Wanneer en waar is 1 Petrus geskryf?

Wanneer en waar is 1 Petrus geskryf?

Alles in aggenome kan ons met goeie rede aanvaar dat Petrus die apostel die brief 1 Petrus tussen 60 en 65 n.C. geskryf het terwyl hy in Rome was. Daar is egter navorsers wat redes het om ander datums voor te stel vir die ter skrifstelling van 1 Petrus.

Die vraag oor die datum waarop hierdie brief geskryf is, hang ten nouste saam met die vraag oor die outeur van die brief.  [Lees gerus die twee artikels wat hierdie vraag bespreek].  Navorsers wat nie die outeurskap van Petrus die apostel aanvaar nie, bereken verskeie moontlike datums (selfs tot so laat as 95 n. C.), elkeen met hul eie motiverings.

Sommige navorsers (bv. Elliott, 2000:137) plaas die brief byvoorbeeld na 70. n.C., en gevolglik is Petrus se outeurskap van die brief vir hulle uitgesluit.  Hoe kom hulle aan 70 n.C.?  “Babilon” in 1 Pet. 5:13 verwys baie waarskynlik na Rome, soos algemeen in ander Christelike en Judese geskrifte.  Hierdie ander geskrifte dateer egter (volgens hierdie navorsers) almal later as 70. n.C., dit wil sê na die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur die Romeine, soortgelyk aan dit wat die Babiloniërs vroeër gedoen het (vandaar die gelykstelling tussen Rome en Babilon).  Gevolglik moes 1 Petrus ook later as 70 n.C. geskryf gewees het (en kon Petrus dit nie geskryf het nie).

Hierteenoor voer Marshall (1990:23) aan dat dit reeds oortuigend bewys is dat daar wel voor 70 n.C. gevalle bestaan waar daar na Rome as “Babilon” verwys word.  Gevolglik blyk hierdie belangrike veronderstelling vir Elliott se argumente rondom die outeurskap en datum van die brief, ongeldig bewys te wees.

As dit dan wel aanvaar word (soos baie vroeg reeds in die Christelike tradisie) dat Petrus die apostel die brief geskryf het, behoort dit waarskynlik nie later gedateer te word as 64/65 n.C. nie.  Die rede hiervoor is dat daar ‘n algemeen aanvaarde tradisie bestaan dat Petrus in daardie tyd onder Nero tereggestel is in Rome.  ‘n Aantal navorsers dateer die brief ietwat vroeër op grond van 1 Pet. 2:13-17 se oproep tot onderwerping aan die owerhede.  Dit lyk onwaarskynlik dat Petrus Christene op so ‘n kalm wyse daartoe sou oproep om hulle aan die keiser te onderwerp nadat Nero Christene op ‘n wreedaardige manier in Rome laat teregstel het.  Hierdie keiserlike aksie teen die Christene het in 64 n.C. plaasgevind, en gevolglik kan die brief voor 64 n.C. gedateer word, maar waarskynlik steeds na 60 n.C.

Navorsers is dit egter omtrent almal eens dat “Babilon” in 1 Pet. 5:13 wel na Rome verwys, en dat die brief dus daar geskryf is.  Ten minste twee kerkvaders, naamlik Papias en Clemens van Aleksandrië, bevestig hierdie siening.  Die brief maak ook melding daarvan dat Markus aan die geadresseerdes groete stuur (5:13).  Daar is ‘n sterk tradisie dat Markus en Petrus saam in Rome was voordat Petrus (ongeveer 65 n.C.) hier gesterf het.

Alles in aggenome sou ons dus met goeie rede kan aanvaar dat Petrus die apostel die brief 1 Petrus tussen 60 en 65 n.C. in Rome geskryf het.


Lees gerus in die volgende boeke meer oor die onderwerp:

  • ELLIOTT, J.H. 2000. 1 Peter – A New Translation with Introduction and Commentary. (The Anchor Bible, v. 37B.) New York: Doubleday.

MARSHALL, I.H.   1990.   1 Peter.   Downers Grove, Ill.: InterVarsity Press.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Wie het 1 Petrus geskryf?(1)

Wie het 1 Petrus geskryf?

Die meerderheid van navorsers meen tans dat die outeur van 1 Petrus “peudoniem” is, dit wil sê dat iemand anders onder Petrus se naam geskryf het. Dit was ‘n algemene en aanvaarbare verskynsel in die tyd wat die Nuwe Testament tot stand gekom het. Sekere eienskappe van 1 Petrus lei hulle tot hierdie konklusie, maar daar is telkens ook geldige teen-redenasies.

