Amos(3) – Francois Malan

3 Teen Tirus, noord-wes van Israel (Amos 1:9-10)

1:9 Die profesie oor die Fenisiese ommuurde stad Tirus op ’n eiland in die Middellandse See, die leier van hulle florerende handel en skeepvaart, begin met dieselfde inleiding as die vorige twee profesieë. Tirus se oortredings voor die Here was dat hulle vol getalle Israeliete aan Edom oorgelewer het. Moontlik het hulle die vervoer verskaf om die volle getal Israeliete wat deur die Filistyne gevang is, as bannelinge na Edom te vervoer. Die rede waarom hulle sonde so groot is, is ‘omdat hulle nie die verbond met hulle broers onthou het nie.’ Die LXX lees hier: ‘Edom het die gevangenes van Salomo na Idumea as ballinge vervoer.’ Idumea is die Griekse naam vir Edom. 2020: ‘Omdat hulle ’n hele gemeenskap as bannelinge aan Edom oorgelewer het en nie die verbond van broers in ag geneem het nie. ‘ Om die verbond te onthou is nie slegs om daaraan te dink nie, maar om dit aktief te onderhou (vgl. bv. Jesus se instelling van die nagmaal, 1 Kor 11:24-25). Vir die verbond tussen Israel en die Fenisiërs, vergelyk Dawid en koning Hiram van Tirus se vriendskap (2 Sam 5:11; 1 Kon 5:1), Salomo se verdrag met Hiram (1 Kon 5:12) en dat Hiram selfs vir Salomo ‘my broer’ genoem het (1 Kon 9:13), en Agab wat met koning Etbaäl van die Sidoniërs se dogter Isebel getrou het (1 Kon 16:31). Agab en Isebel het die diens van die vrugbaarheids- en reëngode van die Fenisiërs, Baäl (‘heer, eienaar, man’) en die vroulike Astarte=Asjerapale (die naakte godin van vrugbaarheid, seks, liefde en oorlog) uitgebrei (1 Kon 18:18-19), wat reeds deur Salomo en sy vrouens in Israel ingevoer is (1 Kon 11:1,5). Dit was ’n voortsetting van die diens aan die gode van die Kanaäniete waaroor die HERE hulle juis voor Israel uit verdryf het.

1:10 Die straf oor Tirus is dieselfde as die straf oor die Filistyne. Hulle het waarskynlik saamgewerk om van Israel se inwoners na Edom in ballingskap te vervoer en met Gasa te deel in die wins. Die naam Tirus is afgelei van die Hebreeuse woord vir rots, want Tirus is op ’n rotseiland aan die kus van Fenisië gebou en is as oninneembaar beskou. Die muur wat aan die oostekant van die stad op die strand gebou is, was 45 meter hoog. Die Here sê vir Amos: ‘Ek sal ’n vuur binne (be) die gomah, die beskerming (die verdedigingsmuur op die strand en op die rotse van Tirus) stuur wat al sy paleishuise sal verteer.’ (LXX vervang paleise armenotêjah met fondamente jesodotêjah). 2020: Ek sal vuur stuur teen die stadsmuur van Tirus. Dit sal sy vestings verteer. Omdat hulle hele gemeenskappe as bannelinge oorgelewer het, sal al hulle vestings met vuur verteer word. Esegiël hoofstukke 26-28 het ’n lang oordeel van die Here oor Tirus, wat deur Nebukadnesar voltrek sou word (Eseg 2 In 332 v.C. het Alexander die Grote ’n pad in die see gemaak wat die eiland met die land verbind het. Die afstand is een kilometer van die land tot die eiland. Hy het op die 800 meter lange sandbank onder die see ’n wal laat gooi en verder uitgebrei tot by die eiland. Sy soldate het daarop die eilandstad binnegegaan en heeltemal oorrompel – die vuur wat Amos voospel het. Sedertdien bestaan die 60 meter wye pad tot vandag. En dit alles omdat hulle as broers hulle verbond met Israel vergeet het en gehelp het om Israeliete as slawe te verkoop.

