Alle Paaie lei na Jesus: Die verhouding Israel-Kerk na Pinkster (2) – Adrio König
Gestruktureerde kontinuïteit
Die ander standpunt, dié van gestruktureerde kontinuïteit, word nou verduidelik aan die hand van die sentrale teks wat vir die diskontinuïteit gebruik word (Ef 3:1-6) en van ’n paar ander dele. Gelyktydig hiermee sal die probleme in verband met die diskontinuïteit behandel word.
Efesiërs 3:1-6
Die paar verse is eintlik ’n voortsetting van Efesiërs 2:11-21, ’n besonder ryk gedeelte oor die versoening en die betekenis van die kruis. Die heidene was vroeër ver van God af en “uitgesluit uit die burgerskap van Israel”. Maar noudat hulle in Christus glo, het hulle naby God gekom. Dit beteken ook dat God deur die kruis van Jesus die skeidsmuur tussen Jode en heidene afgebreek, en uit die twee een nuwe mensheid geskep het. Hy het hulle tot een liggaam verenig sodat Jode en nie-Jode nou een is en saam deur dieselfde Gees toegang tot die Vader het. Sterker en duideliker kan dit moeilik gesê word dat Jode (die ware Israel van die Ou Testament tesame met die Jode wat nou in Jesus glo) en heidene nou saam een volk van God vorm.
Maar dis nie al nie. Daar is struktuur in hierdie eenheid. Dit is nie eenvoudig twee groepe wat verenig is tot die een volk van God nie. God het klaar ’n volk gehad, die ware Israel van die Ou Testament. Hulle is die burgers van God se ryk, die heidene was van hulle vervreem. Nou word die heidene wat tot geloof kom, mede-burgers (2:19) saam met die eintlike burgers. Die heidene word dus in die bestaande volk van God opgeneem. In 3:6 word dan spesifiek hierna terugverwys as die geheim wat vroeër onbekend was, maar nou aan Paulus geopenbaar is. Hierdie geheim is dat die heidene (die letterlike Grieks) nou “mede-erfgename” saam met die eintlike erfgename (Israel) is, “mede-lede” saam met die eintlike lede (Israel), en “mede-deelgenote” saam met die eintlike deelgenote (Israel) is (Ef 3:6). Dis duideliker in die Grieks as in die meeste vertalings. Maar kyk na die vertaling van die NJB wat ek in hakies aanvul terwille van die duidelikheid: “that the gentiles now have the same inheritance (as the Jews) and form the same body (together with the Jews) and enjoy the same promise (as the Jews) … ”
Israel het ’n prioriteit. Ons, die heidene wat glo, kom agterna by. Hulle is die oorspronklike volk van God. (Ons gaan presies dieselfde struktuur in Rom 11 kry.) God skep nie in die Nuwe Testament ’n nuwe volk nie, Hy voeg ons, die gelowige heidene, by sy bestaande volk by. Daar is dus nie so iets soos die kerk as die nuwe Israel nie. Daar is net ’n nuwe vorm van (die enigste) Israel.
Hierdie vereniging, hierdie byvoeging van die heidene by Israel, is ’n vrug van die kruiswerk van Jesus (Ef 2:16). En dit is kosbaar vir God. Hy het deur die kruis van Christus die vyandskap tussen Jode en heidene vernietig (2:14, 15), en die twee in een liggaam verenig (2:16). Die gelowige heidene is nou medeburgers en hulle word saam met Israel (as die ware Godsvolk van die Ou Testament) opgebou tot ’n heilige tempel vir die Here (2:19-21).
In hierdie lig is dit skynbaar ’n misverstand dat die blote feit van die kerk die geheim is wat nou geopenbaar is. Dit is ook nie wat 3:6 regtig sê nie. Vers 6 lui immers dat die geheimenis nog nooit tevore bekend gemaak is soos nou nie. Dit beteken nie dat die feit van die kerk in die geheel nog nooit bekend was nie, maar dat dit nou anders (beter/vollediger) bekend gemaak is as tevore.
