Wat is my verhouding met die God wat met my in die Bybel praat?

The essence of apostasy is changing sides from that of the crucified to that of the crucifier. —John Stott

Wat is my verhouding met die God wat met my in die Bybel praat?

Baie van ons ken die leer oor die Bybel: die Bybel se gesag, inspirasie,onfeilbaarheid, ens. Maar nou kom Jakobus met ‘n verdere vraag: Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? (2:14). Die regte siening van die Bybel beteken ek ken en ek glo, maar daar is nog ‘n verdere stap: ek moet betrokke raak by die God van die Bybel. Jesus het hieroor ‘n gelykenis vertel: die gelykenis van die twee seuns (Matteus 21:28 – 32). Om te weier en later tog te gaan werk in die wingerd is tog beter as om in te stem en nie te gaan werk nie.

 

Scot McKnight (The Blue Parakeet) sê dat ons verhouding met die God van die Bybel is om na Hom te luister sodat ons Hom meer kan liefhê en ook ander meer volledig kan liefhê. As God al die gebooie saamvat in liefde vir Hom en liefde vir die naaste, kan ons hierdie liefde net kry deur na Hom te luister. Om die Bybel te lees, is om te luister.

Alan Jacobs (A Theology of Reading: The Hermeneutics of Love) maak twee belangrike waarnemings:

  • Geskrewe woorde is ‘n persoonlike kommunikasie van die een persoon na ‘n ander; en
  • Die regte verhouding van ‘n Christen tot iemand se kommunikasie/woorde is om daardie persoon lief te hê deur na sy woorde te luister.

Omdat woorde mense verteenwoordig, is dit belangrik hoe ons op woorde reageer.

Die grootste probleem is dat ons nie meer na God luister nie. Lees net weer Deuteronomium 6:4: Luister, Israel, die Here is ons God … Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel, met al jou krag. Die groot gebod is dat ons die Here moet liefhê, maar die eerste opdrag is om te luister.

Die woord luister/hoor in die Bybel funksioneer op ten minste drie vlakke:

  • Gee aandag – maak jou ore oop
  • Neem in – ons ore laat God se woord in sodat dit ons wese vul. Ons neem alles wat God gesê het, in.
  • Optrede – Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel (Matteus 7:24). Luister lei dus na optrede.

Abraham, Josef, Josia en vele ander luister na God se woorde, gee aandag daaraan, neem dit in en doen iets. Luister met aandag en met liefde is meer as om inligting bymekaar te maak.




Wat moet ek met die Bybel doen?

The storms of life no more indicate the absence of God than clouds indicate the absence of the sun. —John Blanchard

 

Wat moet ek met die Bybel doen?

Elkeen wat dan hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het … elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het (Matteus 7:24 – 27)

Die Bybel is die skepping van God en Hy staan langs ons as ons die Bybel lees. Ons mag nie vergeet dat die Bybel God se storie is nie. Daarom is dit anders as alle ander boeke.

Tog moet ons altyd onthou dat my verhouding nie so seer met die Bybel is nie as met die God van die Bybel. Daar is meer in die Bybel as net die onderwerpe wat daarin hanteer word.

Ons moet dus God en die Bybel onderskei. God is ‘n persoon; die Bybel is papier. God het aan ons die Bybel van papier gegee om ons te lei om sy persoon lief te hê. Ons moet dus ‘n verhoudingsbenadering tot die Bybel hê – ‘n Persoon agter die woorde op papier. Ja, God praat met ons in woorde, maar Hy is meer as die woorde. Die Bybel is God se geskrewe kommunikasie met ons. Dit is hoe ons die Bybel moet ontvang: God se woorde aan God se mense.

Ons moet dus na God luister as Hy deur die Bybel met ons praat. Ons kan vrae vra oor die Bybel, maar eers moet ons luister wat die Bybel vir ons te sê het. In die proses word ons deel van die Bybel se gesprek en die gesprek wat die kerk deur die eeue met die Bybel gehad het. Net soos die Bybelskrywers met mekaar gepraat het, net so het Christene in die geskiedenis van die kerk met mekaar gepraat – oor die Bybel se eie gesprek.

