Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (3) – Adrio König

Selfliefde

Dit is belangrik om in hierdie verband na selfliefde te kyk omdat daar mense is wat meen selfliefde is deel van die liefde wat ons behoort te hê, en is selfs deel van Jesus se opsomming van die wet: “Ons moet ons naaste liefhê soos onsself.” Indien dit korrek is, beteken dit natuurlik dat selfliefde nie net toelaatbaar is nie, maar selfs ’n “moet”.

Dit sou ’n bevel van Jesus wees. Jy moet jou self liefhê, en jou naaste dan net soveel. Jou liefde vir jouself is die maatstaf van jou liefde vir jou naaste. Ons kan hier praat van ’n uitbalanseringsetiek: Ek en my naaste moet uitgebalanseer word, ons moet ewe veel kry, maar ek is die maatstaf. Dit word dan verbind aan die goue reël: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen” (Matt 7:12). As ons onsself liefhet, sal ons goed weet wat ons graag wil hê, en dit help ons om te weet wat ons aan ons naaste moet doen.

En daarby kom nog die vermaning van Paulus: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (Fil 2:4).

 

Dit lyk so met die eerste oogopslag ’n sterk argument ten gunste van selfliefde en ’n uitbalanseringsetiek. Sommige formuleer dit só: Gun aan ander wat jy self het. En ook: “Charity begins at home.”

 

Maar daar is ook ’n ander siening. Kom ’n mens ooit by die naaste uit as jy by jouself begin? Kry jy ooit die ander een in sig as jyself die wêreld volstaan? Augustinus het gesê: Sonde is incurvatus in se, dis die Latyn vir opgekrul in jouself – soos ’n luislang. En ’n luislang moet homself eers uitrol, reguit draai en na buite kyk om te kan beweeg. Is Jesus se opdrag regtig dat ons by onsself moet begin? Is dit wat Hy gedoen het?

 

Kom ons begin by Jesus se opsomming van die wet. As ’n mens mooi dink, eindig die selfliefde-argument met drie gebooie in plaas van Jesus se twee: liefde vir God, liefde vir jou self, en liefde vir jou naaste. Maar Jesus sê uitdruklik Hy som die wet in twee gebooie op. Het Hy dan regtig bedoel “soos jou self” is ’n aparte gebod?

 

Die goue reël lui natuurlik nie dat ons aan ander moet doen wat ons aan onsself doen nie, maar dat ons aan ander moet doen wat ons wil hê dat hulle aan ons moet doen. Dit beteken dat ek my moet indink in wat vir my lekker sal wees en dit dan aan ander doen. Dit is heeltemal anders as om eers alles aan myself te doen en dit dan ook aan ander te doen. In die goue reël word jy net ’n teoretiese maatstaf vir wat jy aan ander moet doen, nie een wat dit eers daadwerklik aan jouself doen nie.

 

En dan Filippense 2:4, die vermaning van Paulus. Soos dit daar staan, skep dit al die ruimte om by jouself te begin en daarna na die ander oor te beweeg: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.” Dit vra selfs veel minder as die “drie gebooie-etiek” waar ’n mens darem net soveel aan ander moet doen as aan jouself. Hiervolgens moet jy nou net darem ook ietsie vir ander doen.

 

Waarom sou Paulus op ander plekke oor dieselfde saak skryf, maar dit anders stel? Ons lees: “’n Mens moet nie sy eie voordeel soek nie, maar dié van ander. Maak soos ek: … Ek soek nie my eie belang nie, maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word. Volg my voorbeeld, soos ek die voorbeeld van Jesus Christus volg” (1 Kor 10:24, 33; 11:1). En in Romeine 15:1-2: “Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is.” Waarom sou hy dit dan skielik in Filippense anders stel? Op al die ander plekke lees ons: Nie onsself nie, maar die ander. Maar in Filippense: Nie net elkeen aan jouself nie, maar ook aan ander. Die “net” en die “ook” is natuurlik maar klein woordjies, maar hulle maak ’n groot verskil. ’n Gee-etiek waarin dit nie om myself gaan nie, maar om die ander – soos ons dit by Jesus leer ken het – word deur die twee woordjies verander in ’n uitbalanseringsetiek waarin ek eerste kom.

