Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering

Geloofsvrae: Begrippe vir die heilsweg: Bekering – Adrio König

Bekering

Dit is een van die kernwoorde van die Christelike geloof. Sowel Johannes die doper as Jesus begin hul openbare optrede met ‘n oproep tot bekering (Mat 3:2; 4:17), nadat dit oor en oor in die OT, veral by sommige profete voorgekom het.

 

Die veronderstelling van bekering is dat alles nie pluis is nie. Ons moet verander omdat ons verkeerd is, op die verkeerde pad, in ‘n verkeerde rigting op pad. Bekering beteken dat ons anders moet begin dink en doen, op Iemand anders gerig moet wees, ander waardes moet kry, ‘n ander sin en doel in ons lewe.

 

Bekering kom hoofsaaklik in twee betekenisse in die Bybel voor: as ‘n herhaalde gebeurtenis waartoe die gelowige telkens weer opgeroep word (hoofsaaklik in die OT), en as ‘n eenmalige gebeurtenis wat ‘n beslissende keerpunt in ‘n ongelowige se lewe is (hoofsaaklik in die NT).

Voortgaande bekering kom hoofsaaklik in die OT voor as ‘n oproep aan die volk van God. Hulle word nie soseer opgeroep om hulle tot die ware God te bekeer nie, maar eerder om hulle van sekere sondes te bekeer omdat hulle in die ware God glo. Hierdie soort bekering beteken om die implikasies van hulle geloof te trek. Die God wat hulle dien, verwag van hulle ‘n bepaalde manier van lewe. Hulle is sy beeld en daarom moet hulle iets van sy soort lewe vertoon. `Wees heilig want Ek is heilig’ (Lev 19:2) is ‘n tipiese bekeringsoproep: besef wat die implikasies van julle verhouding met die Here is en leef dit uit. Die profete roep die volk voortdurend terug na hulle God, en nie soos die oproep aan heidene om hulle te bekeer tot ‘n God wat hulle nie tevore gedien het nie. In hierdie betekenis lê bekering baie na aan heiligmaking. Dit is ‘n voortdurende oproep wat telkens op nuwe sondes in ons lewe toegespits sal wees. Dit het sterk sosiale en politieke implikasies want dit gaan om meer as om die wil van God in my persoonlike lewe. Dit gaan om sy wil vir sy volk, vir die samelewing. Dit kom sterk na vore by die profete.

Die NT ken ook hierdie soort bekering, maar onder ander woorde. Die meeste van die briewe in die NT kan taamlik duidelik in twee dele verdeel word: die eerste deel is gewoonlik meer ‘n uiteensetting van die Christelike geloof in terme van die probleme in die betrokke gemeente, en die tweede deel ‘n oproep of vermaning oor hoe die Christene behoort te leef. (Vgl Rom 1-11 met 12-16; Ef 1-4:16 met 4:17-6:24; Kol 1-2:19 met 2:20-4:18) Hierdie tweede deel wat altyd die vermaninge bevat, is die oproepe tot voortgaande bekering: omdat julle die Here se kinders is, moet julle so en so leef. Eintlik het hulle hulle klaar bekeer in die sin dat díe onder hulle wat heidene was, klaar die ware God in Jesus leer ken en aangeneem het, maar juis daarom moet hulle nou aanhou om hulle te bekeer in die sin van die konklusies trek uit die nuwe geloof wat hulle aanvaar het.

Eenmalige bekering En juis dit bring ons by die tweede vorm van bekering wat ons in die Bybel kry: ‘n bekering waarin ‘n ongelowige wegdraai van ‘n valse God na die ware God. Hier gaan dit allereers om mense wat ‘n ander God gedien het en nou opgeroep word om hulle tot die ware God te bekeer. Eers daarna sal die ander soort lewe ter sprake kom, dié soort wat by die nuwe God pas. En dit sal dan ‘n voortdurende oproep tot ‘n voortgaande bekering wees.

Natuurlik verwag ‘n mens om die mooiste voorbeelde van hierdie eenmalige bekering in die NT te kry. Dit is by uitstek die sendingboek in die Bybel, en hierdie eenmalige bekering is die bekering van heidene na die ware God. ‘n Pragtige verwysing is dié van Paulus in 1Tes 1:9-10: ` … hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien.’ (Kyk ook Hand 17:30-31; 26:18,20.)