4 Teen Edom, suid-oos van Israel

1:11 Dieselfde inleiding teen die drie vorige stede se oortredings word ook teen Edom gebruik. Die Here sal sy straf oor Edom se menigvuldige oortredings (drie en vier) nie verander nie. ‘Edom het sy broer met die swaard agtervolg en sy barmhartigheid afgegooi, in sy toorn verskeur hy voortdurend, en sy woede het deurentyd aangehou.’ 2020: omdat hy sy broer met die swaard agtervolg het. Hy het sy meegevoel onderdruk, in sy toorn het hy sonder ophou verskeur; hy het onverpoosd met sy woede volgehou. (Vir ‘sy barmhartigheid afgegooi’ lees LXX ‘die moeder op die grond vernietig’ – die Hebreeuse woord rchm met twee ‘a’-vokale is: racham=barmhartigheid; maar met twee ‘ê’-vokale rêchêm=baarmoeder – Hebreeus was eers sonder vokale geskryf. Vokale is eers in 600-1 000 n.C. deur die Masorete in die Ou Testament bygevoeg) Jakob en Esau was tweelingbroers uit wie twee volke gebore is en van mekaar geskei is. Esau was ’n ervare jagter, Jakob het rustig tuis gebly (Gen 25:23-27; vgl. Hosea 13:4). Jacob was die vader van die Israeliete en Esau van Edom (Gen 32:28; 36:1). Deuteronomium 23:7 sê dié twee volke is broers. Volgens die geskiedenisse wat in die Ou Testament opgeteken is, was Edom verskeie kere onderhorig aan Israel soos die Here in Gen 25:23 vir Rebekka gesê het ‘die oudste sal die jongste dien.’ Dat Edom nie daarmee tevrede was nie, blyk uit verskillende tekste, vgl. Gen 20:14,18-21 hulle weiering om Israel deur hulle gebied te laat trek uit Egipte na Kanaän; 2 Sam 18:14 waar Dawid hulle aan hom onderhorig gemaak het; 1 Kon 11:14-15 Hadad, die Edomiet, wat teen Salomo in opstand gekom het; 2 Kon 8:20-22 Edom wat teen die gesag van Juda gerebelleer het in die tyd van Josafat, skoonseun van Agab. In die tyd van koning Agas het die Edomiete Juda verslaan en as gevangenes weggevoer (2 Kron 28:17). Amasia koning van Juda het 10 000 Edomiete verslaan en Sela verwoes (2 Kon 14:7). Esegiël wat ná Amos geleef het, vertel dat Edom van ouds af ’n vyand van die Israeliete was en dat hy hulle aan die swaard uitgelewer het tydens hulle ballingskap (Eseg 35:5), dat hulle teen Israel opgetree het met hulle haat, in woede en afguns (Eseg 35:11). Honderd jaar na Amos, toe Juda deur Babel in ballingskap gedwing was, kondig Obadja die Here se straf oor Edom aan (vgl. ook Klaagliedere 4:21-22). Edom het o.a. moorde gepleeg op sy broervolk Jakob, en met geweld hom aangeval (Obadja vers 10), op kruispaaie het hulle vlugtende Judeërs doodgemaak en oorlewendes oorgelewer (Ob 14). 1:12 Edom se gebied het gestrek van die suidpunt van die Dooie See tot by Eilat aan die Rooi See. Teman is die naam van ’n distrik en die grootste stad in die suide van Edom aan die koninklike hoofweg tussen die hawe Eilat en Damaskus. Teman is vernoem na die kleinseun van Esau (Gen 36:15). Een van Job se drie vriende, Elifas, het uit Teman gekom (Job 2:11). Edom se hoofstad Bosra was hulle vesting in die noorde van die land, gebou op ’n uitloper van die Seïrberge (vgl. Jer 49:16). Die twee name Teman en Bosra verteenwoordig die hele gebied van Edom. Die straf van die Here op Edom lui: ‘Ek stuur ’n vuur in Teman en dit sal die paleishuise in Bosra verteer. (LXX het weer ‘fondamente’ vir paleishuise) 2020: Ek sal vuur slinger teen Teman, dit sal die vestings in Bosra verteer. Die beeld van die Here se toorn is ’n vuur wat in die suide in Teman begin en die hele land verbrand tot in die mooi huise in Bosra op die berg in die noorde van die land. So reageer die Here op Edom wat Israel met die swaard agtervolg, wat sy barmhartigheid versmoor het en sy voortdurende toorn wat sy broer verskeur het met ’n woede wat nie ophou nie (vgl. Jer 49:7-22). Die HERE is die altyd teenwoordige Heerser en Regter oor elke mens en nasie.

