Wat moet ons met die armes doen?

Believers are justified by faith, and judged by its fruit – Alister McGrath

Wat moet ons met die armes doen?

Armoede is ‘n baie ernstige probleem. Dit skep ‘n ernstige dilemma vir gemeentes, want hulle is onseker hoe om dit te hanteer. Arloa Sutter het ‘n boek hieroor geskryf: The Invisible: What the Church Can Do to Find and Serve the Least of These. Daarin gee sy riglyne om jou gemeente te beweeg dat hulle deernis met die armes het.

  • Ontwikkel ‘n teologiese raamwerk oor armoede

As die gemeente relatief sosio-ekonomies homogeen en geïsoleer van die gevolge van armoede is, het die gemeente waarskynlik ‘n verwysingsraamwerk ontwikkel wat die gedeeltes van die Skrif wat armoede hanteer, uitgesluit. Ons moet ‘n dieper verstaan van die hart van die armes ontwikkel.  Lees net Richard Sterns se Hole in the Gospel om beter insig te kry. Versorging van die armes staan sentraal  in die onderrig en lewe van Jesus Christus. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde vir God in hom wees (1 Johannes 3:17).

  •  Organiseer groepe van jou gemeente om aan te bied om te werk in bedienings wat spesialiseer daarin om te werk met armes en ander rantfigure in ons samelewing

Ons kry lyste in Lukas 4:18 – 19, Jesaja 58:6 – 12 en Matteus 25:31 – 46: voed die hongeres, besoek die gevangenes, bou huise, voorsien klere en huisvesting … Kry mense wat reeds hierdie dienste in die samelewing lewer en sluit by hulle aan. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan lees ons dat die Samaritaan die gewonde man innig jammer gekry het. Dit gebeur met ons as ons langs ‘n gebroke persoon kom en sy nood deur ‘n ware verhouding met hom ondervind.

  • Maak versorging van die armes ‘n geestelike dissipline

Ons leer baie van die geestelike dissiplines – vas, gebed, Bybelstudie, ens – in die gemeente. Moet ons nie versorging van die armes ook ‘n dissipline maak nie? Dit moet ‘n roetine deel van die Christelike lewe en praktyk word. Baie Christene se geloof word weer lewendig as hulle by mense op die straat en in skuilings betrokke raak. Ons kan so baie leer by die armes as ons ons eie armoede raaksien; ons word geïnspireer deur diegene wat in geloof bid vir hulle daaglikse brood – en dit bedoel.

Versorging van die armes is nie ‘n las nie – dit is die pad na ‘n lewenskragtige geloof en gemeentelike lewe.

As jy jou wy aan dié wat honger het, as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is, sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is, sal wat vir jou nag is, word soos die helder middag.

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak. Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water, soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie (Jesaja 58)




Armoede en rykdom (3)

What would happen if we sought God’s face as earnestly as we seek pleasure?”   — AW Tozer 

Armoede en rykdom (3)

In Jesus se verklaring van die gelykenis van die saaier sê hy: Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug (Matt 13:22). Rykdom gee vir baie mense ‘n skyn van sekerheid en welstand. Die gevolg is ons vertrou op ons rykdom en nie meer op God nie. Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal of die een minder ag en die ander een hoër, of vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie (Matt 6:24).

 

Meeste ryk mense vertrou op en dien Mammon: Hoe moeilik sal mense wat ryk is, in die koninkryk van God kom (Mark 10:23). Dit is deels as gevolg van die mag van rykdom om te mislei. Lees net weer die verhaal van die ryk jongman (Lukas 18:18 – 30). Die jongman kom na Jesus se sê vir Hom: Goeie Leermeester. Dan vra hy ‘n vraag: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Jesus wys hom daarop dat niemand goed is behalwe God nie en sê dat die jongman die gebooie moet nakom. Die jongman antwoord: Al hierdie dinge het ek van my kinderdae af onderhou. Dit beteken dat hy altyd die Here bo alles aanbid, gedien en vertrou het. Om die jongman te laat verstaan dat hierdie verklaring van hom vals is, gee Jesus vir hom ‘n opdrag: Gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My.  Maar die jongman se hart was op die verkeerde plek en hy was teleurgesteld en loop weg. Jesus se woord het dit duidelik gemaak wie/wat sy ware God was. Al het hy bely dat hy die gebooie onderhou het en Jesus as ‘n goeie Leermeester gesien het, was hy onwillig om sy rykdom te versaak en die eerste gebod te hou en Hom te volg.

In sy bespreking met sy dissipels oor hierdie gebeure sê Jesus: Hoe moeilik is dit tog vir mense wat ryk is, om in die koninkryk van God te kom. Dit was ‘n skok vir die mense, want destyds is geglo dat rykdom ‘n teken is dat jy deur God geseën word. Geen wonder hulle vra: Maar wie kan dan gered word? Hierop antwoord Jesus: Wat vir die mense onmoontlik is, is vir God moontlik.

