Identifiseer die gehoor van die Bybelboeke – Hermie van Zyl

Namaria vra:

Ek doen ’n kursus en een van die vrae is dat ek die gehoor moet identifiseer van die 66 Bybelboeke. Wat bedoel hulle met die gehoor?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Met “gehoor” van die Bybelboeke word bedoel die eerste lesers aan wie die oorspronklike geskrifte van die Bybel gerig is. Die Bybel, dit wil sê die Ou Testament (OT) met sy 39 boeke en die Nuwe Testament (NT) met sy 27, het oor ’n baie lang periode ontstaan. Wat die NT betref het dit wel binne ’n relatief kort periode ontstaan, so ongeveer 50-60 jaar, maar die OT het oor ’n tyd van ten minste 1000 jaar tot stand gekom. En elkeen van hierdie 66 boeke het in unieke historiese omstandighede ontstaan. Goeie Bybeluitleg vereis dat daardie omstandighede so goed moontlik gerekonstrueer moet word, want dit help ons om die boodskap van elke boek beter te verstaan as ons kan sê wanneer, waar, deur wie en aan wie hulle oorspronklik geskryf is.

Punt is, die gehoor van die Bybelboeke verwys na die eerste mense of leserskring vir wie ’n bepaalde Bybelboek oorspronklik geskryf is.

Ιn sommige gevalle is dit relatief maklik om die eerste gehoor te identifiseer. Neem byvoorbeeld Paulus se briewe. Hy gewoonlik aan wie hy die brief rig, byvoorbeeld die gemeente in Tessalonika in Masedonië, Korinte in Griekeland, of Kolosse in Klein-Asië (1 Tess 1:1; 1 Kor 1:2; Kol 1:2). Ander kere is dit nie so maklik om die eerste gehore vas te stel nie. Neem byvoorbeeld die Evangelies. Hier is Lukas seker die “maklikste”, want die outeur sê dat hy dit aan ene Teofilus rig (Luk 1:1-4). Maar wie is hierdie Teofilus – ’n regte persoon of ’n skuilnaam? En is die Evangelie net vir hierdie persoon bedoel, of vir ’n meer algemene leserskring? En die ander Evangelies? Van hulle weet ons nog minder wie die eerste leserskring was, want dit word nêrens pertinent genoem nie. Dan moet mens maar uit die interne gegewens van die Evangelies met intelligente raaiwerk by antwoorde probeer uitkom.

Wat die Ou Testament betref raak die saak nog ingewikkelder, want hier het ons met ’n geweldige lang periode te doen waarin die boeke ontstaan het. By die profetiese boeke gaan dit nog “maklik” omdat mens die optrede van ’n bepaalde profeet min of meer kan vaspen binne ’n sekere tyd, byvoorbeeld Haggai wat ná die ballingskap aan die terugkerende Joodse ballinge na Palestina gerig is. Maar by die eerste vyf boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium, is dit bykans onmoontlik om ’n spesifieke eerste leserskring te identifiseer, gewoon omdat hierdie boeke oor ’n lang tyd verskillende redaksionele stadiums deurloop het voordat hulle uiteindelik die vorm aangeneem het waarin ons hulle vandag het. Ons kan hoogstens sê dat die gehoor in hierdie geval die volk Israel (later die Jode genoem) oor verskillende tydperke is.

Bogenoemde is maar net om kortliks te sê dat die kwessie van eerste lesers of gehoor van die verskillende Bybelboeke ’n komplekse aangeleentheid is. Indien die vraagsteller dieper hierop wil ingaan, kan sy gerus ’n boek soos Die Bybellennium: ’n Eenvolume-kommentaar van Christelike Uitgewersmaatskappy raadpleeg. Hierdie boek probeer by elke bybelboek ’n aanduiding gee van wie die eerste lesers of gehoor was.

