Grafte en begrafnisgebruike (1)

Grafte en begrafnisgebruike (1) – Daan Pienaar

Die grafte en begrafnisgebruike soos ons dit in die Ou Testament kry, word bespreek. Ons let veral op die grafte wat gebruik is, die wette wat alles gereël het en rougebruike.

Die Ou Testament

Die Aartsvaders

Dit was gebruiklik dat opvolgende geslagte in die familiegraf begrawe is.  Die graf was gewoonlik uit rots gekap of was in ʼn grot.  ʼn Voorbeeld hiervan is die graf van die Aartsvaders waarin Sara (Genesis 23:19), Abraham (Genesis 25:9), Isak, Rebekka en Lea (Genesis 49:31) begrawe is.  Indien iemand ver van die familiegraf af sterf, word die persoon dan in ʼn ander graf begrawe, soos Ragel (Genesis 35:8).

Afgesien van die gebruiklike ween en rou word die klere geskeur en ʼn kleed van sak aangetrek (Genesis 37:34-35) en dit het so lank as sewe dae geduur (Genesis 50:10).  Die balseming van die lyk (Jakob en Josef) en die gebruik van ʼn hout kis volgens Egiptiese gebruik, was uitsonderlik (Genesis 50:2-3, 26).

Mummifisering is gedoen deur die verwydering van die ingewande om apart bewaar te word.  Volgens die Egiptiese gebruik is dit in ʼn sogenaamde “kanope” bewaar.  Die liggaam is dan verpak in sout en daarna toegedraai in linne.  Balseming en rou is gewoonlik dan oor ʼn tydperk van 70 dae gedoen.

Pentateugwette

Afgestorwenes moes so gou as moontlik begrawe word.  Dit sluit die lyke van tereggesteldes in (Deuteronomium 21:22-23).  Aanraking van die afgestorwene het meegebring dat die persoon seremonieel onrein was.

Om iemand te beween, die skeur van die klere en die losmaak van die hare was toegelaat vir die Aäronitiese priesters (Levitikus 21:1-4), maar nie vir die hoëpriester nie (Levitikus 21:10-11) of die Nasireërs nie (Numeri 6:7).

Dit was verbode om die liggaam te skend deur insnydings ens. as teken van rou (Levitikus 19: 27-28; Deuteronomium 14:1, gewone mense en Levitikus 21:5 die priesters).  Selfs verwante gebruike soos uiteengesit in die aangehaalde gedeeltes was verbode aangesien dit gesien is as heidens.

Israel in Palestina

Begrafnis: Indien moontlik is mense in familiegrafte begrawe (vergelyk Rigters 8:32 en 16:31).  Die liggaam was op ʼn baar geplaas (2 Samuel 3:31).  Indien daar geen behoorlike begrafnis was nie, is dit as baie negatief ervaar (1 Konings 13:22; Jeremia 16:6).

Grafte was gewoonlik buite die stad.  Daar is getuienis dat grafte soms uit rots gekap is en dat dit uit verkillende vertrekke bestaan het met banke wat met ʼn dalende skag bereik is en afgesluit is met ʼn rots wat so gesny is dat dit oor die ingang geplaas kon word.  Die rotsgrafte kon soms baie weelderig wees (Jesaja 22:15-16).  Pottebakkersware en ander voorwerpe is soms in die grafte geplaas.  By die Israeliete was dit bloot ʼn soort formaliteit, maar by die Kananiete het dit ʼn ander rol gespeel omdat dit soms groot afmetinge aangeneem het.  By die Egiptenare was dit ook so, vergelyk die graf van Tutankamen.

Herdenkingsgrafte is soms opgerig (2 Samuel 18:18) en buite Jerusalem was daar ʼn stuk grond vir die grafte vir die “gewone mense” (2 Konings 23:6; Jeremia 26:23).  Ongetwyfeld was dit bedoel vir die eenvoudiges wat nie duur grafte kon bekostig nie.  ‘n Tereggestelde misdadiger of vyand se graf is soms aangedui met ʼn hoop klippe (Vergelyk Akan Josua 18:27).

Lykverbranding was nie gangbare praktyk is Israel nie, maar onder moeilike omstandighede is dit wel toegepas.  Byvoorbeeld as iemand nie in die familiegraf begrawe kon word nie (2 Samuel 31:12-13 Saul en sy seuns).