Dit wil voorkom asof die meerderheid van navorsers tans meen dat die outeur van 1 Petrus “pseudoniem” is.  Dit beteken dat iemand anders onder Petrus se naam geskryf het (1 Pet. 1:1).  Hoewel dit vir ons as moderne Westerse gelowiges baie vreemd klink (soos een of ander vorm van bedrog!), en die moontlikheid dus dadelik weersin by ons wek (die Bybel is deur God geïnspireer en daar sal dus nie so ‘n stuk bedrog / onwaarheid daarin wees nie!), was dit ‘n algemene en aanvaarbare verskynsel in die tyd wat die Nuwe Testament tot stand gekom het.  Wanneer ‘n outeur iets onder ‘n bekende figuur se naam geskryf het, het hy nie daarmee bedoel om bedrog te pleeg nie, maar om die nalatenskap van daardie bekende persoon te vereer en sy voortgesette invloed te erken.  Die pseudonieme outeur se uitgangspunt sou dus wees om te skryf wat hierdie bekende rolmodel sou geskryf het, as hy nog geleef het en iets wou sê oor die besondere omstandighede waarin die outeur en/of sy lesers hulle tans bevind.  Die motief van pseudonieme Christelike geskrifte was dus nie bedrog nie, maar om die voorbeeld en suiwere lering van ‘n belangrike Christelike rolmodel toe te pas op omstandighede wat na sy dood ontstaan het.  Wat daardie pseudonieme outeurs aanbetref het, kon hulle dus as’t ware nie onder hulle eie name skryf nie, want hulle wou nie hul eie idees uiteensit en bevorder nie, maar dié van hul leier / rolmodel / apostel.

Gevolglik meen baie navorsers dat 1 Petrus op dié manier tot stand gekom het in Rome, waar Petrus sy laaste jare spandeer het en waar die gemeente nog sterk onder die indruk van sy leer en nalatenskap was.

Onder andere die volgende eienskappe van 1 Petrus laat hulle tot hierdie konklusie kom:

  • Taal en styl. Baie meen dis onwaarskynlik dat die goeie Griekse taalgebruik en styl wat hier aangetref word, die werk kon wees van ‘n eenvoudige visserman van Galilea. Die teenredenasie is egter: selfs al sou Petrus nie sulke goeie Grieks kon skryf nie (en wie kan dit bo alle twyfel bewys?), het hy gebruik gemaak van ‘n sekretaris wat die brief namens hom op skrif gestel het. Sulke sekretarisse het dikwels aansienlike vryheid gehad in die skryfproses. 1 Pet. 5:12 blyk duidelik daarop te dui dat Silvanus Petrus se sekretaris was.

Sommige navorsers wys ook daarop dat aanhalings uit die Ou Testament telkens uit die Grieks (Septuaginta) gemaak is, en gevolglik nie by Petrus sou pas wat eerder uit die Aramees (Targums) sou moes aanhaal nie.  Hierdie argument kan egter nie standhou nie aangesien dit glad nie vergesog is om te veronderstel dat Petrus (of sy sekretaris), wat sekerlik tot die Septuaginta toegang gehad het, ter wille van effektiewe kommunikasie eerder die teks van die Ou Testament sou gebruik het waarmee sy lesers goed bekend was nie.

  • Gebrek aan verwysings na Jesus se lewe. Daar word soms veronderstel dat Petrus, as ooggetuie van die lewe en bediening van Jesus, meer melding daarvan sou gemaak het as hy die outeur van die brief was. Die outeur van 1 Petrus verwys net soos al die ander outeurs in die Nuwe Testament (evangeliste uitgesluit) meestal indirek na die aardse lewe van Jesus, en gevolglik verklap dit niks oor sy eiesoortige identiteit nie. Dit is verder ‘n ernstige fout om afleidings te maak uit iets wat die outeur nié geskryf het nie.
  • Vervolging. Sommige navorsers reken dat die brief geskryf is tydens die wydverspreide staatsgeïnisieerde vervolging van Christene onder óf Domitianus (einde van die eerste eeu) óf Trajanus (vroeg tweede eeu). Gevolglik sou dit onmoontlik wees dat Petrus die brief geskryf het, aangesien hy toe reeds dood was. Die vervolging wat in die brief ter sprake kom, hou egter eerder verband met plaaslike diskriminasie teen die gelowiges, miskien soms deur staatsamptenare of plaaslike regerings, maar meestal deur private individue, en moes reeds voor 65 n.C. deur Christene verduur word.
  • “Babilon” in 1 Pet. 5:13. Volgens hierdie navorsers dateer al die Christelike en Judese geskrifte wat na Rome as “Babilon” verwys later as 70. n.C. Gevolglik moes 1 Petrus ook later as 70 n.C. geskryf gewees het, en kon Petrus dit nie geskryf het nie (hy is in ongeveer 65. n.C. tereggestel). Hierteenoor voer ander weer aan dat dit reeds oortuigend bewys is dat daar wel voor 70 n.C. gevalle bestaan waar daar na Rome as “Babilon” verwys word.

Selfs al is daar ook soveel geldige teen-redenasies, beskou ‘n groot aantal navorsers die bogenoemde punte as gesamentlik so gewigtig dat hulle makliker kan aanvaar dat die outeur van 1 Petrus eerder pseudoniem as Petrus self was.

Lees gerus die ander artikel wat interne- en eksterne getuienis aanbied waarom Petrus wel die outeur van 1 Petrus kon wees.

 

Skrywer: Ds Dirk Venter