Skrywer: Prof Francois Malan




Amos(2) – Francois Malan

2 Teen die Filistyne (Amos 1 verse 6-8)

1:6 Die inleidingsformule is dieselfde as in vers 3 teen Damaskus. Die rede vir die HERE se straf is egter anders as in die Arameërs se geval: Gasa aan die suid-weste van Israel en Juda, is die leier van die ander Filistynse stede: Asdod, Askelon en Ekron, aldrie noord van Gasa. Hulle afgod was die vrugbaarheidsgod Dagon (‘graan;’ vgl. 1 Sam. 5:1-6). Hulle het Saul se kop afgesny en die lyke van hom en sy drie seuns teen die muur van Bet-San vasgespyker (1 Sam 31:8-10). ‘So het die HERE gesê: ‘Oor drie opstande (pêsja’ rebellie) van Gasa en oor vier sal Ek dit (hulle straf) nie verander nie, want hulle het mense nie verskoon nie en reekse getalle ballinge in ’n omvattende ballingskap oorgegee aan die mag van Edom.’ (LXX: …hulle het Salomo se prisoniers gevang en hulle in Idumea gaan opsluit 2020: …omdat hulle ’n hele gemeenskap weggevoer het as ballinge om hulle aan Edom oor te lewer.) Die Filistyne het meer as een keer ’n gebied in Israel geteiken en al die inwoners van die gebied, met grysaards, vroue en kinders, weggevoer en as slawe in Edom gaan verkoop. Later jare het die Filistyne saam met die Fenisiërs van Tirus en Sidon ook mense van Juda in Griekeland gaan verkoop (Joël 3:6). Die Edomiete het die mense waarskynlik as slawe gebruik. Volgens Jesaja 9:11 het die Arameërs in die noord-ooste van Israel en die Filistyne in die suid-weste saam Israel verdruk – ‘met een hap verslind.’ Mense is behandel as dinge wat deur die belange van mense met mag misbruik is. Die blote onmenslikheid daarvan gee aanleiding tot die HERE se straf oor Gasa (oor die behandeling van slawe, vgl. Neh 5:8. Job 31:13-15; 1 Kor 12:13; Gal 3:28). Amos het begin om die menslikheid van mense raak te sien. In Eksodus 21:16 het die Here reeds bepaal dat menseroof met die dood gestraf moet word. Die skuld van die Filistyne was dat hulle van ’n mens wat na die beeld van God geskep is, verkoopsware gemaak het. Hulle het met die oogappel van die HERE handel gedryf. Hulle vervolging van Israel vir hulle eie verryking het gelei tot koue brutaliteit by hulle gejag na wins. Hebsug wis die mens se persoonlikheid uit, in diens van mag. Dit ontwortel, verkneg en onteer die persoon wat jy minag as ’n ding om mee wins te maak. Dit illustreer die onbarmhartigheid van die gevalle mens en hulle gevoelloosheid teenoor fisiese smart. 1:7 Die straf met ’n verterende vuur in Gasa is dieselfde as die HERE se straf oor Damaskus. Dit tref egter nie slegs die paleise van die koning en die rykes, en die grendels van die poort van die stad nie, maar dring ook in binne die verdedigingsmuur (begomah) om die stad Gasa. Daarmee saam word die hele stad verbrand as die HERE se straf omdat hulle al die inwoners van sommige stede in Israel as slawe aan Edom verkoop het.