 

As die “net” en die “ook” weggelaat sou word, is dit ’n totaal ander etiek. Dan is ons terug by Jesus se gee-etiek en Paulus se ander uitsprake. Dan word dit Jesus se voorbeeld wat Paulus dan ook in die Korintiërbrief voorhou. Jesus het mos nie eers aan Homself genoeg gedoen, en daarna darem ook ’n ietsie vir ons nie. Hy het Homself mos radikaal verneder en tekort gedoen om ons te red. “Hoewel Hy ryk was, het Hy terwille van julle arm geword” (2 Kor 8:9). Dis ’n gee-etiek, nie ’n uitbalanseringsetiek nie.

 

Maar is dit nie dieselfde voorbeeld waarna Paulus in Filippense 2 verwys nie? Gaan hy nie na hierdie vermaning in vers 4 direk oor om ons op Jesus te wys wat aan God gelyk was, maar dit prysgegee het en aan ’n slaaf gelyk geword het, en selfs die vernederende kruisdood nie ontsien het nie, om ons te red? (Fil 2:5 ev) Dis uit en uit ’n gee-etiek. Hoe kon Paulus dan nou hierdie saak heeltemal verander met die “net” en die “ook”? Dit lyk of dit nie pas in die verband van Filippense 2 nie. Dis interessant dat die Griekse bewoording van Filippense 2:4 dieselfde vorm het as 1 Korintiërs 10, maar dat die vertalers verkies het om hier ’n “net” en ’n “ook” in te voeg wat hulle nie in 1 Korintiërs gedoen het nie. As hulle wou vertaal soos in 1 Korintiërs 10, en soos die voorbeeld van Jesus in Filippense direk hierna ons leer, sou hulle vertaal het: “Julle moenie elkeen aan sy eie belange dink nie, maar juis aan dié van ander.” Dit sou dan ook presies gepas het by die voorafgaande sin wat nie lees: Julle “moet julleself gelyk ag aan die ander een” nie, maar: Julle “moet die ander een hoër ag as julleself”. Daar was nie taalkundig of teologies rede om die “net” en “ook” in Filippense 2:4 in te voeg nie. Dit spreek teen die hele verband en dit vloek teen Jesus se voorbeeld wat pertinent net daarna in  besonderhede behandel word. Daarom is daar ook ’n aantal vertalings (NJB, WJ) wat die “net” en die “ook” weglaat en vertaal soos die ander plekke waar Paulus daaroor skryf: “Julle moenie elkeen aan julle eie belange dink nie, maar juis aan dié van ander.”

 

En nou kan ons teruggaan na Jesus se opsomming van die wet. Dit spreek teen sy hele lewe en voorbeeld om “soos jouself” as ’n aparte gebod te sien waaraan ons net so gehoorsaam moet wees as aan “jou naaste liefhê”. En dit is in elk geval totaal onnodig  om mense te beveel om hulself lief te hê. Die groot moeilikheid is dat ons onsself nie daarvan kan afkry nie. Dis ons heerlikste tydverdryf. Dis ’n kwade dag as dit geïnterpreteer word as ’n bevel van God. As dit iets is, is dit ’n verbod van God. God sukkel ons lewe lank om ons af te kry van ons liefde vir onsself. Calvyn het gesê ons het nie ’n gebod nodig om onsself lief te hê nie, dis ons sondige natuur wat ons aanvuur om dit  vanselfsprekend te doen.

 

Wat beteken “soos jouself” dan? Dis inderdaad die norm vir ons naasteliefde. Soos ons onsself altyd in ons sondige selfsug liefhet en onsself altyd die uitgangspunt van ons lewe maak, net so moet ons nou ons naaste liefhê en as uitgangspunt van ons doen en late maak. Dis presies wat die goue reël ook sê: Dink mooi wat vir jou lekker sou wees, maar doen dit dan aan die ander, en nie aan jouself nie.

 

Maar waar kom die ernstige verdediging van ’n positiewe selfliefde dan vandaan? Dalk uit ’n misverstand. Die misverstand is die betekenis van liefde in die Bybel. As ons die betekenis van liefde wil aflees uit Jesus se optrede, is liefde die bereidheid om vir ander te offer, selfs tot die dood toe. Ek kan my nie vir myself opoffer nie. Liefde is ’n beweging weg van jouself na die ander. Liefde kos iets, soms alles. Dit maak selfliefde per definisie onmoontlik.