Dit blyk ook uit die vervolg. Die geheimenis is nie dat daar ’n kerk sal wees nie. Die geheimenis word baie spesifiek geformuleer met drie keer “mede”. Die heidene sal nie maar net saam met die Jode die Here in Jerusalem kom aanbid soos dit reeds in die Ou Testament geprofeteer is nie. Die nuut geopenbaarde geheim is dat die heidene wat tot geloof kom, wesenlik deel word van die ware volk van God, met presies dieselfde status en voorregte as hulle. Hulle is dus nie tweedeklasburgers (“bywoners” 2:19) in die koninkryk nie. Hulle is mede-erfgename, mede-lede, mededeelgenote saam met die gelowige Jode. Hierdie gelyke status en wesenlike eenheid met Israel, is die geheim wat nie in die Ou Testament bekend was nie.
Nog ’n misverstand is dat die kerk uniek en onvoorsiens is omdat dit die liggaam van Christus is. Inderdaad is die beeld “die liggaam van Christus” belangrik, en word dit nie in die Ou Testament gebruik nie. Maar dit is slegs een van talle beelde vir die kerk, en die meeste van die ander beelde vir die kerk word inderdaad in die Ou Testament vir Israel gebruik, beelde soos die volk van God, die uitverkorenes, die heilige priesterdom (vergelyk oa 1 Pet 2:9-10 wat later in hierdie hoofstuk behandel word).
En juis in 3:6 staan dan dat die heidene nou saam met Israel lede is van die “liggaam”, wat niks anders kan wees as die liggaam van Christus nie. Die ware Israel self word dus nou die liggaam van Christus genoem.
Romeine 11
Die wesenlike eenheid tussen Israel en die heidene, en daarmee saam die voorrang van Israel, word selfs nog duideliker geskryf in Romeine 11. Hier worstel Paulus met die krisis dat die heidene nou die kerkbanke vol sit, terwyl Jesus Israel se Messias is (Rom 9:1-5). Sy konklusie is dat die Israel wat Jesus as Messias verwerp het, self verwerp is en geval het (Rom 11:12, 15; Matt 21:43; 23:37 ev) en glad nie meer Israel in die eintlike sin van die woord is nie. Hulle is die takke wat van die mak olyfboom (die ware Israel van die Ou Testament) afgebreek is, terwyl die heidene wat tot geloof in Jesus gekom het, takke is wat van die wilde olyfboom afgebreek is en op die mak boom (die ware Israel van die Ou
Testament) geënt is (Rom 11:17).
Dit beteken minstens twee dinge: dat Israel en die heidene nou saam die mak olyfboom of die volk van God is, en verder dat Israel wel ’n bepaalde prioriteit bo die gelowige heidene het. Ons heidene “het deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel” (Rom 11:17), die ware Israel van die Ou Testament.
Dis merkwaardig dat Paulus dadelik hierdie prioriteit van Israel beklemtoon. Hy skryf vir die gelowige heidene: “Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel (Israel) dra nie, die wortel dra jou” (11:18). Dit beteken dat die gelowige heidene dankbaar en nederig teenoor Israel moet wees. Die geslag wat Jesus verwerp het, is die takke wat uitgekap is, en die gelowige heidene is geënt. Maar oppas, vervolg die apostel. As ons, heidene, nie in die geloof volhard nie, sal ons ook “uitgekap” word, in werklikheid veel makliker as wat die geslag Jode in Jesus se tyd “uitgekap” is, want ons is wilde lote.
En verder is die verwerping van die Jode van Jesus se tyd nie finaal nie. Hulle sal weer op hulle eie stam geënt word as hulle Jesus as hulle Messias aanvaar. En dit kan eintlik makliker gebeur as met ons, want Hy is hulle Messias, hulle is mak takke. Dié groei baie makliker op die mak stam as wilde takke (11:19-24).
Dit lyk nie moeilik om hieruit die volgende konklusies te trek nie:
- Dat daar ’n besondere eenheid tussen Israel en die kerk is, of om dit effens duideliker te formuleer, dat die kerk van die Nuwe Testament (wat bestaan uit alle Jode en heidene wat glo), en Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament een is, verenig deur die kruiswerk van Jesus (Ef 2).
- Dat daar egter ’n bepaalde struktuur in hierdie eenheid is. Israel het ’n bepaalde prioriteit of voorsprong bo die heidene. Ons is met hulle verenig, nie hulle met ons nie. Ons is opgeneem in die volk van God van die Ou Testament, ons is by hulle bygevoeg, ons is van hulle afhanklik, dis nie ons wat hulle dra nie, maar hulle wat ons dra. Die wonder is nie dat Israel die ware Godsvolk is nie, die wonder is dat ons by hulle bygekom het, en dan op presies dieselfde vlak en met presies dieselfde voorregte as hulle. Dit het die kruis van Jesus gekos! Presies dít is die misterie van Efesiërs 3:6.