1:8 Soos met Damaskus, as die leier van die hele Aramese bevolking, word by Gasa, wat naaste aan Egipte lê, die ander Filistynse stede bygevoeg: Asdod 35 km noord-oos van Gasa; Askelon halfpad tussen Gasa en Asdod. Ekron noordoos van Askelon. Gat, naaste aan Israel is nie genoem nie, want teen hierdie tyd het die stad onder Askelon geval. Vir almal word die dood voorspel. ‘Ek sal die inwoners (joshēb) van Asdod afsny én die een wat die septer in Askelon swaai, en Ek sal my hand teen Ekron draai en die oorblyfsel van die Filistyne sal vergaan’ sê my Here, die HERE. (LXX: Ek sal die inwoners uit Azotus heeltemal verdelg en ’n stam sal uit Askalon afgesny word. Ek sal my hand teen Akkaron oplig (styf maak), en die oorblyfsel van die Filistyne sal tot niet gaan’ sê die Here. 2020: Ek sal die een wat op die troon sit (joshēb), met geweld uit Asdod verwyder, die septerdraer uit Askelon; Ek sal my hand teen Ekron draai, en dié wat oorgebly het van die Filistyne, sal omkom. Dit het my Heer, die HERE gesê.) Hulle sal almal uitgeroei word. Ook die ander wat nog oor is (die ‘oorblyfsel’) van die Filistyne sal omkom. Die hand van die HERE wat teen hulle sal draai wys na die krag van die HERE wat hulle gaan oorweldig. Om in iemand se hand te wees is om in sy mag te wees. Hier word vir die eerste keer verwys na die kenmerkende oortuiging van Amos dat ellende of ’n ramp iemand tref as die HERE teen so iemand draai (vgl. 5:17b tussen julle deurgaan; 7:8b en 8:2b nie meer spaar nie; 9:4b my bedoeling met hulle, letterlik: Ek sal my oog op hulle sit). Dat die oorblyfsel ook nie gespaar sal word nie, is ook kenmerkend van Amos se profesieë (vgl. 4:2 ook van agter met haakdorings aangedryf word; 8:10 skeer al julle koppe, julle uiteinde sal vir julle ’n bitter dag wees; 9:1 Ek sal mense wat oorbly met die swaard doodmaak). Amper 30 jaar later sê Esegiël 25:16-17 dieselfde van die Filistyne. Die herhaling van die algemene vernietiging van die Filistyne deur die oordeel van God, is ook ’n voorspel tot die radikale vernietiging van Israel self wat Amos telkemale aankondig. Die Filistyne, wat die Here uit Kaftor laat trek het na hulle gebied suid van Israel (Amos 9:7), verdwyn uit die geskiedenis toe Nebukadnesar in die 6e eeu v.C. hulle gebied oorrompel en hulle stede verwoes het.

Skrywer: Prof Francois Malan




Amos(1) – Francois Malan

Indeling van die res van die boek Amos

Na die inleiding (1:1-2) bestaan die boek Amos uit vier hoofdele: 1:3-2:16 agt gedigte oor die Here se oordeel oor die nasies in Siro-Palestina; 3:1-6:14 aankondigings oor die Here se oordeel oor Israel; 7:1-9:10 vertel van vyf visioene, vier visioene elkeen met ’n begeleidende tweegesprek tussen Amos en die Here oor die einde van Israel, wat oploop tot die vyfde visioen dat die tyd vir genade verby is. Die oordeel van God kom oor die gemaks-lewenstyl van Israel, hulle verdrukking van die armes en hulle oneerlike besigheidspraktyke; 9:11-15 het ’n sprankie hoop, ’n belofte van verlossing in die verre toekoms. Amos is die eerste van die skrifprofete wat die tienstammeryk waarsku oor die Here se oordeel oor hulle. Hy word gevolg deur Hosea wat die wegvoering van die tien stamme na Assirië tot in 722 v.C. aankondig. Jesaja 1-39 waarsku Israel voor 722 v.C., maar waarsku ook vir Juda oor hulle wegvoering na Babel in 586 v.C. wat nog aan die kom is. Jeremia tree op tussen Juda se eerste en tweede wegvoering in ballingskap na Babel (597 v.C. en 587 v.C.). Esegiël wat reeds in ballingskap in Babel sit, waarsku die Jode wat ná die eerste wegvoering nog in Israel agtergebly het, dat hulle ook weggevoer gaan word oor hulle verwerping van die Here.