Laastens kan ek net byvoeg dat uiteindelik elkeen wat die Bybel lees, deel uitmaak van die gehoor van die Bybel. Want die Bybel word deur al die eeue gelees as God se Woord aan elke geslag gelowiges. Maar dit is ’n kwessie op sy eie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Hoe het die vroegste Christene se Bybels gelyk? – Kobus Kok




Om die Bybel as towerspreuk aan te wend is heidens – Kobus Kok

Inleiding:

Op Radio Kansel se Brandpunt program (06:30-07:00 op 19 Junie 2015) het prof Hennie Stander, ek en Wynand Rossouw ʼn baie interessante gesprek gehad. Dit gebeur dikwels dat goeie Christene die Bybel amper soos ‘n towerspreuk aanwend. Mense sal byvoorbeeld sê: “Ek beroep my op Psalm 91”, en dan bedoel hulle dat God hulle moet beskerm. Of mense plak die teks op hulle karre in die hoop dat hulle nie in ʼn ongeluk sal kom nie of dat die motor nie gesteel sal word nie. Is dit werklik hoe die Bybel bedoel was om gebruik te word? Neig dit nie aan heidense gebruike nie? Die antwoord is “ja”, dit is baie gevaarlik indien ons die Bybel wil gebruik soos ʼn towerspreuk asof daar een of ander krag in die Bybelse verse lê. Mense manipuleer ook dikwels die Bybel om eerder hulle stem en wens te laat hoor as die van God. Onlangs het ek dit eerstehands in ʼn baie sensitiewe situasie beleef. Een van ons goeie vriende se kind het skielik siek geword met Kinkhoes. Uiteindelik is die kindjie opgeneem in die ICU. ʼn Whatsapp groep is gestig en mense het met die beste bedoelings probeer om ons vriende by te staan. In die proses het allerlei tekste links en reg gevlieg. Sommiges het gesê dat die ouers nie bekommerd moet wees nie want die Here het hulle gewys dat Hy die kindjie gesond sal maak. Maar dit het nie gebeur nie. Een dag voor sy eerste verjaarsdag het die kindjie in die hospitaal gesterf. Die ouers is stukkend. Die mense wat die tekste gestuur het voel sleg. Ons almal voel ontbloot en verslaan.

Soms projekteer ons ons ons eie wense op ander mense, en dan dink ons dit is die stem van die Here. Die hartseer is dat ons dikwels slagoffers in die proses skep. So het een ma op ʼn dag vir my vertel dat ʼn pastoor vir haar vertel het dat haar kindjie sieklik is as gevolg van ʼn sonde wat sy begaan het, en daarby ook ʼn teks aangehaal het om sy punt te ondersteun. Dit is nie wat die Here van ons vra nie.

Lees die Bybel altyd in konteks

Het iemand jou al ooit buite konteks aangehaal? Dit gebeur soms dat mense iets wat jy sê uit verband of uit konteks aanhaal, en dan voel mens die behoefte om vir die persoon te sê: “Nee, wat ek eintlik bedoel het was…” Net so dink ek sou ou arme Paulus ook vir ʼn klomp van ons wou kom sê: “Nee, wag, wat jy nou met Romeine 8:28 doen is nie heeltemal wat ek bedoel het daarmee nie. Ons pluk al te maklik ʼn versie hier en ʼn versie daar uit die Bybel en kies dit op so ʼn wyse dat dit eintlik in ons eie raamwerk inpas. Die waarheid is egter dat Paulus byvoorbeeld, sy brief aan die Galasiërs of sy brief aan die Romeine aan ʼn spesifieke groep mense gerig het na aanleiding van en in die konteks van ʼn bepaalde situasie. Konteks is baie belangrik om werklik tot verstaan te kom. Ek lees nou die dag dat ʼn kommunikasiekundige skryf dat tot 80% van kommunikasie tussen mense in die dampkring van die konteks plaasvind, met ander woorde, die atmosfeer waarin iets gesê is, die nie-verbale kommunikasie tussen die sender en die ontvanger van ʼn boodskap. Kom ons verduidelik dit bietjie deur die volgende voorbeeld te gebruik:

