Loon in die Hemel – Jan van der Watt

Chris vra:

Na aanleiding van Luk 19:17 i) is daar vlakke van beloning in die hemel of pyninging in die hel op grond van ’n mens se gedrag hier op aarde. ii) Is daar groot en klein sondes wat beteken dat mens op ’n slegter vlak in die hemel gaan land as jy groot sondes doen, terwyl ’n klein sondetjie jou ’n beter plek gaan besorg?

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Wat die groot en klein sondes betref. Die lewens van die mense van die Ou Testament is vanwee die verbond grootliks bepaal deur wat hulle gedoen het, naamlik, of hulle die Wet nagekom het. Dit was soos ’n ooreenkoms dat hulle bepaalde dinge wat in die Wet voorgeskryf is moes doen en dan sou God tevrede wees. Die Profete waarsku die Jode egter aanhoudend dat hulle gedrag en offerhandes nie genoeg is nie, maar dat God hulle harte soek – Hy wil in ’n verhouding met hulle staan.

Iets belangriks gebeur in die Nuwe Testament – die fokus skuif na geloof toe. Die belangrikste daad wat mens nou kan doen is om in Jesus te glo (bv. Joh 6:23-24). Geloof gaan oor ’n verhouding, soos ’n kind met sy pa of ma. Dit gaan dus nie soseer oor wat die kind gedoen het as hy of sy stout was nie, maar oor die verhouding wat versteur is. Die belangrike is dus dat die kind die verhouding herstel deur om verskoning te vra en te besef dat hy dit nie weer moet doen nie. Dit is wat die Bybel sondebelydenis noem – lees maar 1 Johannes 1:7-10. Daar word nie gepraat van hoe groot of klein die sonde is nie, maar van hoe die gelowige sy verhouding met God hetstel. God help die gelowige in die proses deur die bloed van Jesus (1 Johannes 1:7-8). Vir die bloed van Jesus maak dit nie saak hoe groot of klein die sonde is nie – dit word gereinig. Paulus beskryf homself as die geringste van die apostels wat Jesus se kerk vervolg het (hy het selfs mense laat doodmaak), maar die genade van God het hom ’n kind en apostel van God gemaak. God se genade en vergifnis is onkeerbaar.

In Jakobus 2:10-13 word daar gese dat dit maak nie saak watter sonde ’n mens doen nie, as jy wet oortree het, het jy almal oortree. Die rede is juis omdat ‘stout wees’ (sonde doen) die geloofsverhouding met God skaad (kyk maar wat in Jakobus 2:14 en verder bespreek word).

Die Nuwe Testament dink dus nie in terme van groot en klein sondes (dade) nie, maar in terme van jou verhouding met die Here en hoe jy daardie verhouding koester. Daar word nie onderskeid gemaak tussen klein en groot sondes nie.

b) Is daar vlakke van beloning in die hemel? Lukas 19:11-27 is ’n moeilike gedeelte wat inpas in Jesus se lering oor die belang van mense se gedrag en wat mense moet doen in die tyd tussen sy hemelvaart en wederkoms (ons noem dit ook die tussentyd). Daar is twee groepe. i) Die een groep wat niks van Hom gehou het nie (’n simboliese verwysing na die mense wat Hom totaal verwerp het en Hom nie as Messias wou of wil erken nie) se lot is duidelik as Hy weer kom. Hulle sal nie die ewige lewe kry nie, maar die ewige dood. ii) Die tweede groep is Jesus se mense wat vir sy terugkeer wag – hoe moet hulle in die tyd leef? Dan kom die moeilike segging dat almal een geldstuk kry en hoe meer ‘wins’ jy gemaak het, hoe groter is jou beloning, en as jy geen ‘wins’ gemaak het nie, verloor jy ook wat jy gehad het. Beteken dit dat party meer in die hemel kry as ander? ’n Gedeelte wat gewoonlik ook hier genoem word kom uit 1 Korintiers 3:9-15 waar daar gese word dat gelowiges die gebou van God is en dat elkeen op Jesus as fondament bou, maar nie met dieselfde materiaal nie – party bou met goud en silwer, terwyl ander met gars of strooi bou. ’n Vuur van oordeel sal dan die kwaliteit toets. As jou bouwerk bly staan sal jy beloon word, maar as dit nie bly staan nie, sal jy nie beloon word nie, al sal jy gered word.

            Hoe moet die verwysings na die loon in die gelykenis in Lukas 19 verstaan word? Dit lyk of die gedeelte praat van ’n groter beloning vir die een as vir die ander. Dit gaan egter nie om ’n beloning nie, maar om die gee van groter verantwoordelikheid en aanmoediging om die heer (Here) nog beter te dien. Daarom staan daar dat die persoon oor ’n klein bietjie aangestel is, maar hom of haarself as so betroubaar bewys het dat nog groter verantwoordelikhede en take op sy of haar skouers gelaai word. Die persoon wat gewys het dat hy nie verantwoordelikheid wou aanvaar nie, het gewys dat hy nie in die diens van die heer (Here) doen wat van hom verwag word nie – hy het nie eers sy basiese verantwoordelikheid nagekom om bank toe te gaan en rente te probeer verdien nie, wat eintlik baie min van hom sou vra. 

Skrywer: Prof Jan van der Watt




1 Korintiërs 3:10 – 15

1 Korintiërs 3:10 – 15 – Francois Malan

Fransie vra:

Wat beteken die verse in 1 Korintiërs 3:10-15. Gaan ons ‘n beloning van Jesus kry vir ons goeie dade en wat is die beloning? Goud, silwer ens.? Sekere mense sê ons gaan bv. Krone kry en dit sal versier wees volgens die goeie werke wat ons hier op aarde gedoen het.

[10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou, 11want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. 12Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, 13elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. 14As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; 15as iemand se werk verbrand, sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is.]

Antwoord:

Dr Fancois Malan antwoord:

In die paragraaf is Paulus bekommerd oor die leiers in die gemeente van Korinte, wat afwyk van die evangelie van Christus wat vir ons gekruisig is, om met hulle menslike wysheid die evangelie te vervals, en waarsku dat hulle huidige werk nie die vuurtoets sal deurstaan nie. Na die beeld van die gemeente as die saailand van God (3:5-9a), gebruik hy die beeld van die gemeente as die gebou van God en die tempel van God (3:9b-17) met Jesus Christus as die fondament van die gebou, en die Gees as God wat in die tempel woon.

Verskillende soorte materiaal word deur verskillende vakmanne gebruik vir die opbou van die kerk. Die gehalte van die werk sal getoets word, of dit met dankbare liefdesdiens, soos Christus se offer is, of met menslike wysheid om vir myself roem te verwerf, wat in die vuurproef verbrand word. Laasgenoemde se werk gaan verlore, maar hulle word self nog deur God se genade gered. Die wat die tempel van God afbreek, sal deur God afgebreek word.

Reeds in 3:8 is sprake van ‘loon’ vir die getroue werk van die apostels volgens hulle onderskeie bydrae aan die oes. In 4:5 word gepraat van mense wat te gou ander beoordeel en word gesê, met die koms van die Here sal die bedoelings van die hart blootgelê word en elkeen sal dan van God die lof ontvang (wat hom toekom). In 9:24-27 word verwys na die onverwelklike kroon/lourierkrans/prys wat die gelowige ontvang, wat homself soos ʼn atleet oefen en allerlei dinge ontsê. So oefen Paulus sy liggaam en bring dit onder beheer sodat hy nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. Maar die kroon is ʼn simbool van wat ons sal ontvang, nie ʼn letterlike kroon nie, iets wat baie beter sal wees.

