • Die Hebreeuse Ou Testament wat ook die Masoretiese teks genoem word. Dis uit hierdie Hebreeuse Ou Testament wat ons vertaling gemaak is.
  • Die Griekse vertaling van die Ou Testament, ook die Septuagint of LXX genoem.

Israel het vir eeue net die oorspronklike Hebreeuse teks gehad. Daar is wel van die latere boeke soos Daniël wat in ’n later vorm van Hebreeus, Aramees, geskryf is, die taal wat Jesus waarskynlik ook gebruik het, wat die omgangstaal in sy tyd was. Maar Aramees was maar net ’n later vorm van Hebreeus.

 

6.6.1 Die ontstaan van die Septuagint (die Griekse vertaling)

Maar in die paar eeue voor die geboorte van Jesus het die Jode erg versprei rondom die Middellandse See. Gaandeweg het hulle al meer Grieks gepraat wat die algemene taal was, en veral baie Joodse kinders kon later glad nie meer Hebreeus/Aramees praat nie. Dit is dus nie vreemd dat die Jode toe so teen 200 jaar voor Christus besluit het om ’n Griekse vertaling van hulle Hebreeuse Ou Testament te maak nie. Onthou net hulle het nooit van die Ou Testament gepraat nie, en hulle doen dit vandag nog nie omdat hulle nie die Nuwe Testament aanvaar het nie. Baie geleerdes verkies dan ook om liewer van die “Hebreeuse Bybel” te praat.

 

Daar is interessante verhale oor die ontstaan van hierdie Griekse vertaling. Die “mooiste” een is dat die Joodse koning van destyds presies 72 vertalers aangestel het, ses uit elk van Israel se twaalf stamme. Hulle het elkeen in ’n aparte kamer gaan sit, en nooit enige kontak met mekaar gehad nie. Hulle het elkeen die hele Ou Testament vertaal. Toe hulle klaar was en hulle vertalings vergelyk, was dit presies dieselfde tot op elke woord.

 

Daar is ook mense onder ons wat vandag nog so magies, “tooragtig,” met die Bybel omgaan. Hulle lei allerlei geheime kodes uit die Bybel af waarin dan die eintlike boodskap sou wees. Maar die Bybel se boodskap is wonderlik genoeg. Niemand hoef of kan dit wonderliker maak nie.

 

Dit is na aanleiding van hierdie oortuiging dat daar 72 vertalers was dat hierdie vertaling die Septuagint of LXX genoem word. Septuagint is 70 in Latyn, en LXX is 70 in die Latynse telwyse.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Oorgange binne die Nuwe Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Oorgange binne die Nuwe Testament – Adrio König

6.5 Oorgange binne die Nuwe Testament

Kom ons kyk ook na twee oorgange binne die Nuwe Testament. Tydens sy aardse bediening tree Jesus op soos die profete uit die Ou Testament: Hy roep die volk tot bekering. Hy gaan nie na die heidene nie, maar rig Hom uitsluitlik op Israel (Matt 1:21; 10:5-7; 15:24). Hy roep hulle op tot bekering soos ’n tipiese Ou-Testamentiese profeet. Sy doel is dieselfde as dié in die Ou Testament:

As Israel aan die Here getrou is, sal Hy hulle só seën dat die heidene na Jerusalem sal stroom om die Here daar saam met Israel te dien (Ps 22:28; Jes 2:2-5; Jer 3:17). As Hy teen die einde van sy bediening besef dat die leiers van die volk nie na Hom luister nie, begin Hy hulle ernstig waarsku dat God die koninkryk van hulle  sal wegneem en aan die heidene sal gee (Matt 21:31, 43; 22:1-14; 23:37 ev). As hulle Hom dan finaal verwerp en kruisig, kom daar ’n dramatiese keerpunt. Ná sy opstanding gee Hy uitdruklik die bevel dat sy dissipels nou na die heidene moet gaan (Matt 28:19). Dit is ’n radikale oorgang binne die Nuwe Testament, ’n oorgang van wat ons die Ou-Testamentiese sendingmetode kan noem, na die Nuwe-Testamentiese metode (3.3).

