Ambassadeurs vir Christus (5)

We have wasted our time on petty internal quarrels, and neglected the mighty work of converting souls – J. C. Ryle

 

Ambassadeurs vir Christus (5)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder. As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die ambassadeur se doel.

Wat wil die ambassadeur bereik? Hoe kan ons die doeltreffendheid van sy werk meet? Die doel is dat ‘n goeie verhouding tussen die Verlosser en die mense om ons gevestig word. Die moeiliheidsgraad van die werk van die ambassadeur word tot ‘n groot mate deur die gesindheid van die kultuur om hom teenoor die regering wat hy bedien, bepaal. Ambassadeurs speel nie op ‘n gelyke speelveld nie. Ambassadeurs vir Christus werk in verskillende geestelike klimate. God stuur van sy beste ambassadeurs na die moeilikste werkplekke. Ons moet ons doel deur oorreding en uitnodiging najaag met die oog op lewensverandering.

 

  • Oorreding

Ons weet wat dit beteken om die Here te dien. Daarom probeer ons die mense oortuig (5:11).

‘n Mens word ‘n Christen wanneer hy van die waarheid van die evangelie oortuig word, en op daardie grondslag bely dat Jesus Christus die Here is. In Handelinge kry ons hierdie taal gereeld. Paulus sê nie dat ons mense in die koninkryk kan argumenteer nie, maar hy is duidelik dat niemand in die koninkryk van God kom sonder dat hy van die waarheid aangaande Gog oortuig word nie. ‘n Getroue ambassadeur is toegewy aan die onderrig van die Bybel. Dan moet ons die waarheid van die evangelie in woorde vertel sodat mense verstaan wat God vir hulle sê. As dit nie gebeur nie, het evangelisasie nie gebeur nie.

  • Uitnodiging

Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het (5:20) Paulus was duidelik bekommerd oor die reaksie van die mense op sy boodskap. ‘n Ambassadeur kan nie sy werk vir Christus op ‘n afgetrokke manier doen nie. Die saak is van ewigheidsbelang. Sy denke moet met die waarheid van God gevul word; sy hart moet met die passie van God gevul word. As Paulus pleit dat mense hulle met God moet versoen, sê hy dat dit in werklikheid God is wat deur hom ‘n beroep doen. Normaalweg doen die swakkes op die sterkes ‘n beroep, maar hier doen God ‘n beroep op die swakke mens. Hy doen sy beroep deur die woorde van sy ambassadeurs.

As ambassadeurs vir Christus is ons doel dat die mense om ons nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is (2 Korintiërs 5:15). Dit is radikale transformasie. Die ongelooflike is dat  God ons sy medewerkers gemaak het. Soos sy ambassadeurs probeer  mense uitnooi en oortuig  is God self besig om mense te transformeer.

Daar is geen groter roeping as juis dié van ambassadeur vir Christus nie. God stuur ons uit om sy woord van versoening uit te dra aan diegene wat Hom nie ken en nie weet wat Hy gedoen het nie. Christus praat deur die monde van sy ambassadeurs, en deur hulle werk verson Hy mense met God.




Ambassadeurs/Gesante

Ambassadeurs/Gesante

 

Die kerk is ‘n buitepos van lig in die duisternis. ‘n Buitepos in die weermag is ‘n groep soldate gestasioneer weg van die hoofmag. Die buitepos is nie die hoofmag nie, maar dit verteenwoordig wel die hoofmag. Die kerk is ook nie die hoofmag nie, maar dit verteenwoordig die hoofmag. Die kerk is soos ‘n ambassade waar die ambassadeur gestasioneer is. Dit is die inisiële kontakpunt vir die koninkryk van God.

Ons pleit nie by ander vanaf ‘n afstand nie – ons doen dit van naby en persoonlik. Ons ontmoet ander op hulle tuisveld. Ons bou verhoudings met hulle – binne en buite die ambassade. Ons word gestuur om te dien en verhoudings met ander te bou sodat ons die evangelie met hulle kan deel. Jesus Christus vorm ‘n gemeenskap van die koninkryk. Die goeie nuus is dat Hy die mense van die koninkryk met sy eie bloed gekoop het.

Ons ken almal ambassadeurs. Dit is die ouens met die groot karre, vlaggies voor op die kar en mense wat nie verkeersboetes betaal nie. In Paulus se tyd was dit anders. Rome het nie ambassadeurs uitgestuur nie – hulle het leërs wat alles voor hulle platgevee het, gestuur. Daarna kom die goewerneurs wat oor die verowerde gebied regeer het. Ambassadeurs het wel na Rome gekom om vir hulle land te pleit. Die sterkes stuur nie ambassadeurs nie – net die swakkes.

Nou kom die almagtige, liefdevolle, volmaakte God en sê dat ons ambassadeurs vir Christus is. Hy is tog God van ‘n groter koninkryk as die keiser en tog stuur Hy ambassadeurs uit. Dit is iets wat die wêreld nie kan verstaan nie.