Terwyl die man en vrou rustig in die sitkamer sit, hy met sy koerant en sy met haar leesboek, tuur die man by die venster uit en merk op: “Dit lyk my dit gaan reën”. Dadelik staan die vrou op, sit haar boek op die koffietafel neer en loop na buite om die kombers en lakens van die draad te gaan afhaal. Sien jy wat hier gebeur? Die man het nie gesê: “Skat, dit kom reën en ek dink jy moet die wasgoed gaan haal nie.” Hy het ʼn bepaalde stelling gemaak wat in die konteks by die resepsie of ontvangs van die boodskap by sy vrou ʼn bepaalde reaksie tot gevolg gehad het. Beide van hulle het geweet dat Maandag wasdag is, en dat die lakens en die kombers buite was. Albei het geweet dat hulle vanaand graag onder die lakens en kombers wil inkruip. Dus, indien mens nou fikseer op die sin “Dit lyk my dit gaan reën”, mis mens die belangrikste dimensie van die kommunikatiewe handeling, naamlik die aksie van die afhaal van die kombers en lakens van die draad af. Dit is eintlik die punt van die hele saak en wat die man met sy woorde wou kommunikeer. Ons kan dus sê dat die intensie van die spreker juis bestaan het daarin om sy vrou bewus te maak van die bedreiging wat die reën sou inhou vir die lakens. Die punt is dus dat betekenis dikwels in konteks sin maak en dat daar dikwels gelaaide betekenis in stellings kan wees wat die deelnemers in die gesprek verstaan maar wat dalk nie vir die “objektiewe” leser so belangrik is nie. Dit is juis om hierdie rede dat teologie studente vir soveel jare teologie studeer juis om die Bybel binne die antieke konteks te verstaan. Sekere dinge maak net sin in ʼn sekere konteks, taal en kultuur. Onthou, tussen ons en die Bybel is daar eintlik ʼn reuse gaping van 2000 jaar in tyd en daar is ook ʼn kulturele gaping en ʼn taal-gaping. Die Nuwe Testament byvoorbeeld, is oorspronklik geskryf in Grieks. Selfs moderne Griekse mense sukkel om die Nuwe Testamentiese Grieks te verstaan – dit is amper erger as wanneer ons Shakespeare se Engels probeer verstaan! In sekere tale is daar sekere uitdrukkings wat eie is aan ʼn bepaalde groep en tyd. Vat maar die voorbeeld: “Hy het al weer die hasepad gekies”. In Engels, indien mens dit direk sou vertaal, sou dit geen sin maak nie: “He chose the rabbit-road again”. In Engels het mens nie so ʼn uitdrukking nie. Daarom kan die Engelse persoon nie die woorde letterlik opneem nie. Dit gaan tog tot misverstand lei! Mens moet dit baie mooi in Engels met ander woorde beskryf om die saak of punt wat gekommunikeer word reg oor te dra. Net so is dit met die Bybelse teks. Ons kan nie sommer net aanneem dat indien ons in die Bybel lees: “Julle is tot alles in staat…” of “Wat ook al julle in My naam vra sal ek julle gee” net so, letterlik geïnterpreteer moet word nie. Net soos Rabbit-road nie letterlik geïnterpreteer kan word nie. Daar is dus nie ʼn een tot een korrelasie tussen die woorde en die letterlike toepassing daarvan nie. Mens moet dus altyd eers vra: “Wat is die konteks waarin Paulus of Johannes dit gesê het?” “Wat bedoel hulle presies met wat ook al?”. Indien ons die Bybel sommer net so, onnadenkend interpreteer, mag ons dalk dink dat ons op God se woord staan en die Bybel alleen net so lees soos dit daar staan. “God said it, therefore I do it”. Maar die waarheid is egter dat so ʼn persoon eintlik aantoon hoe min hulle werklik van taal, konteks en betekenis verstaan. In die teologie noem ons dit hermeneutiek – of die studie van hoe kommunikasie werk en hoe daar tot “verstaan” gekom kan word. Indien mens bewus word van die meervoudige dimensies van taal, dan raak mens baie versigtig om nie te vinnig te sê “so spreek die Here nie”. Mens raak ook baie versigtig om die Bybel nie sommer te vinnig te gebruik as ʼn soort towerboekie nie. Inteendeel, mens ontwikkel eerder ʼn begeerte om die teks verantwoordelik te lees. Dit behels dat mens jouself blootstel aan perspektiewe wat jou kan help om die agtergrond van die Bybel te verstaan, en om moeite te doen met die studie van die Woord van God. Daar is baie hulpmiddels op die mark. Indien jy nog nie so iets het nie, koop gerus vir jou ʼn verklarende Bybel. So ʼn Bybel begin met ʼn kort agtergrondstudie van die konteks van die skrywer en die ontvangers van die boodskap en die hoof temas van die Bybelse boek of brief. Dan volg daar ʼn vers vir vers kommentaar op die teks wat jou in staat stel om die kommunikasie tussen lyne raak te sien. Een van my gunsteling boeke is die van Prof Hennie Stander met die titel “Hoe om die Bybel beter te verstaan” (Carpe Diem, 2003). Die boek hanteer die belangrikste dimensies waaroor ek hier skryf en bied dit aan met praktiese voorbeelde wat jou sal help om dinge maklik te verstaan en insig te kry in moeilike hermeneutiese sake.