 

’n Tweede voorbeeld binne die Nuwe Testament raak die tempeldiens. Aanvanklik gaan die tempeldiens, die priesterorde, die offergebruike en selfs ook die Sabbatsviering van die Ou Testament onveranderd in die Nuwe Testament voort. Tydens die aardse optrede van Jesus neem Hy self daaraan deel en gee opdragte daaroor (Matt 5:23-24; Luk 4:16). Trouens tot laat in die Nuwe Testament gaan die Christene nog gereeld tempel toe en bring Paulus spesiaal ’n offer in die tempel (Hand 3:1 ev; 21:26). Eers daarna kom daar ’n definitiewe breuk tussen die Jode en die Christene – dus weer ’n radikale oorgang binne die Nuwe Testament, en nie tussen die twee Testamente nie. ’n Mens kan dus nie vra na die verhouding tussen die tempelkultus in die Ou Testament en in die Nuwe Testament nie, maar tussen die tempelkultus soos dit nog lank in die Nuwe Testament voortgegaan het, en die einde van die tempelkultus vir die Christene wat eers baie laat in die geskiedenis van Handelinge kom.

 

In ’n sekere sin kan ons dus nie die Ou Testament en die Nuwe Testament as twee blokke met mekaar vergelyk nie. Terwyl ons enersyds bepaalde sake in die twee Testamente met mekaar kan vergelyk (en só op groot verskille in die verhoudings afgekom het), moet ons andersyds besef dat van die mees dramatiese oorgange binne die twee Testamente self plaasvind, en nie tussen hulle nie.

 

Geen kortpad nie

In die lig van hierdie sterk gevarieerde verhouding is elke “lekker” kort formule vir die verhouding Ou Testament – Nuwe Testament op sy beste maar net ’n baie klein faset van ’n baie ingewikkelde saak, en op sy slegste ’n vertekening van die werklikheid. Dis een ding om met mooi formules te speel,  maar dis heeltemal iets anders om na die werklikheid te kyk, na die talle verskillende verhoudings wat daar tussen bepaalde dinge in die twee Testamente is. Daar is geen moontlikheid om “die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament” in ’n enkele formule vas te lê nie. ’n Mens moet eenvoudig elke keer kyk na die spesifieke dinge wat met mekaar in verband gebring moet word.

 

Wanneer ’n mens nou die titel van die boek in gedagte hou en terugkyk in hierdie hoofstuk, besef jy omtrent alles wat aangehaal is oor die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament het direk met Jesus in verband gestaan. Alle paaie lei na Jesus.

 

In die volgende artikel gaan ons na ‘n interessante vraag kyk: Uit watter Ou Testament haal die Nuwe Testament se skrywers aan?

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die groot oorgang binne die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die groot oorgang binne die Ou Testament – Adrio König

6.4 Die groot oorgang binne die Ou Testament

Die grootste oorgang in die hele geskiedenis van die Bybel kom tydens die ballingskap voor. Daar ontwikkel ’n radikale nuwe siening van die werklikheid en die geskiedenis. Hierdie nuwe kyk op die wêreld vorm later die agtergrond waarteen ons Jesus se optrede moet verstaan. Dit is die oorgang van ’n profeties-historiese wêreldbeskouing na ’n apokaliptiese wêreldbeskouing. Effens oorvereenvoudig kan ons praat van die oorgang tussen ’n natuurlike en ’n bonatuurlike wêreldbeskouing.

Die woorde mag moeilik klink, maar ons is almal goed bekend met die betekenis daarvan. Die ou profeties-historiese (natuurlike) beskouing was vir die grootste deel van die Ou Testament in gebruik. Dit gaan oor dinge wat alle mense elke dag kan ervaar. Die seën van die Here is: Voorspoed soos goeie gesondheid, goeie oeste, goeie aanteelt van die vee, baie kinders en vrede met die omringende volke. Net so is die oordeel van die Here ook volkome natuurlik: siekte, droogte, slegte oeste, kinderloosheid, onderwerping deur buurvolke.