 

Maar daar is tog wel ’n kernwaarheid in die verdediging van selfliefde. Dit is dat ’n mens ’n positiewe selfbeeld moet hê om in staat te wees om lief te hê. Iemand met min selfvertroue kan min gee, en liefde het alles met gee te doen. ’n Positiewe selfbeeld lei ook tot respek vir ’n mens se eie lewe, om verantwoordelik met jou lewe om te gaan. Maar dit is nie liefde nie. Jesus se liefde was onherroeplik op ander gerig. Waar kry ’n mens ’n positiewe selfbeeld? As jy glo wat die evangelie sê, dat God jou (as deel van die wêreld) so liefhet dat Hy sy enigste vir jou gegee het tot in die allerdiepste   vernedering. Dit beteken jy het waarde vir God! Jy kan jou kop optel en uitbeweeg na mense in nood. Dit is liefde.

 

In die volgende artikel kyk ons na ‘n verdere eienskap van die mens: dankbaarheid.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (2) – Adrio König

5.4.2 Liefde – Selfliefde

Dis nie vreemd dat ons juis liefde kies nie. Ons het reeds daarop gewys dat daar ’n direkte verband is tussen God se liefde en sy opdrag dat ons moet liefhê. Jesus vat die ganse wil van God vir ons lewe saam in twee gebooie: Liefde tot God, en liefde tot mekaar. En ons kon dit eintlik verwag, want Hy het mense gemaak met die doel om sy beeld te wees, en Hy is liefde. As ons liefhet, sal ons dus iets van Hom sigbaar maak. Maar onthou dis ’n analogiese eienskap. Ons liefde kan nooit identies wees aan Syne nie. Maar daar moet beperkte ooreenkoms wees.

 

Eerstens is God se liefde sy wese, dit is nie ’n bysaak nie, dit kom uit sy hart. Dit beteken dat ook ons liefde uit ons hart moet kom. God hoef nie Homself met moeite te oorreed om lief te hê nie. Ons sien dit in Jesus. Hy het spontaan lief. Hy reik vanself uit. Hy hoef nie eers te redeneer of dit paslik sal wees om die straatvrou toe te laat om agter Hom te staan en huil, of om die vrou wat op owerspel betrap is, te verdedig nie (Luk 7:36 ev; Joh 8:1 ev).

 

Dit beteken dat ook ons net iets van God se liefde kan wys as ons spontaan liefhet, met hart en siel. Voorwaardelike en berekende liefde is die naam nie werd nie. Ons moet leer wat dit beteken dat “jou hart uitgaan na ander”.

 

Maar daar is ook verskil tussen God se liefde en ons s’n. Hy het na onder lief, Hy het hulle lief wat dit nie werd is nie. Dit beteken Hy motiveer self sy liefde. Hy het ons nie lief omdat ons so baie vir Hom beteken nie. Hy het ons lief ondanks die feit dat dit Hom baie kos, selfs sy enigste Seun aan die kruis! En ons? Terwyl Hy na onder liefhet, vir ons wat dit nie waardig is nie, het ons na Bo lief, vir Hom wat dit oor en oor werd is. Hy het vir ons oneindige waarde. Dit “betaal” ons om Hom lief te hê. Dit beteken dat, terwyl ons nie sy liefde werd is nie, maar Hy uit sy eie, spontaan, ons liefhet, is Hy dit duisend maal werd dat ons Hom liefhet. Dus motiveer Hy nie net sy liefde vir ons nie, maar ook ons liefde vir Hom. As ons regtig besef wie Hy is, is dit nie moeilik om Hom lief te hê nie. Daar is dus verskil tussen sy liefde en ons s’n.

 

Maar daar is ook ooreenkoms. Hy roep ons ook op om soos Hy na onder lief te hê, om hulle lief te hê wat dit nie werd is nie, om soos Hy lief te hê waar dit ons baie kan kos. Maar hierdie soort liefde kom nie vanself nie. Ons kan net deur sy Gees beweeg word om dit te doen. Trouens dis presies wat Johannes skryf: “Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh 4:19). Terwyl Hy dus self sy liefde vir ons motiveer (ons is dit nie werd nie), motiveer Hy óók ons liefde vir Hom én ons liefde vir ander. Hy motiveer dus alle vorms van liefde. Waarlik, God is liefde!

 

Daar is dus te midde van die ooreenkomste ook groot verskille tussen God se liefde en ons s’n. Hy het altyd spontaan lief, Hy motiveer altyd sy liefde, maar ons liefde is eintlik nooit spontaan nie, Hy moet dit altyd motiveer, aanwakker. Maar uiteindelik het ons tog ook lief, en dit is die sin van ons lewe: Om iets van Hom in ons lewe te wys. Verder is God se liefde ’n beweging weg van Homself na ander terwille van die ander. Iets hiervan moet ook in ons liefde sigbaar word.