Wat beteken dit alles? My verhouding met die Bybel word verander na ‘n verhouding met die God wat in en deur die Bybel met ons praat. Ons verhouding met die Bybel is in werklikheid ‘n verhouding met die God van die Bybel. Ons vra nou nie meer: Wat sê die Bybel nie, maar wat sê die God van die Bybel.

God het aan ons die Bybel gegee, nie sodat ons die Bybel kan ken nie, maar sodat ons deur die Bybel vir God kan ken en liefhê.




Die Bybel is ‘n storie

The biblical gospel is not a collection of timeless statements such as God is love. It is a narrative about things God has done – John Goldingay

Die Bybel is ‘n storie

Hoe kan ons sê dat die Bybel ‘n storie is? In die Bybel kry ons ‘n knoop (plot), karakters (Vader, Seun en Gees, God se mense, die wêreld) en baie skrywers wat saam die storie vertel. Elkeen van ons – en die skrywers van die Bybel – vertel hierdie storie op sy eie manier. Jesus gee aan die skrywers van die Bybel sekere opdragte aangaande die knoop van die storie – Hy gee rigting aan die storielyn. Elke skrywer skryf sy storie binne hierdie storielyn, maar hulle het baie vryheid om die storie op hulle eie manier te skryf. Die eenheid van die Bybel is hierdie storie.

 

Scot McKnight (The Blue Parakeet)  beskryf dit as ‘n storie bestaande uit vyf tonele.

Toneel #1: Skep beelde (Genesis 1 – 2)

Die storie begin waar God alles skep. Die hoogtepunt van God se skepping is die mens: Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld … God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God  het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. In Genesis 2 lees ons dan dat God sê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke. God verdeel dus die mens in twee. God wou gehad het dat die mens dit wat die Drie-eenheid nog altyd geniet het – volkome gemeenskap met ‘n gelyke – ook moet geniet. Hulle is een:

  • God het die vrou uit Adam se rib gemaak
  • Die vrou is Adam se helper
  • Na Hy hulle verdeel het, bring God hulle weer bymekaar en hulle sal een word.

Die storie begin by die tuin van Eden as ‘n lewe van eenheid – mense is een met God, hulleself, ander mense en die wêreld. As die eenheid uitgeleef word, word God verheerlik.

Toneel #2: Beelde wat gebreek is (Genesis 3 – 11)

In Genesis 3 word die beeld gebreek en die eenheid word in gevaar gestel. In Genesis 3 leer ons dat sonde die eenheid vernietig – die beelde is nou gekraak. Wat gebeur nou?

  • Die eerste gevolg word binne die mens self ondervind – die mens word selfbewus en besef hulle is naak.
  • Die mens kruip vir God weg. It is very difficult to look as if you have not been doing anything when the facts are the other way (Mak Twain).
  • Die eenheid tussen hulle begin verbrokkel – hulle blameer mekaar.
  • God stuur die mens weg uit die tuin van Eden om die aarde te gaan bewerk.

Sonde is dus ‘n gebreekte verhouding met God, met jouself, met ander en met die wêreld. Dit is waaroor die Bybel gaan, om hierdie verhoudings weer te herstel.

 Toneel #3: Die verbondsgemeenskap (Genesis 12 – Maleagi)

Tot aan die einde van Genesis 11 ploeter die mens rond. Aan die einde lees ons van Noag en die vloed. Maar in Genesis 12 verander dinge – God vorm ‘n verbondsgemeenskap – ‘n gemeenskap waarbinne die mens  weer eenheid met God, homself, ander mense en die wêreld moet kry. Eenheid tussen mens en God sonder eenheid tussen mense is nie moontlik nie. Na ‘n lang verhaal van konings en profete kom Israel eers by die Nuwe Testament uit. God bewerk versoening in hierdie wêreld deur sy verbondsgemeenskap – eers Israel en dan die kerk.