Een laaste gedagte: Die ouens van ISIS wat mense in die naam van Mohammed onthoof, glo dat hulle die Koran reg en letterlik interpreteer. Hulle doen gewoon wat die teks sê. Die probleem is egter dat daar in die einste Koran ook baie dele is wat toleransie en sensitiwiteit vir die buitestander beklemtoon. Hulle kies ook maar die verse wat hulle wil ter wille van hulle eie ideologiese en politieke gewin. Dikwels doen Christene dieselfde. Die les wat ons by ISIS kan leer is dat mens baie baie versigtig moet wees met jou interpretasie van geskrifte en dat mens nie te vinnig God in ʼn boksie moet probeer sit om jou eie belange en wense te bedien nie. Onthou dat wanneer jy sê “Ek lees die teks en doen net wat die teks sê” dit gewoon nie so eenvoudig is nie. Dit wys eintlik hoe min jy verstaan van die aard van antieke tekste en die aard van kommunikasie waarin 80% van kommunikasie dikwels in konteks buite woorde sin maak. Kom ons raak nederig en luister eerder na God as wat ons te vinnig namens Hom wil praat of Hom wil probeer manipuleer vir ons eie gewin. Uiteindelik is God nie ʼn akteur in ons storie nie, maar is ons die akteurs in God se storie. Een van die vrug(te) van die Gees is nederigheid. Hoe slimmer en ouer ons word, hoe meer besef ons hoe min ons werklik van God en die lewe verstaan en hoe meer skep mens ruimte in nederigheid en “compassion” vir ander.

Skrywer:  Prof Kobus Kok

 




Die Groot Geloofswoordeboek: Bybeluitleg

Die Groot Geloofswoordeboek: Bybeluitleg

Bybeluitleg (Hermeneutiek, Eksegese)

Ons moet onderskei tussen die teorieë oor Bybeluitleg en die ma­niere waarop ons in die praktyk die Bybel uitlê. Die teorieë noem ons hermeneutiek en die praktiese uitleg eksegese.

Hermeneutiek (Uitlegteorie)

Die hermeneutiek (uitlegteorie) vra vrae oor hoe woorde en taal werk, oor woorde en betekenis, oor verskillende taalteorieë. Ons moet byvoorbeeld onthou dat woorde of taal baie armer is as ervaring. Ons ken dit almal. Iemand sal sê: “Ons was daar en daar. Dis ‘n wonderlike plek. Woorde kan dit eenvoudig nie be­skryf nie.” Veral ervarings en gevoelens is baie meer as wat woor­de kan sê. Ons kan nooit uit die beskrywing van Jesus se lyding en kruisdood in die Evangelies of uit ‘n preek regtig ten volle aflei wat daar gebeur het en hoe erg sy lyding was nie. Dis eintlik opvallend hoe saaklik en sober die evangeliste sy lyding beskryf, sonder baie voegwoorde of omskrywings, so asof hulle goed besef het dit is onmoontlik om regtig die diepte van sy lyding te beskryf.