Die Here se oordeel oor agt nasies (Amos 1:3-2:16)

Amos, ’n boer uit die suidryk Juda, daag by Israel, die noordryk, se jaarlikse fees op. Volgens 1 Kon 12:32 het Jerobeam I vir hulle in die agste maand ‘n eie fees bepaal, teenoor Lev 23:26-36 se fees in die sewende maand. Dit is vir die feesgangers vreemd dat die Judeër, wat nie ’n profeet is nie, by hulle kom sê dat die HERE aan hulle ’n boodskap stuur. Sy eerste woorde, dat die HERE hulle vyande, die nasies rondom hulle gaan straf ,sou hulle seker met blydskap aanvaar het. Maar die sewe kort oordele is slegs die inleiding tot ’n uitgerekte aankondiging van die HERE se oordeel oor Israel. Dat die ander volke betrek is onder die oordeel van die HERE wys dat die HERE oor alle volke regeer. Dit is ’n manier om Israel te oortuig dat hulle ook skuldig is, en nog meer skuldig is as die heidene rondom hulle. As selfs Juda (die sewende nasie), waar die tempel van die HERE is, onder God se oordeel staan, hoeveel te meer Israel (die agtste nasie) wat hulle beroem op hulle diens van die HERE met hulle twee goue bulkalwerbeelde in Bet-el (‘huis van God,’ Gen 28:16-19 ) en in Dan, om die God wat hulle uit Egipte laat wegtrek het, te verteenwoordig (1 Kon 12:26-32). En dit het hulle begin doen nadat die HERE 470 jaar tevore al vir Moses die tien gebooie gegee het wat bepaal dat hulle geen gesnede beelde mag maak, vereer of dien nie (Eks 20:4-5; Deutr 5:8-9).

1 Teen die Arameërs met hulle hoofstad Damaskus, noord-oos van Israel 1:3 So sê die HERE: ‘Oor drie opstande (pêsja’ rebellie) van Damaskus en oor vier sal Ek dit (hulle straf) nie verander nie, oor hulle vertrapping van Gilead met ysterwerktuie’ – hulle het met ysterdorssleë gedors. (2020: …Oor drie oortredings van Damaskus, ja oor vier, sal ek dit nie herroep nie… (LXX se weergawe van die derde sin lui: ‘want hulle het die swanger vrouens van Gilead met ystersae gesaag’ – vgl. die Here se opdrag aan Elia om Gasael te salf as koning van Aram, 1 Kon 19:15-16 en Elisa wat huil toe hy die opdrag gaan uitvoer, 2 Kon 8:12). Die HERE, Jahweh, Die Ek is, van Eksodus 3:14-15, is die God van Abraham en Isak en Jakob wat ’n verbond met Israel gesluit het, wat lui : ‘Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees,’ (Gen 17:7; Jer 31:33). Drie en vier – is die Hebreeuse segswyse vir herhaalde kere. Damaskus was die hoofstad van die Arameërs (hedendaagse Siriërs), die noordoostelike vyandige bure van Israel. Gilead verwys na die Oos-Jordaanse deel van die tienstammeryk waar die stamme Ruben, Gad en die halwe Manassestam gewoon het. Oor koning Gasael van Aram se wrede behandeling van die Israeliete, vergelyk 2 Konings 8:12; 10:33; 13:22. Terwyl die HERE vir Gasael gebruik het om Israel te straf oor hulle ontrou teenoor die HERE, het Gasael te ver gegaan met sy wrede optrede, en so sy rol as die Here se roede met sy geweld oorskry.