Die mense kry nie die verhouding herstel nie. Ons lees van hoogtepunte (die uittog uit Egipte en die terugkeer na ballingskap), maar ook baie laagtepunte (afgodery, ballingskap, ens). Ingeweef in hierdie storie is ‘n sterk gevoel van mislukking. Israel gaan nie die verhoudings herstel nie.

Toneel #4: Christus, die volmaakte beeld, versoen (Matteus – Openbaring 20)

Die storie van die Bybel loop in die rigting van ‘n Persoon. Hierdie stukkende verhoudings word eers herstel as ons een in Christus word. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een (Galasiërs 3:28). Slegs in Jesus Christus kan ons weer eenheid kry. God doen vier dinge in Jesus Christus en almal dra by tot die herstel van eenheid:

  • Menswording – Jesus word een met ons; Hy is alles wat Adam en Eva veronderstel was om te wees. Hy het sy Vader absoluut lief; hy het die mense absoluut lief en Hy het die wêreld absoluut lief.
  • Dood – Hy ondervind ons dood en ons sterf saam met Hom en word een met Hom in sy dood; Hy sterf in plaas van ons; Hy sterf vir ons.
  • Opstanding – deur een met die opgestane Here te word, word ons opgewek na ‘n nuwe lewe.
  • Pinkster – wat is die krag wat eenheid kan verseker? Die Heilige Gees. In Handelinge 2:42 – 47 lees ons van die eerste gemeente. Let op die klem wat op eenheid geplaas word: Al die gelowiges was eensgesind. In Handelinge 4:32 lees ons: Die groot getal wat gelowig geword het, was een van hart en siel … hulle het alles met mekaar gedeel.

Dit is die verhaal wat die Bybel vertel: andersheid omgekeer en eenheid herstel. Dit gebeur in die verbondsgemeenskap. Sodra eenheid tussen die mens en God herstel is, werk dit verder – eenheid tussen mense en die wêreld. Liefde vir God gaan met liefde vir ander gepaard.

 Toneel #5:Voltooiing (Openbaring 21 – 22)

Hierdie eenheid wat Jesus Christus met sy eerste koms bewerkstellig het, is net gedeeltelik. Die volheid hiervan – volmaakte eenheid – kom eers as Hy weer terugkom om die nuwe hemel en die nuwe aarde te vestig.

Dit is die storie van die Bybel. Dit is hoe ons die Bybel moet uitleef. As die Bybel dan ‘n storie is, hoe moet ons dit lees? Eenvoudig: Ons luister na God.




Kortpaaie wat ek gebruik as ek die Bybel lees

I invite you to read the Bible, not for bits and pieces of dry information, but as the story of God’s embrace of the world told in poetic images and types – Robert Webber

 Kortpaaie wat ek gebruik as ek die Bybel lees

Hoekom lees ek die Bybel? Sodat die woorde op papier verander word in ‘n ontmoeting met God – die teks moet lewe en betekenis kry en vir my rigting gee oor wat om te doen. Maar is die Bybel nog vir ons die lamp wat vir my die weg wys, die lig op my pad (Psalm 119:105)? Iewers kort daar iets. Scot McKnight (The Blue Parakeet) glo dit is omdat ons kortpaaie gebruik as ons die Bybel lees. As ons kortpaaie gebruik as ons die Bybel lees, beïnvloed dit ons geestelike gesondheid.

 

Wat is hierdie kortpaaie?

  • Brokkies van die wet

Vir sommige mense is die Bybel ‘n massiewe versameling van wette – wat moet ek doen en wat mag ek nie doen nie. God word nou die wet en ons verhouding met Hom word deur ons wetsonderhouding bepaal. Dit het egter ook ‘n invloed op ons – ons word nou onuitstaanbaar as gevolg van ons meerderwaardigheid. Ons is nou meer bekommerd om reg as goed te wees. Ons oordeel vinnig. Natuurlike is die wette, opdragte  in die Bybel belangrik. As jy Psalm 119 lees ontmoet jy ‘n Israeliet wat sy vreugde in die wet vind. Maar om die storie van die Bybel af te water tot ‘n versameling van wette verwring die Bybel.