2. Rougebruike

In Palestina is die volgende toegepas:

1. Die hoof is kaal geskeer  en die baard is geknip.

2. Die liggaam is gekerf.

3.  Die klere is geskeur en ‘n sakkleed is aangetrek.

4.  Stof of as is op die hoof gestrooi.

5.  Ween en weeklaag.

Hoe die Israeliete rou bedryf het kan gesien word in die verhale van Dawid (2 Samuel 1-11-12; 13:31) en die vrou van Tekoa (2 Samuel 14:2).

Die dood van prominente persone het soms gepaard gegaan met ʼn poëtiese weeklag.  So het Dawid geweeklaag oor Saul en Jonatan (2 Samuel 1:17-27) en Jeremia en andere oor Josia (2 Kronieke 35:25).

Soms is professionele klaers gehuur (Jeremia 9:17-18; Amos 5:16).

Outeur: Prof Daan Pienaar




Argeologie: Vestingswerke(2)

Argeologie: Vestingswerke(2) – Daan Pienaar

Ons gaan voort om te kyk na die vestingwerke. In die vorige artikel het ons na Jerigo gekyk. Vandag kyk ons na Hasor en Megiddo 

HASOR (NAB-GASOR)

Afgesien van Jerigo is daar ook nog die stad Hasor wat deur Josua ingeneem is (Josua 11:10-13).  Tydens die Intog het hierdie stad uit twee elemente bestaan, ʼn bottelvormige boonste deel wat ongevee 7 hektaar groot is en die res wat aan die noorde kant van die tel lê van ongeveer 74 hektaar.  Dit is een van die grootste tells in Israel en opgrawings daar het aangetoon dat die stad bewoon is vanaf die Vroegbronstydperk (2850-2650 V.C.) tot die Hellenistiese tydperk (332-142 V.C.).  In die laer gedeelte van die stad is daar uitgebreide vestingwerke gevind.  Die oudste daarvan dateer uit die Middelbrons tydperk (ongeveer middel 18de eeu V.C.).  ʼn Grond stuwal het hierdie onderste gedeelte beskerm.

Daar is duidelike tekens van ʼn groot brand wat in die tweede helfte van die dertiende eeu V.C. die stad in puin gelê het.  Die laer stad is nie weer bewoon hierna nie, maar die boonste deel is wel.  Yadin bring hierdie brand in verband met Josua se inname van die stad (Josua 11:13).

Die Ystertydperk bewoning van die boonste stad word aan die Israeliete toegeskryf.  Vroeëre bewoningslae korreleer met die van die laer stad, maar kontinueer in die Ystertydperk.  Dit was veral tydens die regering van Salomo dat die stad mooi ontwikkel is.  Hy het die stad voorsien van ʼn groot sesvertrek stadspoort sowel as aangerensende verdedigingstorings en ʼn kasematmuur.  Op die westelike rand van die stad was daar ʼn soort fort gebou.

Duidelike getuienis van die bouwerk van die Omriede is ook blootgelê.  Die sogenaamde pilaregebou wat gebruik is as ʼn skuur vir die berging van voorrade (veral graan), ander stoorkamers wat in die kasematmuur was en ʼn groot fort is gebou.  ʼn Indrukwekkende watervoorsieningstelsel is ook binne die mure aangelê.  Dit getuig van die voorspoed wat hierdie stad in die Israelitiese tydperk beleef het.  Die stad lê op die oosgrens met Sirië en moes ʼn groot garnisoen kon huisves omdat daar veral in die tyd toe die Omriede regeer het voortdurend ʼn bedreiging uit daardie oord was.

Opgrawings lig die Israelitiese samelewing toe tot die vernietiging van die stad in 732 V.C. deur Tiglat-Pileser van Assirië (2 Konings 15:29).

ʼn Groot gebou wat uit die Assiriese besetting dateer is tot in die Persiese tydperk gebruik.  Reste van ʼn Hellenistiese vesting dui die einde van die Bybelse bewoningsfase van Hasor aan.

Jerigo en Hasor is die twee stade wat besonder prominent was tydens die Intog onder leiding van Josua. Ander stede wat hier ter sake is, is Dan (Lais), Jerusalem, Betsan, Megiddo, Gibea, Sigem en Geser.

 

v02

Die bottelvormige boonste deel van die tel by Hasor.

 

 

v03

 

Die pilaregebou by Hasor.

 

v04

Die voorste vesting by Hasor.

 

v05

Rekonstruksie van die ingang na die vesting by Hasor.

 

v06

Stadspoort van Megiddo.