1:4 ‘Ek stuur vuur in die huis van Gasael wat die paleise van Ben-Hadad sal verteer’ (LXX ‘fondamente’ in plaas van paleise; 2020: het ‘vestings’). Die woord vir paleishuise ’aremōn verwys na ’n versterkte gebou met verskillende verdiepings van die konings en rykes. Die verwoestende vuur is ’n teken van God se toekomstige oordeel (vgl. Jer 49:23-27). Hadad was die antieke Sumeriese en later die Kanaänitiese god van storms, donderweer en reën. In die Ou Testament word drie konings van Damaskus genoem met die naam Ben-Hadad, ‘seun van Hadad’ as ’n titel vir hulle konings. Gasael het vir Ben-Hadad II vermoor. Volgens 2 Kon 13:7 het Gasael Israel soos stof vertrap. In 2 Kon 13:3,24-25 word vertel dat die HERE vir Joahas van Israel drie maal teen Ben-Hadad III (783 v.C.) seun van Gasael verlos het. Amos verwys in 1:4 waarskynlik na Ben-Hadad II en Gasael en sy seun Ben-Hadad III wat aldrie Israel verdruk het. Die Here se oordeel oor die huis van Gasael is waarskynlik voltrek deur die Assiriërs onder Tiglat-Pileser III wat Aram se magte in 732 v.C. verslaan het en die inwoners van Aram in die ryk van die Assiriērs verstrooi het (vgl. 2 Kon 16:9; Jesaja 7:3-7).

1:5 Die HERE gaan teen die hele Aramese (Siriese) volk optree: ‘Ek sal die grendel van Damaskus (waarmee sy poorte gesluit word) stukkend breek, die inwoners van Bikat-Awen en die een wat die septer swaai in Bet-Eden uitroei. Die volk van Aram sal in ballingskap na Kir gaan, sê die HERE.’ Oorspronklik het die Here die Arameërs uit Kir gered (vgl. Amos 9:7). Met hulle nuwe ballingskap word hulle hele geskiedenis in die nuwe land wat die Here vir hulle rondom Damaskus gegee het, uitgewis en is hulle terug in hulle oorspronklike ballingskap in die Ooste. Die vryheid wat die Here aan hulle gegee het, het hulle teen hulle bure misbruik om hulle land te vergroot, die land wat die HERE aan hulle gegee het. Die straf van die Here is dat Assirië die Arameërs in ballingskap in die Ooste gaan versprei om as onderhoriges opgeneem te word. Dit moes reeds ’n waarskuwing aan Israel gewees het, vir wie die Here uit hulle Egiptiese slawerny bevry het. Omdat hulle Hom vergeet het en nie meer in die beloofde land lewe volgens sy woord nie, sal hulle ook in ballingskap gaan. Die name Bikat-Awen (vallei van gruwels) en Bet-Eden (huis van genot) dui die Arameërs se wellustige en afgodiese kultuur aan. Vir Israel is dit reeds ’n waarskuwing teen hulle afgodiese lewe vir genot, wat vir die HERE ’n gruwel is (vgl. 2 Kon 9:22).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Amos – Francois Malan