 

Hierteenoor staan die nuwe bonatuurlike wêreldbeeld wat tydens die ballingskap ontwikkel het: die seën van God as die ewige lewe, die opstanding uit die dood, die verheerliking op die nuwe aarde in die hemelse teenwoordigheid van God, en die oordele van die Here as die ewige verderf. Dit is nie dinge wat ons ooit ervaar nie. Verder is daar bose magte wat mense se lewens bedreig, sterre wat op die aarde sal val as die Seun van die mens in heerlikheid kom, ’n algemene oordeel oor alle mense. Hierdie oorgang het tydens en na die ballingskap ontwikkel. Aanvanklik is die ballingskap ook “natuurlik” verstaan: dit was God se oordeel oor die volk weens hulle aanhoudende ontrou aan Hom: vyande wat hulle oorwin. Daar was niks vreemds of onvoorstelbaars in nie, al was dit ’n vernietigende ervaring. Maar die ballingskap was so erg dat die oortuiging gaandeweg posgevat het dat meer op die spel was as net die “natuurlike”oordeel van die Here. Hulle was oortuig bose magte het op aarde oorgeneem en die hele wêreldorde omgekeer. Hierdie magte het die mensdom probeer vernietig.

 

Dit is nie iets wat mense daagliks kan ervaar nie. Daarom word daar ook beelde gebruik wat heeltemal onwerklik is. Die enigste boek in die Ou Testament waarin hierdie nuwe wêreldbeskouing volledig ontwikkel word, is Daniël, wat baie laat geskryf is. Kyk  ’n oomblik na die totaal onwerklike diere wat in Daniël 7 beskryf word.

 

Die oorname van die bose magte het beteken dat die heerskappy van God op aarde in gedrang gekom het, die heerskappy waaroor veral die Psalms so heerlik kon sing. Dink maar net aan Psalm 47:3: “Die Here is die groot Koning oor die hele aarde.” Trouens daar is baie Psalms wat hieroor sing, soos Psalm 46-50. Hierdie heerskappy is deur die bose magte gebreek. Dat die duiwel en sy magte die wêreld van die Here “gesteel” het, is ’n beeld wat Jesus self gebruik (Matt 12:29). Die duiwel is nou die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4; 1 Joh 5:19). Daarom kan die duiwel vir Jesus al die koninkryke van die aarde aanbied as Jesus hom sou aanbid (Matt 4:8 ev). Dit is ’n werklike versoeking vir Jesus omdat dít juis is wat Hy moes kom doen: om die wêreld van die bose magte terug te wen en só God se heerskappy (koninkryk) op aarde te herstel. Daarom kondig Jesus ook aan dat die koninkryk van God gekom het juis as Hy duiwels uit mense se lewens uitdryf (Matt 12:28). Dit is ook die rede waarom Jesus se genesings en duiweluitdrywing die grootste enkele element is in sy aardse optrede. Hy herstel God se heerskappy (koninkryk).

 

Hiermee is klaar ’n bepaalde verband gelê tussen die twee Testamente: natuurlik – bonatuurlik. Jesus tree op teen hierdie bonatuurlike agtergrond. Daarom praat Hy van dinge wat nêrens in die Ou Testament na vore gekom het behalwe in die apokaliptiese literatuur wat eers baie laat geskryf is nie (soos Daniël en ’n paar dele uit ander boeke soos Jesaja 24-27 en Sagaria 12-14). Hy praat van ’n wêreldeinde, van die groot opstanding, die oordeel, die verderf, sake wat nooit in die vroeër dele van die Ou Testament ter sprake gekom het nie.

 

Sonder die agtergrond van die apokaliptiek in die laat Ou Testament sou ons baie min van Jesus se optrede kon verstaan. Daarom is die oorgang na hierdie apokaliptiese wêreldbeskouing so belangrik. Maar dit vind nie plaas tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament nie, maar binne die Ou Testament. Dit is dus onvoldoende om net die twee Testamente met mekaar te probeer vergelyk.

