Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (2) – Adrio König
10.1.2 Die oorsprong en betekenis van die Eienaam Jahwe
Hierdie Naam vir God word op ’n dramatiese manier aan Moses in die woestyn bekend gemaak (Eks 3:14-15). Dit is interessant dat ons ’n bietjie later in Eksodus (6:2) uitdruklik lees dat die Here Hom nie vroeër onder hierdie naam aan die aartsvaders bekend gemaak het nie, maar wel onder die Naam El Shaddai. Dit klink na ’n vreemde opmerking omdat die aartsvaders al vrylik die Naam Jahwe (Here) gebruik het (Gen 15:8; 16:2). Dit staan trouens al oor en oor in Genesis 2.
Daar is verskillende maniere om dit te probeer verduidelik. Een daarvan is die volgende.
Ons moet onthou dat die geskiedenis wat ons in die eerste boeke van die Bybel het, nie in dieselfde tyd en volgorde opgeskryf is as wat dit gebeur het nie. Dis nie noodwendig so dat die aartsvaderverhale opgeskryf is voor die verhale oor die uittog nie. Genesis 2 is byvoorbeeld waarskynlik ook ’n baie ouer verhaal as Genesis 1. Kyk by hoofstuk 4. Ons moet ook onthou dat daar waarskynlik verskillende dokumente bestaan het wat later eers saamgevoeg is om die eerste boeke van die Bybel te vorm. Verder kon ’n redakteur veranderings in die dokumente aangebring het toe hulle bymekaar gesit is in een boek soos byvoorbeeld Eksodus.
Dit alles beteken dat dit moontlik is dat Eksodus 6 oorspronklik vroeër geskryf is as die finale vorm van die aartsvaderverhale in Genesis. Die redakteur wat later hierdie dokumente saamgevoeg het, kon eenvoudig al self so bekend gewees het met die Naam Jahwe dat hy dit in die ouer dokumente ingeskryf het, en dus as ’t ware in die mond van die patriarge gelê het. Natuurlik kan dit vrae na vore bring oor die inspirasie en gesag van die Bybel. Daaraan het ons aandag gegee teen die einde van hoofstuk 8.
Die betekenis Die betekenis van Jahwe is besonder interessant. Dit hou direk verband met die vorm van die woord, én met die situasie waarin die naam bekend gemaak is. In reaksie op Moses se vraag wat sy Naam is, antwoord die Here: “Ek is wat Ek is,” en verder moet Moses dan vir Israel sê: “‘Ek is’ het my na julle gestuur.” Saam met die twee sinnetjies by die instelling van die nagmaal (“Dit is my liggaam/bloed”) is hierdie die kortste sinnetjies waaroor seker die meeste geskryf is in die Christelike kerk.
Allereers is dit duidelik dat dit nie ’n gewone bekendmaking van ’n naam is nie. Dit is nie sonder meer duidelik wat “Ek is wat Ek is” beteken nie. Verder is “Ek is” nie ’n gewone naam nie. En derdens is Jahwe eintlik net ’n woordspeling op “Ek is”. ’n Mens kan nie help om terug te dink aan Genesis 32 nie. Daar ontmoet Jakob ’n man van wie hy later bely dat dit God was. In ’n worsteling verander Hy Jakob se naam. Maar as Jakob sy naam vra, antwoord hy net: “Waarom vra jy my naam?” Ook hier is ’n duidelike terughoudendheid. En tog sê Eksodus 3:13-14 meer, en help dit ons inderdaad om iets wonderliks van God te verstaan.
Die Hebreeuse woordjie vir “Ek is”, waarvan Jahwe afgelei is, is ’n werkwoord. Dié werkwoord het te doen met dinge wat gebeur. Dit is die bekende manier waarop verhale in die Ou Testament ingelei word. In die eerste sin wat dien as inleiding van ’n verhaal, word hierdie werkwoord dikwels gebruik, en dit lui letterlik: “Dit het gebeur dat … ” (2 Sam 13:1; 21:1). Die laaste van hierdie twee verse moet eintlik vertaal word met: “In Dawid se tyd het dit gebeur dat daar ’n hongersnood was.”