Amos is een van die eerste skrifprofete, en een van die twaalf kleiner profete. Die Jode het onderskei tussen die vroeë profete in die boeke Samuel en Konings, en die later profete. Die later profete is ook genoem die skrifprofete want hulle het hulle profesieë op skrif gestel. Die Afrikaanse Bybel se vertaling gebruik die Hebreeuse teks wat tot in die 11e eeu n.C. telkens met die hand oorgeskryf is van vorige manuskripte af. Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament word genoem die vertaling van die 70, Septuaginta (LXX). In 285v.C. is met die vertaling daarvan begin vir die Griekssprekende Jode in Alexandrië in Egipte. Die LXX verskil hier en daar van die Hebreeuse teks. Die LXX het blykbaar ’n ouer Hebreeuse teks gebruik as wat tans gebruik word,. Dit is self ook met handgeskrewe tekste oorgelewer, maar bly ’n vertaalde teks uit een kultuur vir ’n ander en later kultuur. Die LXX was die Bybel van die Jode in die verstrooiing en is deur die eerste Christelike gemeentes gebruik. Die Nuwe Testamentiese skrywers het dikwels die LXX aangehaal. In hierdie uitleg sal die LXX se teks van Amos aangetoon word waar dit van die huidige Hebreeuse teks verskil. Die nuwe Afrikaanse Direkte Vertaling word in Oktober 2020 verwag. Daaruit word die nuutste Afrikaanse weergawe ook bygewerk. Johannes Gütenberg het in 1439 n.C. die drukpers ontwikkel vanuit die vroeëre houtblokkies wat sedert die 6e eeu in China en later in Europa gebruik is. Sedert 1439 word boeke en veral Bybels gedruk.

 Bekendstelling van die boek en sy skrywer (Amos 1:1-2)

1:1: ‘Die woorde van Amos, een van die herders uit Tekoa — woorde wat aan hom geopenbaar is oor Israel. Dit was twee jaar voor die aardbewing, in die tyd van Ussia, die koning van Juda, en Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel.’ Die boek word aangebied as die woorde wat Amos oor Israel (as siener) gesien het (Die LXX vertaal: ‘wat hy oor Jerusalem gesien het,’ wat vir Grieke meer bekend is as die naam Israel). In 1 Samuel 9:9 word gesê dat die profeet van vandag vroeër ’n siener genoem is, omdat hulle boodskap dikwels in ’n visioen van die Here ontvang is (vgl. 1 Kon 22:17). Amos het self ’n paar gesigte gesien waarin hy God se boodskap aan Israel ontvang het (bv. 7:1-3 die sprinkaanswerm wat die Here besig was om te vorm; 7:4-6 die vuur wat die groot watervloed laat opdroog het; 7:7-9 ’n skietlood in die Here se hand; 8:1-3 ’n mandjie ryp vrugte; 9:1-4 die Here wat by die altaar staan). Die woorde van Amos word met ‘sien’ aangedui as openbarings wat van die HERE af gekom het. Dit is die gesag waarmee Amos met die tien noordelike stamme van Israel gaan praat het. Sy naam Amos verwys na iemand ‘wat ’n vrag dra.’ Hy moes die sware vrag van die oordeel van God aan Israel gaan oordra. Hy was egter nie ’n opgeleide profeet of uit ’n priesterlike familie nie. In die stadjie Tekoa, 16 km suid van Jerusalem was hy een van die telers van ’n spesifieke soort skaap. In 7:14-15 noem hy homself ’n veeboer wat ook wildevye kweek, vir wie die Here agter die kleinvee weggevat het met die opdrag om teen die HERE se volk Israel te gaan profeteer. Hy, ’n boer uit die suide van Juda, moes in opdrag van die HERE, teen die noordelike tien stamme van Israel gaan profeteer. Al is hulle in twee volke verdeel ná die agteruitgang van Salomo se toewyding aan die HERE (1 Kon 11:4-13), is die HERE nog steeds die God van sy hele volk. Maar hulle het ook die pad van Salomo gevolg en van die HERE af weggedraai. Daarom kom die oordeel van die HERE oor hulle soos oor Salomo. Amos het opgetree tydens die regerings van koning Ussia van Juda (766-740 v.C.) en die koning van Israel Jerobeam, die seun van Joas, Jerobeam II genoem (2 Kon 14:23-29; 781-754 v.C.). Verder word gesê dat dit twee jaar voor die aardbewing was. Dit was ongeveer 760 v.C. Die opgrawings by Hasor het ook gewys dat daar ’n aardbewing in daardie jare plaasgevind het (vgl. Sag 14:5). Hosea het ongeveer 20 jaar later ook teen Israel gaan profeteer, en daarna Jesaja en Miga. Daarom is Amos se profesie die eerste van die skrifprofete en oudste van die later profete. Die ander haal hom soms aan.

1:2 In Hebreeus is vers twee in digvorm. Dit is ‘n overture tot die profesieë, ‘n opsomming van die boodskap van die hele boek. Die erns van die oordeel van die HERE oor sy ongehoorsame volk is die tema van die profesieë. Die stem van die HERE word voorgestel as ’n verwoestende geluid wat oor die hele land trek. ‘En hy (Amos) het gesê sê: ‘Die HERE brul (sjā’āg) uit Sion en vanuit Jerusalem laat Hy sy stem hoor; die groen weivelde van die kuddes treur en die top van Karmel verdor.’ (Die imperfektum van sjā’āg wys dat Hy besig is om soos ‘n leeu te brul. In Job 37:4 word sjā’āg gebruik vir die Here se donderslae. Die LXX vertaal sjā’āg met ‘het luid en duidelik gepraat’. ‘Laat Hy sy stem hoor is ook imperfektum dat Hy besig is om aan te kondig; Dit is ’n gepaste inleiding tot Amos se profesieë. Amos kom van Juda af (uit Sion, Jerusalem, waar die Here se tempel is wat Salomo gebou het, vgl. 1 Kon 8; Jesaja 6:1). Amos verkondig die HERE se oordeel oor Israel, die tien stamme in die noorde. Hulle groen weivelde strek oor die vlakte van Jisreël, loop tot by die berg Karmel en strek tot by Palestina se pronkwoude in die noorde. Jerobeam I het reeds 200 jaar vantevore die tien stamme verhinder om die HERE in Jerusalem te gaan aanbid. Hy het Israel gelei om die goue kalwers in Bet-El en Dan te aanbid (1 Kon. 12:25-32). Sy naamgenoot Jerobeam II gaan nog steeds daarmee aan (2 Kon 14:23-24). As die gebrul na donderweer sou verwys is dit ’n skerp ironie. Donderweer bring gewoonlik reën. Maar nou gaan die donderweer droogte bring. Juis in Jerobeam II se tyd het die HERE in sy genade vir Israel goed versorg ten spyte van hulle sonde teen Hom (2 Kon. 14:25-27). Maar in dié voorspoedige tyd is Amos die draer van die geweldige oordeel van die HERE oor Israel. Die gevolg van die HERE se oordeelstem is ’n uitmergelende droogte, ’n toonbeeld van die geestelike lewe van Israel. Volgens Eksodus 19:16-19 en 20:18-19 het die HERE ook aan Israel aan die begin van hulle bestaan as volk verskyn in die donderslae en vuur wat van Sinaiberg af gekom het. Jeremia 25:30 en Joël 3:6 gebruik die woorde van Amos 1:2. In die tienstammeryk se hoofstad Samaria en veral by hulle fees by hulle tempel in Bet-El (‘huis van God’ Gen 28:16-19) bring Amos die boodskap van die HERE aan Israel. Amos beklemtoon dat die HERE nie net die God van Israel is nie, maar ’n universele God wat oor alle nasies en oor die natuur regeer. Maar terwyl Israel daarop roem dat hulle God se uitverkore verbondsvolk is, het hulle nie hulle deel van die verbond met die HERE nagekom nie. Die geskiedenis van hulle verlossing uit Egipte word deur die HERE omgedraai deurdat Hy hulle verwerp. Hulle verwagting van die dag van die HERE as hulle verlossing uit die mag van hulle vyande, word die aankondiging van ’n dag van straf oor hulle verbreking van die HERE se verbond met hulle (vgl. Deutr 27&28).

Skrywer:  Prof Francois Malan