Die vraag is, hoe kan gelowiges, wat uit God se onverdiende genade lewe, nog loon ontvang? Volgens Romeine 4:4-5 ontvang die gelowige loon uit genade, en nie as iets wat hy verdien het nie. Vir Paulus is ons nou reeds verlos deur Christus. Dit is God se gawe aan ons. Maar ons moet volhard in die geloof en die nuwe lewe saam met Christus, deur te sterwe aan ons self, en vir God te lewe (Romeine 6:4-11). Die volharding is ook ʼn gawe van God wat met sy Gees in ons kom woon. En op die oordeelsdag word ons deel van Christus se heerlikheid, wat ook ʼn gawe van God aan ons is. 1 Korintiërs 3 verseker ons dat daar ʼn finale oordeel is, met ʼn ‘beloning’ en ʼn ‘verlies’. Maar waaruit die loon sal bestaan, word nie hier of in ander tekste uitgespel nie.

Daar word duidelik uitgespel dat die werk wat met menslike wysheid op die fondament gebou is, verbrand sal word, maar dat die arbeider self gered sal word. Hoe dit sal geskied, word met ʼn metafoor, ʼn beeld uit Amos 4:11; Sagaria 3:2 verduidelik. Die mens wat met wêreldse wysheid aanhou bou, is in groot gevaar. Op die oordeelsdag sal hy wees ‘soos ʼn stuk brandhout wat uit die vuur geruk is’ – ternouernood gered, deur God se genade. [Die stylfiguur het geensins die betekenis van ʼn reinigende vuur, soos bv. deur Origines verklaar is nie].

Paulus waarsku met hierdie paragraaf dat daar gelowiges is wat probeer om die kerk te bou met menslike wysheid, wat teen die karakter van Christus of sy evangelie is. Maar  bouwerk wat pas by die aard van die fondament van die gebou, wat pas by die gekruisigde en opgestane Christus se selfverloëning en oorwinning oor die sonde, sal deel word van Christus se heerlikheid met sy koms. En die mense wat so meegewerk het aan die opbou van die kerk, sal hulle loon ontvang uit God se genade. Wat dit sal wees, bly God se verrassing (vgl. bv. Jesus se  gelykenisse van die 10 talente/goue muntstukke en 10 ponde/goue muntstukke wat groter verantwoordelikheid gaan beteken (Matt. 25:14-30; Luk.19:11-27). In 1 Korintiërs 6:2,3 praat Paulus daarvan dat die gelowiges oor die wêreld en die engele sal oordeel  (vgl. Matteus 19:28 vir die 12 dissipels wat op 12 trone sal sit; Lukas 22:30 se trone; Openbaring  3:21 om saam met Christus op sy troon te sit).

Ek veronderstel die idee van krone op die kop kom van Openbaring 4:4 se gesig van goue krone op die koppe van die 24 ouderlinge om die troon van God, wat hulle koningskap simboliseer. Vgl. 2 Timoteus 4:8 se oorwinnaarskroon (letterlik: kroon van geregtigheid wat God uit genade  gegee het deur Christus, en wat ons op die oordeelsdag ten volle gaan ontvang deur ons volharding) , Jakobus 1:12 se oorwinnaarsprys (letterlik: die kroon van die lewe, waar die kroon simbool is van die ewige lewe), 1 Petrus 5:4 die heerlikheid wat ons sal ontvang as onverganklike kroon, as simbool dat ons sal deel in die heerlikheid van ons Here. Al die gebruike van die woord kroon is figuurlike taal om die loon te verbeeld. Maar waaruit die loon of prys of kroon of krans sal bestaan, word nie uitgespel nie. Vir ons bly die versekering dat ons vir ewig by Christus en by God sal wees om hulle te dien, waar en hoe hulle ons wil gebruik. Daarom oefen ons nou reeds om hulle te gehoorsaam deur God en ons medemens lief te hê met ons hele hart en al ons kragte.

 

Outeur: Dr Francois Malan