Daar heers vandag heelwat verwarring in die kerk oor bekering. Om dit ook maar enigsins te probeer aanspreek, sal ‘n mens duidelik tussen ‘n prinsipiële standpunt, en die toepassing daarvan in die praktyk moet onderskei.

Prinsipiëel hoort die oproep tot ‘n eenmalige bekering in die sendingveld tuis, waar mense opgeroep word om van hulle gode weg te draai en Jesus as Verlosser en Here te aanvaar. In ‘n gemeente hoort net die oproep tot voortgaande bekering tuis. Gemeentelede ken klaar die Here, dit is waarom hulle aan die gemeente behoort. Dit sou eenvoudig onvanpas wees vir Paulus om die Tessalonisense weer op te roep om hulle valse Gode te los en die Vader van Jesus te aanvaar as hulle God. Hulle het dit klaar gedoen, hulle is gedoop, en nou moet hulle die nuwe lewe begin lei. Oproepe tot voortgaande bekering pas in die gemeentesituasie: Hou met hierdie sondes op, begin hierdie goeie werke doen omdat julle nou vir Jesus as Here aanvaar het.

As ons met ‘n Nuwe Testamentiese gemeente gewerk het, moes hierdie beginsel onveranderd gegeld het. Onder ‘n Nuwe Testamentiese gemeente verstaan ons ‘n gemeente wat bestaan uit mense wat ‘n beslissende keuse moes maak wat hulle duur gekos het. Hulle moes waarskynlik hul werk of sosiale posisie prysgee of ten minste in gevaar stel, hulle kon selfs vervolg gewees het, daar is ten minste op hulle neergesien. Dit het hulle iets (baie!) gekos om aan die gemeente te behoort.

Maar wat van die konkrete situasie in die kerk vandag? Vandag is dit in die meeste Westerse en Afrikalande ‘n sterk aanbeveling met heelwat voordele om aan die kerk te behoort. Dit verander die situasie radikaal. Dit beteken dat mense om allerlei ander motiewe hulleself Christene noem, en nie noodwendig nadat hulle ‘n duur en moeilike beslissing vir Jesus geneem het nie. Mense kan vandag in die kerk gebore word, groot word en selfs oud word, sonder dat hulle ooit in hul lewe ‘n positiewe beslissing vir Jesus geneem het. En ongelukkig is dit nie net die rare uitsondering nie. In die prediking, en trouens in die hele bedieningspatroon in die kerk, moet dit ernstig in ag geneem word.

Daar is taamlik duidelik twee groepe mense in die kerk: betrokkenes en onbetrokkenes. Hulle sal nie presies dieselfde behandel kan word nie. In die prediking sal mense pertinent voor die vraag gestel moet word of hulle hulle met die Here Jesus identifiseer. Bekering in die sin van ‘n keuse, van identifikasie met Jesus is onontbeerlik. En waar mense – selfs amptelik binne die kerk – buite die atmosfeer van die verbond groot word, moet hulle een of ander tyd só ‘n beslissing neem.

Die vraag hoe verbondskinders in die heil deel, kom net hierna ter sprake.

Een van die groot gevare is dat hierdie soort bekeringsprediking wetties en moralisties kan word. Mense dink hoe erger die eise van die Here beklemtoon word, hoe hoër `die standaard’ gestel word, hoe beter sal dit werk. Maar daar kom ‘n punt waar ‘n mens weer herinner moet word aan die feit dat God die inisiatief neem, dat Hy ons red, dat dit nie afhang van `ons trane, gebede, bekering, berou, maar sy bloed werk versoening vir jou.’ Ons nuwe lewe is nie ons inspanning om anders te leef nie, maar sy gawe aan ons (vereniging met Christus), of die vrug wat die Gees in ons lewe dra. Dit gee ‘n mens moed om jou te bekeer, om jou hele lewe onvoorwaardelik te gee. Jy kan, want Hy kan. Die NT is vol van hierdie evangeliese oproepe. Onderstreep woordjies soos: dus, dan, daarom, aangesien (Rom 6:11,12; Kol 2:16,20; 3:1,5,12). Die vermanings is gebou op die fondament wat God onder ons inskuif in die vorm van die nuwe lewe van Christus en die krag van sy Gees.

Bekering is in die NT minder op die totale samelewing gerig as by die profete. Die rede is o.a. dat Israel as volk aan die Here behoort het, terwyl die vroeë Christene meestal klein groepies in groot stede was met geen inspraak in die breë strukture van die samelewing nie. Waar ons as Christene ‘n beduidende deel van die bevolking uitmaak, is dit deel van ons bekering om te werk vir geregtigheid in die samelewing en sy strukture.

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König




’n Spesiale salwing van die Gees?

’n Spesiale salwing van die Gees? – Jan van der Watt

Naomi vra: 

Hoe verklaar ons Handelinge 8:12-17; 9:17; 19:1-10. Ek weet sekere kerke verwys na hierdie as ‘n invulling met die Heilige Gees. Ek stem saam dat niemand tot bekering kan kom behalwe deur die werking van die Heilige Gees nie. Is hier nie tog ‘n verdere ‘verdieping of salwing’ waarvoor ‘n mens moet vra of wat jou toegebid moet word deur ander gelowiges nie? Dit wil vir my lyk of hier wel na iets verwys word wat meer is as bloot ‘n ‘tydperk wat ons nader aan God en die Heilige Gees voel’.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Handelinge handel oor die eerste uitbreidings van die kerk. Die boek is self so saamgestel dat dit wys hoe die Evangelie sistematies in en deur die wêreld versprei het. ‘n Belangrike deurlopende tema in Handelinge is hoe die Evangelie met verskillende tipes religieë en gebruike in kontak gekom het en hoe die Evangelie daaroor geseëvier het. In Hf 8 word daar gewys dat die Heilige Gees sterker is as die magte wat byvoorbeeld in Simon was. Almal het Simon met die krag van God geassosieer, maar tog was die Gees sterker. In Hf 16 word gewys hoe die Evangelie met die filosofieë van die wêreld in konflik kom en wat gebeur. So kan ons voortgaan. Hierin het die Heilige Gees natuurlik ‘n groot rol gespeel. In die geval van Hf 8 het die apostels (leiers) byvoorbeeld die Gees gebring sodat die mense seker kan wees dit is die Heilige Gees wat deel is van die Christelike kerk. In ander gevalle aanvaar mense wel vir Jesus, maar ervaar nie ten volle wat Hy bied nie. As hulle die Gees ontvang, deel hulle ten volle aan wat God bied. As ons dus Handelinge lees moet ons baie bewus wees van die konteks asook die doel van die boek. Die skrywer van Handelinge wil wys hoe die Gees aan die begin in elke situasie die heidens aanvaarde leefwyse en opinies getroef het. Daarom word die Gees op ‘n spesifieke manier beskryf.

Nou is die vraag of ons nie aan ‘n spesiale salwing van die Gees moet dink nie. Paulus en Johannes is die twee groot teoloë, ook as dit by die Gees kom. Paulus ken nie so ‘n spesiale salwing met die Gees wat sekere mense van ander onderskei nie. Paulus het van die gelowiges in Korinte, wat op grond van die spreek in tale gevoel het hulle is belangriker as die ander, sterk vermaan teen so ‘n soort houding. Wat Paulus wel geken het, is dat sekere mense sekere gawes van die Gees kon kry om dan sekere dinge tot voordeel en nut van die gemeente te doen. Dit is ‘n gawe en nie ‘n spesiale ingieting of so iets nie. Kom ons by Johannes wat in Joh 14-16 baie van die Gees praat en ook in 1 Joh 2 praat van die ‘salwing’ wat eintlik ook maar na die Gees se werk en teenwoordigheid verwys. Soos Paulus ken ook hy gladnie so ‘n spesiale ingieting of salwing van die Gees nie. Die Gees is in al die gelowiges en lei almal. Dus: nie Paulus of Johannes, wat die meeste oor die Gees skryf, ken dit wat ons in Handelinge wil inlees nie. As daar wel so iets was soos wat ons in Handelinge wil inlees, moes die groot Gees-teoloë (Paulus en Johannes) tog iets meer daaroor gesê het. Nou het hulle nie. Goeie Bybeluitleg vra van ons om nou weer mooi na Handelinge te gaan kyk – ek dink wat ek hier bo gesê het, kan ons help om die boodskap van Handelinge in perspektief te sien.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Daniël 9

Daniël 9 – Marius Nel

Antoinette vra:

Die Amerikaners gebruik Daniel 9:20 tot 27 om hulle siening van die wegraping en die 7 jaar van massa bekering van die Jode te bevestig. Hoe moet ons daardie verse verstaan?

Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Die volgende kom uit die kommentaar wat ek oor Daniël vir die Eenvolumekommentaar (CUM, 2009) geskryf het oor die gedeelte. Ek vertrou dit gaan u vraag beantwoord.

9:20-24 Gabriël interpreteer die sewen­tig jaar vir Daniël. Terwyl Daniël nog met God in sy gebed worstel, verskyn die engel Gabriël weer aan hom (9:20-21). Gabriël het ‘n belangrike bood­skap en kom Daniël inlig: die Je­remiateks wat oor die duur van die ballingskap handel, is meer­duidig. Na regte is dit eintlik ‘n vi­si­oen (9:23). Ga­briël begin sommer dadelik met die uit­leg. Daar is sewentig tydperke vir die Joodse volk en Jeru­salem vasgestel. In die Hebreeuse teks staan daar se­wentig (keer) sewe. Ver­me­nig­vuldig, gee dit vier­honderd en negentig (70 x 7 = 490). Dit sou eint­lik beter gewees het om die uit­drukking te ­vertaal met sewentig tydperke van se­we jaar.

Gedurende hierdie tydperk sal daar twee groot gebeure plaasvind: (a) die volk se godde­loos­­heid en sonde sal uitgewis word, en (b) God gaan ‘n nuwe begin met hulle maak. 9:24a han­del oor die eerste gebeurtenis, terwyl 9:24b oor die tweede gebeurtenis handel. Die hoofklem val egter op die tweede gedeelte van 9:24. Daar staan: Dit is die tyd waarin ‘n blywende geregtigheid tot stand ge­bring sal word, waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel herin­ge­wy sal word. Die herinwyding van die twee­de tempel het in die jaar 164 vC plaasgevind. Sedertdien word hierdie herinwyding deur middel van die Gannukafees herdenk.

9:25-27 Die uitgebreide inter­pre­ta­sie van Gabriël. In sy uitge­brei­de uitleg van die sewen­tig tydperke van sewe jaar breek Gabriël die ge­tal sewentig in die volgende sa­mestellende dele op: 7 + 62 + 1. Die sewentig tyd­perke van sewe jaar verteenwoordig eintlik drie eras. Oor elkeen van die eras word iets gesê, maar die klem val weer eens (soos by die ander vi­sioene: Dan 2 en 7) op die laaste era.

  • Die eerste era (9:25a).

Gabriël maak aan Daniël bekend dat daar ‘n era van sewe tydperke sal verloop vandat die opdrag ge­­gee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat ‘n regeerder kom wat deur God uit­ge­kies is. Omgereken na jare beteken dit dat die era ne­­ge en veertig jaar lank sal duur (7 x 7 = 49).

Die opdrag dat Jerusalem herstel en opgebou moet word, is reeds in Jeremia 29:10 geïmpliseer en daarom kan ons die beginpunt neem toe Jer­e­mia dié uitspraak gemaak het (594 vC). Die eindpunt moet saamval met die aanstelling van ‘n ­regeer­der wat deur God uitverkies is (9:25a). Die uit­­verkore regeerder (gesalfde volgens die Hebreeuse teks) na wie die Gabriël verwys, is Jesua, wat na die ballingskap as hoëpriester aangestel is (vgl Sagaria 3:1). Die tydperk tussen die uitspraak van Jeremia (594 vC) en die aanstelling van die eer­s­te hoëpriester van die na-ballingskaptyd ­be­loop vyf en sestig jaar (594 vC – 538 vC = 56).

Neem ons egter die verowering van Jerusalem (586 vC) as die beginpunt en die aanstelling van Jesua as hoëpriester (538 vC) as eindpunt, be­loop die verskil agt en veertig jaar (586 vC – 538 vC = 48). Beide getalle kom dus naby aan die ne­ge en veertig jaar waarvan hier sprake is.

  • Die tweede era (9:25b-26a).

Ge­durende die tweede era, wat twee en sestig tyd­perke lank sal duur, sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote (9:25b). Om­ge­reken na jare beteken dit dat die era vier honderd vier en dertig jaar lank sal duur (62 x 7 = 434). Aan die einde van hierdie tydperk sal ‘n regeerder onskul­dig doodgemaak word. Die stad en die heilig­dom sal verwoes word deur die volk van ‘n ander re­geerder wat op die toneel sal verskyn (9:26a).

Ons het hier te doen met die ná-ballingskaptyd wat in 538 vC begin het. Vir ‘n groot deel van hierdie tyd het die Jode onder Persiese gesag geleef, maar in 333 vC het Aleksander die Persiese Ryk in­gepalm. Na Aleksander se dood is sy ryk verdeel. Aan­vanklik het die Ptolemeërs die beheer oor Pa­le­sti­na gehad, maar in 198 vC het die Seleukiede die be­heer oorgeneem. Die Seleukiede koning wat die Jo­de al hulle dae gegee het, was Antiogos IV, wat van 175-164 vC regeer het. Daniël 9:26a ver­wys na hom. Die regeerder wat onskuldig dood­ge­maak sal word (9:26a), verwys na die dood van Onias III, die hoëpriester wat in 171 vC vermoor is. Reken ‘n mens egter van 538 vC tot 171 vC, gee dit 367 jaar en nie 434 soos hierbo bereken nie. Ook in hier­die geval moet ons rekening hou met ‘n breë aan­duiding van ‘n tydperk en nie met ‘n presiese, tot-op-die-dag-en-datum-korrekte voor­spel­ling nie.

  • Die derde era (9:26b-27).

Die laaste era sal slegs sewe jaar duur. In hierdie ge­val moet ons die einde van die vorige era neem as die beginjaar van die laaste een. As ons die af­-treksom doen (171 – 7 = 164), sien ons dat die laaste era met die regeringstyd van An­tio­gos IV ver­band hou. Hy het immers regeer van 175-164 vC. Gabriël teken die laaste era as ‘n buiten­­­gewoon on­stuimige een. Daar sal oorlog wees tot die einde toe en rampe soos besluit is (9:26b). Maar dit sal ver­al die tweede helfte van hierdie era (die laaste drie en ‘n half jaar) wees wat deur gods­dienstige vergrype van Antiogos IV ge­ken­merk sal word. Hier­die getal stem weer ooreen met “‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd” (die hele vasgestelde tyd) waarvan ons in Daniël 7:25 gelees het (vgl ook 8:14 en 26).

Antiogos IV het in 167 vC begin met sy gods­­dien­stige beleid wat die gelowige Jode met soveel wre­wel vervul het. Afgesien daarvan dat hy die die­re­offers en graanoffers afgeskaf het (9:27a), het hy ‘n ding wat ‘n gruwel is vir God op die een hoek van die tempel gesit. Hierdie ding ver­wys na die altaar vir die god Zeus Olimpos wat Antiogos IV laat oprig het. Maar die hoop wat hier aan die ge­lowiges voorgehou word, is dat Antiogos IV nie vir altyd koning sal kraai nie. Sy dood en die einde van sy regering is in sig (9:27b).

 

Die jaartalle

‘n Mens sou kon vra: Hoekom het die skrywer nie maar die korrekte jaartalle gebruik nie? Die antwoord is: In daardie tyd het niemand nou­keurig boek gehou van die datums van belangrike gebeure nie. Beter gestel: Daar was nie ‘n een­vorm­ige stelsel van jaartelling hou nie.

Voorts het skrywers net ‘n breë idee gehad van die duur van sekere tydperke. Die skrywer van die boek Konings bereken byvoorbeeld die tydperk tus­­sen die uittog uit Egipte en die begin van die bou van die tempel as vier honderd en tagtig jaar   (1 Kon 6:1). Van die begin van die bouwerk aan die tem­­pel tot die einde van koning Sedekia se regering le­wer vier honderd en dertig jaar op – dis nou te sê as ‘n mens die getalle in die Koningsboeke bymekaar tel.

Jeremia verwag weer die einde van die bal­ling­skap na sewentig jaar (Jer 29:10). As ‘n mens hierdie sy­fers bymekaar tel, kry jy nege honderd en tagtig jaar vir die tydperk van die uittog tot die einde van die ko­ningstyd (480 + 430 + 70 = 980). Nege honderd en tagtig jaar is twee maal vierhonderd en ne-gentig jaar (490 x 2 = 980)!

Die skrywer van die boek Daniël het na alle waar­skyn­likheid sy vier honderd en negentig jaar hieraan ont­leen. Vier honderd en negentig jaar dui dus ‘n lang tydperk tussen twee belangrike gebeure aan.

‘n Preek uit Jeremia. In ‘n sekere sin kan ‘n mens hierdie hoofstuk as ‘n preek gebaseer op Je­remia 29:10 beskou. Die skrywer gebruik die teks uit Jeremia en herinterpreteer dit vir sy tyd­geno­te. Hy wou hulle vertroos en bemoedig. Vir hom het Jeremia se uitspraak oor die duur van die bal­lingskap ook op hom en sy tydgenote se om­stan­­dighede gedui. Hulle beleef ‘n hernude bal­lingskap, maar dié keer in hulle eie land. Hulle kan nie hul­le eie godsdiens sonder vervolging beoefen of hul­le eie gebruike ongehinderd uitleef nie. Je­re­mia het egter voorsien dat die ballingskap nie vir ewig sal duur nie. Dit sou slegs sewentig jaar lank duur. Heel kreatief herinterpreteer die skrywer die ge­­tal se­wentig en maak dit tot sewentig sewetalle. Voorts wys hy daarop dat daar in hierdie tydperk van vier­ honderd en negentig jaar drie duidelike eras onder­skei kan word:

 

586 – 538 vC  Die ballingskaptyd

538 – 171 vC  Die na-ballingskaptyd

171 – 164 vC  Die herleefde ballingskaptyd

 

Die troos wat hulle uit die Jeremiateks kon put, was dat daar ook aan hierdie ballingskap ‘n ein­de sal kom. God sal hulle nie in die steek laat nie.

In die Nuwe Testament vind ons ‘n boek wat ook as ‘n apokaliptiese* geskrif geklas­si­fiseer kan word. Dié boek is Openbaring. Soos die boek Daniël pertinent vir die Jode van die twee­de eeu vC troos wou bied, so het Openbaring die vroeë Christene getroos en bemoedig. Die bood­skap in beide boeke is: God is in beheer van die ge­skie­denis en hy sal sy volgelinge nie in die steek laat nie. Sy koninkryk sal uiteindelik triomfeer (vgl Op 21:1-5). Ons troos as Christene wat in ander tye leef, is dat God die lewe van sy kinders in sy han­­de hou en dat Hy die toekoms met hulle ingaan. Geen mag op aarde kan ons uit sy hande ruk nie.

 

Skrywer: Dr Marius Nel

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (3)

Die Groot Geloofswoordeboek: Heilsweg (3)

  • Bekering

Bekering kan in minstens twee verskillende beteke­­nis­se ge­bruik word: as ‘n eerste bekering, wat beteken dat ‘n mens vir God kies en op Hom begin vertrou, en as ‘n voortgaande be­kering, wat baie nou verwant is aan *heiligmaking.

Bekering as ‘n eerste bekering kom veral in die Nuwe Tes­tament voor waar sprake is van heidene wat hulle tot God bekeer. Paulus skryf van die Tessalonisense, wat heidene was, dat hulle hulle “van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien” (1 Tess 1:9). Dit is dus die soort bekering wat veral voorkom in situasies waar mense ‘n ander godsdiens het en dan die evangelie hoor en hulle tot God bekeer. Hierdie bekering is dus ‘n wegdraai van vals gode na die ware God. Hierdie mense dien ná hul bekering ‘n ander God as voorheen, ‘n nuwe God.

Bekering as ‘n voortgaande bekering kom veral in die Ou Tes­tament voor wanneer die profete die ongehoorsame volk van God oproep om hulle van hulle sonde te bekeer en die Here te gehoorsaam. Hulle moet hulle van bepaalde sondes bekeer, en wel omdat hulle die volk van God is. In hierdie geval gaan dit dus om mense wat klaar die ware God dien, maar juis daarom aan Hom gehoorsaam moet wees en hul sonde los. Dit is dus duidelik dat die heidene wat hulle bekeer ook uiteindelik hierdie oproep sal hoor nadat hulle God deur ‘n eerste bekering begin dien het, maar dan soos Israel in sonde val. Dan beteken bekering ook vir hulle dat hulle opgeroep word om hulle sonde te los juis omdat hulle nou deel is van die volk van God.