 

Daar is ’n bekende Griekse woord vir liefde wat nie eintlik in die Nuwe Testament gebruik word nie, eros. In plaas daarvan gebruik hulle by voorkeur ’n baie onbekende woord, agape. Eros het nie noodwendig in die algemeen ’n negatiewe of ’n seksuele betekenis gehad nie. Dit het meestal gegaan oor liefde vir die eie soos nasionalisme. Baie wonderlike heldedade word gemotiveer deur eros. Dit is nie waar dat dit net altyd deur selfsug gemotiveer is nie. Dit kan in werklikheid baie omgee en groot offers vir ander bring, selfs ’n geneentheid en ’n warmte vir ander hê. Ons kan God met hierdie soort liefde met toewyding en oorgawe dien, en ook vir Hom groot offers bring (1 Kor 13:3). Maar die uiteindelike doel van hierdie liefde is die voordeel wat die ander uiteindelik vir die eie sal hê. Die ander word gedien terwille van die voordeel vir die eie. Jy het nie die ander terwille van die ander lief nie, maar terwille van jouself. Uiteindelik word die ander gebruik, staan die ander in jou diens.

 

Daarteenoor is God se liefde ’n gee-liefde. Dis ’n beweging weg van Homself, na ander terwille van ander. Dit soek nie waarde nie, maar gee waarde. Dit offer tot voordeel van die ander, al is dit tot eie nadeel. Wat het dit God nie gekos om ons lief te hê nie!

 

Só het Christus as beeld van God liefgehad. Christus het ons lief terwille van onsself, terwille van ons voordeel, om ons te red. En Hy het ons onvoorwaardelik lief. Trouens Hy het ons lief gehad toe ons nog sy vyande was (Rom 5:8), en dit het beteken Hy het ons liefgehad op die gevaar af dat ons sy liefde sou minag en verwerp, dat ons selfs in ons vyandigheid sou volhard. Hy het gegee sonder dat Hy eers seker gemaak het dat Hy iets gaan terugkry.

 

Natuurlik verwag God wederliefde as antwoord op sy liefde. Maar dit is weens die aard van liefde: liefde wil altyd gemeenskap skep. Onbeantwoorde liefde is gefrustreerde liefde, halfpad-afgekapte liefde, liefde wat nie sy doel bereik het nie. Maar God was bereid om só lief te hê. Immers Hy het in Christus die wêreld so liefgehad dat Hy sy Seun gegee het, en ons weet vandag die wêreld het nie as geheel positief gereageer nie.

 

Om God se beeld te wees, moet ons Hom en Jesus hierin navolg, moet ons só liefhê. Selfs al sou ons liefde nie sy doel van wederliefde bereik nie, verloor dit nie sy waarde nie. Vir dié wat nie positief reageer nie, is my liefde nogtans ’n voorbeeld en getuienis van God se liefde, en ’n appèl om hulle aan sy liefde (wat deur ons na hulle uitgaan) prys te gee. En vir ons is dit deel van die vervulling van ons bestaansdoel: om sy beeld te weerspieël. Maar om só lief te hê is teen-natuurlik. Dit kos iets. Hierdie liefde kan net deur God self gemotiveer word, God wat in werklikheid alle liefde motiveer, Syne vir ons, ons s’n vir Hom en vir ander. Dit is deel van die wonderlike betekenis daarvan dat God die inisiatief in die verbond neem.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na selfliefde kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (1) – Adrio König

5.4 Eienskappe van die mens

5.4.1 Twee soorte eienskappe

Ons kan die mens se eienskappe in twee groepe indeel. Maar voor ons daarby kom, eers die basiese vraag: Hoe sal ons uitvind watter eienskappe God graag in ons lewe wil sien? In die geskiedenis is verskillende pogings aangewend om ’n beginsel of uitgangspunt te kry van waar ons na ons eienskappe kan vra. Adam en Eva in die Paradys is dikwels gebruik. Mense het presies probeer aflei hoe hulle voor die sonde was, wat hulle eienskappe was. Die gedagte was dan dat ons weer so moet wees. As ’t ware moet terugwerk Paradys toe.