 

v07

Grondplan van die stadspoort by Megiddo

 

v08

Plan van Megiddo.

 

v09

Grondplan van die Salomoniese stadspoort van Geser 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Argeologie: Vestingwerke(1)

Argeologie: Vestingwerke(1) – Daan Pienaar

In die OT lees ons heelwat van oorloë en vestingstede. Argeologiese vondste brei ons kennis verder uit. ʼn Bekende verhaal is die inname van Jerigo deur Josua. Vandag kyk ons na Jerigo.

In die historiese gedeeltes van die Ou Testament is daar heelwat gegewens wat die tydgenootlike militêre konstruksies soos vestings, vestingwerke, garnisoene ens. toelig.  Heelwat van hierdie inligting is verder toegelig deur die argeologiese vondste.  Die Kanaänitiese  oorblyfsels van die Middelbronstydperk met sy massiewe verdedigingswerke het waarskynlik steeds ʼn rol gespeel in die Laatbronstydperk.  Die Middelbronstydperk word gekenmerk deur sy besonder goeie vestingwerke terwyl die Laatbronstydperk op sy beurt deur ʼn hoogsontwikkelde kultuurlewe met baie min vestingwerke gekenmerk word.  Daar is vakkundiges wat van mening is dat die Middelbronsvestingwerke steeds in gebruik was tydens die Laatbronstydperk.  Jerigo word dan as voorbeeld hiervoor genoem.

JERIGO

Opgrawings by Jerigo het nog geensins antwoorde verskaf oor die inname van die stad deur Josua nie. 

Die Hebreeuse teks van Josua vertel dat die Israeliete om die stad getrek het en uiteindelik het die mure geval.  Die LXX (Septuagint) skets op sy beurt ʼn ander prentjie van mense wat die stad omsingel het en so van die buitewêreld afgesny het.  Ons kan tot dusver op grond hiervan nie ʼn duidelike beeld van die inname van Jerigo skep nie.

Wat wel by Jerigo gevind is, is die Middelbrons mure met ʼn gepleisterde helling (“glaci”) van vasgestampte grond en ʼn steenmuur daar bo-op.  Met verloop van tyd is daar twee ander hellings bygevoeg – dit wil sê bo-oor die eerste helling.  Die laaste een is van klip en is in ongeveer 1750 gebou en in 1550 V.C. vernietig.  Die stad is weer bewoon, maar daar is tot dusver geen mure gevind wat van Josua se inname getuig nie.

Die vernietiging van die laat Kanaänitiese stad word in die dertiende eeu V.C. geplaas.

Hoe ons dit moet verstaan, is nie duidelik nie.  Sommige vakkundiges (Y.Yadin) is van mening dat die inwoners nog steeds die Middelbrons mure gebruik het terwyl andere beweer dat die Laatbrons mure eenvoudig wegge-erodeer het aangesien daar heelwat stortreëns in die gebied val.

 

v01

Dwarssnit van die Middelbrons mure by Jerigo 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 




Kultiese Strukture (2): Tempels

Kultiese Strukture (2): Tempels – Daan Pienaar

In die Bybel word die tempel dikwels genoem die “huis van God’.  Dit was ʼn term wat algemeen in die Ou Midde-Ooste gebruik is.

Die tabernakel in Silo en die tempel in Jerusalem is soms ook genoem die “heiligdom” (I Samuel 1:7; I Konings 3:1).

Argitektonies wil die tempel die idee beklemtoon dat dit die huis van God is, daarom is die toerusting en ameublement van die tempel ook simbool van die teenwoordigheid van God.  Daar was die ark, die gerubs, die toonbrode, die kandelaar en die gordyn.  Nie-Israelitiese tempels het ook nog een of ander beeld van hulle afgod vertoon.

Die skoonheid van die tempel en die koste aan die bou daarvan verbonde moes juis die toewyding van die gelowiges aan God weerspieël.

a10

Tempel van Salomo

a11

Filistynse tempel

a12

Fenisiese tempel

a13

Grondplan van Esegiël se tempel wat dieselfde as Salomo se tempel was. a14

Die Israelitiese tempel by Arad.

a15

Die tempel by Karnak.

a15

a17

Die tempelaansig soos op ʼn munt uitgebeeld.

a18

Die sinagoge by Meiron

a19

Die sinagoge by Gush Halaf.

a20

Die kerk wat bo-oor die huis van Petrus gebou is in Kapernaum.  Dit dateer uit die vyfde eeu NC. 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar