Hoe pas ’n mens die Bybel vandag toe – Jan van der Watt

Vraag:

Ek hoor soveel preke. Lees baie waarhede in die Bybel, maar sukkel nog om dit wat 2000 jaar gelede vir antieke mense geskryf is, vandag effektief toe te pas. Netnou lees ek iets “in” die Skrif wat nie daar staan nie. Gee asb raad.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Hoe pas mens die Bybel op vandag toe?

Hoe pas mens die Bybel op vandag toe? Hierdie vraag gaan oor wat in die wetenskap bekend staan as ‘hermeneutiek’, oftewel die manier waarop mens ‘interpreteer en verstaan’. Die Bybel is inderdaad ongeveer 2000+ jaar geskryf in ander kulturele en sosiale omstandighede (dink maar aan van die Ou-Testamentiese boeke wat meer as 2500 jaar gelede geskryf is toe van die kulturele gewoontes nog maar primitief was in vergelyking met vandag).

Bybellesers vandag voel aan dat mens nie die ou kulturele gewoontes net so op ons vandag kan toepas nie – vir sekere dinge lyk dit onsinnig. God wil tog sekerlik nie dat ons ons eetgery moet weggooi en soos die ‘ou mense’ met die hande eet of ’n leersak met wyn omstuur sodat elkeen ’n sopie kan vat nie. Ons hoef sekerlik nie soos die dissipels van Jesus rokke te dra of kopdoeke om te bind nie. Vir ons as Bybellesers is bogenoemde voorbeelde (en daar is nog baie ander) genoeg om ons te laat besef: ons kan nie alles net so op ons vandag toepas nie. Die tye het verander en so het die kleredrag, huise, kerke ens. God wil sekerlik nie dat ons alles moet los en soos die mense 2000 jaar gelede moet eet of aantrek nie.

Dit bring ons by die belangrike vraag van die leser: hoe moet ons dan die Bybel verstaan en op ons vandag toepas? Daar is verskillende benaderings waarvan ek ’n paar noem.

  1. Daar is gelowiges wat sê dat die Heilige Gees mens lei om te weet wat jy moet toepas en wat nie. Deur die woorde van die Bybel te lees word mens bewus van wat die Here vir jou wil sê. Natuurlik is die Heilige Gees aktief as mens die Bybel lees – dit is God se boek. Maar die gevaar is natuurlik dat mens die Gees van God met jou eie gees (1 Joh 4:1-3 noem dit valse geeste) kan verwar en goed wat jy graag wil hoor in die Bybel inlees. Om misverstand te voorkom moet mens dus weer en weer lees en ook hoor wat die Gees vir ander sê, want as die Here ’n belangrike boodskap vir sy mense het, gaan hy dit mos nie in geheime skrif net vir jou skryf nie.
  2. Daar is ook mense wat hulle houding teenoor die Bybel verander en sê dat die Bybel maar net mensewoorde oor God is. Dit is nie regtig God se woorde nie, maar wat mense oor Hom sê. Hierdie Bybelskrywers was volgens hulle maar mense soos ons wat ook foute kon maak. Die Bybelleser moet en hoef dus nie alles van die Bybel op homself toe te pas nie. Omdat dit net mensewoorde is, kan jy daarmee verskil en kan jy maar sekere dinge wat in die Bybel staan ignoreer of verander. Hier speel die tydsgees veral ’n rol – as die gemeenskap van hoofsaaklik nie-gelowiges ’n saak anders sien as wat in die Bybel staan, is die versoeking groot om maar saam met die massas te stap, al beteken dit dat dit nou nie heeltemal is wat die Bybel bedoel nie.
  3. Ander glo elke woordjie in die Bybel is deur God gegee en geïnspireer. Dit beteken dat mens die Bybel letterlik moet toepas. As die Bybel sê dat vroue hulle hoofde moet bedek, dan moet hulle hoede dra, of as die Bybel sê ons moet uit ’n beker nagmaal hou moet ons uit ’n beker nagmaal hou. Daar is selfs gemeenskappe (onder andere in Amerika), wat die Bybel so lees, waar hulle nie karre of telefone of TV’s het nie, omdat hulle die kulturele gebruike in die Bybel slaafs navolg.
  4. Daar word egter (veral in die hoofstroomkerke) erken dat daar dinge in die Bybel is wat mens nie so direk op vandag kan toepas nie, veral as dit by die kulturele gebruike en sulke dinge kom. Die Bybel is in ’n spesifieke situasie en tyd geskryf (ten minste 2000 jaar gelede). TOG is die Bybel die WOORD van God, wat ’n ander manier is om te sê dat God se boodskap, sy openbaring in en deur die Bybel gegee word. Met ander woorde: daar is twee aspekte wat in ag geneem moet word, naamlik, die Bybel bevat die openbaring van God, maar dit is ‘aangetrek’ (word aangebied) in die ‘klere’ (gebruike en konteks) van die mense van ongeveer 2000 jaar gelede.