Ook wanneer die Here met iemand gepraat het, staan daar eintlik: “Die woord van die Here het gebeur met … ” en dan word hierdie woord gebruik (1 Sam 15:10; 2 Sam 7:4). Dit word gewoonlik vertaal met: “Die woord van die Here het gekom tot … ” As God dan sy Naam bekend maak met ’n vorm van hierdie werkwoord, beteken dit dat Hy die een is wat dinge laat gebeur.
Hierdie betekenis klop ook met die situasie waarin dié Naam bekend gemaak is. Israel word wreed verdruk in Egipte. Die Here verskyn aan Moses en beloof Hy gaan hulle bevry. In Eksodus 3:7-10 en weer in 6:1-7 verduidelik Hy breedvoerig hoe Hy hulle nood gesien en hulle geroep gehoor het en hulle gaan bevry. Dit is dan ook met hierdie bevrydingsboodskap waarmee Hy Moses na die leiers van Israel stuur. Maar as die Here hulle wil bevry, sal daar dinge moet gebeur. En nou is dít juis wat sy Naam beteken. Waar “Ek is” teenwoordig is, bly dinge nie dieselfde nie! As God Homself openbaar as Jahwe, beteken dit iets soos: Ek is reddend teenwoordig om dinge te verander.
Dit is opvallend dat God Hom dan met presies die teenoorgestelde Naam in Hosea 1:9 bekend maak. Hier wil Hy Hom aan Israel onttrek weens hulle aanhoudende ontrou. Ongelukkig bring die Afrikaanse vertalings nie hierdie betekenis uit nie. Dit moet eintlik lees: Noem hom “Nie-my-volk-nie,” want julle is nie my volk nie en Ek is nie meer daar (reddend teenwoordig) vir julle nie. GN en NJB vertaal dit só.
Hier gebruik Hosea dan dieselfde woord as in Eksodus 3:14, maar nou in ’n ontkenning. Dit beteken dat die band wat hierdie woord in Eksodus tussen die Here en die volk lê, volgens Hosea deur hulle ontrou verbreek word. Die betekenis van “Jahwe” het dus meegebring dat die volk Hom in vertroue kon aanroep. Hierdie Naam het ’n band van vertroue tussen hulle en Hom gelê. Hulle het Hom as getroue Helper leer ken.
Die geskiedenis Maar nou iets van die geskiedenis van hierdie Naam daarna. Dit was iets van ’n lydensgeskiedenis. Die eerste deel van hierdie geskiedenis het begin by die feit dat die Jode gaandeweg hierdie Naam al minder gebruik het. Hulle het die derde gebod só verstaan dat hulle veiligheidshalwe glad nie meer dié Naam wou uitspreek nie, want sê nou hulle misbruik dit. Waar hulle in die Ou Testament hierdie Naam gekry het, het hulle Adonai (Heer, Gebieder, Beskikker) gelees, en dit ook in hulle gebede en gesprekke gebruik.
Intussen moet ons onthou dat hulle Bybel net medeklinkers gehad het. Hulle het nie klinkers geskryf nie. Hulle het hulle Bybel so goed geken dat hulle geweet het wat daar staan. Probeer gerus so iets. Skryf ’n deel uit die Bybel, maar haal al die klinkers uit. Dl kan dan doel of deel of dele of dal of dale beteken. Dit het beteken dat oor ’n baie lang tydperk waarin hulle nie meer God se Naam uitgespreek het nie, die nageslag nie meer geweet het hoe nie. In hulle Bybel het net die drie medeklinkers gestaan Jhw. Christene het toe later eenvoudig die klinkers van Adonai by Jhw geskryf, en Jehova gekry (Engels Jehovah). Latere navorsing het dit egter taamlik seker gemaak dat dit eerder iets soos Jahwe uitgespreek is. Hierdie Naam word eintlik Jagwe uitgespreek, met ’n sagte g.
Nou die tweede beweging in hierdie geskiedenis. Gedurende die tweede eeu voor Christus het die Jode ’n Griekse vertaling van die Ou Testament gemaak omdat baie Jode rondom die Middellandse See nie meer Hebreeus geken het nie. Dit is die Septuagint of die LXX genoem (wat 70 in Latyn is) omdat hulle geglo het dat 70 (eintlik 72) geleerdes die vertaling gedoen het, ses uit elke stam van Israel. Elders is meer besonderhede oor hierdie vertaling gegee (hoofstuk 8).