Wat Jesus hier sê, is dat dit nie maklik is vir die rykes om in die koninkryk van God te kom nie. As jy jou rykdom aanbid, moet jy daarvan ontslae raak as dit daartoe sal lei dat jy God vertrou en dien.

Daar is ook ‘n ander kant van hierdie muntstuk: ek gee alles weg. Franciskus van Assisi was baie beïndruk met die verhaal van die ryk jongman. Hy glo dat God deur hierdie verhaal vir hom sê om van al sy besittings ontslae te raak. Deur dit te doen, het hy ‘n kragtige stelling gemaak oor hoe ons onafhanklik van ons besittings en afhanklik van God kan wees.

In hierdie drie kort blogs het ek probeer ‘n balans tussen rykdom en armoede skep.




Armoede en rykdom (2)

“The most distinctive feature of the biblical understanding of man is the teaching that man has been created in the image of God.” – Anthony Hoekema

Armoede en rykdom (2)

Daar is geen twyfel dat ons dikwels nie gee soos ons moet nie. Daar is geen regverdiging daarvoor nie – ook nie om spandabelrig te lewe nie. Spaarsaamheid is ‘n geestelike dissipline en ‘n Christelike deug. Dit gaan hier nie oor die besittings nie, maar die gebruik daarvan.

Mense wat baie besittings het, kan nie veroordeel word nie – hulle hoef ook nie daaroor skuldig te voel nie. Daar is dus ‘n verskil tussen die besit en die gebruik van rykdom. Daar is ook ‘n verskil tussen besit en gebruik van rykdom aan die een kant en vertrou op rykdom aan die ander kant.

As ek ryk is, kan ek besluit hoe my rykdom gebruik moet word. Om op rykdom te vertrou, beteken dat ek op my rykdom vertrou om dit te verkry wat vir my van groot waarde is – geluk en welstand. Dan kan ons soos die ryk dwaas sê: Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker (Lukas 12:19). Ons mag selfs dink ons is beter as diegene wat arm is. As ons op rykdom vertrou, sal ons rykdom ook liefhê en dien. In ons optrede plaas ons nou rykdom bo dié waardes van die lewe – selfs bo God en sy diens.

Min mense in ons huidige wêreld is ryk; baie mense is arm. Sommige ryk mense het dikwels verkeerd teenoor ander opgetree om hulle rykdom te kry en te behou. Ander doen verkeerd teenoor hulle naaste – hulle sien hulle kry swaar en doen niks daaraan nie. Daar is ooglopend ‘n ongelyke verdeling van goedere wat nodig is om van te leef. Baie hiervan is ‘n weerspieëling van ongeregtigheid.

As ons sien hoe mense honger ly, haweloos is, kan ons sien waarom baie mense rykdom as iets boos beskou. Hulle glo dat God teen rykes en rykdom is. Rykes sou dan nooit in die koninkryk van God kan ingaan nie. Paulus sê: Al deel ek al wat ek het aan ander uit, en al gee ek my liggaam prys om my daarop te kan beroem, maar ek het geen liefde nie, baat dit my niks (1Kor 13:3). Om te gee, is nooit genoeg vir die regte verhouding met God nie.

Ons moet ‘n verskil tussen die besit en die gebruik van rykdom maak. Die deug is om te gee – mededeelsaamheid. Niemand kan gee wat hy nie het nie.




Armoede en rykdom (1)

“There are no ordinary people. You have never talked to a mere mortal. Nations, cultures, arts, civilizations – these are mortal, and their life is to ours as the life of a gnat. But it is immortals whom we joke with, work with, marry, snub, and exploit.” – C. S. Lewis

Armoede en rykdom (1)

 ‘n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos ‘n veldblom (Jakobus 1:9 – 10).

Dié man wat in die wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, want, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry (1 Timoteus 6:17 – 19)

 

Baie Christene is ongemaklik met besittings en geld. Hulle is bang hulle kom nie hulle verantwoordelikheid na om ander met die goedere tot hulle beskikking te help nie. Hulle wonder of hulle diens aan God nie beter sal wees as hulle arm is nie. Hulle is bang dat die oortollige geld en besittings wat hulle het verkeerd – selfs boos – is. Hoe is dit moontlik dat hulle meer het as wat hulle nodig het, terwyl ander nie eers het wat hulle nodig het nie? Sal hulle nie God meer kan vertrou en groter geloof hê as hulle minder materiële dinge het om op te vertrou nie? Sou hulle God nie beter kon dien as dit nie nodig was om al hulle besittings te versorg nie? Sou ons nie beter af wees as ons soos die wilde voëls was nie:hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle (Matteus 6:26).

Is armoede nie ‘n geestelike dissipline nie? Nee. Om ‘n afgod van armoede te maak, is ‘n gevaarlike illusie vir Christene in ons huidige wêreld. Rentmeesterskap – wat besittings vereis om weg te gee –  is die ware geestelike dissipline as ons van rykdom praat.