Galasiërs 3
Hierdie siening word ook vanuit ’n ander hoek bevestig: die betekenis van Abraham en die Abrahamverbond in die Nuwe Testament. Abraham speel dwarsdeur die Bybel ’n besondere rol. Alhoewel die naam van Abraham nie so dikwels in die Ou Testament voorkom nie, nie eens 20 keer buite die geskiedenis in Genesis nie, is die formule van God se verbond met hom natuurlik sonder meer die sinnetjie wat verreweg die meeste in die Ou Testament voorkom: “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.” Kyk gerus weer na hoofstuk 1 oor Abraham.
Maar in die Nuwe Testament kom die naam van Abraham self skielik meer as 50 keer voor, en dit sonder ’n enkele negatiewe verwysing na hom, terwyl daar natuurlik oor al die ander prominente figure van die Ou Testament negatiewe opmerkings in die Nuwe gemaak word. Dink maar net aan Moses en Josua (Gal 3:1-6; Heb 3:1-6; 4:8).
Abraham word om twee redes so prominent na vore gebring in die Nuwe Testament:
- om sy persoonlike geloof,
- en om die verbond wat God met hom gesluit het.
Die twee is so in mekaar gevleg dat ’n mens hulle eintlik nie van mekaar kan skei nie.
In Galasiërs 3 gaan Paulus in besonderhede in op die betekenis van Abraham en die Abrahamverbond. Hy stel aanvanklik twee groepe teenoor mekaar: Moses, die wet, en ons eie krag teenoor Abraham, die Gees, en die evangelie (Gal 1:1-6). Dit plaas Abraham onmiddellik in ’n besondere konteks! Hy vervolg dan
- dat die evangelie alreeds aan Abraham verkondig is,
- dat dié wat glo, kinders van Abraham is, en
- dat ons net saam met die gelowige Abraham geseën kan word – ’n mondvol (3:7-9)!
Hy doen dit in die brief waarin hy standpunt inneem teenoor die Judaïste se eis dat heidene eers besny moet word en die wet moet onderhou om gered te word. Hy stel daarteenoor dat dié wat in Jesus glo, gered word. Maar waarom dan Abraham so prominent inbring? Juis omdat Abraham net in die Here geglo het en toe deur die Here aangeneem is (Gen 15:6). In Abraham se tyd het die wet van Moses nog nie eens bestaan nie. Hy kon dus nog glad nie gered word deur die wet te hou nie.
Teenoor dié wat deur wetswerke salig wil word, stel Paulus dus die evangelie van die Ou Testament: ’n mens word deur geloof gered. En Abraham is die klassieke voorbeeld. Maar dan gaan hy verder. Aan die kruis het Christus die Abrahamverbond oopgemaak sodat die heidene volle deel daar aan kan kry (Gal 3:14). En hy eindig die hoofstuk met die merkwaardige stelling dat die doop ons in die Abrahamverbond opneem. Die punt wat hy maak, is dat ons deur die doop met Christus verenig word, “en as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God” (3:26- 29).
Hierdie perspektief kom op net so ’n merkwaardige manier in Romeine 4 na vore waar hy Abraham nogeens dié voorbeeld maak van hoe ’n mens gered word (4:1-5), daarna die besnydenis ’n teken en seël van geloofsgeregtigheid noem (4:9-12), en verklaar dat Abraham die vader van alle gelowiges is (4:16).
Ons het hier dus nog ’n merkwaardige voorbeeld van kontinuïteit tussen die Ou Testament en die Nuwe. En wat dit so belangrik maak vir die verhouding Israel-kerk, is die feit dat die volk Israel juis uit Abraham voortgekom het, en dat ons Abraham kan beskou as die klassieke voorbeeld van Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament.
Ons het dus in die Bybel oorweldigende getuienis dat daar sterk kontinuïteit tussen Israel as die ware Godsvolk en die kerk is. Hierdie nuwe vorm van die Godsvolk word dan ook “God se Israel” genoem (Gal 6:16, NLV). Opnuut word alles dus beslis rondom Jesus. Die verhouding met Hom bepaal die vorm van die volk van God. Deur Jesus se kruisdood is die vyandige groepe verenig in een nuwe liggaam.
En ons verhouding met Hom bepaal of ons in of uit is. Alle paaie lei na Jesus.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer:Prof Adrio König