Maar minstens twee dinge is tog duidelik. Eerstens dat daar nie regtig soveel inligting oor die mens in hierdie eerste drie hoofstukke gegee word nie. Hoofstuk 1 sê eintlik net ons is as God se beeld geskape, dat ons aangestel is om te heers, en dat mense bestaan uit mans en vroue sodat hulle kan vermeerder. Dis te min om enigsins ’n prentjie te vorm van wat ons bedoel is om te wees. Verder is dit ook duidelik dat die Bybel nie regtig so vreeslik geïnteresseerd is in die eerste hoofstukke van Genesis nie, dat daar nie baie keer daarna terugverwys word nie, veral nie om te verduidelik wat God met ons bedoel het nie. Daar word nooit in die Ou Testament na hierdie beginhoofstukke in die Bybel verwys nie, en net ’n paar keer in die Nuwe hoofsaaklik om die grootheid van Christus teenoor Adam te verduidelik.

 

Wat nou? Dikwels is eenvoudig lukraak sekere eienskappe uit die Bybel gekies en gerangskik. En mense het maklik by ’n paar uitgekom wat regtig belangrik is soos liefde. Ons is geroep om lief te hê. Dit leer ons tog uit Jesus se opsomming van die wet. Maar watter ander eienskappe nou? En hoe gaan ons besluit? Ons het tot dusver twee basiese verhoudings behandel waarin die mens tot God staan: Beeld en verbond. Kan dit ons nie help nie?

Eerstens is ons geskape om sy beeld te wees. Dit beteken tog dat daar ’n soort ooreenkoms tussen ons en Hom moet wees, soveel so dat mense uit ons lewe iets van Hom moet kan aflei. Maar dan kan ons tog verwag dat daar tussen sy eienskappe en ons s’n ’n mate van ooreenkoms moet wees. As ons dus gaan kyk na Wie God is, sal ons iets kan agterkom van hoe ons moet wees. As ons dus uit die Bybel leer wie en hoe God is, kan ons mos daaruit aflei hoe ons moet wees. Ons moet tog sy beeld wees. Mense moet Hom in ons kan herken. Ons het mos alreeds gesien die beeldwees veronderstel ’n bepaalde gelykheid/ooreenkoms tussen ons en Hom. Daar sal dus eienskappe in ons moet wees wat soos Syne is, wat ten minste ’n bepaalde ooreenkoms met sommige van sy eienskappe vertoon.

 

Maar ons leef ook in die verbond met Hom. En terwyl daar in terme van die beeld ’n bepaalde gelykheid/ooreenkoms tussen Hom en ons moet wees, moet daar nou weer juis ’n bepaalde ongelykheid tussen Hom en ons wees. Immers die verbond was nie ’n onderhandelde ooreenkoms tussen twee gelyke partye om ’n ronde tafel nie. Hy is eerste, en ons tweede. Maar ons het ook gesien hierdie ongelyke verhouding is ’n paslike ongelykheid. God neem die inisiatief, en ons moet reageer, ant-woord. Hy het die eerste woord, en ons die tweede. Ons het gesien dis eintlik

wonderlik dat God eensydig die inisiatief geneem het en steeds neem, dat dit die diepste rede is waarom die verbond nog bestaan.

 

Ons kan dus aanvaar daar sal twee soorte eienskappe wees,

  • eienskappe waarin ons Hom moet navolg, analogiese eienskappe kan ons dit noem,
  • en eienskappe waarin ons sinvol moet reageer op sy inisiatiewe, komplementerende eienskappe.

 

Eers ons beeldwees. Dit gaan om ’n bepaalde ooreenkoms tussen Hom en ons. ’n Mens skryf natuurlik “ooreenkoms” half met huiwering. Maar ons het nou oor en oor gesien dat daar spontaan mensvormig oor God geskryf word in die Bybel. Dit beteken dat ons reg en suiwer oor God kan en moet praat in terme van mense. En dat ons reg en suiwer oor mense kan en moet praat in terme van God!

 

Natuurlik kan die ooreenkoms tussen God en mens net beperk wees, nie absoluut nie. God is oneindig meer/groter/heerliker/heiliger as ons. Maar daar is wel beperkte ooreenkoms. Ons praat graag van ’n analogie, en van analogiese of analoë eienskappe.  En wat ons verbondsverhouding met Hom betref, weet ons nou al dis ’n ongelyke verhouding, maar dit is paslik. Daar is ’n sin waarin ons God komplementeer in hierdie verhouding, of liewer waarin ons die verhouding met Hom  komplementeer/volledig maak/afrond. Ons kan van komplementêre eienskappe praat.