Behalwe ander kenmerke vertoon hierdie vertaling duidelik invloede van die Griekse filosofie. En om die werkwoordsvorm “Ek is” te vertaal, het hulle in Eksodus 3:14 ’n Griekse deelwoord gebruik (ho oon) wat soms in die Griekse filosofie as benaming vir God gebruik is. Dit kan vertaal word met iets soos “die syn”, “die bestaande”. Volgens hierdie vertaling het God dus vir Moses gesê: “Ek is ho oon,” en verder: “Ho oon het my na julle gestuur.” Ho oon het iets beteken soos die syn/synde. Die kerkvaders het hieruit afgelei dat God die ewige, onveranderlike, in-sigself-genoegsame syn/wese is, die God wat ’n afgetrokke wese is wat los van alle menslike emosie en lotgevalle staan en nie deur enigiets op aarde beïnvloed word nie – ’n betekenis wat min verband het met dit wat die Naam werklik beteken, en ook min met die wyse waarop God in die geskiedenis van Israel betrokke was. En in die volgende vers waar die eintlike naam Jahwe toe gebruik is, ’n Naam wat afgelei is van die Hebreeus vir “Ek is”, het hulle Kurios gebruik. Dit is die Grieks vir die benaming Adonai wat die Jode uitgespreek het in plaas van Jahwe. Dit het beteken dat die titel Heer/Gebieder toe amptelik in die plek van die eienaam Jahwe in hulle vertaling ingeskryf is. Dit was die tweede beweging in hierdie geskiedenis.
Die derde beweging het gekom toe die vroeë Christene hierdie Griekse vertaling bo die oorspronklike Hebreeus verkies het. Dit het hulle gehelp met hulle sendingwerk onder die heidene wat Griekssprekend was, én omdat daar sekere tendense in die LXX was wat hulle gepas het. Dit het beteken dat hulle van die begin af hierdie titel “Here” vir Jahwe gebruik het. Die Latynse Vulgaat het hulle hierin gevolg, en die Westerse vertalings het byna sonder uitsondering dieselfde gedoen sodat ons uiteindelik in Afrikaans ook met die titel “Here” in plaas van die eienaam “Jahwe” geëindig het. Dat dit baie jammer is, het ons alreeds gesê. Ons het daarmee in ’n groot mate die gevoel verloor dat God ’n eie, unieke Naam het.
Maar in die Nuwe Testament gebeur selfs baie meer. Trouens eintlik moet ons dadelik fyner onderskei oor wat regtig onder die vroeë Christene gebeur het. Ons moet duidelik onderskei tussen die Ou Testament en die Nuwe. Die skrywers van die Nuwe Testament het inderdaad aanvaar dat Jahwe in die Ou Testament met Kurios vertaal is. Hulle het dan ook die Ou Testament só aangehaal (Am 9:12 in Hand 15:17). Terwyl daar in die Hebreeuse teks in Amos “Jahwe” staan, het Jakobus in Handelinge “Kurios” (Here) in sy aanhaling gebruik, in navolging van die LXX. Ook die apostels en die vroeë Joodse Christene het dus nie Jahwe gebruik as hulle die Ou Testament in Grieks aangehaal het nie, maar Kurios (Here). En die gelowiges uit die heidendom het natuurlik vanselfsprekend Kurios gebruik soos die LXX dit het.
Maar nou moet ’n mens mooi dink. Wat hier bo staan, geld net wanneer hulle uit die Ou Testament aangehaal het. Maar wanneer hulle uit hulle eie van God en van Jesus gepraat/geskryf het, was dit anders. Hulle het byna sonder uitsondering na God die Vader, die Jahwe van die Ou Testament, verwys as Theos (God), soveel so dat Theos eintlik vir hulle die eienaam van God geword het. En net so het hulle byna sonder uitsondering na Jesus as kurios (Here) verwys.
En nou die “million dollar question”: Wat het kurios beteken toe dit in die Nuwe Testament vir Jesus gebruik is terwyl dit in die Ou Testament gebruik was as vertaling van Jahwe? Ons kan dit probeer aflei uit twee gegewens in die Nuwe Testament.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König