Hoe nou gemaak? Hoe skei mens die kulturele gebruike (die kulturele ‘klere’) van die openbaring van God, met ander woorde, van sy boodskap? Die hoofmanier waarop dit gedoen word (ook in die teologiese lees van die Bybel) is by wyse van analogie. Analogie beteken dat daar tussen twee dinge iets is wat dieselfde is, maar ook iets wat verskil en help om die twee dinge van mekaar te skei.

            Die proses verloop soos volg:

 

Die eerste stap is om te vra (en eksegese help  mens daarmee) wat wil hierdie vers/ gedeelte vir God se mense sê? In die geval van 1 Kor 11 waar vroue gevra word om hoofbedekkings in die openbaar te dra het die kulturele agtergrond vereis dat vroue dit dra as teken daarvan dat hulle hul mans en huweliksituasie respekteer. Slegte vrouens op soek na mans het sonder hoofbedekkings rondgeloop. Die boodskap is dus dat vroue hulle huwelikssituasie moet respekteer en hulle wys dit deur in die openbaar hoofbedekkings te dra. Die hoofbedekkings het dus ‘gepraat’ – dit was ’n simbool wat iets gesê het.

            Hierdie Bybelboodskap geld vandag nog hoewel ons nie die kulturele gebruik (’n doek om die kop) presies so na te volg nie (dws. die kulturele ‘klere’ is die hoofbedekking – dit verskil van vandag, hoewel die boodskap vandag nog geld). Die vraag is nou hoe mens dieselfde boodskap aan mense van vandag gaan verduidelik? Watter ‘kulturele klere’ van vandag gaan gebruik word om mense te laat verstaan dat o.a. respek binne die huwelik vir God belangrik is. Daar is natuurlik meer as een moontlikheid: huweliksmaats moet nie met ander flirteer op partytjies of sosiale plekke nie, of miskien dat vroue klere sal aantrek wat nie uitlokking van ander mans aanmoedig asof sy nie self ’n man het nie. Dis analogie: iets bly dieselfde (die booskap) maar iets verskil (die kulturele gebruike).  Nog ’n voorbeeld: As Jesus vir die Twaalf dissipels sê dat hulle gered is, is die analogie die volgende: die Twaalf dissipels is almal al lank gelede dood, maar hulle was volgelinge van Jesus. Almal wat vandag Jesus se volgelinge is is analoog met Jesus se Twaalf dissipels. Dus kan mens vandag vir alle gelowiges sê dat hulle gered is, hoewel hulle nie die Twaalf self is nie. Mens kan egter nie sê dat alle mense gered is nie, want alle mense is nie soos die Twaalf volgelinge van Jesus nie.

            Hoewel hier benadering baie algemeen gebruik word om die Bybel op vandag toe te pas, is dit ook nie sonder probleme nie, want mense kan verskil oor presies waar die verskil en waar die ooreenstemming lê en hoe die boodskap in ‘vandag se klere’ aangetrek moet word – met ander woorde, hoe en waarop moet die boodskap toegepas word. Daarom is oorweging en gesprek met mede-gelowiges altyd aan te bevele, want dit help mens om nie jou eie rigting te volg nie, maar onderleiding van die Gees en mede-gelowiges die waarheid te soek.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt




Boodskap van God – Hermie van Zyl

Annetjie vra:

My vraag is moeilik om te verwoord, maar ek gaan probeer. Ek en my man is getroud vanaf 2001 en het 2 kinders aangeneem, een op ouderdom 5 en die ander een op ouderdom 4. Ek en my man gaan nou skei, want hy het reeds by sy vriendin ingetrek. Ons het deur baie moeilike tye gegaan omdat my man baie verhoudings gehad het en ook by prostitute gekuier het. My man glo egter dat ek die skuldige is of die oorsaak is vir sy rondkuier. Hy sê die Here het vir hom gesê hy moet by hierdie vriendin intrek. Hy wys na verskeie maniere en verse uit die Bybel wat hy sê God vir hom gesê het.

Ek is so onseker want ek het ook baie foute gemaak, veral dat ek nie vir ons gesin en veral vir my man genoeg gebid het nie, nie by verre nie. Ek het ook nie na God se stem geluister nie, want ek het gedink dit is my eie gedagtes. Ek wil nie skei nie, want ek glo God het vir ons 2 kinders gegee omdat Hy ons huwelik as bindend beskou. Ek sal so dankbaar wees as my man werklik na God toe kan gaan en sy wil soek.