 

As ons nou na die Bybel gaan met die vraag hoe God is en hoe Hy bedoel dat ons moet wees, kry ons maklik hierdie twee soorte eienskappe. Daar is eienskappe waarin ons van Hom verskil. Dit is eienskappe wat eintlik téénoor mekaar staan.

  • Hy is genadig; daarom moet ons dankbaar wees.
  • Hy heers met gesag; daarom moet ons gehoorsaam wees.
  • Hy gee aan ons beloftes; daarom kan ons hoop hê.

 

Maar hierdie verskille is paslike verskille. Dankbaarheid pas by genade, en gehoorsaamheid by gesag, en hoop by beloftes. Ons eienskappe is sinvolle reaksies op die inisiatiewe van die groot Verbondstigter. Hierdie reaksies pas by sy inisiatiewe soos ’n hol lens by ’n bollens. Dit vul eintlik sy inisiatiewe aan. Die verskille word eers ’n probleem as ons nie sinvol, paslik reageer nie, as ons met ondankbaarheid reageer op genade, of met ongehoorsaamheid/opstandigheid op gesag, of met moedeloosheid op sy beloftes. Dan pas dit nie meer nie. Dan word dit botsende verskille.

 

Die tweede groep eienskappe sluit direk by Syne aan, dit is analogiese eienskappe.

  • God is liefde, en Hy beveel ons om lief te hê.
  • God is vry, en Hy maak ons vry.
  • God is heilig, en Hy verwag van ons om heilig te wees.

Daar is natuurlik ’n hele aantal sulke eienskappe wat ons by die lys sou kon byvoeg soos goedhartigheid, geduld, reinheid, waaragtigheid.

 

Dit is almal analogiese eienskappe. Ons sal hierin nooit identies aan God kan wees nie, maar Hy wil ’n soort ooreenkoms, ’n analogie tussen Hom en ons hê. Ons is immers bedoel om sy beeld te wees. Omdat Hy liefde is, moet ons soos Hy liefhê. Miskien besef jy wat ons in werklikheid hier doen. Ons lei uit ons siening van God af hoe die mens behoort te wees. Ons lei antropologie af uit teologie-in-enger-sin.

 

Ons sou nog ’n hele aantal eienskappe kon noem onder die analogiese én onder die komplementerende eienskappe. Maar dis nie nodig nie. Met hierdie ses het ons ’n duidelike prentjie van God se doel met ons as mense. Hy wil hê dat ons Hom sal navolg in sy liefde, vryheid, heiligheid, en dat ons sinvol sal reageer op sy inisiatiewe met dankbaarheid en gehoorsaamheid en hoop. Dit kan interessant wees om een eienskap uit elk van die twee groepe te kies en effens vollediger daarna te kyk. Dit sal ons prentjie van wat God ’n mens bedoel het om te wees, helderder maak. Ons beginsel gaan wees om met ons siening van God te begin, en daaruit aflei hoe Hy ons bedoel om te wees.

 

Kom ons kyk na liefde as ’n analogiese eienskap, en na dankbaarheid as ’n komplementerende eienskap. Ons gaan by liefde begin.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (3) – Adrio König

5.3.2 God openbaar Homself in ’n Mens

Ons bely twee dinge oor Jesus: dat Hy tegelyk God en Mens is. Maar hoe is dit moontlik dat een Persoon tegelyk God en mens kan wees? Verskil God en mens dan nie soveel dat dit onmoontlik is, dat Hy ’n soort gesplete persoonlikheid sou moes hê nie? Mense probeer die vraag so antwoord dat hulle sy lewe in twee dele verdeel: Sekere dinge het Hy as God gesê of gedoen, en ander dinge het Hy as mens gesê of gedoen. Hy het as mens gesê dat Hy nie weet wanneer die wederkoms sou wees nie, en Hy het net as mens gesterf. Maar Hy het as God wonderwerke gedoen en uit die dood opgestaan.

Ons het egter nie grond in die Bybel om Jesus se lewe so in twee te deel nie. Die Evangelies skep die indruk van een Persoon wat ten volle by alles wat Hy gesê en gedoen het, betrokke was. Maar hoe is dit dan moontlik dat Hy beide was, God én Mens? God en mens verskil tog radikaal.

