Wanneer was die begin? – Francois Malan
Jan vra:
Ps 2: 7, Hand 13: 33 en Heb 1, 5, 5: 5 Staan daar ; vandag het Ek self U gegenereer. Amplified: Begotten.
Genesis 1: 1 sê: In die begin het God die hemel en die aarde geskape.
Voor dit was daar dus nog geen hemel of aarde nie.
Joh 1: 1 sê: In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God.
Wanneer was die “begin”? God het voor die begin reeds bestaan maar Hy was skynbaar toe nog alleen? Kan mens dan sê, alhoewel dit ‘n misterie is, dat God in Sy eensaamheid besluit het om vir Hom ‘n Seun uit Homself voort te bring toe Hy in Genesis 1: 3 gesê het dat daar lig moet wees en daar was lig wat rym met “vandag” soos dit voor kom in die skrifte hierbo genoem.?
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Genereer beteken ‘voortbring, verwek’; en ook ‘tot stand bring, ontwikkel, opwek’ en kom van Latyn se generare om te verwek, te skep.
Die Hebreeuse woord jalad wat in Ps 2:7 gebruik word, beteken ‘om (kinders) te baar’ soos bv. in Genesis 3:16 vir Eva wat in pyn kinders sal baar; en in Gen 30:39 van skaapooie wat lammers kry. Dit word ook van die manlike aandeel gesê, op baie plekke in die geslagslyste soos bv. in Gen 4:18 Irad het Megujael verwek, ens. (1983-vertaling maak telkens daarvan: ‘was die vader van’). Dit word ook metafories gebruik soos bv. in Ps 7:15 om leuens voort te bring. Ook van God word dit metafories gebruik soos bv. in Deutr. 32:18 dat jy die Rots wat jou gebaar het, nie in ag neem nie; en van ‘n dag/die toekoms soos in Spreuke 27:1 jy weet nie wat die dag gaan baar/voortbring nie. In Ps 2:7 verwys die werkwoord na die nuwe gesalfde koning wat God oor Israel aangestel het – ‘vandag het Ek jou verwek.’ So gebruik 1 Joh 5:1 ook die Griekse woord gennaoo (die manlike rol om te bevrug, te genereer, verwek) in figuurlike sin vir gelowiges: Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is uit God gebore/deur God gegenereer/verwek, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore/deur Hom gegenereer/verwek is.
Volgens Handelinge 4:25 gaan Ps 2 oor Dawid wat deur die Here as koning oor Israel gesalf is.
Maar omdat die Here aan Dawid in 2 Samuel 7:13-14 belowe het dat sy koningskap altyd sal voortbestaan en dat die Here die Vader sal wees vir die koning uit die nageslag van Dawid (metafories gebruik, nie letterlik nie), en Jesus die Seun van Dawid genoem word in die Nuwe Testament (vgl. Lukas 1:32), is Ps 2:7 ook op Hom van toepassing gemaak, bv. in Handelinge 13:33 met verwysing na Jesus se opstanding uit die dood; en in Hebr 1:5; 5:5-10 wat verwys na Jesus se offer aan die kruis as ons hoëpriester.
Johannes 1:1-5 gee egter die sleutel om Genesis 1:1-3 te verstaan. Volgens Johannes 1 is Jesus die Woord van God, self God, en in die begin was Hy reeds daar, en het alles deur Hom ontstaan. Genesis 1:3 sê dat God geskep het deur sy Woord: Toe het God gesê laat daar lig wees, en daar was lig. 1 Korinthiërs 8:6 sê: vir ons is daar net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe, en net een Here, Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Dat Jesus die Woord van God is, wat God aan ons openbaar, beteken dat orals waar die Ou Testament praat van die woord van God, of dat die Here gesê het, dit Jesus is wat aan die woord is, om sy Vader se woord aan ons deur te gee. In Johannes 14:9-11 sê Jesus: Ek is in die Vader en die Vader in My. Soos die Vader, is Jesus ewig. In Joh 17:24 verwys Jesus in sy gebed dat die Vader vir Hom voor die grondlegging van die wêreld al liefgehad het.
Hebreërs 9: 14 praat daarvan dat Christus Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer het. Ook die Heilige Gees is ewig. Genesis 1:2 praat al van die Gees van God wat oor die waters gesweef het by die skepping om lewe en orde te bring in die woeste leegheid. Hy is die Gees wat lewend maak (Joh 6:63; 1 Petr 3:18). In Gen 2:7 blaas God sy asem in die mens se neus en die mens het ‘n lewende wese geword. So word alle lewe deur die Gees van God gegee en geneem, aan die mens (Gen 6:3; Job 12:10; 34:14-15; Pred 12:7; Dan 5:23) en aan diere en plante (Ps 104:29-30; Jes 42:5).
1 Johannes 4:8,16 sê: God is liefde! Liefde is ‘n verhouding. So is die eenheid tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees van ewigheid af ‘n volmaakte liefdeseenheid waarin elkeen Homself aan die ander in liefde gee. In Johannes 14:16 belowe Jesus dat Hy die Vader sal vra om die Heilige Gees te stuur om in ons te bly; en in dieselfde hoofstuk 14 vers 23 sê Hy: As iemand My liefhet, sal Hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal Hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Vader, Seun en Gees woon in hulle wat vir Jesus liefhet. Volgens Genesis 1:26 het God gesê: Laat ons mense maak na ons beeld en ons gelykenis.
Met die skepping in die begin van die hemel en die aarde, het die ewige God se liefde ook uitgereik na ‘n hele skepping buite die ewige liefdeseenheid tussen die Vader en die Seun en die Gees; ‘n skepping wat gebonde sal wees aan ruimte en tyd. Moses noem Hom die ewige God (Deutr. 33:27) – wat van ewigheid af was en sal wees (vgl. Openb 1:4). Paulus sê in Romeine 1:20 dat sy krag en Godheid ewigdurend is. Volgens Efesiërs 3:11 het God Hom van ewigheid af voorgeneem om sy verlossingsplan deur Jesus Christus ons Here, tot uitvoering te bring. Die begin verwys na die begin van die bedeling van ruimte en tyd wat God geskep het. Die ewigheid het egter geen begin of einde nie, en vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag (1 Petr 3:8; vgl Ps 90:4 Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag).
Skrywer: Prof Francois Malan