In gemeentes vandag is dit nie altyd so maklik om waterdig tussen hierdie twee vorme van bekering te onderskei nie. Ge­meentes be­staan meestal nie meer soos in die tyd van die Nuwe Testament uit mense wat so pas tot bekering gekom het nie. Veral in die historiese kerke is dit eerder ‘n mengsel van gelowiges en ongelowiges. Die prediking en pastoraat moet daarmee rekening hou. Beide vor­me van bekering moet dus gepreek word. Daar sal altyd gelowiges wees wat klaar aan die Here behoort, maar hulle juis daarom van hul sonde moet bekeer. Maar daar sal in die meeste gevalle ook al­tyd mense wees wat nog nooit regtig hul lewe vir die Here gegee het nie en wat tot ‘n eerste bekering opgeroep moet word sodat hulle Hom kan begin dien.

In gevestigde gemeentes sal daar gewoonlik nie mense wees wat regtig ‘n ander god gedien het nie. Dit sal mense wees wat in ‘n bepaalde Christelike kerk en tradisie grootgeword het, maar nooit bewustelik op die evangelie gereageer het en ‘n standpunt by Jesus ingeneem het nie. ‘n Mens kan in allerlei teg­niese redenasies betrokke raak of so ‘n persoon regtig ‘n eer­ste bekering nodig het of eenvoudig as gedoopte met sy of haar voortgaande bekering moet begin. Maar die kool is die sous nie werd nie. Mense wat nie in ‘n bewuste verhouding met die Here leef nie, moet opgeroep word om ‘n oorgawe aan Hom te maak.

 

  • Geloof

Veral Johannes en Paulus verkondig dat ons moet glo en dat ons deur geloof gered word (Joh 1:12; 3:15-18; 5:24; 6:40). Paulus se term is dat ons deur die geloof geregverdig/vrygespreek word. (*Reg­ver­diging)

Beteken dit dat geloof baie belangrik is? Ja en nee.

Ja, geloof is baie belangrik. Dis die manier waarop God ons wil red. Dis net ‘n ander woord vir vertroue of vir oorgawe aan Hom, of om jou lewe in sy hande te gee, of om Jesus aan te neem.

Maar dan besef ons ook dadelik dat dit nie ons geloof of ons ver­troue of ons oorgawe aan Hom is wat ons red nie. Dit is Hy wat ons red as ons glo. Hy is die belangrike Een. Ons geloof is maar net die middel. In daardie sin is geloof weer nie belangrik nie.

‘n Mens kan dit ook nog weer anders formuleer. Ons geloof is nie die grond van ons redding nie. Jesus se kruisdood is die grond van ons redding. Ons geloof is net die manier waarop ons aan Jesus se kruisdood deel kry.

Nog weer anders gesê: Om te glo beteken om te bely dat ons in onsself verlore is, dat ons heil/redding van buite onsself moet kom, en dat dit inderdaad van God se genadedaad in Jesus af kom. Ge­loof is dus nie ‘n besondere bydrae wat ons lewer om gered te word nie. Om te glo is eerder om te erken dat ons bankrot is in onsself en net van buite af hulp kan kry, of liewer van Bo af.

Maar moet nou nie weer op hol gaan omdat jy dit nooit alles presies só verstaan het en nou dink dat jy dus dalk nooit regtig geglo het nie. Dis net ‘n verfynde verstaan van wat geloof is. As jy op Jesus vertrou, is jy gered, hoe min jy ook al daaroor gedink het.

Geloof word soms as ‘n gawe van God beskou. En daar is ‘n sin waarin alles wat van ons verwag word, eintlik gawes van God is. Maar soms word die gedagte van geloof as ‘n gawe van God op so ‘n wyse aan ‘n spesifieke siening oor die *uitverkiesing verbind dat ‘n mens die indruk kry dat ‘n ongelowige maar moet sit en wag tot hy of sy eers die gawe van geloof van God ontvang het, en dan eers kan begin glo en tot bekering kom. Die 1953-vertaling van Efesiërs 2:8 wat daarop neergekom het dat geloof ‘n gawe van God is, was nie ‘n goeie vertaling nie. Die 1983-vertaling het dit verander.

Daarom moet ons aanvaar dat ons in staat is om te glo wanneer ons die evangelie hoor, en dat dit ons verantwoordelikheid is om te glo. Ons sal nie by wyse van spreke eendag vir God kan beskuldig dat ons nie kon glo nie omdat Hy ons nooit die gawe van geloof gegee het nie. As iemand verlore gaan, sal dit nie God se skuld wees nie. Hy wil hê dat almal gered word (1 Tim 2:4).

 

Skrywer: Prof Adrio König