Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees

Alle Paaie lei na Jesus: Die Heilige Gees – Adrio König

4.13 Die Heilige Gees

Omdat ons nie apart na die Gees in die Ou Testament gekyk het nie, gaan ons hier na die hele Bybel kyk. Maar ons wei uitvoerig uit oor die Gees se vermeende betrokkenheid by die skepping in Hoofstuk 10 waar ons met die Name en benamings van God besig is (kyk onder 10.4).

Die Heilige Gees word baie minder met die skepping in verband gebring as wat ’n mens sou dink (10.4.2). In sowel Hebreeus as Grieks beteken die woord vir Gees ook gees, lewe, asem, wind. Dit lê dus voor die hand om te dink dat die Gees direk met asem en lewe in verband gebring sal word. Die belydenis van Nicea verwys dan ook na Hom as “die Gees wat lewe gee”, maar dit sien waarskynlik meer op geestelike lewe, nuwe lewe. Maar in die Ou en Nuwe Testament word die Gees meer dikwels met gewone natuurlike lewe as met die skepping self in verband gebring (Job 33:4; 34:14-15; Ps 104:27-30; Pred 12:7; Eseg 37).

 

Die rol van die Gees by die skepping en in die res van die Ou Testament word breedvoeriger bespreek in hoofstuk 10.4 waar die vraag aan die orde kom of ons alreeds in die Ou Testament van die drie-enige God lees. Daar sal ons sien Genesis 1:2 en 1:26 (“Laat Ons mense maak”) gee nie oortuigende grond om te aanvaar dat dit inderdaad die Gees van God is wat by die skepping betrokke was nie.

 

Alle paaie lei na Jesus

Soos al die groot temas van die Bybel lei ook die skepping ons na Jesus. Saam met die Vader is Hy die Skepper. Hy ken dus die mens. Hy het die eerste een gemaak. Trouens Hy ken ons nog beter. Hy weet nie net hoe ons is nie. Hy is selfs een van ons. Hy het ’n mens geword, en deel gekry aan ons versoekings en lyding. Die Hebreërbrief verseker ons Hy is met ons swakhede bekend. “Hy is immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp” (4:15). “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (2:18). Hy weet dus uit ervaring wat ons behoeftes én ons moontlikhede én ons tekortkomings is.

 

Ons is nou klaar met die skepping. In die volgende gedeelte kyk ons na die mens.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Jesus Christus

Alle Paaie lei na Jesus: Jesus Christus – Adrio König

4.12 Jesus Christus

4.12.1 Skepper

Daar het ’n baie algemene oortuiging onder Christene posgevat dat Jesus “net die Skeppingsmiddelaar is”. Dit sou dan iets minder beteken as Skepper. Hy sou maar net die instrument wees deur Wie God alles geskep het, sodat net God die Vader die Skepper in eintlike sin is.

 

Dit is egter nie die volle verhaal nie. Christus word bely as Skepper op presies dieselfde vlak as die Vader. In Johannes 1:1-3 verwys Johannes doelbewus terug na Genesis 1 waar God die Skepper is. Maar Johannes pas dit direk op die Woord toe. En hy beklemtoon dat Hy Skepper is: “Alles het deur Hom tot stand gekom; ja, nie een enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.” Verder aan in dieselfde lied herhaal hy dit: “die wêreld het deur Hom tot stand gekom” (1:10).

 

Ook Paulus plaas Hom langs die Vader in sy belydenis: “Een God: die Vader, uit wie alles is … en een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan” (1 Kor 8:6). In Openbaring 3:14 is ’n effens moeiliker uitspraak. Vroeër is vertaal dat Jesus “die begin van die skepping van God” is. Die Grieks verwys egter skynbaar na ’n veroorsakende begin sodat ’n mens kan vertaal: “Die Een wat die skepping begin het” of “die Oorsprong van die skepping” (NLV). Dit is ook wat ons in Kolossense 1:16 kry: “Want in Hom is alle dinge geskape … alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (1953).

 

Terloops, dis nie duidelik waar 1983 en NLV hulle weergawe kry nie: “God het deur Hom alles geskape” in plaas van “alles is deur Hom geskape”. Hulle verander ’n passiewe vorm in die aktief, waarmee natuurlik niks verkeerd is nie. Maar die passief in die Grieks is “alles is deur Hom (die Seun) geskape”. Dit moet in die aktiewe vorm tog wees: “Hy (die Seun) het alles geskape.” Waar kom die gedagte dan vandaan dat God die aktiewe onderwerp moet wees wat deur die Seun geskep het? Hier is geen verwysing na God nie. Die Seun word hier as Skepper bely. Die verband vra dit ook. Hierdie sin is deel van die Christuslied wat juis Christus se grootheid besing teenoor die engele-aanbidding wat in die gemeente gedreig het. Verder aan in die lied word daarom weer uitdruklik sy grootheid bely: “Deur Hom bly alles in stand” (1:17), en “sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem” (1:18). Dit sou tog vreemd wees as Paulus in hierdie verband iets minder oor Hom wou sê, Hom as ’t ware ’n bietjie wou “afskaal” asof Hy net Skeppingsmiddelaar sou wees, en nie vol uit Skepper soos die Vader nie.