Ná Auschwitz het Elie Wiesel, wat self daar was, tien jaar lank geswyg. Sy standpunt was dat dit verraad aan die slagoffers sal wees om daaroor te praat, want woorde sou nie eens naastenby iets van hulle werklike ontreddering kom weergee nie.

Dit beteken dat ons uit die woorde van die Bybel altyd minder kan aflei as wat werklik gebeur het.

Verder is dit belangrik om te onthou dat woorde nie vaste be­tekenisse het nie. Ons gee aan woorde betekenis. Daarom is dit ge­vaarlik om te veel te maak van die sogenaamde “oorspronklike betekenis” van ‘n woord. Ons kan nie uit die “oorspronklike bete­kenis” van “skoenlapper” aflei dit is iemand wat skoene lap of reg­maak nie, of uit “butterfly” dat dit ‘n vlieg van botter is nie. Mense gee aan woorde betekenis wanneer hulle dit gebruik. Die woord “lig” kry betekenis uit die verband. “Die kar is lig” be­te­ken iets an­ders as “Gee die lig aan”. In die Bybel moet ons uit die verband probeer aflei watter betekenis die skrywer aan ‘n be­paalde woord gegee het.

Johannes gee aan die woord “vlees” ‘n ander betekenis as Pau­lus (Joh 1:14; 1 Kor 15:50). In beide gevalle word dieselfde Griekse woord sarx gebruik. Tereg het die 1983-vertaling sarx in Johannes an­ders vertaal as in Korintiërs. Die twee skrywers het ander betekenisse aan dieselfde Griekse woord gegee. As dit nie so was nie, sou Jesus nie die koninkryk kon beërf nie, want Pau­lus skryf dat “vlees” (sarx) en bloed nie die koninkryk kan beërf nie, maar Johannes skryf dat die Woord “vlees” (sarx) geword het. (*Opstanding van die vlees)

Dit bring ons by die interessante probleem dat daar aan elke woord in die Bybel twee of selfs drie keer betekenisse gegee word. Die skrywer het ‘n woord gekies om iets te sê, die vertaler be­sluit watter betekenis hy dink die korrekte is, en die leser gee ook weer ‘n betekenis aan die woord as hy of sy dit lees.

Die saak word selfs nog ingewikkelder as ons onthou dat Jesus nie Grieks gepraat het nie, maar Aramees (die “Hebreeus” van daar­die dae). In die Nuwe Testament het ons nou sy woorde in Grieks. Die skrywer in die Nuwe Testament moes dus self eers besluit wat Jesus bedoel het en ‘n Griekse woord daarvoor gekies het. Tussen Hom en ons word daar dus eintlik vier keer beteke­nis aan ‘n woord gegee.

Dit alles word hier geskryf, nie om ons onseker te maak oor wat ons regtig in die Bybel kry nie, maar net ‘n bietjie nederiger. Daar is mense wat met soveel fanfare kan uitwei oor die “oor­spronklike” betekenis van ‘n woord, en nooit hierdie fyner nuan­ses in ag neem nie. Maar onseker hoef ons nie te wees nie. Ont­hou nog ‘n keer die groot saak: die boodskap van die Bybel is dui­delik, die groot lyne kom oor en oor voor, en daarom kan ons ons interpretasie kontroleer.