 

Is dit regtig so? Wat dan daarvan dat ons bedoel is om die beeld van God te wees? Veronderstel “beeld” nie juis ooreenkoms nie? Natuurlik nie identiteit nie, maar genoeg ooreenkoms dat die afgebeelde in die beeld herken kan word. As ek aan my doel beantwoord, moet mense iets van God in my kan sien, moet hulle uit my optrede kan aflei hoe God is. Dis tog wat “beeld” beteken.

 

Kom ons gaan hiermee na die Bybel. Jesus som die wet in twee gebooie op, liefde vir God en liefde vir mense. Die een woord wat die twee gebooie in gemeen het, is liefde. Jesus vat dus God se wil vir ons in een woord saam: liefde. Johannes skryf kernagtig oor God en watter woord gebruik hy? Ook liefde: God is liefde (1 Joh 4:8, 16). Die konklusie lê voor die hand. Omdat God liefde is, moet ons in liefde leef om te wys hoe Hy is. Daarom kan Jesus die wet opsom in twee liefdesgebooie. Paulus skryf dit pragtig: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld navolg. Lewe in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het … ” (Ef 5:1-2). Kernagtiger kan ’n mens dit nie uitdruk nie.

 

Liefde is ’n lewenshouding. Om God se beeld te wees, beteken dus om iets van sy lewenshouding en lewenswaardes te vertoon. En is dit nie presies wat Jesus gedoen het nie? Ons glo Hy is die openbaring van God. Dit beteken toe Hy mense vergeef het, het Hy gewys wie God is en wat God doen. Toe Hy mense genees het, van bose magte bevry het, kos gegee het, het Hy gewys wie en hoe God is. Maar is dit nie wat God ook van ons verwag nie? Moet ons nie ook vergewe en ook mense in nood help nie? Soos Jesus.

 

Maar dit beteken tog dat Jesus in sy één lewe, in presies dieselfde dinge wat Hy gedoen het, tegelyk gewys het hoe God is én hoe ons moet wees. Dit beteken verder dat Jesus wat ’n menslike lewe gelei het, in staat was om deur menslike optrede te wys hoe God is. Dit beteken nog ’n keer dat dit inderdaad paslik en reg is dat die Bybelskrywers in menslike terme oor God praat. En dit beteken op sy beurt weer dat God en mens nie regtig so radikaal verskil nie.

 

Maar hierna moet ons nog ’n keer kyk. Verskil God en ons regtig nie? Nee, God en mens verskil inderdaad, selfs baie. Die vraag is net: Hoe? In minstens twee opsigte. God is die Skepper en ons is skepsels.  Dit is ‘n radikale verskil, en dit sal nooit verander nie. Hy is ewig en ons is tydelik. Ons het ’n oorsprong, maar Hy nie. Hy is onsterflik en ons is sterflik. Hy moet ons uit genade deel gee aan die ewige lewe.

 

Verder het daar in die geskiedenis ’n tweede groot verskil ingekom, ’n verskil wat nie in beginsel bestaan soos die verskil Skepper-skepsel nie: God is heilig, maar ons is sondig. Hierop sou ons lank kon voortborduur. Ons is onbetroubaar, maar Hy is betroubaar. Hy gee om, maar ons is selfsugtig.  Die eerste verskil is wesenlik en sal altyd so bly, die tweede een is ons skuld. Dis glad nie hoe God dit bedoel het nie. Goddank dit is tydelik, ons sal terugverander word na wat God ons oorspronklik bedoel het. Op die nuwe aarde, in die nuwe Jerusalem sal niks inkom wat onrein is nie (Op 21:27). Dis waaroor God se hele opoffering in Jesus gaan: Om ons weer te maak soos Hy is, heilig.

 

Maar nou terug by ons opdrag: Ons is bedoel om die beeld van God te wees, om deur ons doen en late te wys hoe God is/wat God doen. Eintlik het dit ook van Israel as volk van God gegeld: Hulle moes die ander volke na Jerusalem lok sodat ook hulle die Here daar sou kom dien. Het hulle? Of is dit só dat die nasies later eerder Israel se God gespot het as om Hom in Israel se lewe te herken en te begin dien?

 

Ons kan lekker en breed uitwei oor hulle aanhoudende ongehoorsaamheid aan God. Maar is hulle nie maar verteenwoordigers van die mensdom nie? En ons wat onsself gelowiges, volgelinge van Jesus noem? Vaar ons soveel beter? Verduister ons nie eerder dikwels mense se uitsig op God nie?