 

Ons kry presies dieselfde in die Nuwe Testament. In die volgende artikel gaan ons daarna kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: ’n Verskeidenheid verhoudings tussen die twee Testamente

Alle Paaie lei na Jesus: ‘n Verskeidenheid verhoudings tussen die twee Testamente – Adrio König

6.3 ’n Verskeidenheid verhoudings tussen die twee Testamente

Wat is regtig die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe? Daar is ’n hele paar tradisionele voorstelle.

  • Profesieë-vervulling. Die Ou Testament is die profesieë/beloftes, en die Nuwe Testament die vervulling.
  • Wet-evangelie. Die Ou Testament is die wet, maar die Nuwe die evangelie.
  • Toorn-liefde. In die Ou Testament gaan dit om die toorn/oordeel van God, en in die Nuwe om sy liefde.

 

Dit is almal verhoudings wat ’n klein stukkie waarheid beet het, maar eensydig is. Natuurlik is daar profesieë in die Ou Testament, maar daar is oneindig meer as net profesieë. En natuurlik is daar in die Nuwe Testament vervulling van profesieë, veral in Jesus se lewe, maar daar is Briewe oor hoe ons die evangelie moet verstaan, en Evangelies oor wat Jesus gesê en gedoen het, wat nie noodwendig vervulling van profesieë is nie – om maar net ’n paar dinge te noem.

 

En natuurlik het ons die wet in die Ou Testament, maar daar is nog ’n keer oneindig meer. Maar ons het die wet ook in die Nuwe (kyk na hoofstuk 3 oor die wet). Ook die toorn-liefde-model is te eenvoudig. Ons het óók in die Ou Testament heerlike hoofstukke oor die liefde van God, soos Hosea 11, en in die Nuwe nog steeds skerp oordeelsuitsprake soos Matteus 23.

 

Uit die geskiedenis is die siening van Augustinus goed bekend: Die Nuwe Testament is implisiet (latent, sluimerend) in die Ou Testament teenwoordig, en die Ou Testament is eksplisiet (uitgesproke, duidelik) in die Nuwe Testament teenwoordig. Iemand anders het gesê: Die Ou Testament is die roosknop en die Nuwe Testament die pragtige roos wat oopgegaan het. Christene is lief om sulke lekker opwindende formules uit te dink, maar in die meeste gevalle dek dit eenvoudig nie die volle lading nie. Dit sal duidelik word uit die volgende bespreking. Dit sal blyk dat die verhouding Ou Testament-Nuwe Testament baie ingewikkelder is en veral nie met een enkele formule uitgedruk kan word nie.

 

Ons moet van ’n paar kante af na die saak kyk.

  • Tussen bepaalde sake in die twee Testamente is daar verskillende verhoudings.
  • Binne elke Testament is daar oorgange.
  • En dit is ’n vraag of ons in die geheel die twee Testamente as twee eenhede met mekaar kan vergelyk.

 

Verskillende verhoudings

Tussen bepaalde sake in die twee Testamente is daar verskillende verhoudings

  • Verryking: In die Ou Testament is God die Skepper. In die Nuwe word Christus saam met die Vader as Skepper bely (oa Joh 1:1-3). Dit beteken die skeppingsboodskap van die Ou Testament word verryk in die Nuwe.
  • ’n Skerp breuk en ’n vergeesteliking: Daar is ’n ryk verskeidenheid offers in die Ou Testament. Maar die hele sisteem word in die Nuwe Testament opgeskort en vervang deur die een unieke offer van Christus (Hebreërs). Hier pas net een woord: Breuk, diskontinuïteit. Intussen is daar egter ook ’n soort vergeesteliking van die offers. Christene word opgeroep om hul lewens as heilige offers aan God te wy (Rom 12:1). Presies dieselfde gebeur natuurlik ook met die tempel. Dit verloor sy betekenis, Jesus word self die tempel (Joh 2:21), en die gelowiges word die geestelike tempel van die Gees (1 Kor 6:19).