‘n Laaste opmerking voor ons by die praktiese uitleg kom. Ons het tot dusver oor woorde gepraat, maar eintlik lê betekenis nie in enkel woorde nie, maar in frases. Romeine 1:17 is ‘n goeie voor­beeld. Die 1953-vertaling lui: “Want die geregtigheid van God word daar­in (dis in die evangelie) geopenbaar uit geloof tot geloof.” Die vertalers het elke woord letterlik vertaal, maar dit maak nie regtig sin nie. In die 1983-vertaling lees ons: “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo.” ‘n Mens sou kon argumenteer dat hulle verkeerd vertaal het omdat hulle vertaling omtrent nie meer een woord het wat letterlik in die Grieks staan nie. Maar die geheel het ‘n bepaalde betekenis, dis ‘n uitdrukking, ‘n idioom, en deur ander woorde te gebruik kon die vertalers die regte betekenis beter weergee. Jy kan nie reg vertaal as jy woord vir woord vertaal nie. “Jannie het gister stokkiesgedraai” is nie reg vertaal met “Yesterday Jannie turned sticks” nie. Die frase dra die betekenis, nie die enkel woorde nie.

 

Eksegese (Uitlegmetodes)

  • Heilshistoriese uitleg Historiese uitleg Pastorale uitleg
  • Struktuur-analise Histories-kritiese uitleg

Nou kom ons by die praktyk. Ons lees nou die Bybel. Hoe moet ons dit nou verstaan?

Daar is baie verskillende maniere om die Bybel te probeer ver­­­staan. ‘n Volledige verduideliking is nie hier nodig nie. Ná die vorige bespreking is ‘n paar opmerkings genoeg om ‘n mens rigting te gee.

Kyk waar in die Bybel ‘n uitspraak staan. Die Here het amper vir Moses doodgemaak omdat hy nie sy seun besny het nie. Moet ek dan dadelik myne besny? Nee, kyk waar staan dit (Eks 4:24). Kyk of daar nie later ander perspektiewe hieroor gekom het nie, byvoorbeeld dat Paulus later die besnydenis vir Christene uit die heidendom verbied (Gal 5:3). Jesus sê uitdruklik wat ons moet doen as ons ons gawe na die altaar bring (Matt 5:23-24). Moet ons dit dan nie doen nie? Ons gaan offer nie meer by die altaar nie. Later het dinge verander. In Hebreërs lees ons dat Christus die tempel en die offers vervang het met sy eie groot offer. Maar het Jesus se woorde dan geen betekenis meer vir ons nie? En God se dreigement aan Moses?

Nee, dit het, baie! Uit Eksodus 4 kan ons leer dat ons God ern­stig moet neem, dat ons aan Hom gehoorsaam moet wees, dat Hy bedoel wat Hy sê. En uit Matteus 5 kan ons aflei dat ons ‘n verantwoordelikheid het om spanning tussen ons en ander op te los, al is dit hulle wat iets teen ons het, en nie ons teen hulle nie.

Jesus beveel sy dissipels uitdruklik om mekaar se voete te was (Joh 13). Moet ons dit nog doen? Sommige sê ja, ander sê nee. Ek dink nee, eenvoudig omdat voetewas vandag nie naastenby die betekenis het wat dit toe gehad het nie. Ons het nie meer slawe wat mense se voete was as hulle by ons kom eet nie, en ons loop nie meer met oop skoene of sandale in stofstrate sodat ons met vuil voete by vriende aankom nie. In daardie tyd was dit ‘n besondere teken van nederigheid as die huiseienaar bereid was om hierdie slawewerk te doen. Vandag is dit ‘n vreemde ding. Maar ons kan wel iets leer: om mekaar in nederigheid te dien.

 

• Heilshistoriese uitleg, Historiese uitleg en Pastorale uitleg

Wat het ons tot dusver gedoen? Wat Eksodus 4 en Matteus 5 be­tref, het ons die Bybel heilshistories uitgelê. Ons het gekyk na die ontwikkelings wat in die loop van die heilsgeskiedenis voorgekom het. Wat Johannes 12 betref, het ons die Bybel hi­stories uitgelê. Ons het die betekenis van voetewas toe en nou met mekaar vergelyk. Maar ons het in elke geval die Bybel ook pastoraal uitgelê. Ons het gevra wat dié uitspraak tog nog vir ons sê.