Ek skryf die dinge hierbo omdat ek iets gelees het oor God wat vir ons boodskappe gee vir ander. Maar is dit God of onsself? Ek het al so 2-3 keer boodskappe gekry wat ek nie seker is of dit van myself of van God is nie – wat ek vir my man moet stuur. Ek het een gestuur maar is so bang, want ek is nie seker of dit ek is wat dink dit is van God en of dit werklik van God is nie.

My man gaan niks wat ek stuur, lees of as ernstig beskou nie. Maar hoekom voel dit of die Here my sê om dit te stuur?

Help asseblief. Ek wil net die wil van die Here doen. Ek het lank genoeg in my eie krag probeer.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kern van die saak wat ons vraagsteller aan die orde stel, is hoe ons van God se wil bewus en oortuig raak, en hoe ons dit aan mekaar kommunikeer.

Laat ek begin deur iets te sê oor die kwessie van ’n “boodskap van God”. Ek dink nie in hierdie situasie is dit die aangewese pad om in terme van “boodskappe van God” te opereer nie. Daarin lê ’n mynveld van misverstande opgesluit. Want hoe beweer ons gewoonlik dat ons van so ’n boodskap bewus en oortuig geraak het? Dikwels klim ons op die karretjie van drome of stemme wat met ons praat, of ’n goeie vriend(in) of kollega se opinie, of ’n teks uit die Bybel wat ons konteksloos en op die klank af van toepassing wil maak in ons eie lewe. En dit stel ons dan sommer so sito-sito gelyk aan ’n direkte boodskap van God. Oortuig hiervan, wil ons dan dié boodskap aan die ander party(e) oordra as die wil van God.

Daar is egter twee haakplekke in dié soort van optrede. Eerstens is daar geen waarborg dat dit wat ek gehoor of gelees het, wel ’n egte boodskap van God is nie. Ons vraagsteller is self bewus van dié moontlike slaggat as sy sê: “want ek is nie seker of dit ek is wat dink dit is van God en of dit werklik van God is nie.” Inderdaad, ons bly feilbare mense; ons kan nie sommer ons oortuigings – hoe edel dit ook al is – gelykstel aan “God se boodskap” vir ons nie. Ons moet baie meer beskeie oor ons idees, opvattings en oortuigings wees. Dikwels moet daar baie aan geskaaf en getimmer word voor ons hulle kan deurgee as “God se boodskap”. En dit lei na die tweede haakplek: “Boodskappe van God” is dikwels ’n manier om ander mee te manipuleer. Want as ek die ander een met my “boodskap van God” konfronteer, dan wil ek eintlik daarmee sê: ek staan so ’n bietjie op ’n hoër vlak as jy; jy het eintlik niks te sê oor my insigte nie, want hulle kom direk van God af; jy moet hulle sonder enige verdere debat aanvaar en uitvoer. Maar, soos ons weet, is dit selde die einde van die storie. Want wat dikwels gebeur, is dat die ander een met ’n teen-boodskap van God kom, soos dit inderdaad by ons vraagsteller die geval is. Haar man maak daarop aanspraak dat God vir hom gesê het om te skei en by die ander een in te trek. En nou sit hulle met ’n skaakmat-situasie: dis boodskap teen boodskap, en wie s’n is nou die egte een?

Dus, die “boodskap van God”-roete is nie die aangewese manier om die soort probleem op te los waarmee ons vraagsteller sit nie. Dis inderdaad ’n jammerlike situasie, en ’n mens se hart gaan uit na hulle. As die situasie inderdaad so is soos die vraagsteller dit beskryf, dan is haar man besig met allerlei drogredenasies om sy eie optrede te regverdig. Hy is kennelik hard besig om uit die huwelik te probeer stap, maar nogtans met ’n mate van godsdienstige “aansien”. Hy probeer hom daarom aan God se kant stel en sy vrou as die skuldige party brandmerk. En ons vraagsteller het vir seker haar bedenkinge en wil graag die huwelik red, maar weet nie mooi hoe om haar man terug te wen en te oortuig van sy dwase optrede nie. Verder is sy ook sensitief vir die wil van die Here, want sy weet dat egskeiding teen God se wil is.

Hoe nou gemaak? As die boodskap-roete nie die aangewese een is nie, wat staan ons vraagsteller te doen? Gewone, eerlike gesprekvoering! Sê hoe jy voel; stel gewoon jou saak soos jy dit sien, sonder om aanspraak te maak op ’n buitengewone boodskap van God. En vra jou man om dieselfde te doen. En laat die krag van God se Woord en Gees die oortuigingswerk doen, na weerskante toe. As daar werklik die bereidheid by beide partye is om die verhouding (weer) te laat slaag – dit wil sê: as daar welwillendheid (“goodwill”) is – kan ’n mens ’n ver pad met die ander loop. Maar as dít nie teenwoordig is nie, is die kanse baie skraal dat die verhouding herstel kan word, selfs al kom jy met die aanspraak dat jy ’n boodskap van God ontvang het.