 

Trouens in die belydenis dat Christus saam met die Vader Skepper is, het ons een van die twee belangrikste bydraes tot die skeppingsleer in die Nuwe Testament. Soos in die geval van al die ander groot temas, lei ook hierdie een dus in die Nuwe Testament na Jesus Christus.

 

Daar is wel een uitsondering, Hebreërs 1:2: “God het Hom deur Wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak.” Hiervolgens het God deur Christus geskape. En dit is waar. Maar hierdie een uitspraak waarvolgens Christus Skeppingsmiddelaar is, kanselleer tog nie al die ander wat   Hom net soos die Vader as Skepper bely nie. En ook hierdie uitspraak is nie bedoel om Christus minder as die Vader te maak nie. Immers net ’n paar verse verder word van Hom gesê: ”U, Here (Jesus), het in die begin die aarde gevestig, en ook die hemel is die werk van u hande.” Dit is ’n aanhaling uit Psalm 102:26 ev, en dáár word dit direk van God gesê. Maar hier in Hebreërs word dit dan op Christus toegepas. Waar God dus in die Ou Testament as Skepper bely word, word dit in die Nuwe soms direk op Jesus oorgedra.

 

4.12.2 Skeppingsdoel

Maar daar is meer. Jesus word ook die doel van die skepping genoem, ’n heeltemal nuwe gedagte in die Nuwe Testament. Hy word bely as die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde (Op 22:13). Dit is omvattende uitdrukkings. Alfa is die eerste letter en omega die laaste letter van die Hebreeuse alfabet. Ons ken die uitdrukking “van A tot Z”. Dit beteken “alles”. Net so die Hebreeuse uitdrukking “die Alfa en die Omega”. Jesus het dus ’n omvattende betekenis vir die hele werklikheid. Ons kry oor ons persoonlike verhouding met Hom dieselfde gedagte in Hebreërs: “Jesus, die Begin en Voleinder van ons geloof” (12:2).

 

Maar die ander twee uitdrukkings sê selfs meer. Jesus is ook die Begin en die Einde van die skepping. Dit mag lyk na dieselfde betekenis, maar dis veel ryker. Die woord vir Begin beteken eintlik veroorsakende begin, inisieerder. Tereg vertaal die NLV Openbaring 3:14 waar Jesus die begin van die skepping genoem word, met: “die oorsprong van God se skepping.” Dit bring ons terug by Jesus as die Skepper (en nie net die Skeppingsmiddelaar nie) saam met die Vader.

 

Maar dan word Hy die Begin en die Einde genoem. Natuurlik kan “einde” bloot beëindiging, afloop beteken, of dit nou ’n sukses of ’n mislukking was. Maar dis presies wat die Griekse woord nie beteken nie. Die woord word dikwels tereg met “doel” vertaal. Waar Hy dus die “Einde” van die skepping genoem word, is dit ’n einde waarin die doel bereik is, die doel van God met die skepping.

 

Dié gedagte kry ons veral by Paulus. In sy wonderlike Christuslied lees ons onder andere: “Alles is deur Hom en vir Hom geskep” (Kol 1:16). Die “vir Hom” beteken eintlik iets soos: Op Hom gerig, in beweging na Hom toe, om sy doel in Hom te bereik. GN vertaal “vir Hom” soos volg: In Hom vind alles sy laaste doel. Elders lees ons Hy is erfgenaam van alles (Heb 1:2), wat tog ook iets hiervan sê. Wat sou dit kon beteken dat Christus die doel van die skepping is, dat alles in Hom sy doel sal bereik? In die geval van die mens weet ons eintlik wat dit beteken (hoofstuk 5). Ons as mense het misluk in God se doel met ons – om in ’n liefdesverhouding met Hom te leef en sy beeld te wees. Omdat ons misluk het, het God aan ons sy beeld kom wys in Iemand wat in so ’n liefdesverhouding met Hom leef en aan ons wys hoe Hy is – Jesus.