  • Struktuur-analise

Daar is baie ander metodes om die Bybel uit te lê. Elke meto­de het sy eie waarde, en elke metode kan ook verkeerd gebruik word. Die struktuur-analise kyk na die struktuur van ‘n gedeelte. Matteus 7:6 lyk snaaks in die 1953-vertaling, want varke sal mos nie ‘n mens verskeur nie. Die 1983-vertaling het raakgesien dat die vers ‘n snaakse struktuur het. In die Grieks is daar vier frases in die volgende volgorde. Maar in watter volgorde moet hulle gelees word? Kom ons ontleed hulle.

1.            Moenie wat heilig is, vir die honde gooi nie

2.            en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie

3.            hulle sal dit met hulle pote vertrap

4.            hulle sal omspring en julle verskeur.

Die vier frases is egter nie bedoel om in hierdie volgorde gelees te word nie. ‘n Mens moet 1 en 4 saamlees, en dan 2 en 3. Dan is dit die honde wat jou dalk kan verskeur.

 

• Histories-kritiese uitleg

Die histories-kritiese metode kyk krities na ‘n gedeelte. Ter­wyl ons die boek Jesaja as ‘n eenheid ken, vra hulle of dit nie oor­spronklik meer as een boek was wat later aanmekaargevoeg is nie. Die geaardheid van hoofstuk 1-39 verskil heeltemal van 40-54, en dan weer van 55-66. Dit lyk of 1-39 voor die ballingskap geskryf is, 40-54 tydens die ballingskap, en 55-66 dalk ná die ballingskap. Daarom praat hulle van Jesaja, Deutero-Jesaja en Trito-Jesaja. Maar daar is ook geleerdes wat dit nie aanvaar nie omdat Jesus na dele uit 40-54 (Deutero-Jesaja) as woorde van Jesaja verwys (oa Matt 3:3; 8:17; 12:17). Volgens hierdie geleerdes het Jesus dus aanvaar dat die hele boek deur dieselfde persoon, Jesaja, geskryf is.

Die historiese kritiek aanvaar ook nie dat Moses die eerste vyf boeke geskryf het nie, ten minste wat sy eie begrafnis betref (Deut 34). Daar word ook deurgaans in die derde persoon na Moses ver­wys. Dit lyk dus of iemand anders dit geskryf het.

Dit lyk verder of al die boeke nie deur een persoon geskryf is nie, maar eerder of verskillende dokumente later aanmekaargesit is. So lyk dit of Genesis 1:1-2:4a in 5:1 voortgesit word, terwyl 2:4b-4:26 ‘n ander dokument was. Die gedagte word versterk deur die groot verskille tussen die eerste skeppingsverhaal en die tweede. Dit lyk onwaarskynlik dat een persoon al twee geskryf het.

Wat die sondvloedverhaal betref, lyk dit ook of daar dalk twee verhale was wat later aanmekaargesit is. In een geval lyk dit of die vloed 54 dae geduur het (Gen 7:12, 17; 8:6, 10, 12), maar elders lees ons van 150 dae (7:24; 8:3). Was daar twee verskillende do­kumente met verskillende gegewens? Daar is talle sulke verskille wat skynbaar beteken dat die eerste vyf boeke later deur iemand saamgevoeg is uit ‘n aantal ouer dokumente. Daar word selfs gepraat van drie hoofdokumente: die Jahwis, die Elohis en die Priesterkodeks.

Daar is egter ook sterk teenkanting teen wat genoem word hierdie “versplintering” van die eerste vyf boeke, veral met die ar­gument wat ons al vroeër teengekom het: dat Jesus Moses as die outeur van die eerste vyf boeke aanvaar het (Matt 19:7, 8; Mark 12:26; Luk 16:29).

Dis nie nodig om nou al die ander uitlegmetodes in be­son­derhede uiteen te sit nie. In Ek glo die Bybel (Lux Verbi, 2002) is dit breedvoerig gedoen. Maar die punt wat nou hier gemaak is, is dat ‘n mens net oopkop, denkend, maar nederig moet lees. En daar is baie boeke op die mark wat goeie insigte bied.

Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek.

 

Outeur: Prof Adrio König