Dis nie net Israel in die Ou Testament wat misluk het in God se doel met hulle nie. Die mensdom self het misluk. En nou?

 

Onthou uit ons bespreking van die verbond (Abraham, hoofstuk 1): Dis ’n eensydige verbond wat God alleen ingestel het en waaroor Hy alleen besluit. Hy laat nie die werk van sy hande vaar nie. Toe Israel en die mensdom misluk in sy doel met hulle, toe hulle nie sy beeld vertoon nie, toe gee Hy sy beeld aan hulle in ’n Jood uit Nasaret.

 

Jesus word herhaaldelik in die Nuwe Testament “die beeld van God” genoem (2 Kor 4:4-6; Kol 1:15; Heb 1:3), wat beteken dat Hy is soos ons bedoel was om te wees. Terwyl ons dit nie is nie, gee God in Jesus vir ons ’n voor-beeld van wat Hy met ons  bedoel. Soos ons in Jesus kan sien wie en hoe God is, wil God hê dat mense dit in ons kan sien. Martin Luther sou gesê het ons moet vir ander mense Christus word.

 

Dit kom duidelik uit in die “soos”-uitsprake van die Nuwe Testament. Ons moet soos Jesus word, wees, optree. Hier volg ’n aantal van hierdie uitsprake. Ywerige Bybellesers kan ’n keer die Nuwe Testament deurlees en dalk veel meer as net hierdie paar kry.

  • Ons moet soos Christus in liefde lewe (Ef 5:2).
  • Ons moet mekaar soos Christus liefhê (Joh 13:34).
  • Mans moet hulle vroue soos Christus liefhê (Ef 5:25).
  • Ons moet mekaar vergewe soos Christus ons vergeef het (Kol 3:13).
  • Ons moet onsself rein hou soos Christus rein is (1 Joh 3:3).
  • Ons moet so regverdig wees soos Christus (1 Joh 3:7).
  • Ons sal by sy wederkoms soos Christus wees (1 Joh 3:2).
  • Christus moet in ons gestalte kry (Gal 4:19).
  • Dieselfde gesindheid van nederige diens wat in Christus was moet ook in ons wees (Fil 2:5 ev)
  • Dieselfde werke wat Christus gedoen het, sal ons ook doen (Joh 14:12).

 

Daar is ook ’n ander reeks “soos”-uitsprake: Ons moet soos God wees. Dis natuurlik nie vreemd nie, want ons is juis bedoel om soos God te wees, om sy beeld te wees.

  • Ons moet soos God vergewe (Ef 4:32).
  • Ons moet soos God heilig wees (1 Pet 1:15-16).
  • Ons moet soos God barmhartig wees (Luk 6:36).
  • Ons moet soos God in die lig lewe (1 Joh 1:5-7).
  • Ons moet soos God volmaak wees (Matt 5:48).
  • Ons moet rus van ons werk soos God van Syne (Heb 4:10).
  • Ons goeie werke moet mense aan ons Vader herinner (Matt 5:16).

 

God gee dus aan ons sy beeld in ’n nuwe vorm: in sy Seun Jesus Christus. En Hy roep ons op om soos Christus te leef. Dan sal ons sy beeld vertoon omdat ons soos Hy sal leef. Maar kan dit? Natuurlik weet ons ons is geroepe om Jesus na te volg. Maar dis een saak om dit te weet. Dis ’n tweede saak om dit te doen.

 

Maar God sorg mos vir sy verbond! Is dit nie presies waar die Heilige Gees se werk inkom nie? Jesus staan mos nie net buite ons en wys ons hoe nie. Hy kom mos deur die Gees in ons in en verander ons lewe om soos Syne te word. Die Gees het ons deur die doop en die geloof aan Christus verbind sodat ons ou sondige lewe saam met Christus gekruisig en begrawe is, en ons in ’n nuwe lewe saam met Christus uit die dood opgestaan het. Hierdie nuwe lewe is natuurlik eintlik Christus se opstandingslewe: “Christus, wat julle lewe is … ” (Kol 3:4). En omdat Hy die beeld van God is, kan ons nou dié beeld vertoon, kan ons nou beantwoord aan die doel wat God met ons lewe het.

 

Dit beteken dat ons vir die soveelste keer beleef dat die groot temas van die Bybel, insluitende die mens as beeld van God, na Jesus lei.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König