 

Jesus se eie optrede lewer nog heelwat ander interessante perspektiewe op.

  • Kontinuering: Daar is ’n sin waarin Hy eenvoudig die Ou Testament voortsit. Hy tree tydens sy lewe op aarde veral as ’n Ou-Testamentiese profeet op wat die volk dringend oproep tot bekering. En as dit teen die einde van sy lewe duidelik word dat hulle nie luister nie, dreig Hy hulle met die oordeel van God (Matt 1:21; 10:5-7; 15:24; 21:33-46; 22:1-14; 23:37 ev). (Kyk na hoofstuk 8.2 oor Jesus se aardse bediening.)
  • Vervulling: Jesus vervul ’n onnoemlike aantal profesieë. Dink maar net daaraan dat Hy die Messias is wat sou kom, die Dienaar van Jesaja 53, die Seun van die mens (Dan 7:13-14), en die Profeet (Deut 18:15-22). Net in sy eerste drie hoofstukke haal Matteus vyf profesieë aan wat in die geboorte van Jesus vervul is.
  • Verryking: Die titel “seun van God” word deur Jesus se optrede verryk. In die Ou Testament word die volk Israel en die koning “die seun van God” genoem (oa Ps 2:7; Hos 11:1). Maar in die Nuwe Testament kry dié titel ’n nuwe dimensie by wanneer veral Johannes dit gebruik om Jesus aan te dui as die bonatuurlike, ewige Seun van God wat aan die Vader gelyk is (Joh 5:18; 10:34-37), ’n wonderlike verryking van die natuurlike betekenis van vroeër.
  • Herinterpretasie: In die lig van die betekenis van Jesus, herinterpreteer die skrywers van die Nuwe Testament soms sekere sake in die Oue radikaal. Hebreërs munt uit in hierdie opsig. Jesus is groter as Moses, ’n stelling waaroor ’n Jood ’n hartaanval kan kry; die rus van Kanaän is nie die ware rus nie; Melgisedek, die vreemde, vae figuur uit die gryse verlede (Gen 14) het ’n veel hoër priesterorde as Aäron wat direk deur God aangestel is; die wet van Moses, wat hy op die berg direk uit die hand van God ontvang het, is “slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie eens ’n werklike beeld nie”. Die heilige tempel waarin God self onder die volk gewoon het, is “net ’n namaaksel van die ware tempel”. Die offers wat die volk op God se uitdruklike bevel vir eeue lank moes bring ter versoening van hul sondes, moet ophou “omdat die bloed van bulle en bokke onmoontlik (!) die sondes kan wegneem” (Heb 3:3; 4:8; 7; 9:24; 10:4). Dit is om die minste te sê ’n radikale herinterpretasie van dele uit die Ou Testament.

 

Wat ’n verskeidenheid van verhoudings tussen bepaalde sake in die twee Testamente! Dit is sonder meer duidelik dat ’n mens nie van een enkele verhouding tussen die twee Testamente kan praat nie. Die bepaalde verhouding hang eenvoudig af van watter twee sake ’n mens met mekaar vergelyk.

 

Is die twee Testamente twee selfstandige eenhede?

Daar is egter ’n tweede perspektief. Doen ons reg aan die werklikheid wat ons ondersoek, as ons eenvoudig die twee Testamente as twee selfstandige eenhede (blokke) teenoor mekaar stel, en dan probeer bepaal in watter verhouding(-s) hulle tot mekaar staan? Daar is mos nie net een netjiese oorgang presies tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament nie. Daar was nie iewers tussen Maleagi 4 en Matteus 1 ’n radikale breuk sodat van die eerste hoofstuk in die Nuwe Testament alles verander het nie. Daar is ’n sin waarin niks op hierdie punt verander het nie. Jesus was ’n Ou-Testamentiese profeet wat soos die ander, die volk tot bekering geroep het. Dat sy betekenis oneindig meer was, het maar geleidelik uit sy openbare optrede duidelik geword. Daarom kan dit sinvol wees om eerder die belangrike oorgange binne elke Testament te ondersoek.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König