  • Brokkies van seëninge en beloftes

In 1551 verdeel Stefanus die Bybel in hoofstukke en verse. Nou raak die moeilik om die Bybel as ‘n storie te lees. Die Bybel word nou in brokkies verdeel – ‘n Goddelike versameling van heilige brokkies. Vir sommige is dit brokkies van seëninge – alles is goed en wonderlik. Hierdie mense is opgewonde … totdat iets sleg met hulle gebeur. Maar die Bybel vertel die waarheid op ‘n realistiese manier. Abraham, Moses, Dawid, Paulus het wonderlike seëninge ontvang, maar ook dae van twyfel, swaarkry, ongehoorsaamheid … donker dae. Luister na die psalmis: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? (Psalm 22:2). Natuurlik moet ons weet van God se seëninge en beloftes in die Bybel. Maar die seëninge en beloftes in die Bybel kom uit ‘n ware storie wat weet dat ons in ‘n gebroke wêreld leef en dat party dae maar moeilik is. As ons die Bybel as ‘n storie lees, kan ons dit nie net as brokkies van seëninge en beloftes sien nie.

  • Inkkolle

Hermann Rorschach (1884 – 1922), bekende Switserse psigiater, het die bekende inkkol toets ontwikkel. Die pasiënt word ‘n kaart met ‘n inkkol gewys en gevra wat hy sien. Wat die persoon sien, gee vir die terapeut inligting oor sy persoonlikheid, emosies en denkprosesse. Dit is hoe sommige mense die Bybel lees: hulle sien wat in hulle kop is en projekteer op die Bybel wat hulle graag wil sien. Hulle hoor wat vir hulle belangrik is en nie noodwendig wat in die Bybel staan nie. Ons projekteer ons idees en ons begeertes in die Bybel. Baie van ons dink dat Jesus nogal soos ons is – ons dink ons word meer en meer soos Jesus, maar intussen probeer ons Jesus meer en meer soos ons te maak. Ons gebruik Jesus as ‘n inkkol! Ons kry nou ons storie in die Bybel en nie die Bybel se storie  as ons storie nie. Ons manipuleer die Bybel se storie.

  • Die legkaart

Vir sommige mense is die Bybel soos ‘n groot legkaart. As ek die legkaart inmekaar gesit het, kan ek van die stukke vergeet. God het sy gedagtes oor die Bybel versprei en nou is dit ons taak om al die stukke bymekaar te bring. Die probleem is dat, anders as by ‘n normale legkaart, ons nie weet hoe die oorspronklike prentjie lyk nie – ons moet ons verbeelding gebruik. He had a good deal of imagination, and it probably colored his statements of fact; but if this was so, he was not aware of it (Mark Twain). Hier is ‘n paar probleme met hierdie kortpad: ons aanvaar dat ons weet wat God besig was om te doen nog voordat die Bybel geskryf is; ons ignoreer die dele van die legkaart wat nie inpas nie; ons bevraagteken die Bybel wat ons het – as God vir ons ‘n sistematiese teologie wou gee, sou Hy dit gedoen het. Ons moet God se ontwerp van die Bybel aanvaar en toelaat dat die Bybel die Bybel kan wees. God het nie die Bybel vir ons gegee sodat ons dit kan bemeester nie; God het vir ons die Bybel gegee sodat ons daarvolgens kan leef en sodat die Bybel ons meester kan wees.

  • Maestro

[Maestro = beroemde leermeester – HAT)

Mense gaan na die Bybel om die maestro – Jesus Christus – aan die werk te sien. Hulle vra voortdurend: “Wat sou Jesus gedoen het?” Dit is die enigste vraag wat hulle vra. Die probleem is enigste. Vir sommiges is Paulus die maestro. Om die Bybel deur die oë van die maestro te lees, beteken dat ons alles in Paulus se kategorieë probeer inpas.

Hiermee ‘n paar kortpaaie wat ons neem as ons die Bybel lees. Vir baie van hulle kan ons maar net sê: Skuldig.