 

Maar Jesus het meer kom doen as net om te wys. Deur Jesus wil God presies doen wat sy doel van die begin af was: om in ons sy doel te bereik. Jesus kom vervang ons dus nie en stoot ons opsy soos Hy die tempelkultus opskort en vervang deur sy eie priesterskap en offer nie. Hy verenig ons deur die Gees en die geloof met Homself, só dat ons in sy lewe deel, deel van sy liggaam word, en só regtig deel word van Hom in wie God sy doel bereik. Daarom wil die Gees ons soos Jesus maak om

  • soos Hy te vergewe,
  • soos Hy lief te hê,
  • soos Hy rein te wees,
  • soos Hy te verdra,
  • soos Hy die sonde te oorwin,
  • soos Hy heilig te leef,
  • en al die ander eienskappe wat ons in Jesus se lewe sien.

 

Iets hiervan sal seker deel wees daarvan dat die hele skepping sy doel in Jesus sal bereik. Die totale samelewing is bedoel om in liefde te funksioneer. Dan word dit ’n samelewing wat omgee, wat ondersteun, wat verdra en dra, en nie een waarin mense mekaar uit die pad elmboog om ten alle koste, oor hoeveel lyke ook al, vóór te kom en eerste te wees nie. Dit sal ’n samelewing wees waarin nie net die toppresteerders aandag kry nie, maar ook die “arme” gemiddelde en ondergemiddelde kind, waarin ’n kind teen homself/haarself sal meeding, en as jy jou insette verbeter het, beloon word al is jy nog altyd onder aan die lys.

 

Omdat God liefde is, kan net liefde regtig werk in die skepping wat uit sy hand gekom het. Hy het immers getrou aan Homself geskep. En in Jesus sien ons hoe dit werk in die lewe van ’n enkeling. Nou wil Hy deur ons vir die wêreld wys hoe dit in die lewe van ’n gemeenskap werk. Dit is wat die gemeente bedoel is om te wees: ’n Venster waardeur mense God kan sien.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Vader

Alle Paaie lei na Jesus: Die Vader – Adrio König

4.11 Die Vader

Wat in die Ou Testament aan die Here toegeskryf is, word in die Nuwe meestal aan die Vader toegeskryf. Herhaaldelik word ook hier lof aan Hom gebring vir die wonder van sy skeppingswerk.

Openbaring 4, die openingshoofstuk van die drama wat voor Johannes afspeel, is een groot loflied vir Hom wat op die troon sit. Die rede? “Omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan en is dit geskep” (4:11).

 

God word talle kere as Skepper bely (oa Hand 14:15; 17:24; Rom 1:25; Ef 3:9; 1 Pet 4:19; Op 5:13; 10:6; 14:7). Maar Hy word tegelykertyd ook as Voorsiener en Voleinder bely (Rom 11:36: “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid”). Dit beteken dat die Skepper ook betrokke is by sy skepping, en selfs dat die skepping op Hom gerig is.

Maar hierdie gesigspunte is nie die eintlike bydrae van die Nuwe Testament nie. Daarvoor moet ons oorgaan na Jesus Christus.

 

In die volgende artikels gaan ons ma Jesus en die skepping kyk.

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König




Alle Paaie lei na Jesus: Die Nuwe Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Nuwe Testament – Adrio König

4.10 Die Nuwe Testament

Die Nuwe Testament sluit direk by die Oue aan wat die skepping betref. Maar daar kom baie belangrike uitbreidings. Terwyl daar in die Ou Testament net na God die Here as Skepper verwys word, kry ons in die Nuwe die onderskeid tussen Vader, Seun en Gees. Maar voor ons daarby kom, eers net ’n paar algemene opmerkings.

 

Die skrywers van die Nuwe Testament wat na die skepping verwys, maak die meeste gebruik van Genesis 1 en Genesis 2. Daar word ’n paar keer verwys na God “wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daar is, gemaak het”. Dit is moontlik ’n samevatting van Genesis 1 (Hand 14:15; Op 5:13; 10:6; 14:7). Die mens as die beeld van God is belangrik by Paulus (1 Kor 11:7; Ef 4:24; Kol 3:10 ev). Verder ook “die begin” van Genesis 1:1 (Matt 19:8; Mark 13:19; Heb 10:1; 2 Pet 3:4). Hierdie “begin” is die skepping. Maar die Nuwe Testament gaan verder terug, selfs voor die skepping. Juis in ’n woordspeling op Genesis 1:1 se “begin”, skryf Johannes: “In die begin was die Woord,” en dan gaan Hy vóór die skepping terug (1:1). Trouens alle uitsprake oor Jesus se voorafbestaan (pre-eksistensie) gaan voor die skepping terug. Dit gaan oor die ewige Seun van God, sy verhouding met die Vader, en dit wat die Vader voor die skepping gedoen het (Joh 1:2-5; 17:24; Ef 1:4; Fil 2:6; 1 Pet 1:20).