’n Laaste gedagte: Wat bring jy in so ’n eerlike gesprek na die tafel toe? Jou volle menswees. Alles wat jy tot hiertoe in jou lewe geleer het  – oor die Bybel, die wil van God, jou ervaring van die lewe en die huwelik, hoe jy dink ’n mens behoort te lewe, hoe ’n egpaar in die huwelik behoort op te tree, jou persoonlikheid – speel ’n rol in so ’n gesprek. En wat ook baie kan help, is as ’n mens so ’n gesprek saam met ’n professionele persoon kan voer; iemand wat jy vertrou, soos jou dominee, pastoor, sielkundige of huweliksberader. Want so iemand is opgelei om die gesprek tussen jou en jou man nie te laat vasval nie maar in die rigting van ’n oplossing te stuur. Op hierdie manier, dink ek, raak ons gaandeweg van die wil van God vir ons lewe bewus en kommunikeer ons dit ook op die regte manier aan die ander een.

Ek hoop van harte daar kom ’n uitweg.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




‘n Gebrekkige boodskapper met ‘n volmaakte boodskap

The Christian’s life in all its aspects—intellectual and ethical, devotional and relational, upsurging in worship and outgoing in witness—is supernatural; only the Spirit can initiate and sustain it. So apart from him, not only will there be no lively believers and no lively congregations, there will be no believers and no congregations at all.” – J. I. Packer

‘n Gebrekkige boodskapper met ‘n volmaakte boodskap

En my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel (2 Kronieke 7:14).

Ek dink ons almal sal saamstem dat ons land ‘n herlewing nodig het. Natuurlik kan ons nie ‘n herlewing bring nie, maar ons kan bid vir een. Dit is wat ons ook in bogenoemde vers lees – God sê vir sy volk om berou te hê en te bid.

 

Jona gaan na Nineve met ‘n duidelike boodskap: Nog net veertig dae en Nineve word verwoes (3:4). In hierdie boodskap is daar geen belofte van vergifnis nie – God se liefde word glad nie eers genoem nie. Jona sê basies vir hulle dat hulle almal gaan sterf. Hierdie boodskap het Jona glad nie gepla nie – hy gee nie om nie.

Maar die mense glo vir Jona en toon berou – hulle vas en trek rouklere aan.  Selfs die koning trek rouklere aan en gaan sit op ‘n ashoop. En dan lees ons: Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie (3:10).

Hierdie was seker die grootste herlewing in die geskiedenis van die mensdom. En dit het alles met ‘n  boodskap gebring deur ‘n gebrekkige boodskapper begin. Ons is almal gebrekkige boodskappers, maar ons het ‘n volmaakte boodskap om te bring – die goeie nuus van Jesus Christus. Anders as Jona kan ons vir mense sê dat God hulle liefhet en dat Hy hulle sal vergewe. Ons moet ook vir hulle sê dat as gevolg van hulle sonde hulle los van Hom staan. As hulle hulle rug op hulle sonde draai en hulle geloof in Jesus Christus plaas, kan hulle vergewe word.

Ons kan nie ‘n herlewing teweeg bring nie, maar ons kan vir een bid. Ons is gebrekkig, maar ons het ‘n volmaakte boodskap. Die uitdaging vir ons is: Moenie jouself isoleer nie – infiltreer.




Die sentrale boodskap van die Bybel

“I have always imagined that Paradise will be a kind of library.”  – Jorge Luis Borges 

Die sentrale boodskap van die Bybel

Die sentrale boodskap van die Bybel is die boodskap van verlossing. Deur beide die Ou en Nuwe Testamente is daar drie goue drade wat ons moet raaksien: die Persoon wat die verlossing bring. Die wyse van verlossing en die erfgename van verlossing.

F. F. Bruce sê ons kan die herbewoord  in terme van die verbondsidee. Ons kan nou sê dat die sentrale boodskap van die Bybel God se verbond met die mens is en die goue drade is die Bemiddelaar van die verbond, die basis van die verbond en die verbondsmense. God self is die Verlosser van sy mense – Hy bevestig sy genadeverbond met die mens. Die basis van die verbond is God se genade wat sy mense oproep om met geloof en gehoorsaamheid te reageer. Die erfgename van verlossing, die verbondsmense, is die volk van God – die kerk van God.