 

Genesis 2 kom selfs sterker na vore in die Nuwe Testament. Terwyl Adam en Eva nie verder in die Ou Testament ’n noemenswaardige rol speel nie, kom hulle sterker na vore in die Nuwe. Veral Paulus verwys na hulle in verband met die sonde (Rom 5:12-21), die dood (1 Kor 15:20-22), die huwelik (Ef 5:31) en die onderdanigheid van vroue (1 Tim 2:8-15).

 

Daar word nooit in die Nuwe Testament verwys na die ses skeppingsdae of na die spesifieke volgorde van die skepping in Genesis 1 nie. Daar word wel na ’n aantal skeppingsvoorstellings verwys soos skepping deur die woord (2 Kor 4:6; Heb 11:3; 2 Pet 3:5). Dié voorstelling word dan deur Johannes op Jesus as dié Woord toegepas (Joh 1:1-3). Verder lees ons ook dat die skepping die werk van God se hande is (Heb 1:10). Die bekende uitdrukking “voor die grondlegging van die wêreld” (1953-vertaling Ef 1:4) veronderstel dat die aarde ’n bouwerk met fondamente is.

 

Dan is daar die vreemde voorstelling dat die aarde uit water en deur water geskep is (2 Pet 3:5). Die NLV het ’n goeie poging aangewend om dit enigsins te verduidelik: “God het die aarde uit water laat opkom en dit met water omring.” Dit herinner dan aan Genesis 1 waar God die water terugstoot sodat die land sigbaar word.

 

Dit mag opmerklike lesers opgeval het dat ons nog nooit verwys het na skepping uit niks nie. Die rede is eenvoudig: Dit kom nie in die Ou Testament voor nie. Die gedagte dat die Hebreeuse werkwoord wat gewoonlik gebruik word in die sin: “God het geskep” (bara) “skepping uit niks” beteken, is ongegrond. Dieselfde woord word gebruik wanneer Jesaja verwys na die terugtog. Hy noem dit iets nuuts wat God geskep het (48:7).

 

Maar wat van die Nuwe Testament? Daar is twee uitsprake wat gewoonlik aangehaal word: ”Ons weet dat die wêreld deur die woord van God geskep is: die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie” (Heb 11:3). Maar as God die sigbare dinge geskep het uit onsigbare dinge (iets wat ons nie sien nie), is dit skepping uit onsigbare dinge en nie skepping uit niks nie. Onsigbare dinge is nie niks nie. Verder is daar: God wat “dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord” (Rom 4:17). Oënskynlik is dit ’n sterker getuienis. Dit praat van dinge wat nie bestaan nie, wat agterna bestaan. Wat niks was, bestaan dus nou deur God se skeppingswerk. Maar dis nie seker dat dit die betekenis is nie. God het die mens wat nie bestaan het nie, deur sy skeppingswerk tot stand gebring, maar nie uit niks nie, uit grond. Daar is geen duidelike getuienis in die Bybel dat God alles uit  niks geskep het nie. En van die mens is dit in elk geval nie waar nie.

 

Daar is wel ’n uitspraak in een van die Apokriewe boeke wat deur sommige so geïnterpreteer word. Die ma van ’n seun wat met die dood gedreig word, sê onder andere die volgende vir hom: “I implore you, my child, look at the earth and the sky and everything in them and consider how God made them out of what did not exist, and that human beings come into being in the same way” (2 Makkabeërs 7:28, my kursivering). Die laaste frase maak dit egter onseker of dit verstaan kan word as skepping uit niks. Dis nie hoe mense ontstaan nie.

 

En tog is skepping uit niks ’n belangrike voorstelling. Dit getuig van die groot mag van God. Ons kan ook iets “skep”, maar ons het materiaal daarvoor nodig, byvoorbeeld om ’n rok te maak. Maar ons weet ook hierdie materiaal beperk ons. As dit rooi is, kan ons nie ’n wit rok maak nie, as dit sy is, kan ons nie ’n katoen rok maak nie, as dit min is, kan ons nie ’n lang aandrok maak nie. Maar as ons aanvaar dat God uit niks geskep het, beteken dit Hy was nie beperk deur die materiaal waaruit Hy geskep het nie. Hy kon dus alles maak presies soos Hy wou. Dit onderstreep die uitspraak in Genesis 1 dat alles wat Hy gemaak het, regtig goed was, presies soos Hy dit wou hê.

 

Maar in ’n ander sin kan ons tegelykertyd sê dat God juis nie uit niks geskep het nie, maar uit sy hart uit. God het nie leeg, planloos gestaan en sommer iets gemaak nie. God het gemaak wat Hy wou, wat in sy hart is, en in sy hart is liefde. Dit beteken dat die skepping wat God gemaak het, net in liefde kan werk. Dit is die God van liefde se handewerk. In al ons verhoudings kan dus net liefde werk. Dis ’n “skeppings ordinansie”!

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König